Vinnige feite

  • Die Boeddhistiese geloof het uit Hindoeïsme ontstaan en die twee gelowe deel talle kenmerke. Albei glo aan reïnkarnasie, karma en dat ’n lewe van toewyding die pad na redding is. Boeddhiste glo egter nie aan die gode en rituele wat so deel van die Hindoegeloof vorm nie.
  • Ongeveer 94% van Hindoes wêreldwyd bly in Indië. Die enigste ander land in die wêreld met ’n Hindoemeerderheid is Nepal. In Brittanje is minder as 2% van die bevolking Hindoe, terwyl die Hindoebevolking in Amerika minder as 1% van die bevolking beslaan.
  • Volgens opnames vier byna alle Hindoes die Diwali-fees, maar daar is ook van hulle wat sekere elemente van Kersfees vier. 6
  • Hindoes vier ook feeste, soos Krishna Janmashtami, wat hulde aan Krishna se verjaardag bring en Raksha Bandhan, ’n viering van die band tussen broer en suster. Die Maha Shivaratri-fees is ’n groot fees wat die god Shiva vereer.
  • Hindoes glo dat alle lewende dinge gerespekteer moet word.
  • Kos is ’n belangrike element van Hindoes se kultuur. Baie Hindoes is vegetaries terwyl ander weer nie vark- of beesvleis eet nie.
  • Hindoeïsme deel baie kenmerke met ander Indiese godsdienste soos Boeddhisme, Sikhisme en Djainisme.
  • Hindoeïsme is die derde grootste godsdiens ter wêreld. Christenskap is die grootste en Islam die tweede. 3
Foto: iStock

As jy ’n Christen is, wonder jy dalk hoekom jy van ander godsdienste moet leer. Jy weet mos wat jy weet en glo, maar dis belangrik dat ’n mens van ander godsdienste leer sodat jy daardie gelowe en kulture beter kan verstaan en hulle kan respekteer.

In Suid-Afrika sê die Grondwet dat ’n mens vry moet wees om die godsdiens van jou keuse te beoefen en dat daar nie teen jou op grond van jou geloof gediskrimineer mag word nie. 1

Hindoeïsme is een van die wêreld se oudste godsdienste. Party bronne noem dit die oudste. Sekere tradisies van hierdie geloof is meer as 3 000 jaar oud. Die godsdiens het egter deur die eeue verskeie gedaanteverwisselings ondergaan en soos nuwe idees aanvaar is, is dit met ou beginsels gekombineer. Vandag is daar meer as 1,1 miljard mense in die wêreld wat Hindoe is. Die meeste van hulle bly in Indië; inteendeel, ongeveer 94% van Hindoes wêreldwyd bly in Indië. 2

Daar is nie een iemand wat ons kan uitwys as die stigter van hierdie geloof nie. Daar is ook nie een persoon wat besluit het dat daar een stel reëls is wat alle Hindoes moet volg nie. Alle Hindoes glo egter dat die Vedas ’n stel heilige geskrifte is, en dis vir hulle soos wat die Bybel vir Christene is.

Geskiedenis van Hindoeïsme

Dis moeilik om die presiese oorsprong van Hindoeïsme te bepaal, maar akademici glo dat dit ongeveer tussen 2 300 v.C. en 1 500 v.C. in die Indusvallei (naby die hedendaagse Pakistan) ontstaan het. Baie Hindoes glo egter dat hul geloof nie aan tyd gekoppel kan word nie en eintlik nog maar altyd bestaan het.

Ons kan wel sê dat Hindoeïsme eintlik ’n mengsel van verskeie gelowe en idees is. 3

Die Indo-Ariese mense het in 1 500 v.C. na die Indusvallei gemigreer en hul kultuur het sommer gou-gou met dié van die inheemse mense van die omgewing gemeng. Die antieke geskrifte wat as die Vedas bekendstaan, is in die sogenaamde Vediese tydperk geskryf en hierdie tydperk word gereken as tussen 1 500 v.C. en 500 v.C.

Rituele soos diereofferandes en dreunsang van mantras was algemeen in hierdie tyd. Mense het mettertyd teen diereoffers gekant geraak en vanaf 100 v.C. tot die jare 300’s is die ouer gode van Vedisme deur nuwes vervang.

Nog tydperke het gevolg en dit word die Epiese, Puraniese en Klassieke tydperke genoem. Dit het iewers tussen 500 v.C. en 500 plaasgevind en in hierdie tyd het Hindoes ook begin om gode soos Vishnu, Shiva en Devi te aanbid. Dis ook in hierdie tyd dat die begrip van “dharma” bekendgestel is.

Dit is ’n stel kodes van goeie en etiese waardes waarvolgens hulle lewe. Ander gelowe, soos Boeddhisme en Djainisme, het daaruit ontstaan en veld gewen.

