Vinnige feite

  • Hoewel Gandhi wêreldwyd bekend was vir sy vreedsame verset en vier keer genomineer is, het hy nooit die Nobelprys vir Vrede ontvang nie. In 2006 het die Nobelpryskomitee in die openbaar gesê dat hulle spyt is dat Gandhi nooit dié eerbewys ontvang het nie. 3
  • Gandhi het niegewelddadige metodes gebruik om teen Britse heerskappy te betoog. Sy nederigheid het daartoe gelei dat hy die bynaam “Mahatma” gekry het. Dit beteken “groot siel”. 2
  • Gandhi het aanvanklik die idee van “satyagraha” (ʼn filosofie van vreedsame verset) in 1906 ontwikkel in opstand teen wetgewing wat teen Indiërs in Suid-Afrika gediskrimineer het. Satyagraha-veldtogte het van 1917 tot 1947 in Indië plaasgevind, waar sy volgelinge deelgeneem het aan eetstakings en ekonomiese boikotte. 17
  • Hy het ʼn baie nederige bestaan gevoer. Van die 1920’s af het Gandhi in ʼn selfversorgende gemeenskap gewoon. Hy het eenvoudige vegetariese kos geëet. Hy het vir lang periodes gevas (nie geëet nie) as deel van politieke betogings en as deel van sy geloof in selfreiniging. 4
  • Gandhi en Jan Smuts, die destydse eerste minister van Suid-Afrika, het mekaar goed geken. Met sy terugkeer na Indië het Gandhi vir Smuts sandale as ʼn afskeidsgeskenk gegee. Later sou Jan Smuts die volgende oor die geskenk skryf: “Ek het daardie sandale vir baie somers gedra, al het ek nie waardig genoeg gevoel om in die skoene van só ʼn merkwaardige man te staan nie.” 7
  • Gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) (ook genoem die Suid-Afrikaanse Oorlog, Tweede Vryheidsoorlog of Driejarige Oorlog) stig hy met 1 100 vrywilligers ʼn diens waar hulle gewonde Engelse soldate met draagbare van die oorlogsveld dra. Aan die einde van die oorlog ontvang hy medaljes vir dapperheid van die Engelse regering. 18
  • Mohandas en Kasturba was 61 jaar getroud. Hulle het vier seuns en ʼn aangenome dogter gehad. Sy verhouding met sy oudste seun, Harilal, was nie goed nie. Hy was in opstand teen alles wat sy pa gedoen en geglo het. Kort ná sy pa se dood neem hy die Moslem-geloof aan en verander sy naam na Abdullah. Hy sterf vier maande ná sy pa aan tuberkulose. 19
  • Oor ʼn tydperk van 14 jaar is daar ses keer probeer om Gandhi te vermoor. Sy uiteindelike sluipmoordenaar het vyf uur geneem om ʼn verklaring van 150 paragrawe tydens sy verhoor voor te lees. 8
  • Die spanning tussen Indië en Pakistan duur vandag nog voort. Omdat albei lande oor kernwapens beskik, pas die VSA en ander lande sanksies op dié twee lande toe. ʼn Selfmoordbomaanvaller van ʼn Pakistanse militante groep het in Februarie 2019 die dood van 40 Indiërs in Kasjmir veroorsaak. 15
  • Daar is in meer as 70 lande standbeelde van Gandhi. Twee van dié standbeelde is in Suid-Afrika opgerig – een in Pietermaritzburg (KwaZulu-Natal) en een in Johannesburg (Gauteng). 20
Foto: iStock

Jy het seker al die gesegde gehoor dat ʼn mens nie iemand op sy baadjie moet takseer (beoordeel) nie. Wel, dit beteken dat iemand se uiterlike voorkoms (hoe hy of sy lyk of aantrek) nie die volle verhaal of storie oor dié persoon se lewe vertel nie. ʼn Baie goeie voorbeeld hiervan is Mohandas “Mahatma” Gandhi. Hy was ʼn tingerige (klein en maer) man met ʼn bril en ʼn tradisionele Hindoe-lendedoek wat met ʼn bamboeskierie rondgeloop en tandeloos geglimlag het, tog was hy een van die grootste leiers van die twintigste eeu!

