Vinnige feite

  • In die eerste paar jaar ná die Tweede Wêreldoorlog, was die enigste bewoners van die eiland die vuurtoringwagter, sy vrou en hul 11 kinders. 29
  • ’n Deel van die eiland is ’n heilige plek vir Moslem-pelgrimstogte. Die Moturu Kramat is in 1969 gebou om Sayed Abdurahman Moturu, die prins van Madura, te herdenk. Sayed was een van Kaapstad se eerste imams (geestelikes) wat in die middel van die 1740’s na die eiland verban is en in 1754, veertien jaar later, daar gesterf het. Moslem politieke gevangenes het daar hulde bring voordat hulle die eiland verlaat het. 16
  • Daar was in die 15de en 16de eeu soveel pikkewyne op Robbeneiland dat seevaarders van Engeland dit Pikkewyneiland genoem het. 1
  • Het jy geweet die oudste aangetekende aardbewing in Suid-Afrika is by Robbeneiland ervaar? Daar word gesê dat dit op 7 April 1620 aan die kus van Robbeneiland gebeur het – nog voordat Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het! Augustin de Beaulieu, bevelvoerder van ‘n vloot van drie skepe in Tafelbaai, het tussen 06:00 en 07:00 die oggend “twee verrassende donderslae soos kanonskote” gehoor terwyl die skip gedurende ’n windstilte naby Robbeneiland was. 16
  • Die eerste persoon wat van Robbeneiland na die vasteland geswem het, was Henry Charteris Hooper. Dié waagstuk is in 1909 aangeteken toe hy van Robbeneiland na die ou Kaapse hawe by Roggebaai geswem het. Dit het Hooper net minder as 7 uur geneem om die swemafstand van ongeveer 11 km te voltooi. Deesdae swem die waaghalse oor die korter afstand tussen die eiland en Bloubergstrand.
  • Die Robbeneiland-kalksteengroef is een van die eiland se vroegste tekens van mense en dateer uit die middel van die sewentiende eeu (1600’s). Dié steengroef het die bewerkte klippe vir die fondamente van Kaapstad se Kasteel die Goeie Hoop verskaf. 16
  • Vanaf 1997 is die eiland ’n nasionale museum. Enkele van die mense wat in die museum uitgebeeld word, is Autshumato en Krotoa wat albei in Van Riebeeck se tyd geleef het en albei vir hom as tolk opgetree het. 3
  • Robbeneiland is in 1999 deur Unesco tot ’n wêrelderfenisgebied verklaar. 11
  • Robbeneiland was die inspirasie van die boek Island in Chains. Indres Naidoo (’n voormalige gevangene) se boek, wat in 1982 verskyn het, was die eerste gepubliseerde weergawe van die tronklewe op die eiland. 16
Foto: iStock

Soms is daar ’n plek wat mens dadelik aan ’n persoon of belangrike gebeurtenis laat dink wanneer jy die naam hoor. Suid-Afrikaners – en ook baie mense in die res van die wêreld – dink gewoonlik heel eerste aan Suid-Afrika se voormalige (vorige) president Nelson Mandela wanneer hulle van Robbeneiland hoor. En dit is waar, Robbeneiland is veral bekend omdat dit die plek is waar Mandela vir soveel jare ’n politieke gevangene was.

Maar dié eiland speel al vir baie eeue op ander maniere ’n rol in die geskiedenis van Suid-Afrika, en behoort nie slegs as ’n tronk onthou te word nie.

Ligging en naam

Robbeneiland se naam kom vanaf die Nederlandse woord robben (Afrikaans: robbe). 1 Bronne verskil oor die afstand tussen Robbeneiland en die vasteland, maar oor die algemeen word daar gereken dit lê tussen 10 en 12 km noord van Kaapstad en 7 km wes van Bloubergstrand. 2

Die eiland is in werklikheid die kruin van ’n eeue oue, smal berg wat vandag onderwater is en die eiland word deur ‘n ondersese rotsbank aan Bloubergstrand gekoppel. Sy onderste lae bestaan ​​uit skalie (aardlaag wat uit lei bestaan) wat ‘n rotsagtige en ietwat onherbergsame kuslyn vorm. Hierop lê ‘n dik kalksteen- en kalkreetneerslag bedek deur windverwaaide sand en skulpstukkies. 3

Die eiland is laaggeleë met die hoogste punt wat ook bekendstaan ​​as Minto-heuwel (vernoem na die 19de eeuse skeepsdokter van die hospitaal op die eiland). Dié heuwel staan 24 meter bo seevlak.

