Vinnige feite

  • Die WVK in Suid-Afrika was die eerste kommissie in die wêreld wat openbare verhore gehou het. Die gebeure is op radio en televisie uitgesaai en aan die einde is die bevindings van die WVK in ʼn dokument gepubliseer wat vir almal beskikbaar was. 2
  • Die WVK het bestaan uit nege manlike en agt vroulike kommissarisse. Altesaam 300 mense het vir die WVK gewerk. 8
  • Die hofverrigtinge is in al elf amptelike tale getolk. Hierdie tolke het ʼn teaterproduksie met die naam Truth in Translation geskryf wat vertel hoe dit vir hulle was om die woede, angs en hartseer van oortreders en slagoffers aan te hoor. 12
  • Die WVK het aanbevelings gemaak vir finansiële vergoeding vir die slagoffers van menseregteskendings uit die Presidentsfonds. Die voorstel was dat persone tussen R17 000 en R24 000 per jaar vir ses jaar sou ontvang, na gelang van hoeveel lyding hulle verduur het. Meer as 16 000 persone het egter slegs ʼn enkele betaling van R30 000 ontvang. 13
  • Die regering van Nederland het die grootste bydrae tot die Presidentsfonds gemaak om slagoffers van menseregteskendings te vergoed. Hulle het ʼn bedrag van R345 miljoen in die fonds inbetaal. 14
  • Van die 19 aangeklaagdes van die Neurenberg-verhore (wat ná die Tweede Wêreldoorlog gehou is) is twaalf ter dood veroordeel. Hermann Göring, een van die wreedste Nazi-leiers, het die aand voor die teregstelling plaasgevind het, sy eie lewe geneem. Die ander elf beskuldigdes is op 16 Oktober 1946 in Neurenberg se hof gehang. 15
  • Die meeste mense wat op een slag ʼn les oor menseregte bygewoon het, is 1 772 polisielede van Ecuador. Hierdie rekord is in 2018 opgestel. 16
  • Die dokument wat die heel meeste vertaal is, is die Handves van Menseregte van die Verenigde Nasies wat in 370 tale beskikbaar is. 17

Moes jy al jou broer vergewe omdat hy jou sjokolade gesteel het, jou suster omdat sy jou oorfone geleen het sonder om te vra, of ʼn maat wat skinderstories van jou by die skool vertel het?

Dit is baie makliker gesê as gedaan, veral as dit iets is wat jy nooit weer kan terugkry nie! Verbeel jou hoe moeilik dit moet wees om iemand te vergewe wat die bom geplant het waarin jou ma dood is, of die polisielid wat jou pa gevang en in die tronk seergemaak het.

In Suid-Afrika het mense deur die geskiedenis mekaar om verskillende redes emosionele en fisieke leed (skade) aangedoen. Ná apartheid moes die reënboognasie, soos aartsbiskop Desmond Tutu Suid-Afrikaners genoem het, leer om in vrede saam met mekaar te leef. Voor dít kon gebeur, moes daar egter eers vergifnis en versoening plaasvind, want dít is hoe Suid-Afrika gekies het om die verlede te onthou en die toekoms aan te pak.

Desmond Tutu was die voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie.

Die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) onder leiding van Tutu moes Suid-Afrikaners met hierdie proses help. Oor ʼn tydperk van twee jaar het die WVK 140 verhore landwyd gehou. Altesaam 21 400 slagoffers het verklarings ingedien, 27 000 slagoffers se name is opgeteken en 7 124 oortreders (mense wat iets verkeerd gedoen het) het om amnestie aansoek gedoen. 1

Stigting en samestelling

Tydens apartheid is baie mense van verskillende bevolkingsgroepe se menseregte en burgerregte aangetas wat tot moorde, marteling, ontvoering en mishandeling gelei het. 2

Menseregte is dié regte wat elke persoon op aarde het, ongeag kleur/ras, geloof of geslag, net omdat die persoon ʼn mens is. Dit gaan basies oor mense se reg tot lewe, vryheid, eiendom, geluk en veiligheid. 3

ʼn Burgerreg is die reg wat ʼn persoon het omdat hy ʼn burger (inwoner) van ʼn land is. Na gelang van waar ʼn persoon bly, sal sy of haar burgerlike regte ook verskil. Hoewel burger- en menseregte baie naby aan mekaar is (verwant is), is menseregte meer algemeen, terwyl burgerregte meer spesifiek is.

