Vinnige feite

Pres. Kruger en Genl. Joubert
  • Paul Kruger het sy naam gedurende die Eerste Vryheidsoorlog gemaak. Hy het later die president van die Transvaal geword, en hy was ʼn sleutelfiguur gedurende die Anglo-Boereoorlog.
  • Oor die slag van Majuba word daar vertel dat Piet Joubert se vrou die eerste persoon in die Boerekamp was wat die Britse soldate met hulle rooi baadjies op die berg opgemerk het. Haar reaksie was om aan haar man te sê: “Julle beter hulle daar gaan afhaal.”
  • Tydens die Paardekraal-volksvergadering is ʼn klipstapel oprig. Piet Joubert het die burgers uitgenooi om ʼn klip aan te dra en langs die klipstapel neer te sit. Die klipstapel was ʼn teken van die verbond wat die burgers met mekaar gesluit het, onder leiding van God, om hulle onafhanklikheid te herstel en verdedig. 3
  • Toe Suid-Afrika later sy eie vlag gekry het, genoem die oranje-blanje-blou, was die vierkleur een van die klein vlaggies in die middel daarvan.

Die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) was ʼn gewapende stryd tussen die Transvaal en Brittanje. Dit het in ʼn oorwinning vir die Transvaalse burgers met die Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 geëindig.

Kaart van Slag van Majuba, 27 Februarie 1881

Benaming

Die oorlog het al onder verskeie name bekend gestaan. Die Boere het dit vir lank die Transvaalse Vryheidsoorlog genoem, en die Britte het dit die Transvaal Rebellion of Transvaal War genoem. Dit word ook soms die Eerste Boereoorlog of die Anglo-Transvaalse Oorlog genoem. 1 Om dit maklik te onderskei van die Anglo-Boereoorlog gebruik ons die benaming Eerste Vryheidsoorlog.

Potchefstroom, Poskantoor en Boerewinkel tydens die Eerste Vryheidsoorlog

Oorsake

Die Groot Trek – toe ontevrede Kapenaars in die 1830’s in groot getalle na die binneland van Suid-Afrika getrek het – het geëindig met die stigting van die twee Boererepublieke, naamlik die Zuid-Afrikaanse Republiek (ook die ZAR of Transvaal genoem) in 1852, en die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) in 1854. In die eerste twintig of dertig jaar ná onafhanklikheid het die onderskeie republieke gesukkel om aan die gang te kom. Die inwoners was polities en kerklik verdeeld, en hulle kon nie saamstem oor hoe om die nuwe republieke te bestuur nie. Hulle was ook arm; die meeste was bestaansboere. Sommige het gejag, en sommige ‘n bestaan gemaak uit die vervoer van goedere. Handel was egter beperk. As gevolg hiervan was die regering ook arm, want ʼn regering se inkomste is belasting, en indien daar nie ryk mense of baie handel is nie, belemmer dit ook die regering se inkomste. 2 3

Die ontdekking van diamante in die 1860’s het ʼn nuwe imperialisme  [lees hier meer van imperialisme] in Brittanje laat vlamvat. Die Britte wou beheer oor diamanthandel hê, en hulle wou al lankal beheer oor al die swart mense in Suid-Afrika gehad het, sodat hulle almal dieselfde kon hanteer. Brittanje se plan was om ʼn federasie van die twee Boererepublieke, die Kaapkolonie en Natal te stig, maar die Boerestate wou natuurlik nie hulle onafhanklikheid opgee nie.

Natalse front, 26 Februarie 1881

Die Britte het toe besluit om die Transvaal te annekseer (‘sonder toestemming oor te neem’) en Theopilus Shepstone, ʼn Britse amptenaar van Natal af, het Pretoria toe met 25 mans binnegery en die Transvaal op 12 April 1877 geannekseer. Die Transvalers het vir eers nie gereageer nie. Hulle was erg verdeeld oor wat om te doen. Sommige, soos die regering, het nie geglo dat hulle ʼn stryd teen die Britte sou kon wen nie. 2 3 4