Die eiland het ‘n Mediterreense klimaat, maar anders as die nabygeleë Kaapstad, ervaar dit sterker winde en uiterstes in temperatuur. In die somer is dit dus vreeslik warm op die eiland en in die winter is dit weer bitter koud. 3

Jy wonder seker hoe groot die eiland is. Van noord na suid is die eiland is 4,5 km lank en van oos na wes is dit 1,5 km breed. Die hele eiland is ongeveer 570 hektaar groot. 4

Die see tussen Robbeneiland en die vasteland is ongeveer 30 meter diep. 5

Fauna en flora

Voordat daar mense op die eiland begin bly het, het daar net gras en struike gegroei. Hoewel daar nie riviere op die eiland is nie, was daar ‘n oorvloedige voorraad vars water uit ‘n aantal fonteine. 6 Volgens ’n studie wat in 2018 gedoen is ten opsigte van die grondwater van die eiland, is daar tans altesaam 11 boorgate. 7 Bome is eers later deur inwoners op die eiland aangeplant.

Die flora (plante) en fauna (diere) van die eiland is natuurlik beïnvloed deur boerderypraktyke van die verlede en asook deur die aanplanting van struike en eksotiese bome.

Omdat die eiland baie naby die Weskus is, kom daar skouspelagtige veldblomme – tipies aan die Weskus – gedurende die lente op die eiland voor. 1

Die inheemse diere (diere wat natuurlik hier voorgekom het), was robbe, seevoëls en pikkewyne asook molslange.

Mense wat op die eiland begin bly het, het ander diere na die eiland gebring. Daar was later springbokke, steenbokke, takbokke, bontebokke en volstruise. Nog later het rotte, konyne en wildekatte deel van die diereryk uitgemaak.

Robbeneiland bied ook ’n tuiste aan ongeveer 132 voëlspesies. Kiewiete, seemeeue en kormorante kom langs die kuslyn van die eiland voor asook brilpikkewyne. 8 Die pikkewyne lok baie toeriste omdat dit maklik is om hulle hier in hul natuurlike habitat te sien.

Ander voëlspesies wat hier voorkom, is swarttobies, Hartlaubmeeue, ander meeue en geelbeksterretjies. 30

Die gevaarlike kuslyn en omringende see

Seevaartuie moet uiters versigtig wees wanneer hulle Robbeneiland en die nabygeleë Whale Rock – wat nie bo die seeoppervlak uitsteek nie – nader, aangesien albei ‘n bedreiging vir skeepvaart inhou.

Die aflandige (weg van die land af) riwwe (rotsbanke) en die kronkelende kuslyn van die eiland word omring deur onstuimige branders van die Atlantiese See. Skeepsvaartuie wat teen die rotse loop, word sommer vinnig deur die sterk, woeste branders in stukke opgebreek. 3

Daar waai gedurig stormsterk winde en baie keer is daar digte mis wat dit moeilik maak om te sien.

Daar word gereken dat meer as 30 skepe hier gestrand het (teen die rotse vasgevaar het). Nadat die vuurtoring op die eiland opgerig is, het dit beter gegaan omdat die skepe vroegtydig gewaarsku kon word om ver van die rotse af verby te vaar, maar seerampe (skeepsongelukke) gebeur steeds daar, al is daar ’n vuurtoring.

Drie skeepswrakke wat aan die noordekant van die eiland op die rotse lê, kan vandag nog gesien word. 9

Wat was toentertyd in die eiland se ‘spens’?

In die tyd toe Dias die Kaap in 1488 bereik het, was daar nie mense wat op die eiland gebly het nie. Maar daar was duisende pikkewyne en robbe wie se vleis en pikkewyneiers die seevaarders en matrose as voedsel kon gebruik.

Die robbe het nie net vir vleis gesorg nie. Hul velle en vet is ook gebruik. En van die robbe se velle kon ook olie gekry word. 10 Robolie is ’n produk wat goed is vir die gesondheid van mense en ook van troeteldiere. 11

Nou, ’n spens is ’n plek waar kos gebêre word, dus was die hele eiland vir die seevaarders soos ’n allemintige groot spens waar hulle kos en vars water kon kry.

