Vinnige feite

  • Die aanvalle in September 2001 word as die dodelikste aanval op Amerikaners op Amerikaanse bodem beskou. Dit is wel nie die dodelikste aanval nie. Meer Amerikaners is in Europa in die Eerste en Tweede Wêreldoorloë, en in die Koreaanse en Viëtnamoorlog dood. 17 
  • Altesaam 2 390 Amerikaanse soldate en burgerlikes is in Japan se aanval op Pearl Harbour dood. Dit is minder as met die 9/11-terreuraanval. 17
  • Nagenoeg 1,8 miljoen ton puin is oor die loop van 9 maande verwyder. 18
  • Die September-aanvalle is deur 19 selfdoodaanvallers uitgevoer, wat beteken hulle het die aanvalle só beplan dat hulle almal self ook daarin sou sterf. 18
  • Slegs 18 mense is lewend in die puin gevind. 18
  • Die oorlewendes en die reddingswerkers wat daardie dag en in die weke daarna op die terrein was, het ‘n buitengewoon hoë voorkoms van longkwale soos asma en longkanker omdat hulle in daardie tyd aan giftige dampe blootgestel is. 18
  • Die 2012-rolprent Zero Dark Thirty handel oor die tien jaar lange soektog na Osama bin Laden en sy uiteindelike teregstelling.

Op 11 September 2001 is die dodelikste terreuraanval tot nog toe teen die Verenigde State van Amerika (VSA) geloods. Op daardie aanvankelike vreedsame bloulugoggend het lede van die ekstremistiese Al-Kaïda-terroristegroep vier vliegtuie geskaak. Altesaam 2 977 mense van 93 verskillende nasies is op dié dag in die vier aanvalle dood. 1

Passasiersvliegtuie as aanvalswapens 

Op 11 September 2001 (in Engels bekend as 9/11 – uitgespreek “nine eleven” – omdat dit verwys na die negende maand se elfde dag) het negentien aanvallers ‘n goed beplande aanval op die VSA geloods. Die aanvallers het hulle voorgedoen as gewone reisigers op binnelandse Amerikaanse vlugte. Kort nadat die vliegtuie opgestyg het, het hulle die kajuitpersoneel oorrompel en die vliegtuie geskaak. Die skakers het self, toe hulle vir die aanvalle voorberei het, leer vlieg en het die vliegtuie as dodelike wapens in die aanvalle ingespan. 2

Hulle het baie deeglik beplan watter vliegtuie hulle in die aanvalle sou gebruik. Al die vliegtuie was groot en al vier was van die ooskus van die VSA na die weskus op pad. Dit beteken die vliegtuie sou lang vlugte onderneem en hulle het gevolglik almal baie brandstof aan boord gehad. Dit sou die impak van die aanvalle dus baie groter maak. 2

Die eerste aanval was met American Airlines se vlug 11, wat in Boston opgestyg het. Om 08:46 die oggend het dié vliegtuig in die noordelike toring van die Wêreldhandelsentrum (Engels: World Trade Center) in New York vasgevlieg. 2 Die Wêreldhandelsentrum is eintlik ‘n kompleks kantoorgeboue in die suidelike deel van Manhattan, die eiland waarop die stad New York gebou is. Hierdie deel van die eiland staan as die Finansiële Distrik bekend, want belangrike saketransaksies wat die hele wêreld beïnvloed, word in die geboue in hierdie deel van die stad beklink. Die Wêreldhandelsentrum se geboue was in dié stadium die hoogste in hierdie deel van die stad. 3

Mense wat gesien het hoe die vliegtuig in die wolkekrabber vasvlieg, het eers gedink dit is ‘n ongeluk. Sowat 17 minute later het ‘n tweede vliegtuig, United Airlines se vlug 175, ook van Boston, egter in die suidelike toring vasgevlieg. Almal het toe geweet dit is ‘n aanval op die VSA, nie net ‘n vlieënier wat ‘n fout gemaak en van koers afgewyk het nie. 2

Die derde vliegtuig wat in die aanval gebruik is, was American Airlines se vlug 77 wat van Washinton, D.C. af opgestyg het. Met hierdie vliegtuig het die aanvallers om 09:37 die oggend in die Pentagon vasgevlieg. 2 Die Pentagon is die bekende vyfhoekige gebou (dit is waar sy naam vandaan kom – “penta” beteken vyf en die Engelse woord “pentagon” is in Afrikaans “pentagoon” – vyfhoek) wat die hoofkantoor van die Amerikaanse weermag is. 4