Menseregte is byvoorbeeld die reg tot uitdrukking, wat beteken dat mense die reg het om hul idees of gedagtes bekend te maak. Hierdie reg kan dan in ʼn land se burgerregte opgeneem word as vryheid van spraak, wat byvoorbeeld impliseer dat joernaliste mag skryf wat hulle wil sonder om bang te wees vir vervolging (dit moet natuurlik waar wees!). 4

Menseregteskendings is in Suid-Afrika deur die bevrydingsbewegings (politieke partye soos die ANC wat dikwels geweld gebruik het om teen apartheid te veg) asook die Suid-Afrikaanse regering gepleeg. Toe onderhandelings (gesprekke) tussen die verskillende partye oor die eerste demokratiese verkiesing begin het, was mense bang dat hulle tronk toe sou gaan as gevolg van dade wat hulle gepleeg het om teen apartheid te baklei óf dit in stand te hou. [Lees meer hier oor demokrasie.] Hulle wou die versekering hê dat hulle nie strafregtelik vervolg sou word oor dade wat hulle dikwels as ʼn opdrag van hul leiers uitgevoer het nie. Alle partye wou die versekering van amnestie hê voordat hulle tot verdere onderhandelings sou instem. 2

Die WVK sou na getuienis luister oor oortredings wat gepleeg is en dan besluite neem en aanbevelings maak of iemand amnestie moet kry en watter soort geregtigheid toegepas moet word.

Soorte geregtigheid

Wat is die beste manier om die gewelddadige verlede te verwerk? Ter wille van die slagoffers moes daar geregtigheid wees. In die geval van menseregteskendings tydens ʼn oorlog of ʼn politieke stryd, is daar twee vorme van geregtigheid wat ingestel kan word: 2

Vergeldende geregtigheid

Hierdie vorm van geregtigheid fokus op die misdadiger wat ʼn straf as gevolg van ʼn misdaad opgelê moet word. Die verhoor vind plaas in ʼn geregshof wat die mag het om verskillende strawwe op te lê. Een van die bekendste voorbeelde waartydens vergeldende geregtigheid toegepas is, is die Neurenberg-verhore waar Nazi-leiers ná die Tweede Wêreldoorlog doodstraf of lewenslange tronkstraf opgelê is vir dade wat hulle tydens die oorlog gepleeg het. 2

Herstellende geregtigheid

Met hierdie vorm van geregtigheid word daar nie klem geplaas om te bepaal watter straf toegepas moet word nie. Tydens herstellende geregtigheid moet die oortreders eers verantwoordelikheid aanvaar vir die pyn wat aan slagoffers, gesinslede van slagoffers of selfs gemeenskappe gedoen is. Die doel van herstellende geregtigheid is om vergifnis en versoening tussen oortreders en slagoffers te verseker of bewerkstellig. Daar moet ook aan maniere gedink word om slagoffers te vergoed vir die verlies wat hulle as gevolg van hierdie dade gely het. Eindelik moet daar saam aan maniere gedink word om te keer dat hierdie menseregteskendings ooit weer gebeur. 5

Die stigting van die WVK

Meer as vyftig organisasies wat bestaan uit menseregteadvokate, kerke en slagoffers van menseregteskendings, het ongeveer ʼn jaar lank openbare gesprekke gevoer. Hulle wou bepaal of ʼn kommissie wat op die waarheid en vergifnis tussen oortreders en slagoffers sou fokus, die beste manier vir Suid-Afrikaners sou wees om die verlede te aanvaar en vorentoe te beweeg. 6

Die belangegroepe het uiteindelik besluit dat só ʼn kommissie, wat ʼn vorm van herstellende geregtigheid nastreef, die beste opsie vir Suid-Afrika sou wees. Die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening van 1995 het dit moontlik gemaak om die Waarheid-en-versoeningskommissie (WVK) op die been te bring. Dié wet het ook bepaal wat die WVK se rol sou wees, wat die kommissie se werksaamhede moet wees en op watter voorwaardes amnestie toegeken mag word.