Nadat Nederland in die Kaap begin regeer het (1652-1700), het Van Riebeeck skape op die eiland gelos om ekstra vleis aan die mense wat hulle in die Kaap gevestig het (daar begin bly het), te kan voorsien. Die skape op die eiland het aangeteel (lammers gekry) en het sommer baie vet geword omdat daar geen natuurlike vyande soos roofdiere was nie. 12

As gevolg hiervan het dit nodig geword om ook skaapwagters op die eiland te laat bly om seker te maak dat ander seevaarders nie die Nederlandse regering se skape steel nie. Hierdie eerste skaapwagters het met ’n klein boerdery begin en ook groente soos blomkool begin kweek (laat groei). 1

Jan van Riebeeck het later konyne na die eiland laat neem om vir nog vleis te sorg. Maar die konynbevolking het vinnig handuit geruk omdat hulle heeltemal te veel geword het en was later ’n pes. 13

Robbeneiland se vroeë geskiedenis

Mense moes derduisende jare gelede reeds op Robbeneiland gebly het, want daar is klipwerktuie op die eiland gevind wat ongeveer 100 000 jaar oud is. Die mense wat hierdie werktuie gebruik het, was jagterversamelaars. 3

Die eerste aangetekende aanland van mense op Robbeneiland deur Europeërs was in 1498, toe ‘n groep Portugese matrose daar geskuil en in ‘n grot oornag het. 14

Maar die eintlike geskiedenis begin by die seevaarders

Seevaarders

Die geskiedenis van Robbeneiland wat aan ons bekend is, begin nadat Bartolomeu Dias in 1488 om die Kaap gevaar het.

Hierdie seevaarders het die eiland gebruik as ’n plek waar hulle kos kon kry vir die skepe se bemanning (die personeel en matrose wat op die skip werk). Mens kan dus sê dat dit soos ’n klein verversingspos of “spens” was vir die skepe.

Poskantoor

Dit het ook as poskantoor gedien omdat hulle briewe daar kon laat wat weer deur ander skepe se bemanning opgelaai en verder na ander lande geneem kon word. 13

Kom ons sê daar kom ’n skip verby wat van Land A na Land B vaar. So ’n skip sou vir maande lank op die see reis. Wanneer daar dan ’n volgende skip van Land B verby die eiland op pad na Land A vaar, dan neem die bemanning die eerste skip se briewe saam om in Land A vir die familie en ook die regering van die eerste skip se bemanning te pos.

Tronk

Reeds in die tyd van die seevaarders is die eiland by tye gebruik as ’n gevangenis vir matrose wat misdade op die skepe gepleeg het.

Hierna is die eiland verskeie kere as ’n gevangenis gebruik – deur die Nederlanders terwyl hulle in die Kaap aan bewind was (geregeer het) en ook deur Brittanje toe die Kaap onder Britse bewind was. 7

Hospitaal

In 1846 is die gevangenis op die eiland gesluit. Die tronkgeboue is toe verander in ’n hospitaal. Daar was drie afdelings in hierdie hospitaal: Vir mense met aansteeklike siektes soos pokke en masels, diegene wat aan geestesiektes (psigiese versteurdheid) gely het, asook vir mense wat melaats was.

Die eiland is daarom gebruik om mense met aansteeklike siektes te huisves sodat hulle nie die bevolking in die Kaap kon aansteek nie. Die regering aan die Kaap was baie bang dat pokke in die Kaap sou uitbreek.

Soms is mense wat aan geestesiektes gely het, ook op die eiland gehuisves, veral wanneer hul familie hulle nie kon versorg of beheer nie. 7

Daar is dikwels melaatse mense na die eiland gestuur sodat hulle nie die inwoners van die Kaap sou aansteek nie. Daar is ook ’n begraafplaas waar mense wat aan melaatsheid dood is, begrawe is. Die meeste van hierdie grafte het grafstene op en kan nog uitgeken word. 15 Terloops, ’n begraafplaas vir die personeel van die eiland vanaf 1858 1923 is ook nog te sien. Op dié grafstene is die identiteit, ouderdom en geslag van die mense wat daar begrawe is, ook aangedui. 16

Hierdie afdelings het ná baie jare weer gesluit – die afdeling vir melaatses was die laaste om sy deure in 1931 toe te maak. 7

Kerk

Die Anglikaanse Kerk op die eiland is ’n vroeë voorbeeld van Kaaps-Gotiese boustyl. Die kerk is in 1841 deur bandiete (gevangenes wat hul tronkstraf uitdien) gebou en is vandag ’n nasionale erfenisterrein. Kaptein Richard Wolfe was verantwoordelik vir die bou van hierdie kerk. 12

Vuurtoring

Jan van Riebeeck het tydens sy bewind aan die Kaap die eerste navigasiehulpmiddel aan die bopunt van die destydse Vuurheuwel (nou bekend as Minto-heuwel) laat instel. Minto Hill is die hoogste punt op die eiland. Groot vure is saans op Vuurheuwel aangesteek om skepe te waarsku van die rotse wat die eiland omring. Die aansteek van dié vure is vanaf 1656 in sy dagboek aangeteken.