Die Amerikaanse lugvaartowerheid (oftewel die FAA) het kort daarna alle vlugte reg oor die land gestaak. United Airlines se vlug 93 was toe reeds in die lug, en om 10:03 het dit naby Shanksville in Pennsilvanië neergestort. Die vlug was aanvanklik van New Jersey (net buite New York) af op pad na San Francisco, maar die skakers het die vliegtuig in die rigting van die Amerikaanse hoofstad, Washington, D.C., gestuur. Hulle was van plan om met dié vliegtuig in die Kongresgebou (die Amerikaanse parlementsgebou) vas te vlieg. 5 Die passasiers aan boord van die vlug het selfoonoproepe gekry om hulle te laat weet wat aangaan. Uit stemopnames kon ondersoekers later vasstel dat die passasiers en kajuitpersoneel teruggeveg en probeer het om beheer oor die vliegtuig terug te kry. Waarskynlik danksy hulle dapperheid het die vliegtuig neergestort voordat dit sy beoogde teiken kon bereik. Talle lewens is in Washington. D.C. gespaar, maar die 40 passasiers en personeellede aan boord is almal dood. 6

Die teikens 

Die aanvallers se teikens was geboue wat vir buitelanders verteenwoordigend is van Amerika: die Wêreldhandelsentrum, die weermaghoofkwartier en die Amerikaanse parlement. Die skade wat by die Wêreldhandelsentrum aangerig is, het die grootste impak gehad. 

Die suidelike toring van die Wêreldhandelsentrum is só erg beskadig dat dit om 09:59 inmekaargestort het. Net 29 minute later het die noordelike toring ineengetuimel. Digte wolke stof en rook het deur Manhattan se strate geborrel, en kantoorwerkers en inwoners het paniekerig gevlug om van die uitval af weg te kom. Van die ander geboue in die Wêreldhandelsentrum het ook aan die brand geslaan, en later in die dag het gebou 7 ook ineengestort. 7

Die skakers het die aanvalle baie goed beplan. Omdat daar so baie brandstof in die vliegtuie was, was daar elke keer ‘n groot ontploffing toe die vliegtuie in die geboue vasgevlieg het. Die groot hoeveelheid brandstof en die gevolglike groot ontploffings het die geboue aan die brand laat slaan, en die hitte van die brand het veroorsaak dat die staal in die geboue se struktuur smelt. Hierdie staal in hoë geboue is die ondersteuning vir die verskillende verdiepings se betonvloere, en hou die verdiepings aan die sentrale kolomme vas. As die staal smelt, breek die beton van die kolomme af. Dit is uiteindelik wat die geboue laat ineenstort het. 8

Die slagoffers 

Natuurlik was die mense in die geboue die aanvallers se eerste oogmerk. Maar in die Wêreldhandelsentrum se wolkekrabbers was daar ‘n tweede stel slagoffers wat die aanval soveel erger getref het.

Toe die eerste vliegtuig in die eerste toring vasgevlieg het, het nooddienspersoneel – die polisie, brandweer en ambulanspersoneel – na die toneel gejaag. Hulle werk is om beseerdes te soek en te help, en om brande te blus. Omdat hulle op die toneel en selfs in die brandende geboue was om te help, was talle van hulle ook slagoffers toe die geboue ineengestort het. Meer as 400 lede van New York se nooddienspersoneel is dood. 2

Uiteindelik is bykans 3 000 mense daardie dag dood. Altesaam 2 753 slagoffers is in New York oorlede, 184 in die Pentagon en 40 in Pennsilvanië. ‘n Totaal van 343 brandweerlede en paramedici is oorlede, en 60 polisielede is dood. 9 Twee Suid-Afrikaners, Nicholas Rowe (29) en Craig Gibson (37), het vir maatskappye gewerk met kantore in die noordelike toring van die Wêreldhandelsentrum. Hierdie twee manne maak deel uit van die enorme getal slagoffers van daardie dag se terreuraanval. 10

Die motief vir die aanval

Die aanval is uitgevoer deur lede van die Al-Kaïda-terroriste-organisasie. Hierdie groep is ekstremiste wat ‘n “heilige oorlog” (die Arabiese woord daarvoor is “djihad”) teen die Weste voer. Hulle doel is om die Moslemwêreld in een, magtige staat, die Kalifaat, te verenig sodat die Weste se invloed op hul leefwyse en geloof beperk kan word. Hulle glo ook dat die VSA die middelpunt van boosheid is. 11

Die lede van Al-Kaïda is meestal Arabiere, maar hulle het ook lede uit ander lande. Die leier van Al-Kaïda toe die aanval beplan en uitgevoer is, was Osama bin Laden. Hy het geglo dat die Amerikaanse weermagbasisse in Saoedi-Arabië, waarvandaan die Amerikaners hulle aanvalle gedurende die Golfoorlog (1990-1991) uitgevoer het, ‘n skending was van die heilige gebiede rondom Mekka en Medina. 12

Osama bin Laden, die leier van die Al-Kaïda-terroriste-organisasie.