Gandhi het met sy dapperheid en toewyding tot niegewelddadige teenstand (om sonder geweld teen iets vas te skop) een van die grootste wêreldryke aangevat. Hy het deur middel van vreedsame verset nie net daartoe bygedra dat Indië in 1947 onafhanklik van Brittanje kon word nie, maar ook deur sy weersin teen diskriminasie en onregverdigheid vir die regte van verskillende godsdienstige en onderdrukte groepe geveg.

Dié nederige man met die groot siel wat vir 21 jaar in Suid-Afrika gewoon het, was ʼn inspirasie vir groot geeste soos Albert Einstein, Martin Luther King jr. en Nelson Mandela, en is vandag nog vir mense reg oor die wêreld ʼn voorbeeld dat ʼn mens onregverdigheid op ʼn niegewelddadige wyse kan beëindig. 1

Familie en kinderjare

Mohandas Karamchand Gandhi is op 2 Oktober 1869 in Porbandar, ʼn ou hawestad in die weste van Indië, as die jongste van ses kinders gebore. Hy is vandag veral bekend as “Mahatma”, ʼn Sanskrit-benaming (ou heilige taal van die Hindoes) wat “groot siel” beteken. Hy het dié bynaam gekry omdat hy so nederig was. 2

Sy oupa, Uttamchand, en pa, Karamchand “Kaba” Gandhi, was soos die burgemeesters van die dorp, en sy ma, Pultibai, was Kaba se vierde vrou. Sy was baie godsdienstig en het as ʼn Hindoe elke dag na die tempel gegaan om te bid. 3

Gandhi se eerste laerskool was nie naastenby so deftig soos skole vandag is nie. Die kinders het byvoorbeeld die alfabet leer skryf deur die letters met hul vingers in die grond te maak. Later woon hy ʼn beter skool by toe die gesin verhuis nadat sy pa ʼn pos as burgemeester (“dewan”) in Rajkot aanvaar. Gandhi was nie ʼn akademiese uitblinker nie. Op sy een rapport skryf die onderwyser: “Goed in Engels, gemiddeld in Wiskunde, swak in Aardrykskunde, goeie gedrag, maar ʼn baie lelike handskrif.”

Hy was ook nie ʼn sportman van formaat nie. Hy was baie skaam en wou nie met die ander kinders praat nie. Hy het in die middae huis toe gehardloop om hulle te vermy. In sy vrye tyd het hy gelees of op sy eie gaan stap as hy nie besig was om sy pa te versorg of sy ma met takies in en om die huis te help nie. Sy pa is in 1885 oorlede toe Gandhi 16 jaar oud was. 4

Hy het net een vriend gehad, ʼn seun genaamd Uka. Uka was ʼn straatveër en is beskou as “onaanraakbaar” (onrein). Gandhi het een dag lekkergoed gehad en wou dit graag met Uka deel, maar Uka het gesê Gandhi mag nie naby hom kom nie omdat hy onaanraakbaar is. Gandhi het Uka se hande gevat en die lekkergoed vir hom gegee. Sy ma het dit gesien en Gandhi huis toe geroep. “Weet jy nie dat ʼn Hindoe van hoë aansien nooit ʼn onaanraakbare (die laagste Hindoe-klas) mag aanraak nie?” wou sy streng weet. “Ons Hindoe-geloof verbied dit.” Gandhi het vir sy ma gesê hy stem nie saam nie en dink nie dit is verkeerd om aan Uka te raak nie. “Hy is mos nie anders as ek nie?” het hy gesê. Sy ma het nie geantwoord nie. Sy het hom slegs aangesê om te gaan bad en bid. 3

Gandhi is op 13-jarige ouderdom met Kasturba Makanji getroud. Dit was ʼn verbintenis wat hul ouers reeds toe die kinders sewe jaar oud was, gereël het. Gandhi en Kasturba was getroud totdat sy op 74-jarige ouderdom oorlede is. 4