Die WVK het die opdrag gekry om menseregteskendings tussen 1960 en 1994 in Suid-Afrika te ondersoek. Die slagoffers en oortreders moes die geleentheid kry om hul stories te vertel sodat die omstandighede en konteks waarbinne die dade gepleeg is, onthul sou word. Die kommissie moes ook amnestie gee waar nodig en voorstelle maak hoe slagoffers vergoed kon word vir die skade wat hulle aangedoen is. Nog ʼn baie belangrike doel van die WVK was om ’n objektiewe (onpartydige) geskiedkundige verslag van die 34 jaar tussen 1960 en 1994 saam te stel. 6

Samestelling van die WVK

Op 15 Desember 1995 het pres. Nelson Mandela die name van die WVK bekendgemaak. Desmond Tutu was die voorsitter en hy is bygestaan deur 17 kommissarisse wat, onder meer, uit regslui (advokate, regters en prokureurs) en predikante bestaan het. Hierdie groep mense is bygestaan deur die departement van justisie en is ingedeel in ʼn ondersoekeenheid en voorsitters met drie komitees wat verskillende funksies gehad het: 7

Komitee oor menseregteskendings

Gedurende die eerste ses maande van die WVK se verrigtinge is die stories van die slagoffers aangehoor. Hierdie komitee het uit ʼn paar kommissarisse bestaan wat reg oor die land gereis het en meestal in plaaslike gemeenskapsale na die getuies geluister het. Die eerste verhoor het op 16 April 1996 in Oos-Londen plaasgevind. Voor elke verhoor het getuies skriftelike verklarings saam met die personeel van die kommissie afgelê.

Vir die eerste keer het slagoffers van hul pyn vertel en kon oortreders hoor watter gevolge hul dade vir die slagoffers gehad het. Baie van die slagoffers was al oorlede en kon nie self hul stories vertel nie. As slagoffers vir herstelbetalings (ʼn bedrag geld om te vergoed vir die skade wat gely is) of rehabilitasie (proses van herstel) gekwalifiseer het, is hulle na die komitee vir herstelbetalings en rehabilitasie verwys. 2

Amnestiekomitee

Die amnestiekomitee se doel was om vas te stel of ʼn oortreder amnestie kon kry waar hy of sy van strafregtelike vervolging vrygestel word. Hierdie komitee het soos ʼn regte hof gefunksioneer met kommissarisse wat uit advokate, prokureurs en regters bestaan het. Anders as by die Menseregtekommissie (MRK) kon getuies, slagoffers en die aansoekers vir amnestie regsverteenwoordiging (regsgeleerdes wat namens jou optree) hê. Getuienis is ook deur kruisondervraging getoets om vas te stel of dit wat hulle sê, die waarheid was.

Amnestie is net toegestaan as dit aan die voorwaardes van die WVK-wet voldoen het. Hiervolgens kon oortreders net kwytskelding (om vrygespreek te word) kry indien hulle ʼn algehele en waar onthulling maak van die omstandighede en gebeure waarbinne die daad gepleeg is. Nog ʼn voorwaarde was dat daar ʼn politieke rede agter die dade moes wees en die daad moes in verhouding met die politieke doel gewees het. As ʼn oortreder dus iemand vermoor het net omdat hy of sy ʼn ander politieke party ondersteun het, het daardie persoon nie amnestie gekry nie. Indien amnestie nie toegestaan is nie, kon ʼn oortreder strafregtelik vervolg word. 2

Komitee vir herstelbetalings en rehabilitasie

Nadat die Menseregtekomitee slagoffers na hierdie komitee verwys het, moes die komitee vir herstelbetalings en rehabilitasie aanbevelings maak oor hoe slagoffers ondersteun kon word om hulle te vergoed vir die pyn en lyding wat hulle deurgemaak het.

ʼn Presidentsfonds, wat deur die parlement en deur privaat bydraes gefinansier is, is tot stand gebring om dringende finansiële vergoeding aan slagoffers uit te betaal indien nodig. Hulpbronne soos sielkundige berading is ook beskikbaar gestel om slagoffers te help indien die WVK-proses mense se waardigheid aangetas het. 2

Verhore en bevindings

Oor ’n tydperk van twee jaar het die WVK 140 verhore landwyd gehou. Altesaam 21 400 slagoffers het verklarings ingedien, 27 000 slagoffers se name is opgeteken en 7 124 oortreders het om amnestie aansoek gedoen. Uiteindelik is daar in slegs 849 sake amnestie toegestaan. Amnestie is verwerp in 5 392 sake en verskeie ander aansoeke is teruggetrek. 8

In 1998 het die WVK sy bevindings vrygestel in ʼn verslag wat uit ses dele bestaan het. Daar het nog ʼn verslag later verskyn wat opgedra is aan die slagoffers en hul verhale. 9 Die WVK het apartheid veroordeel as ʼn misdaad teen die mensdom.