Natal Field Force op pad na die grens

Ongelukkigheid onder die Boere teen die anneksasie het oor die volgende twee jaar begin toeneem. Paul Kruger het twee deputasies na Londen toe gelei om met Brittanje oor onafhanklikheid te onderhandel en hulle te oortuig om ʼn referendum oor die anneksasie toe te laat, maar dit was tevergeefs. Stadig maar seker het die burgers in Transvaal hulle egter teen die Britse oorheersing begin verset, en Afrikaners elders in Suid-Afrika (in Natal en die Kaap) het hulle ondersteun, want hulle was net so ontevrede soos die burgers. Die Transvalers het ʼn reeks volksvergaderings gehou om die saak te bespreek. Die Britte was onder die indruk dat die Boere oor die algemeen die anneksasie aanvaar het. Die rede hiervoor is dat die Boere nie gestry het toe die Transvaal in die eerste plek geannekseer is nie. 2 3

Pres. Kruger in onderhandeling met Britte

Die ontevredenheid het bly groei. Die laaste strooi was ʼn insident in November 1880. Die landdros van Potchefstroom het ʼn boer daarvan aangekla dat hy belastinggeld skuld. Sy wa moes verkoop word om die skuld te betaal. ʼn Aantal ander burgers het met hul gewere opgedaag en die wa teruggesleep na die boer se plaas toe. Die Britse regering in Pretoria het aangekondig dat almal wat betrokke was gearresteer moes word. 3

Pretoria beleg Fort Commeline met sy bemanning
Pretoria beleg begrafnis van vlag
Pretoria Mei 1877 Britse kamp maand na anneksasie

Paardekraal, Desember 1880

In reaksie op die belastinginsident het die Boereleiers ʼn volksvergadering op die plaas Paardekraal in Krugersdorp gehou, waar duisende burgers op kort kennisgewing saamgetrek het. Op 11 Desember het die vergadering gestem om die ou Transvaalse regering te herstel – hulle sou nie meer na die Britse regering luister nie. ʼn Driemanskap bestaande uit Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert is as leiers van die Volksraad gekies. Paul Kruger en M.W. Pretorius was albei presidente van die Transvaal – Pretorius voor die oorlog en Kruger na die oorlog.

Paardekraal, klipstapel

Piet Joubert was die kommandant-generaal – die leier van die weermag. Laastens is besluit om die setel van hulle regering in Heidelberg te maak – dit is waar die leiers hul vergaderings sou hou. Die gebeure by Paardekraal was egter nog nie die amptelike begin van die oorlog nie. Die Boere het gehoop dat die Britte hulle regering sou aanvaar, sodat hulle oorlog kon vermy. Hulle het dan ook ʼn proklamasie opgestel waarin hulle hul argumente uitgelê het. 2 3

Die oorlog se fisiese stryd het in Potchefstroom begin, toe daar skote gewissel is tussen die ruiters wat die proklamasie na Potchefstroom geneem het om te druk en Britse soldate by die fort. Beide kante het ontken dat hulle die eerste skote gevuur het. Die nuus hiervan het soos ʼn veldbrand versprei, en ʼn paar ure later het die Boere Heidelberg beset en die Vierkleur, Transvaal se vlag, gehys. 3

Die Boere se militêre posisie

Die Boere het ongeveer 7 000 vegtende burgers gehad. Hulle was nie professionele soldate nie, het nie uniforms gedra nie, slegs bandoliers, en was somtyds eiewys en ongedissiplineerd. Feitlik al die Transvaalse Boere moes aan die stryd deelneem. Hulle het nie eintlik ʼn keuse gehad nie, want daar was nie ander vegters nie. 3

Die Boere het ʼn aantal voordele bo die Britte gehad. Eerstens het hulle geweet dat hul vroue en kinders baie swaar sou kry as hulle moes doodgaan, en daarom was dit nie ʼn skande om te vlug nie (soos wat dit vir die Britte was nie). Tweedens het hulle perde gehad wat nie geskrik en weggehardloop het wanneer skote geskiet is nie; dit het hulle vinniger en meer mobiel as die Britte gemaak. Derdens was hulle uitstekende skuts – hulle kon regtig goed skiet. Wanneer hulle die Britte aangeval het, het skerpskutters dekkingsvuur (‘om van ver af op die vyand te skiet’) verskaf, terwyl die voorste soldate inbeweeg het.