As tiener was Gandhi nogal rebels: Hy rook, steel en eet selfs vleis (heeltemal teen sy familie se geloof) – net soos ander seuns van sy ouderdom in daardie tyd. Hy het egter telkens, ná hy kattekwaad aangevang het, gesê “nooit weer nie”, en hy het by sy belofte gehou. Hy matrikuleer in 1887 aan die Universiteit van Bombaai (vandag staan dit as Moembai bekend). 5

Tyd in Londen

Ná skool wou Gandhi graag studeer om ʼn dokter te word, maar sy pa dring daarop aan dat hy hom as ʼn advokaat kwalifiseer. Ná sy pa se dood was die geld in die huis min, maar met sy oudste broer se finansiële ondersteuning kry hy die geleentheid om in Londen te gaan studeer. Hy laat sy vrou en hul eerste seun, Harilal, in Indië agter. 6

In Londen word Gandhi ʼn student van die Inner Temple, een van Londen se vier regskolleges. Gedurende sy studiejare sluit hy by ʼn groep aan wat oefen om in die openbaar te praat (amper soos redenaars). Dit help hom baie om oor die skaamheid van sy kinderjare te kom. Sy vegetariese leefstyl word egter vir hom ʼn verleentheid. Sy medestudente spot hom deur te sê as hy nie vleis eet nie, gaan hy swak vaar in sy studies, en sy gesondheid sal ook agteruitgaan.

Gandhi saam met Charlie Chaplin.

Tydens sy soeke na vegetariese restaurante ontmoet hy mense wat soos hy dink. Hy word een van die bestuurslede van die Vegetariese Vereniging van Londen. Die gesprekke wat hy tydens etes by vegetariese restaurante met bekende filosowe en skrywers soos die dramaturg Bernard Shaw het, dra baie by tot die politieke oortuiging wat hy later in sy lewe sou aanhang. 4

In Junie 1891, dieselfde jaar wat sy ma sterf, word Gandhi in Engeland tot die balie toegelaat, wat beteken dat hy toegelaat word om as advokaat te praktiseer. 7

Twee dekades in Suid-Afrika

Nadat hy sy graad in 1891 in Londen verwerf, keer hy terug na Indië en open ʼn regspraktyk in Moembai. Dit is nie baie suksesvol nie, want die graad wat hy in Engeland verwerf het, kon nie ten volle in Indië gebruik word nie omdat die regstelsels van die twee lande verskil. Hy word ʼn werk in Suid-Afrika aangebied en besluit om dit te aanvaar. 7

In 1893 kom hy in Suid-Afrika aan, en as deel van sy werk moet hy ʼn treinreis tussen Durban en Pretoria onderneem. Tydens hierdie reis beleef hy eerstehands die diskriminasie wat mense van kleur in daardie jare ervaar het. Aangesien Gandhi ʼn duur eersteklaskaartjie gekoop het, gaan sit hy in die eersteklaskompartement, wat baie meer gerieflik en weelderig was. Hy het nie geweet dat Indiërs nie eerste klas mag ry nie, en nadat ʼn wit passasier die treinpersoneel in kennis gestel het, word hy aangesê om die kompartement te verlaat. Toe hy weier, word hy van die trein afgegooi, tasse en al! 8

Steeds was dit nie die einde van die drama nie. Toe hy in Johannesburg aankom, word hy nie toegelaat om binne ʼn passasierskoets te sit nie. Hy moet buite saam met die bestuurder van die koets aan die voorkant sit, terwyl die kondukteur saam met die wit passasiers binne sit. Vir eers los Gandhi dit uit vrees dat hy die rit gaan mis. Toe die kondukteur wou rook, gooi hy ʼn vuil lap op die koetstrappie en beveel Gandhi om daar te gaan sit sodat hy voor langs die koetsier kon sit. Toe Gandhi weier, slaan die kondukteur hom en probeer hom van die koets afgooi tot die wit passasiers hom uiteindelik gestop het. 7

Mahatma Gandhi by ‘n treinstasie in die vroeë 1940’s.