Die Middeleeuse tydperk van Hindoeïsme het van ongeveer die jaar 500 tot 1500 geduur. In die sewende eeu het Moslemse Arabiere sekere dele van Indië begin binneval en oorneem. Hindoes is ook in sekere tye van die Moslemse tydperk (1200-1757) nie toegelaat om hul gode vrylik te aanbid nie. Die Moslems het ook van die Hindoetempels verwoes.

In die laat 1400’s het ’n nuwe godsdiens, genaamd Sikhisme, ontstaan en elemente uit die Hindoe- en Moslemgelowe gekombineer.

Brittanje, wat ’n imperialistiese mag was en baie lande om die wêreld heen gekoloniseer het, het dieselfde met Indië tussen 1757 en 1947 gedoen. [Lees hier oor imperialisme.] Die Britse regeerders het aan die begin Hindoes toegelaat om hul gode vrylik te aanbid, maar later is Christen-sendelinge gestuur om te probeer om mense na Christenskap te bekeer. Dit het tot ’n herlewing van Hindoeïsme gelei, want mense het begin saamstaan om hul geloof en praktyke te beskerm.

Sekere Hindoeleiers het egter begin om tradisionele Hindoeïsme te kritiseer. Ram Mohun Roy is as ’n hervormer beskou en het hom teen die kastestelsel uitgespreek. Die kastestelsel was ’n stelsel waarvolgens mense op grond van hul sosiale klas gehanteer is. Mense uit verskillende sosiale klasse is dus verskillend gehanteer. Westerse idees is toe gebruik om Hindoeïsme meer modern te maak en om van ou, uitgediende idees ontslae te raak.

Die politikus en aktivis Mahatma Gandhi was in hierdie tyd baie bekend omdat hy aan die hoof van ’n beweging was om Indië onafhanklik van Brittanje te verklaar. Gandhi was teen geweld gekant en was ’n groot voorstander van vrede. 3

Mahatma Gandhi aan boord van die S.S. Rajputana, 1931

Die Britse kolonie van Indië is gevolglik in 1947 in twee onafhanklike nasies verklaar. Dit was Indië en Pakistan.

Daar was groot verskille tussen die Hindoes en Moslems en die gaping het vergroot nadat Indië in twee onafhanklike lande verdeel is. Miljoene Hindoes het hul huise in Pakistan verlaat om na Indië te gaan, terwyl miljoene Moslems weer hul eiendom in Indië moes verlaat om ’n nuwe tuiste in Pakistan te vind. Geweld het tussen Hindoes en Moslems uitgebreek en baie mense het gesterf. Die konflik het tot in die 21ste eeu geduur. 2

Meer inligting oor Gandhi

Mohandas Karamchand Gandhi is op 2 Oktober 1869 in Porbandar, Indië, gebore. Hy was die leier van Indië se onafhanklikheidsbeweging, maar het ook 21 jaar in Suid-Afrika gewoon.

Hy het ’n beleid van vreedsame verset gevolg en het in Suid-Afrika vir Indiese werkers se regte geveg. Hy het Indiërs in Suid-Afrika ook gevra om vreedsaam teen onregverdige wette te betoog. Die eerste vreedsame betoging het in 1906 plaasgevind.

Gandhi het in 1915 na Indië teruggekeer en was ’n politieke leier wat teen Britse oorheersing opgestaan het. Hy is verskeie kere in die tronk gegooi, maar het aangehou om vir onafhanklikheid te veg. Nadat Indië onafhanklik verklaar is, was daar baie konflik tussen Hindoes en Moslems, en Gandhi het weer probeer om vrede te bewerkstellig. Hy is egter op 30 Januarie 1948 doodgeskiet, maar sy naam leef steeds voort as iemand wat vrede voorgestaan het. 4

Mahatma Gandhi

Wat glo die Hindoes?

Hindoes glo in Brahman, ’n opperste, universele gees wat ewig en onveranderlik is. Hulle glo Brahman is orals teenwoordig en die rede waarom alles bestaan.

Die menslike siel word “atman” genoem en vorm deel van die universele Brahman. Hindoes glo in die algemeen dat as iemand sterf, word die atman weer in ’n ander liggaam gebore. ’n Siel kan dalk in ’n menslike, dierlike of selfs plantvorm na die aarde terugkeer. Hierdie idee word reïnkarnasie genoem.

Hindoes glo dat die lewe ’n voortdurende siklus van lewe, dood en reïnkarnasie is en noem dit “samsara”. Hulle glo ook dat karma bestaan. Alles wat jy doen (goed of sleg) kom weer terug na jou toe. Karma is basies wanneer die som van jou dade as jou lotsbestemming beskou word.