Die Robbeneiland-vuurtoring is eers in 1864 deur Joseph Flack gebou. Die toring is 18 m hoog en Argan-lampe wat met walvisolie gebrand het, is gebruik. Dit het ’n baie helder, kleurlose lig verskaf wat ses seemyl ver gesien kon word – afstand van ongeveer 11 km. 5

Dié vuurtoringlig is in 1938 deur ’n elektriese lig vervang wat oor ’n afstand van 24 seemyl sigbaar is. Dit is ook die enigste Suid-Afrikaanse vuurtoring wat ‘n flikkerlig in plaas van ‘n draaiende lig gebruik. 17

Ondergrondse bunker

’n Bunker (ondergrondse skuilplek) wat uit die Tweede Wêreldoorlog dateer, lê 10 m diep onder die grond en kan bereik word deur lere vanaf ‘n beton- en staalluik. Die enigste aanduiding dat die bunker bestaan het, is die sampioenvormige ventilators (luggate) en die staalluike.

Ondergronds is die oorblyfsels van ’n struktuur bestaande uit vier kamers met staaldeure. Een van die kamers het die lugversorgingstelsel vir die bunker bevat – elektriese waaiers wat lug via luggate van die oppervlak insuig.

Binne die struktuur is daar nog bewyse van ’n klomp kabelpype vir elektrisiteit en (heel waarskynlik) telefoonverbindings.

Hierdie ondergrondse beplanningskamer het ’n meganiese rekenaar, bekend as die Admiralty Plotting Table, gehad en was die hart van die militêre eenheid – die kanonniers kon hiermee die windspoed, atmosferiese faktore asook die posisie van die vyand bereken. 18

Die eiland as strafkolonie

Ons weet teen hierdie tyd dat die eiland as tronk (gevangenis) vir politieke gevangenes gebruik is. 7

Maar kom ons kyk waar dit alles begin het…

In Van Riebeeck se joernaal (dagboek) is daar op 24 November 1652 vir die eerste keer melding gemaak van die moontlikheid dat die eiland deur die destydse regering as ’n gevangenis gebruik kon word. 1

Van Riebeeck was ontevrede met die dienste van ’n man met die naam Autshumato (ook bekend as Herrie die Strandloper) wat as ’n tolk tussen die Nederlanders en die Khoi-Khoi gedien het. In die joernaal het hy die moontlikheid genoem dat Autshumato saam met sy vrou en kinders na die eiland geneem kan word en dan daar agtergelaat word. Op 10 Julie 1658 is Autshumato toe wel saam met twee ander Khoi-Khoi as gevangenes op die eiland gelaat.

Krotoa

Die alombekende Krotoa was die susterskind van Autshumato. 

Gedurende die 1660’s is Pieter van Meerhof as toesighouer op die eiland aangestel. Sy vrou was ’n Khoi-Khoi-vrou met die naam Krotoa. Die Nederlanders het haar Eva genoem.

Omdat Krotoa as deel van Van Riebeeck se huishouding grootgeword het, kon sy Nederlands eintlik selfs beter as haar oom praat. Sy het dus sy rol as tolk oorgeneem.

Maar ongelukkig het Krotoa later ’n alkoholis geword en haar gedrag in die Kaap het later onaanvaarbaar geword. Krotoa is in Maart 1669 na die eiland verban. In hierdie stadium was haar man op ’n ekspedisie na Madagaskar om slawe te gaan kry, maar het nooit teruggekeer nie omdat hy tydens die ekspedisie vermoor is.

Autshumato was egter nie die eerste gevangene op die eiland nie. Reeds in Mei 1657 is daar mense na die eiland gestuur om hulle só, in afsondering, te straf. 1

En teen die begin van die 18de eeu (1700) was die eiland se hooffunksie dié van ’n strafkolonie (eiland waarheen misdadigers gestuur word om hul straf uit te dien). 19

Ook die Britse regering wat tussen 1800 en 1896 in die Kaap aan bewind was (regeer het), het die eiland as ’n gevangenis gebruik.