Gandhi skryf later in sy outobiografie dat hierdie reis na Pretoria sy lewe verander het. Dit is toe wat hy besluit het om hom nie net vir sy eie regte nie, maar ook vir die regte van Indiërs in Suid-Afrika te beywer. Hy stig die Natalse Indiër Kongres in 1894 wat niegewelddadige protes gebruik teen die diskriminasie wat mense van kleur in Suid-Afrika deurgegaan het. 6

Tydens sy verblyf in Pretoria lees Gandhi sowat 100 boeke oor geloof. Hy kom onder die invloed van Christenskap, maar weier om dit te aanvaar. Hy woon in dié tyd selfs Bybelklasse by. Binne ʼn week ná sy aankoms lewer hy sy eerste openbare toespraak oor eerlikheid in ondernemings. Die byeenkoms is gehou om Indiese inwoners bewus te maak van die onderdrukking wat hulle ervaar. Hy het hom uitgespreek teen die feit dat Indiërs nie in die eerste klas op treine mag reis nie. Danksy dié byeenkoms is daar die versekering gebied dat eerste- en tweedeklaskaartjies uitgereik sal word aan Indiërs “wat behoorlik geklee is”. Dit was ʼn gedeeltelike oorwinning. 7

Sy ervarings in Suid-Afrika het Gandhi van ʼn skaam, teruggetrokke persoon verander in ʼn sterk politieke stryder. In hofverrigtinge is hy gevra om sy tulband te verwyder, maar hy het geweier en die hof verlaat. 4

Een van sy eerste niegewelddadige aksies vind plaas toe hy hoor dat die stemreg van Indiërs in Natal (vandag is dit KwaZulu-Natal) weggevat gaan word. Hy versamel meer as 10 000 handtekeninge om dié wet te keer, maar dit was tevergeefs. Al is die wet aanvaar, het Gandhi se veldtog die diskriminasie wat Indiërs in Suid-Afrika ervaar het, aan die wêreld geopenbaar. 4

Aan die begin van die 1900’s stig Gandhi ʼn koerant met die naam Indian Opinion. Daarin word hoofsaaklik artikels gepubliseer wat meer regte vir Indiërs in Suid-Afrika voorstel. Sy filosofie van vreedsame verset (“satyagraha”) word hier ontwikkel en in die Indian Opinion gepubliseer. Hy is betrokke by verskeie veldtogte om die regte van Indiërs te verbeter. Ná 21 jaar in Suid-Afrika besluit hy in 1914 om na Indië terug te keer. 4

Gandhi se huis in Sarvodaya, Durban.

Die onafhanklikheid van Indië

Voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Julie 1914 woon hy vir ʼn paar maande in Engeland, en in Januarie 1915 kom Gandhi in Indië aan. Hy word diep getref deur die armoede van die mense in Indië en besluit in 1921 om in net ʼn eenvoudige kleed wat hy om sy lyf gevou het, asook sandale in die openbaar te verskyn. Hierdie nederigheid maak hom baie gewild onder sy landsgenote en besorg aan hom die bynaam Mahatma wat “groot siel” beteken. 4

In daardie stadium was Indië, net soos Suid-Afrika, onder Britse beheer. In 1919 het Brittanje besluit dat enigiemand wat onafhanklikheid ondersteun, tronk toe sal gaan sonder om eers in ʼn hof verhoor te word. Gandhi het ʼn satyagraha-veldtog aangekondig, maar dit het tot gewelddadige betogings landswyd gelei. Altesaam 379 Indiërs is deur Britse soldate doodgeskiet toe hulle ʼn byeenkoms in Amritsar wou bywoon, en Brittanje het ʼn krygswet afgekondig. 9

Vir die res van sy lewe beywer hy hom om Indië onafhanklik van Engeland te kry. Hy en sy volgelinge gebruik vreedsame verset om politieke verandering te bring en besluit om enigiets wat Brits is, te boikot. Hulle sou byvoorbeeld geen Britse produkte koop nie, het geweier om by Britse howe of skole in te gaan, geweier om te werk en eetstakings gehou. 10

Een van sy bekendste aksies van vreedsame verset het oor soutbelasting gegaan. Sout, ʼn belangrike bestanddeel in die Indiese dieet, mag volgens wet nie deur die inwoners van Indië verkoop of versamel word nie – hulle is gedwing om dit by die Britte te koop. Met die instel van ʼn nuwe belastingwet op sout in 1930 deur Engeland, lei Gandhi ʼn optog na die kusdorp Dandi waar die landsburgers hul eie sout van seewater kon maak.

