Vinnige feite

  • Vroeg in sy lewe is D.F. Malan se vordering bietjie gestrem deur sy bysiendheid en die feit dat hy nie liggaamlik baie sterk was nie. Nietemin het hy redelik goed op skool presteer. 2
  • Malan het in 1926 vir die eerste keer getrou – hy was dus reeds in sy vyftigs. 3
  • Malan was twee keer getroud. In 1926 het hy met Martha Margaretha Elizabeth van Tonder getrou. Daar is twee seuns uit die huwelik gebore. Sy is in 1930 oorlede, en in 1937 het hy weer getrou, met Maria-Anna Sophia Louw. Hulle het in 1948 ’n Duitse weesdogter aangeneem, maar was andersins kinderloos. 2
  • Malan was die eerste leier van ’n verenigde Suid-Afrika wat nie ’n Anglo-Boereoorlog-generaal was nie. (Die leiers voor hom was generaals Louis Botha, Jan Smuts en J.B.M. Hertzog). Hy word daarom soms die opvolger van die Boeregeneraals genoem.
  • ’n Koerant het ná sy dood geskryf oor sy “stem wat soos donder kon rammel…”
  • In opposisiekoerante en spotprente is hy dikwels as sfinksagtig voorgestel, omdat hy nie maklik in die openbaar sy gevoelens gewys het nie. 2
  • Dr. Malan was die kanselier van die Universiteit Stellenbosch tussen 1941 en 1959, die langste dienstyd ooit. 15 Hy het  eredoktorsgrade by die Universiteite Stellenbosch, Pretoria en Kaapstad ontvang. 2
  • Die Universiteit Stellenbosch besit ’n bronsbeeld van D.F. Malan deur die beroemde beeldhouer Coert Steynberg. 2

“Glo in God, glo in jou volk, glo in jouself.”

Hierdie is die openingswoorde van doktor D.F. Malan se herinneringskrif, Afrikaner-volkseenheid en my ervarings op die pad daarheen. Hierdie kragtige woorde, geïnspireer deur die gees wat die Voortrekkers besiel het om die Groot Trek aan te durf, is sy eie. 1

Hiervolgens het dr. Malan – politieke figuur, staatsman, kerkman, kultuurleier – sy lewe geleef.

Vroeë jare en opvoeding

Daniël Francois Malan is op 22 Mei 1874 naby Riebeek-Wes in die Kaap gebore, die tweede van ses kinders. Sy ouers was Daniël Francois Malan, ’n gesiene boer en kerkman, en Anna Magdalena du Toit. Hy het grootgeword op die plaas Allesverloren, waar sy ouers die bure en vriende was van die ouers van Jan Smuts, wat later eerste minister sou word. 2

Die Malan-gesin

Malan het in 1890 in Riebeek-Wes gematrikuleer. Hy het in 1895 sy BA-graad aan die Victoria Kollege (vandag die Universiteit Stellenbosch) verwerf. Daarna het hy terselfdertyd teologie en wysbegeerte (filosofie) gestudeer. Hy het sy MA-graad in 1899 voltooi, en in 1900 na Nederland vertrek om verder te gaan studeer. In 1905 het hy sy doktorsgraad in teologie aan die Universiteit van Utrecht ontvang. 2

Gedurende sy studentejare het hy alreeds leierseienskappe getoon: hy was vir twee jaar die voorsitter van die debatsvereniging. 2

Politieke ontwaking in Nederland

Terwyl dr. Malan in Europa was, het hy heelwat gereis en gesiene Afrikanerleiers soos die Transvaalse president Paul Kruger, generaals Louis Botha, Koos de la Rey en Christiaan de Wet, asook die Vrystaatse president M.T. Steyn en sy vrou, Tibbie Steyn, ontmoet. Met laasgenoemde het hy ’n hegte vriendskap gesluit. 2

Die impak van die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) het ’n groot invloed op sy politieke idees gehad. Hy het soms gewroeg (sy gewete het hom gepla) omdat hy in Nederland was en dus nie saam met sy landgenote in die oorlog gely het nie. 3 Ver van sy land, en ten spyte daarvan, het Malan se Afrikanernasionalisme, oftewel sy liefde vir die Afrikaners, toegeneem.