In 1805 en 1806 is ’n nuwe tronk op die eiland gebou. 8

Die eiland word ’n militêre basis

Toe die Tweede Wêreldoorlog in 1939 uitbreek, het die Suid-Afrikaanse regering ’n militêre basis op die eiland begin bou om Tafelbaai en Kaapstad te beskerm teen moontlike aanvalle. Dit het gelei tot die oprig van kanonne en die bou van verskansings en ‘n landingstrook vir ligte vliegtuie. 20

Daar is natuurlik ook paaie, ’n kaserne (waar soldate bly), en wagtorings gebou. Dink net hoe moeilik moes dit gewees het, want alles wat nodig was vir die bouwerk, asook al die kanonne en wapens, moes per boot na die eiland vervoer word!

Daar was duisende troepe (soldate) wat vir ’n tyd op die eiland gaan woon het. Onder hulle was kanonniers (soldate wat met kanonne skiet), kapelane (predikante in militêre diens), ingenieurs, mediese ordonnanse, infanterie (voetsoldate) en vlootpersoneel.

Gelukkig is Kaapstad toe nooit aangeval nie, dus was dit nooit nodig om die kanonne op die eiland op die vyand af te vuur nie.

Op die eiland is daar ’n gedenkteken van sement en skulp. Die name en nommers van lede van die Kaapse Korps wat tydens die Tweede Wêreldoorlog op Robbeneiland gestasioneer was, is destyds daarop gegraveer. 21

Toe die oorlog in 1945 eindig, het die meeste van die militêre personeel die eiland verlaat. Die weermag het die eiland egter tot in 1960 as vlootopleidingsentrum gebruik. 22

Die Robbeneiland-vliegveld

Die Robbeneiland-vliegveld is destyds deur die apartheidsregering gebruik om tronkbeamptes na en van die eiland te vervoer. Nelson Mandela is ook met ‘n gehuurde Dakota-vliegtuig na die eiland gebring.

Tans word die vliegveld net gebruik om baie belangrike gaste soos besoekende staatshoofde te vervoer. 23

Nelson Mandela gee die Clintons ‘n toer deur die tronk waar hy eens aangehou is.

Robbeneiland se wêreldbekende gevangene

In 1959 is die eiland oorgeneem deur Suid-Afrika se Departement van Korrektiewe Dienste (DKD) en vanaf 1961 tot 1991 is politieke gevangenes in die tronk opgesluit. 7

Suid-Afrika se voormalige president Nelson Mandela is op 13 Junie 1964 tot lewenslange tronkstraf op Robbeneiland gevonnis. Hy is uiteindelik vir 18 van die 27 jaar wat hy in die gevangenis was, op Robbeneiland aangehou (in die tronk gehou).

Nelson Mandela

In April 1982 is hy na die Pollsmoor-gevangenis oorgeplaas, in Desember 1988 is hy na Victor Verster-gevangenis (vandag bekend as die Groot-Drakenstein-gevangenis) en op 11 Februarie 1990 is hy vrygelaat. 24

Vanaf 1963 is ’n groot groep politieke gevangenes na die eiland gestuur. Die meeste van hulle was lede van die ANC (African National Congress). Belangrike politieke gevangenes is in die maksimumsekuriteitsafdeling, Afdeling B, aangehou. 25

Die laaste groep politieke gevangenes is in 1991 vrygelaat. 11

Die berugte kalksteengroef

Die Robbeneiland Kalksteengroef is een van die vroegste tekens van mense en hul bedrywighede op die eiland. Dit dateer terug na die middel van die 17de eeu. Hierdie steengroef het die bewerkte klippe vir die fondament van die kasteel Kaap die Goeie Hoop verskaf.

Die gevangenes wat deur die eeue by die steengroef gewerk het, het Nelson Mandela ingesluit. Hy het 13 jaar daar gewerk. Gedurende die tyd van Mandela was daar geen werklike behoefte aan die eiland se kalksteen om dit elders te gebruik nie. Gevangenes sou die klippe kap, dit na die een kant van die steengroef dra en die volgende dag weer terug – die werk was eintlik net om hulle besig te hou! 26

Robbeneiland in 2022

Die paar honderd permanente inwoners wat vandag op die eiland bly, sluit museumpersoneel, toergidse, skeepsbemanning en vuurtoringwagters in.