Mahatma Gandhi aan boord van die S.S. Rajputana, 1931.

Die regering van die dag het hulle aanvanklik nie gesteur aan die protes nie, want hulle het Gandhi se vermoë om mense op te sweep, onderskat. Hulle kon aanvanklik nie die verband sien tussen ʼn protes oor soutbelasting en onafhanklikheidswording nie. Die reis van amper 390 km te voet begin met 78 mense wat Gandhi volg. Soos hulle vorder, spreek Gandhi mense langs die pad toe. Teen die tyd wat hulle in Dandi kom, het duisende mense hulle by die optog aangesluit. 11

Toe hulle in Dandi aankom, druk die polisie die soutneerslag in die modder voor die skare mense. Dit het Gandhi nie gekeer nie. Hy het net afgebuk en ʼn groterige korrel natuurlike sout uit die modder gehaal. “Hiermee skud ek die fondasies van die Britse Ryk,” het Gandhi gesê. 12

In Moembai en Kurachi, stede langs die see, het almal sout begin maak. Gandhi en meer as 60 000 landsburgers oor die hele Indië word in hegtenis geneem, maar die doel van ʼn vreedsame opstand teen Britse wette is wel bereik. 8

Tydens die Tweede Wêreldoorlog word Gandhi vir twee jaar tronk toe gestuur, want hy en ander Indiese leiers wou onmiddellike onafhanklikheid hê as beloning vir Indië se hulp aan Brittanje tydens die oorlog. Hy gaan uit protes op ʼn eetstaking van 21 dae. Sy vrou was saam met hom in die tronk, maar haar gesondheid kon nie die eetstaking hanteer nie, en sy sterf in die ouderdom van 74 jaar aan ʼn hartaanval.

Saam met sy vrou, Kasturba.

Hy word kort daarna vrygelaat en bly veg vir Indië se onafhanklikheid. Die beweging lei daartoe dat ander lande, insluitend die Verenigde State van Amerika (VSA), druk op Brittanje plaas om Indië te bevry van hul mag. In 1947 word Indië uiteindelik onafhanklik verklaar.

Hoewel dit ʼn groot oorwinning was, was Gandhi teleurgesteld dat Indië in twee nuwe lande, Indië (hoofsaaklik Hindoes) en Pakistan (hoofsaaklik Moslems), verdeel is. Die gevegte tussen Hindoes en Moslems bly voortduur. 7

Gandhi was gekant teen die verdeeldheid. Hindoes en Moslems “moet dapper genoeg wees om mekaar lief te hê, om mekaar se geloof te verdra, moet mekaar vertrou …” het hy gesê. 16

Sluipmoord en nalatenskap

Gandhi se eenvoudige leefwyse, sy liefde vir arm mense en sy verwerping van enige vorm van geweld, beteken dat hy vandag steeds as voorbeeld voorgehou word vir alle pasifiste wat alternatiewe metodes vir gewelddadige protes soek.

Tydens Gandhi se pogings om Moslems en Hindoes te versoen, word hy in Januarie 1948 in Delhi, in die ouderdom van 78 jaar, in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet. Hy het slegs ses maande van Indië se onafhanklikheid ervaar. “Hy was net ʼn ou man in verafgeleë Indië,” het die Amerikaanse joernalis Louis Fischer geskryf. “En tog, toe hy sterf, het die hele mensdom getreur.” 13

Die 38-jarige Nathuram Vinayak Godse, ʼn Hindoe-ekstremis, is in hegtenis geneem ná die sluipmoordaanval. Godse het Gandhi blameer vir die verlies van ʼn deel van Indië (Pakistan) aan die Moslems. Godse het later in die hof verduidelik dat Gandhi Hindoes verraai het deur met Moslems en Pakistan te onderhandel. Godse word ter dood veroordeel, ʼn straf wat Gandhi miskien nie sou goedkeur nie, want hy het nooit geglo dat geweld met geweld beantwoord moet word nie. 14