Die basiese bevindings van die WVK was dat daar in die tydperk van 1960 tot 1993 gruwelike menseregteskendings deur die Suid-Afrikaanse regering én die vryheidsbewegings was. P.W. Botha (die staatshoof voor F.W. de Klerk) se Nasionale Party-regering is spesifiek verantwoordelik gehou vir moord, marteling, ontvoering, brandstigting en sabotasie tydens die tagtigerjare. Die ANC is weer gekritiseer vir die burgerlike sterftes tydens bom- of landmynaanvalle. Daar is ook bevind dat die ANC mense in bannelingkampe gemartel en tereggestel het. Die grootste gevolgtrekking waartoe die WVK gekom het, was dat die hele Suid-Afrikaanse samelewing (al die mense van ʼn land) slagoffers van apartheid was en dat heling (gesondmaking of genesing) nodig was. 2

Reaksie op die WVK

Die debat oor die sukses van die WVK duur voort met vrae hoe dit verbeter sou kon word. 2

Een van die grootste probleme met die betroubaarheid van die WVK was dat dit nie onpartydig saamgestel is nie. Daar was nie een lid van die Nasionale Party (NP) of Inkatha-Vryheidsparty (IVP) nie, terwyl die meeste kommissarisse as uitgesproke of onuitgesproke ANC-ondersteuners bestaan het. ʼn Verslag van die Instituut vir Rasseverhoudinge het bevind dat die kommissie se personeel oorwegend simpatiek was teenoor die ANC. 10

Slegs twee Afrikaanse persone was kommissarisse, naamlik Wynand Malan (politikus en regsgeleerde) en Chris de Jager (advokaat). 1

Wat die slagoffers van menseregteskendings betref, is daar gevoel dat bewerings nie behoorlik deur kruisondervraging of ander getuies getoets is nie. Sowat 90% van hierdie verklarings is nie onder eed afgelê nie. Nogtans was hierdie verklarings die belangrikste bron van inligting van die WVK.

In meer as 80% van die gevalle het getuies aan die WVK vertel van menseregteskendings wat met ander mense, nie hulself nie, gebeur het. Hoorsê-getuienis van mense wat nie self tydens die oortreding teenwoordig was nie, maar die gebeure herhaal soos iemand anders dit aan hom of haar vertel het, is dus toegelaat. Die fokus was op die slagoffers se subjektiewe verhale soos hulle dit ervaar het en nie noodwendig presies wat gebeur het nie. 11

Oortreders het ook nie altyd die volle waarheid vertel nie. Toe ANC-leiers byvoorbeeld weier om skuld te erken vir ʼn bom wat in 1983 in Pretoria ontplof en 18 mense doodgemaak het, wou Desmond Tutu bedank. Polisielede en soldate het gevoel hulle is in die steek gelaat deur politici wat nie getuig of erken het dat hulle die opdrag gegee het om sekere dade te pleeg nie. Die samestelling van die amnestiekomitee het veroorsaak dat daar baie streng teen NP-lede opgetree is terwyl die ANC en ander bevrydingsorganisasies soos die United Democratic Front (UDF) en die Pan African Congress (PAC) nie so streng gestraf is nie. 10

Aan die positiewe kant het slagoffers vir die eerste keer die kans gekry om oor hul verlies en pyn te praat. Waar nodig, is daar ook vir die eerste keer finansiële en sielkundige steun gegee om die traumatiese gebeure uit die verlede te hanteer. Oortreders het gehoor van die pyn wat hulle mede-Suid-Afrikaners aangedoen het. 10

Hoewel die WVK miskien nie die volle waarheid ontbloot het nie, het die kommissie beslis ’n bydrae gelewer dat Suid-Afrika die verlede kon verwerk en saam na ʼn nuwe toekoms beweeg.