Die dekkingsvuur was dodelik akkuraat. Anders as die Britte het die Boere voor elke skoot gekorrel, vermoedelik omdat hulle van kleins af geleer is dat ammunisie duur was en elke skoot raak moes wees. Vierdens het hulle natuurlik die veld goed geken, en hulle kon goed kamoefleer. Laastens was hulle sielkundig gereed vir die stryd, en hulle het geglo God is aan hulle kant. Hulle het saamgestaan in hul geloof dat hulle reg was om te veg vir hulle eie regering. Hierdie geloof en vasberadenheid het opgemaak vir die feit dat hulle minder soldate as die Britte gehad het. 2 3

Die stryd: die Britte

Die Britte was onvoorbereid vir die stryd. Hulle was inderdaad so seker dat die Boere nie sou veg nie dat hulle in Augustus 1880 die Britse mag in Transvaal van 2 911 tot 1 759 verminder het. Daar was slegs 100 berede soldate oor. Bowendien het hulle die Boere se militêre vermoëns totaal onderskat, en hulle het nooit met dieselfde intensiteit (‘ewe hard’) as die Boere geveg nie. 3

Die verloop van die stryd

Die Eerste Vryheidsoorlog was ‘n redelike kort stryd. Die verloop van die oorlog is bepaal deur ‘n aantal gevegte wat vervolgens bespreek gaan word.

Die slag van Bronkhorstspruit

Die eerste groot veldslag het by Bronkhorstspruit op 20 Desember 1880 plaasgevind, waar ʼn kommando van 300 burgers onder kommandant Frans Joubert ʼn Britse kolonne verras het. In ʼn geveg wat ʼn paar minute geduur het, is die Britte verpletterend verslaan: tydens die veldslag is 56 Britte dood, en die volgende paar weke nog 11 aan hul wonde. Aan die Boere se kant is een burger tydens die geveg dood, een kort daarna, en vyf is lig gewond.

Kaart van Slag van Bronkhorstspruit
Bronkhorstspruit slagveld tydjie na die geveg

Die kommando het met hulle oorlogbuit – gewere, ammunisie en kosvoorrade – teruggekeer Heidelberg toe. Die eerste groot geveg was verby, en die oorlog in volle swang. 2 3

Genl. Joubert

Die stryd brei uit

Die Boere het hierna kommando’s na al die dorpe in die Transvaal gestuur om hulle te beset, en, waar daar Britse garnisoene was – naamlik in Potchefstroom, Pretoria, Rustenburg, Marabastad, Lydenburg, Standerton en Wakkerstroom – hulle die stryd aan te sê. By elke dorp is daar hard geveg, maar slegs by Potchefstroom het die Boere die Britte verslaan.

Colley moedig sy manskappe aan tydens Slag van Majuba

Die oorlog het in Transvaal ontstaan, maar is in Natal beslis. Kommandant-generaal Piet Joubert het vermoed dat die Britte ʼn versterkingsmag vanaf Natal sou stuur, en daarom het hy begin om ʼn kommando byeen te bring. Hy het op 27 Desember met 800 perderuiters na Natal vertrek en by Laingsnek, waar die pad oor die Drakensberg kronkel, vir die Britte gewag.

Kaart van Slag van Laingsnek

Die Britse mag onder generaal-majoor sir George Pomeroy Colley het bestaan uit 1 146 voetsoldate en 191 berede soldate met ses kanonne, twee Gatling-masjiengewere en drie vuurpylbuise. Hulle het op 24 Januarie 1881 opgeruk en by Mount Prospect, onderkant Laingsnek, kamp opgerig. 3

Colley se rewolwer

Die slag van Laingsnek

Die slag van Laingsnek het op Vrydag 28 Januarie 1881 plaasgevind. Soos die slag van Bronkhorstspruit was dit van korte duur – slegs sowat ʼn uur lank. Die Boere was bo-op ʼn koppie toe die Britte aangeval het. Ten spyte van herhaaldelike aanvalle deur die Britte – wat kanonvuur asook voetsoldate en perderuiters ingesluit het – was die Boere se skietwerk te akkuraat, en Colley moes die aftog blaas. Aan die Britse kant het 83 Britte gesneuwel en 110 is gewond (‘beseer’). Die Boere se verliese was 14 gesneuwel, twee aan wonde oorlede en 27 gewond.

Skets van Britse helde by Laingsnek

Laingsnek het ʼn paar belangrike gevolge gehad: Colley se plan om die Transvaal in te val, is uitgestel totdat hulle versterkings kon ontvang. Aan die Boere se kant was die een gevolg dat hulle hul vrees vir kanonne verloor het, en ook die noodsaaklikheid van verdediging, soos skanse en loopgrawe, besef het. Die Boere het verder gereken dat Colley nie weer sou aanval sonder versterkings nie, en hulle moes nou verhoed dat die versterkings Colley bereik. 3

Laingsnek
Uys wat by Laingsnek gesneuwel het

Die geveg by Schuinshoogte

ʼn Kommando onder generaal Nicolaas Smit het intussen op waens wat Britse voorrade, insluitende kos en ammunisie, uit Newcastle na die Britse soldate toe gebring het, toegeslaan. Colley het besluit om die kommando te probeer keer deur met ʼn patrollie bestaande uit 400 mans en vier kanonne na Schuinshoogte op te ruk. Smit se kommando het hom aangeval, en het die oorhand gehad toe hulle deur ʼn reënstorm onderbreek is. Smit het teruggetrek en wou later weer aanval, maar Colley en sy soldate het in die nag na Mount Prospect teruggeval.