Gandhi word steeds wêreldwyd bewonder vir sy bydrae om onafhanklikheid vir Indië te kry en sy niegewelddadige betogings. Dit het talle ander burgerregtebewegings, soos die beweging wat deur Martin Luther King jr. in die VSA gelei is, geïnspireer. 15

Die voorbeeld wat Gandhi se Natal Indian Congress in Suid-Afrika gestel het, was ʼn groot inspirasie vir Nelson Mandela. Hy het ʼn groot deel van Gandhi se filosofie aangeneem en was geraak deur Gandhi se lewe in Suid-Afrika en die soutoptog in 1930. 15

“Die eerste beginsel van niegewelddadige optrede,” het Gandhi gesê, “is wanneer mens nie deelneem aan enigiets wat vernederend is nie.” 15

Gandhi se graf in Indië.

Woordbank

aansien Hoë rang/stand.
Anglo-Boereoorlog Oorlog tussen die twee Boererepublieke, die Zuid-Afrikaansche Republiek (ou Transvaal) en die Republiek van die Oranje-Vrystaat, en die Britse Ryk wat van Oktober 1899 tot Mei 1902 in Suid-Afrika geveg is.
boikot Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop; uitsluiting.
diskriminasie Onderskeid by behandeling (verskillende mense/groepe word anders as ander hanteer of behandel).
Eerste Wêreldoorlog Die eerste oorlog waarby lande van die hele wêreld betrokke was; 1914 tot 1918.
eetstaking Weiering om kos te eet, uit protes of om ʼn eis af te dwing.
ekstremis Iemand wat tot die uiterste gaan.
filosofie Wetenskap wat die kern en aard van kennis, die werklikheid, die bestaan asook die betekenis van die lewe ondersoek; wysbegeerte.
Hindoe Iemand wie se godsdiens die Hindoeïsme is.
koetsier Drywer van ʼn koets of ander ryding wat deur diere getrek word.
kondukteur Iemand wat die werk het om seker te maak elke passasier in ʼn trein/bus het ʼn geldige kaartjie.
krygswet Militêre regering waardeur die gewone landswette tydelik opgehef word.
lendedoek Stuk geweefde materiaal, byvoorbeeld deur sommige Oosterlinge om die lende gedra.
Moslems Aanhanger van die Islam; Islamiet.
nederig Wat nie dink hy/sy is belangriker as ander mense nie; nie hoogmoedig/trots nie; beskeie.
onaanraakbaar Lid van die laagste Hindoe-klas; onreine wat nie aangeraak mag word nie.
onafhanklikheid Eienskap of toestand van onafhanklik wees.
outobiografie Lewensverhaal van iemand wat deur hom- of haarself op skrif gestel word.
pasifiste Voorstander van vrede tussen volkere; teenstander van wapengeweld.
Sanskrit Ou heilige taal van die Hindoes.
stemreg Reg om te stem; kiesreg.
tulband Oosterse hoofbedekking wat bestaan uit ʼn doek om die kop gedraai.
Tweede Wêreldoorlog ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het.
vegetariese Persoon wat uitsluitlik groente, vrugte, graan en neute eet, en geen voedsel wat deur die doodmaak van diere verkry is nie, soms ook nie produkte van diere verkry nie, soos eiers en melkprodukte.
veldtog Stelselmatige aksie.
verset Weerstand; teenstand; in opstand kom.
versoen Bymekaarbring; vyandskap tot ʼn einde bring; die vrede herstel.
weersin Teësin in iets/iemand; afkeer.
ryk Gebied waaroor ʼn vors heers; heerskappy; oppergesag; regering.

Lees dié om meer oor Gandhi te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Foto’s van Gandhi se tyd in Suid-Afrika

Sy eerste televisieonderhoud

Só lyk Gandhi se een plaas naby Johannesburg

ʼn Skeepsreis wat hy na Londen onderneem het

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Julie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024