Die 9/11-aanval was nie die enigste deur Al-Kaïda nie. Onder Bin Laden se leiding is ‘n hele reeks dodelike terreuraanvalle uitgevoer: 13

  • 1993, motorbom in die kelder van die Wêreldhandelsentrum, 6 mense dood
  • 1996, motorbom op ‘n Amerikaanse militêre basis in Saoedi-Arabië, 19 Amerikaanse soldate dood
  • 1998, motorbomme by die Amerikaanse ambassades in Kenia en Tanzanië, 224 mense dood
  • 2000, bom op ‘n Amerikaanse skip in Aden-hawe, 17 Amerikaanse seemanne dood
  • 2002, motorbom in Tunisië, 20 mense dood; motorbom by ‘n hotel in Mombasa in Kenia, 15 mense dood
  • 2003, verskeie bomaanvalle in Rijad, Saoedi-Arabië, 65 mense dood; bomaanvalle in Casablanca in Marokko, 45 mense dood; ‘n motorbom verwoes die Verenigde Nasies se hoofkwartier in Bagdad, 22 mense dood
  • 2005, bomaanvalle op Londen se moltreine, 52 mense dood; bomaanvalle op hotelle in Jordanië, 57 mense dood
  • 2007, selfmoordbomaanvalle in Algerië, 77 mense dood
  • 2010, bomaanvalle op hotelle in Bagdad, 36 mense dood; 52 mense word by ‘n kerkdiens in Bagdad ontvoer en vermoor
  • 2011, bomaanvalle op Marrakesj in Marokko, 15 mense dood.

Die VSA se antwoord 

Die dag ná die aanval het die VSA se president op daardie tydstip, George W. Bush, die Oorlog teen Terreur-veldtog (Engels: War on Terror) aangekondig. Kort daarna het die VSA met die hulp van Brittanje, Turkye, Italië, Duitsland, Nederland, Pole en Frankryk ‘n inval in Afghanistan geloods om Al-Kaïda uit te wis en Osama bin Laden gevange te neem. Bin Laden het ontsnap en gevlug, en die VSA het jare lank gesukkel om hom vas te trek. Uiteindelik het hulle hom in Pakistan opgespoor, en op 2 Mei 2011 het ‘n klein groepie baie goed opgeleide Amerikaanse soldate hom in sy huis gevind en doodgeskiet. Bin Laden se liggaam is aan boord van die USS Carl Vinson geneem en hy is in die Arabiese see begrawe. Ons van so ‘n begrafnis iemand is “ter see begrawe”. In 2014 het Barack Obama, wat George W. Bush as Amerikaanse president opgevolg het, aangekondig dat die oorlog teen Afghanistan verby is. 14

Barack Obama.
George W. Bush.

Die terrein vandag

In die dae ná 9/11 het die Amerikaners na die plek van die aanval as “Ground Zero” verwys. Dit is die militêre term wat gebruik word om na ‘n plek te verwys waar ‘n kernbom ontplof het. Só erg was die skade en lewensverlies dat die aanval vir hulle soos ‘n kernontploffing gevoel het. 15

Die Amerikaners het later besluit dat hulle nie verder na die verwoesting van die dag wil verwys nie, maar eerder wil fokus op hoe hulle die Wêreldhandelsentrum en die Amerikaanse samelewing herbou het. Presies tien jaar ná die aanvalle, op 11 September 2011, is die 9/11-gedenkterrein onthul. Die twee torings wat ineengestort het, is nie herbou nie, maar presies waar hulle gestaan het, is twee diep kuile gebou waarin daar voortdurend water val. Al om die rand van elke kuil is daar ‘n bronsplaat waarop al die slagoffers se name uitgesny is. 16

Duisende toeriste besoek elke jaar die gedenkterrein en die museum langsaan om eer te betoon aan die mense wat daardie dag dood is.

Woordbank

beklink Deurvoer; afhandel.
ekstremiste ‘n Persoon met opvattings wat baie ver verwyder is van wat die res van die mensdom glo.
ekstremistiese Wat baie ver weg is van wat die meeste mense glo, dink of doen.
impak Uitwerking.
ingespan Gebruik.
kompleks Versameling geboue.
kuile Diep watergat.
lewensverlies Mense wat dood is.
onthul Met ‘n seremonie bekendstel aan die publiek.
oorrompel Met geweld beheer kry.
paniekerig Vol angs.
puin Oorblyfsels van ‘n aanval of verwoestende gebeurtenis.
geskaak ‘n Vliegtuig of ander vervoermiddel met geweld oorneem en dwing om te vlieg waarheen die skakers wil gaan.
terreuraanval Aanval deur terroriste.
vas te trek Vang.
voorgedoen Voorgee om te wees.
wolkekrabber Hoë toringgebou.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

‘n Kort opsomming van die dag se gebeure in New York en beeldmateriaal van die vliegtuie wat in die Wêreldhandelsentrum vasvlieg

Die verhaal van vlug 93

Barack Obama kondig in 2011 aan dat die Amerikaanse weermag Osama bin Laden, die leier van Al-Kaïda, doodgeskiet het

Die 9/11-gedenkterrein in New York

Gepubliseer op: 19 Junie 2023 | Bygewerk op 24 November 2023