Ondanks die uitdagings en beperkings, word die WVK ook internasionaal as suksesvol beskou en het gewys hoe belangrik openbare deelname aan sulke prosesse is. Die verhore van die WVK het wêreldwyd aandag getrek omdat dit die eerste kommissie was wat openbare verhore gehou het waar slagoffers én oortreders se stories aangehoor is. 6

Woordbank

amnestie ʼn Amptelike bevel deur ʼn regering dat iemand wat iets verkeerds gedoen het, nie vir sy/haar dade gestraf of vervolg sal word nie.
apartheid Amptelike, rassistiese beleid van die Nasionale Party-regering (1948-1994) waarvolgens Suid-Afrikaners in kleur-/rasgroepe geskei is.
banneling Iemand wat uit sy/haar land verban is.
bom ʼn Wapen wat gemaak is van ʼn stof wat bedoel is om te ontplof en skade te veroorsaak en/of mense dood te maak.
burgerregte Reg wat ʼn mens as burger het.
demokratiese Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, gekenmerk deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg, van die media, ens.; volksregering.
eed Baie ernstige en formele belofte, byvoorbeeld om die waarheid as getuie te praat.
geregtigheid Hoedanigheid wat ʼn mens in staat stel om reg aan ʼn ander te laat geskied; billikheid; regverdigheid.
impliseer Iets te kenne gee sonder om dit reguit te sê; aandui.
kommissarisse Iemand met ʼn hoë amptelike pos.
kommissie ʼn Groep mense wat ʼn bepaalde taak het, gewoonlik van meer permanente aard as dié van ʼn komitee.
konteks Situasie/gebeure/inligting/ens. wat met iets verband hou en jou help om dit beter te verstaan.
kruisondervraging Vrae stel om besonderhede te bepaal, akkuraatheid te toets, ens.
landmynaanvalle ʼn Bom wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop/ry.
marteling Iemand moedswillig baie seer maak.
menseregte (Volgens baie gemeenskappe) enigeen van die basiese regte wat elke mens behoort te hê om regverdig behandel te word en vry te kan leef.
menseregteskendings Bedoelde of onbedoelde inbreukmaking op die basiese regte van mense.
mishandeling ʼn Mens/dier wreed/sleg behandel.
objektiewe Wat op feite gebaseer is, eerder as op wat iemand glo of hoe hy/sy voel; so neutraal as moontlik.
oortreders Iemand wat ʼn wet/reël oortree.
ontvoering Iemand met geweld wegneem.
openbare Vir almal bedoel/beskikbaar/toeganklik.
rehabilitasie Iemand help om weer ‘n gesonde/aktiewe/goeie lewe te lei.
regte Regverdigheid wat betref hoe mense behandel word en wat hulle mag doen.
sabotasie Die handeling/daad van opsetlik toerusting/voertuie/ens. te beskadig/vernietig sodat jou vyand/teenstander dit nie kan gebruik nie; die handeling/daad van doelbewus iemand se planne in die wiele te ry omdat jy nie wil hê hy/sy moet sukses behaal nie.
slagoffers Iemand wat aangeval/beroof/vermoor is of iemand wat swaarkry/ly as gevolg van ʼn ramp/ongeluk/siekte.
strafregtelik Dié gedeelte van die publieke reg wat aangee watter feite strafbaar is en watter strawwe daarop toegepas moet word.
subjektiewe Vanuit die eie standpunt bekyk; wat beïnvloed is deur jou eie mening (en dus nie noodwendig korrek/regverdig is nie); partydig; bevooroordeeld.
tereggestel Iemand met die dood straf.
getolk Iemand wie se werk dit is om die woorde van iemand wat in een taal praat in ʼn ander taal te vertaal sodat die mens(e) wat luister, kan verstaan wat die spreker sê.
uitgesproke Sonder om jou gevoelens te verberg; reguit.
vergeldende Iemand vir iets straf.
vergewe Ophou om iemand vir iets te verwyt/blameer; ophou om vir iemand kwaad te wees.
verhore Die ondervraging van ʼn beskuldigde in ʼn hof.
verklarings ʼn Formele verduideliking/bewys/belofte.
verslag ʼn Skriftelike uiteensetting/verduideliking van ʼn taak wat jy moes uitvoer en die resultate/uitkoms daarvan.
versoening Bymekaarbring; vyandskap tot ʼn einde bring; die herstel van vrede/vriendskap.
vervolging Iemand van ʼn misdaad aankla en in ʼn hof probeer bewys dat hy/sy skuldig is.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Eugene de Kock is deur die WVK beskou as die één persoon wat die moorde en geweld van die apartheidsregering onthul het. Hy het voor die WVK skuld beken op honderde moorde, maar is uiteindelik skuldig bevind op, onder meer, ses aanklagte van moord. Hy is twee lewenslange vonnisse plus 212 jaar tronkstraf opgelê 19

Só werk herstellende geregtigheid

Die opera Lamento handel oor die WVK

’n Onderhoud met Desmond Tutu ná die WVK

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 10 Oktober 2022 | Bygewerk op 8 November 2023