Veg. genl. N.J. Smit 1880/1881
Kaart van Slag van Schuinshoogte

Die Britte het hulle gewonde soldate op die slagveld gelaat, maar hul kanonne saamgesleep. Op pad terug moes hulle ʼn rivier, wat as gevolg van die reën sterk geloop het, oorkruis. In die proses het ʼn klompie Britse soldate verdrink. Die Boere was teleurgesteld toe hulle die volgende oggend die geveg wou hervat en besef Colley het onttrek. Aan die Boerekant het agt burgers gesneuwel, twee is aan wonde oorlede en sewe is gewond. Aan die Britse kant is meer as 100 soldate oorlede, gewond of verdrink. 3

Skets van Newcastle in ongeveer 1880

Die tussenperiode

Tussen 10 en 26 Februarie 1881 was daar pogings om onderhandelinge om die oorlog te beëindig, op die been te bring. Intussen het die Gordon Highlanders, een van Brittanje se beroemdste regimente, hulle by Colley se magte aangesluit. Hy het toe besluit om weer tot die aanval oor te gaan. Sy nuwe plan was om die Boere deur die berg Majuba (naby Newcastle) aan te val. ʼn Plaaslike swart man het hom vertel dat die Boere nie die plat, pieringvormige kruin van Majuba bewaak het nie. Die veldslag is in totale geheimhouding beplan, en Colley het net een van sy offisiere van hul bestemming ingelig. Op Saterdagaand, 26 Februarie 1881, het Colley ʼn mag bestaande uit 570 mans, waaronder die Gordon Highlanders, beveel om aan te tree. Hulle het slegs gewere saamgevat. 2 3

Kaart van Slag van Majuba 27 Februarie 1881

Die slag van Majuba

Die Britte het met groot moeite die volgende oggend die bergtop bereik en al om die kruinrand, wat ongeveer 1 300 m in omtrek was, versprei. Toe die Boere hulle kort ná sonop opgemerk het, het kommandant-generaal Joubert besluit om burgers uit te stuur om hulle op die berg aan te val.

Britte agter klipskanse op Majuba

Die Boere het vanuit verskillende rigtings die berg begin uitklim. Die Britte het van bo af op hulle geskiet, maar dit het die Boere nie gehinder nie, en hulle het so goed weggekruip dat die Britte nie besef het dat hulle besig was om al hoe hoër te vorder nie. Intussen het ʼn ander groep Boere van die voet van die berg af op enige Brit wat gedurf waag het om oor die kruinrand te kyk, geskiet. Toe die Boere reg onder die kruinrand was, het die burgers aan die voet van die berg opgehou skiet omdat die kans nou te groot was dat hulle hul eie troepe sou raakskiet. Die Britte het aanvaar die geveg is verby. 3

Majuba

Om ongeveer eenuur die middag is die Britte egter wreed ontnugter, want die voorste burgers het van die noordekant af skielik op hulle begin vuur. Die Britse soldate het teruggeval na die middel van die kruin en probeer verdedigingslinies maak. Die stryd om die kruin het tussen 10 en 20 minute geduur. Die Britte se linies is egter vernietig toe ʼn groep Boere van die oostekant af die kruin bereik het en op hulle flank begin skiet het. Die Britte se verdediging het gedisintegreer (‘verbrokkel’). Hulle het na die suidekant toe gehardloop, en talle is raakgeskiet, insluitende Colley, wat noodlottig getref en daar dood is. Die ongedeerde soldate het teen die kruin af na Mount Prospect toe gehardloop. Sommige het oor die kranse getuimel. Die Boere het die kruin beset en ten minste 50 Britte krygsgevangenes geneem. Die Boere wou die Britte volg en by Mount Prospect aanval, maar digte mis het neergesak en die slag van Majuba beëindig. 3