Op die eiland is ongeveer 100 huise, maar minder as die helfte word bewoon. Daar is ’n kerk waar daar twee keer per maand dienste gehou word asook ’n kruidenierswinkel, poskantoor en bank.  Daar is wel ’n kleuterskool en ’n laerskool, maar geen hoërskool nie. Hoërskoolkinders moet in Kaapstad skoolgaan waar hulle in koshuise moet bly of anders moet hulle elke dag met die veerboot tussen die eiland en Kaapstad pendel. 27

Toeriste uit Suid-Afrika en uit die buiteland besoek die eiland graag om te gaan kyk hoe dit daar lyk en om meer oor die geskiedenis van die eiland te leer. Hulle word per boot na die eiland vervoer en die rit neem ongeveer 30 minute. 28

Woordbank

aan bewind Regeer, die mag hê; aan die hoof wees van ’n land/sake.
aangehou Gevange/in hegtenis neem.
aangeteel Deur teling vermeerder.
aflandige Seewaarts; weg van die land af.
alkoholis Iemand wat aan sterk drank verslaaf is.
berug Ongunstig bekend; met ‘n slegte reputasie.
ekspedisie ’n Reis wat lank en gevaarlik is en wat vooraf baie goed beplan word. Dis gewoonlik ’n reis na ’n onbekende plek wat ook gevaarlik kan wees.
geestesiektes psigiatriese steuring; kranksinnigheid.
handuit geruk Buite beheer; onregeerbaar word.
hektaar Een hektaar (ha) is gelykstaande aan 10 000 vierkante meter.
infanterie Voetsoldate.
inheemse Wat in die land self voorkom.
ietwat Effens, ’n bietjie.
jagterversamelaars Mense wat jag en ook eetbare bessies en vrugte in die veld versamel vir hul kos.
kaap Berg of stuk land wat spits in die see inloop.
klipwerktuie Voordat mens in ’n winkel voorwerpe soos messe en byle kon koop, het mense dié werktuie uit klip gemaak.
kanonniers ’n Soldaat wat die kanon rig en afvuur; ’n artilleris.
kapelane ’n Predikant wat self in militêre diens is.
kaserne ’n Gebou waarin soldate woon.
kweek Laat groei.
Mediterreense Wat op die Middellandse See betrekking het; afkomstig daarvandaan.
melaats Melaatsheid is ’n soort siekte wat die vel, senuwees en slymvliese wegvreet. Iemand wat daaraan ly word ’n melaatse genoem.
militêre basis Die plek waar wapens gebêre word en soldate bly.
navigasiehulpmiddel Stuurmanskuns ten opsigte van die bepaling van die plek en koers van ‘n vaartuig op land, see of in die lug.
onherbergsame Woes, wat geen skuiling/herberg bied nie; kaal en sonder beskutting.
onstuimige Hewig, ru/rof, stormagtig.
ordonnanse Wetlike voorskrif.
pendel Met openbare vervoer van een plek na ’n ander reis. Só ’n persoon word ’n pendelaar of dagreisiger genoem.
pes In hierdie geval is dit nie ’n siekte nie, maar ’n lastigheid; iets wat jou baie pla of lastig val.
pokke Soort aansteeklike siekte met swere, veel erger as die waterpokkies wat ons ken.
riwwe Uitgestrekte rotsbanke.
seerampe Groot en skokkende skeepsongeluk ter see soos wanneer hy sink of op die rotse loop.
seevaarders Mense wat destyds met skepe oor die see gevaar (gereis) het.
skalie Aardlaag wat leiagtig is, uit lei bestaan.
spens Bêreplek vir kos.
strafkolonie Gedwonge verblyfplek of eiland waar veroordeeldes/gevangenes hul straf uitdien.
tolk Wanneer twee mense mekaar se taal nie kan verstaan nie, is ’n tolk ’n persoon wat wel albei tale kan praat en hy of sy vertaal dan wat die een persoon vir die ander sê in die taal wat hy of sy verstaan.
troepe Krygsmag, soldate.
verskansings Beskerming, heining, verdediging.
vloot Seemag, skeepsmag; al die skepe en vaartuie van ‘n staat.
voormalige Eertydse, vorige.
vuurtoring Toring langs die kus wat snags met ’n baie skerp lamp skepe wat daar verbyvaar waarsku om nie te naby aan die kus en die rotse te kom nie.

Video’s

’n Toer na Robbeneiland.

Nelson Mandela vertel…

Meer oor die eiland.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Oktober 2022 | Bygewerk op 1 Februarie 2024