Hulle glo dat die siklus van reïnkarnasie of hergeboorte voortduur totdat iemand aanvaar dat die menslike siel en Brahman een is. Die meeste Hindoes glo dat dit ’n mens se grootste doelwit moet wees om tot hierdie insig te kom en sodoende van die siklus los te breek.

Hierdie redding wat die siklus van hergeboortes verbreek, word “moksha” genoem.

Hindoes strewe ook daarna om “dharma” te bereik, dit is die kode waarvolgens hulle lewe, en wat goeie gedrag en goeie waardes nastreef.

Daar word van Hindoes verwag om volgens die beginsel van “ahimsa” op te tree. Dit beteken dat hulle teen geweld gekant is en vereis van ’n mens dat jy geen skade aan iemand of iets moet aanrig nie. Baie Hindoes sien sekere diere, soos koeie, as heilige diere. Toegewyde Hindoes eet slegs vegetariese kos. Sommige sal wel vis of lamsvleis eet, maar nooit beesvleis nie. 2

Wie is hul gode?

Daar is baie gode wat aanbid word. Sommige Hindoes sien Brahma, Vishnu en Shiva as die drie gode wat die belangrikste is en daarom vereer moet word, terwyl ander Hindoes weer glo dat alle gode eintlik maar net deel van een god vorm en die verskillende dele van die godheid verteenwoordig. Hulle aanbid net een god en dit is Brahma.

Ons kyk hier na ’n paar van die belangrikste Hindoegode:

Brahma (nie dieselfde as Brahman nie)
Die god wat vir die skep van die wêreld en lewende dinge verantwoordelik is.

Vishnu
Die god wat beskerm en die heelal bewaar.

Shiva
Die god wat die heelal vernietig om dit weer te herskep.

Devi
Die godin wat dharma probeer hervestig.

Krishna
Die god van liefde en omgee.

Lakshmi
Die godin van welvaart en reinheid.

Saraswati
Die godin van leer. 3

Praktyke en simbole

Hindoes het heelwat interessante praktyke en rituele. Hulle aanbid elke dag hul gode by die huis en skep ’n spesiale plekkie in die huis waar hulle beelde of prente van hul gode het. Die aanbidding word “puja” genoem. Hulle skep ’n klein altaar in die huis waar hulle tipies in die oggende aanbid deur al vyf hul sintuie te gebruik: sig (deur na die beelde of prente te kyk), gehoor (deur liedjies te sing), tas en smaak (deur offerandes) en reuk (deur wierookstokkies aan te steek). Dis ’n algemene praktyk om geskenke, soos blomme of olies, aan ’n god of godin te offer.

Soos Christene kerke het, kan Hindoes na die Mandir (Hindoetempel) toe gaan om ook daar te aanbid. ’n Klok word gelui om hul gode te laat weet dat hulle daar is. Die rooi kolletjie wat ’n mens dikwels op Hindoes se voorkoppe sien, word ’n “tilak” genoem. Dis ’n teken van ’n god se seëning. 5

Hindoeïsme is vir hoofsaaklik twee simbole bekend. Die “om” (ook genoem “aum”) en die swastika. Die woord “swastika” beteken “goeie geluk” of “is gelukkig” in Sanskrit en dit is dan ook wat die simbool verteenwoordig. Ongelukkig is die swastika ook bekend daarvoor dat die Duitse Naziparty ’n diagonale weergawe daarvan as hul simbool gebruik het. Min mense weet dat dit ’n antieke teken is wat eintlik iets goeds verteenwoordig.

Die om-simbool bestaan uit drie Sanskrit-letters en dit verteenwoordig drie klanke. Die klanke is a, u en m en as dit gekombineer word, word dit as ’n heilige klank gesien. Die om-simbool word dikwels by altare in huise en by Hindoetempels gesien. 3

Pelgrimstogte na heilige plekke is ook al duisende jare deel van Hindoes se geloof. Baie pelgrimpslekke is langs die Gangesrivier in noordelike Indië geleë. Die Hindoes sien die Ganges as die heiligste van riviere. 3

Feesvieringe

Hindoefeeste word reg deur die jaar gehou.

Diwali is sekerlik een van die bekendste feeste en is ’n nuwejaarsviering wat vir vyf dae in laat-Oktober of vroeg-November gehou word. Hindoes vier dit deur geskenke aan mekaar te gee, spesiale kosse te geniet, vriende en familie te besoek en om lampies aan te steek en vuurwerke af te skiet.

Nog ’n belangrike fees vir Hindoes, is die Holi-fees. Dit is ’n lentefees en mense gooi gekleurde water en poeier op mekaar.