Die Boere se verliese was een burger dood, een aan wonde oorlede en vyf lig gewond. Aan die Britse kant is 92 mans oorlede en 134 is gewond. Dit was ʼn vernietigende nederlaag vir die Britte. 2 3

Afloop van die stryd

ʼn Voorlopige vredesooreenkoms is op 23 Maart 1881 geteken. Daarvolgens sou die Transvaal susereiniteit ontvang. Dit beteken die Boere sou totale beheer oor hulle eie binnelandse sake kry, maar Brittanje sou toesig hou oor hulle buitelandse beleid. Uiteindelik het die Boereleiers op 2 Augustus, ten spyte van teenkanting onder sommige Boere teen die bepalings, die konvensie onderteken.

Vredesbepalings, O’Niel se Kothuis na Amajuba

Hulle oorspronklike doel was om binnelands vry en onafhanklik te wees, en daarin het hulle geslaag. Die Pretoriase Konvensie is op 3 Augustus onderteken, en die beheer oor die regering is aan die Driemanskap (Paul Kruger, M.W. Pretorius en Piet Joubert) oorhandig. 2 3

Vredesonderhandelinge tussen Pretorius, Kruger, Wood, Brand, Joubert en Jorissen

Ontevredenheid met die implementering van die konvensie het daartoe gelei dat ʼn deputasie van Boereleiers in 1883 Londen toe is om dit te wysig. ʼn Nuwe konvensie is na maande se onderhandelings bereik. Hiervolgens is die susereiniteit beëindig. Die enigste beperking wat oorgebly het, was dat die Transvaal nie ʼn verdrag met ʼn ander land mag sluit sonder Brittanje se toestemming nie. Die onafhanklikheid van die Transvaal is dus finaal op 27 Februarie 1884, op die herdenking van Majuba-dag, met die ondertekening van Konvensie van Londen herstel. 3

Laer by Charlestown, Majubaberg

Gevolge en betekenis

Majuba was vir die Boere ʼn simbool van oorwinning. Die Britte het dit egter as ʼn vernedering gesien, en het gesoek vir kans op weerwraak (om wraak te neem omdat hulle ʼn onreg aangedoen is). Hulle sou uiteindelik hulle kans amper twintig jaar later, met die Anglo-Boereoorlog, kry. Die Eerste Vryheidsoorlog het Afrikaner-nasionalisme laat opvlam, nie net in die Transvaal nie, maar reg oor Suid-Afrika. Paul Kruger het ʼn simbool van Afrikaner-vryheid geword. 3

Pres. Paul Kruger
Vredesonderhandelinge Pretorius Kruger Wood Brand Joubert en Jorissen

Woordbank

annekseer Om besit van ʼn gebied te neem.
bandoliers ʼn Band wat jy oor jou skouers en bors dra vir ammunisie.
berede Om op perde te ry.
beset Om beheer oor ʼn plek te neem en dit met wapens te beskerm.
deputasies Om iemand te stuur om jou te verteenwoordig.
flank Die sy- of agterkant van ʼn weermag.
garnisoene Troepe wat ʼn fort of kasteel beset.
gesneuwel Om in ʼn oorlog deur die vyand doodgemaak te word.
gewond Beseer word in ʼn geveg deur ʼn wapen soos ʼn mes of geweer.
imperialisme Wanneer ʼn staat ander gebiede onder sy mag of invloed wil neem.
kamoefleer Om jouself onsigbaar of onopvallend te maak.
kolonne Soldate in ʼn kleinerige groep.
krygsgevangenes ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp.
linies ‘n Verdedidingslyn.
loopgrawe Gang in die grond waar soldate kan wegkruip sonder om aan die vyand blootgestel te wees.
nasionalisme Liefde vir jou eie volk of nasie.
oorhand Wanneer jy aan die wenkant is of meer mag as die vyand het.
oorlogbuit Voorrade (soos wapens, ammunisie, kos en klere) wat jy by die vyand afgeneem het.
proklamasie Amptelike aankondiging, in die vorm van ʼn brief of toespraak.
referendum Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak.
setel Die amptelike plek waar iemand gevestig is.
skanse Militêre versterking, soos ʼn wal waaragter soldate kan wegkruip.
versterkings Uitgeruste troepe wat na ʼn oorlog gestuur word. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Eerste Vryheidsoorlog

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Eerste Vryheidsoorlog

Die Eerste Boereoorlog

Majuba

Slag van Majuba

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 April 2022 | Bygewerk op 20 Oktober 2023