Sharad Navratri is weer ’n Hindoefees wat gewoonlik in die vroeë herfs gehou word. Dit duur gewoonlik nege dae. Dié fees bring hulde aan die godinne Durga, Lakshmi en Saraswati en kom tot ’n einde met die Dussehra-viering op die tiende dag van die fees. Dussehra vier die oorwinning van Rama (Vishnu) oor die demoonkoning Ravana (met sy tien koppe!).

Mense wat in suidelike Indië bly, vier gewoonlik in Januariemaand die Pongal-oesfees. 2

Heilige teks

Christene het die Bybel, Moslems het die Koran en die Hindoes se heilige boek staan as die Vedas bekend. Daar word geglo dat dit in ongeveer 1500 v.C. saamgestel is. Die verse en gesange daarin is in Sanskrit geskryf. Die Vedas bestaan uit die Rigveda, Samaveda, Yajurveda en Atharvaveda. Daar is ook ander geskrifte wat belangrik is vir Hindoes, naamlik die Upanishads, Bhagavad Gita, 18 Puranas, Ramayana en Mahabharata. 3

Meer oor die Hindoekastestelsel

Die kastestelsel is ’n sosiale hiërargie in Indië wat Hindoes op grond van hul karma en dharma klassifiseer.

Die stelsel is glo meer as 3 000 jaar oud en bestaan hoofsaaklik uit vier kategorieë:

  • Brahmin: intellektuele en geestelike leiers
  • Kshatriyas: beskermers en amptenare van die samelewing
  • Vaishyas: vervaardigers, produsente wat geskool is
  • Shudra: ongeskoolde arbeiders

Elke afdeling het ook onderafdelings. Daar is ook ’n burgerklas wat as die laagste vlak van die hiërargie gesien word. Dit is die sogenaamde “onreines” of “onaanraakbares” (in Engels: untouchables).

Die kastestelsel het vir eeue mense se sosiale, professionele en godsdienstige status in Indië bepaal. Met Indië se onafhanklikheidswording, het die grondwet egter diskriminasie op grond van ’n kaste verbied. Die kastes bestaan weliswaar steeds, maar dit word nie regtig gevolg nie. Sekere tradisies leef egter voort, soos dat ’n mens veronderstel is om met iemand in jou eie kaste te trou.

Woordbank

akademici Geleerde mense, wat gewoonlik by ’n universiteit werk, daar klas gee en navorsing doen.
altaar ’n Verhewe plek waar godsdienstige plegtighede plaasvind.
gediskrimineer Om onbillik tussen mense te onderskei.  Verskillende mense of groepe word anders as ander hanteer op grond van iets soos ras, geslag of geloof.
dreunsang ’n Ritmiese sang wat dikwels saam met liggaamsbewegings gepaardgaan.
gedaanteverwisselings Vormverandering, struktuurverandering, transformasie, herskepping.
etiese Om volgens goeie, innerlike lewensbeginsels te dink en te doen.
geskrifte Iets wat geskryf of gedruk is, soos boeke.
imperialistiese Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
inheemse Dit wat natuurlik in ʼn sekere gebied voorkom en dus eie is aan daardie spesifieke land of streek.
gekoloniseer Wanneer ’n land onder die oorheersing/besit van ’n ander land gebring word.
lotsbestemming Wanneer jy glo dat dit wat met jou gebeur, so bedoel is.
offerande Wanner jy iets aan God of ’n godheid gee, soos ‘n dier, voedsel, drank of ‘n kosbare voorwerp, om daarmee dankie te sê, lof te betuig of jammer te sê.
mantras Klanke/woorde of frases wat aanhoudend as gebed herhaal word.
gemigreer Wanneer mens ’n streek of land verlaat om jou op ’n ander plek te vestig.
reïnkarnasie Die wedergeboorte van ’n siel in ’n nuwe liggaam.
Sanskrit Die ou, heilige taal van die Hindoes.
siklus ’n Reeks gebeurtenisse of kringloop.
simbole ’n Teken of letter wat gebruik word om ’n idee voor te stel.
universele Wat oor die hele wêreld, by elkeen of oral voorkom.
vegetariese As iemand uitsluitlik groente, vrugte, graan en neute eet, en geen voedsel wat deur die doodmaak van diere verkry is nie.
veld gewen Om beter te vaar, vooruit te gaan.
verset Dit is weerstand; teenstand; in opstand kom.
verwoes Vernietig, erg beskadig.
wierookstokkies Stokkies wat van gomhars gemaak word en ‘n aangename reuk afgee as dit brand.

Lees hierdie artikels om meer oor Hindoeïsme te leer

Kyk hierdie video’s om jou kennis van Hindoeïsme te verryk

Feite oor Hindoeïsme

ʼn Breedvoerige verduideliking van Hindoeïsme

Wie was Gandhi?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 Julie 2023 | Bygewerk op 24 April 2024