In 1904 het hy geskryf dat die Afrikaners verengelsing beter sou kon keer as hulle saam gestaan het. Hy wou die Afrikaanse taal ophef, en hê dat Afrikaners moes trots wees op hul taal, godsdiens en erfenis (dit wat hulle uit hul geskiedenis verkry het). 4

Dr. Malan was ná 1910 heftig gekant teen generaal Louis Botha, die eerste minister, se beleid van versoening met die Britte (met ander woorde om die vyandskap met die Britte te eindig). 2

Louis Botha

Predikantsjare en vroeë politieke betrokkenheid

Nadat hy sy doktorsgraad voltooi het, het dr. D.F. Malan na Suid-Afrika teruggekeer, waar hy in 1905 ’n aflospredikant in Heidelberg (Transvaal) geword het. Hier het hy vir die eerste keer kennis gemaak met Boere wat persoonlik die harde gevolge van die Anglo-Boereoorlog moes dra. Wat hy ervaar het, het hom oortuig dat eenheid en samewerking die sleutel was tot die opbou van die Afrikanervolk. 2

In Heidelberg het hy ’n beroep (uitnodiging om ’n predikant te word) na Montagu in die Suid-Kaap aanvaar, waar hy vir ses jaar gebly het. Hier het hy sy tyd aan sendingwerk en die opheffing van verarmde Afrikaners spandeer. Vanaf Montagu is hy in 1913 as aflosleraar na die Graaff-Reinet-gemeente. 2

Dr. Malan het stadig maar seker as politieke leier op die voorgrond begin tree. In toesprake het hy klem gelê op die opleiding van onderwysers en ’n nasionale opvoedingsbeleid (met ander woorde ’n plan vir die hele land).

Verder het hy geveg dat die regering Afrikaans as skryftaal erken. Om hierdie ideaal te bereik, het hy die algemene voorsitter van die Afrikaanse Taalvereniging geword 2 en was in 1909 een van die stigters van De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns) – ’n organisasie wat Afrikaners se belange wou bevorder. 5

Op kerklike terrein het hy pogings aangewend om die NG Kerke in die vier kolonies (Transvaal, Vrystaat, Kaapkolonie en Natal) – wat in daardie stadium onafhanklik was – te verenig. In 1912 het hy ’n reis na Rhodesië (vandag se Zimbabwe) aangepak om Afrikaanse gemeentes daar te besoek. 2

In 1913 was daar groeiende konflik (meningsverskille) tussen Louis Botha, die eerste minister, en generaal J.B.M. Hertzog, een van Botha se ministers. [Lees meer oor konflik.] Hertzog was nie gelukkig met Botha se beleid van versoening met Brittanje nie. Dit het uiteindelik gelei tot ’n skeuring tussen hulle en Hertzog het weggebreek en in 1914 die Nasionale Party (NP) gestig. Malan het homself aan Hertzog en die NP se kant geskaar (Hertzog se kant gekies). 2

Hertzog en Malan

‘De Burger’

Toe die NP gestig is, is daar ook ’n koerant, De Burger, gestig, wat as spreekbuis vir die NP se idees moes dien, met ander woorde, die koerant moes die NP se sienings en standpunte aan die burgers oordra. Selfs al het hy nog nooit by ’n koerant gewerk nie, is die pos van (die eerste) redakteur (hoof) van De Burger vir Malan aangebied. 4 Malan het dit aanvaar omdat hy gevoel het ’n loopbaan binne die NP sou hom kans gee om sy doelwitte, soos om armblankes (arm wit mense) te help, te bereik. 6

In Junie 1915 het hy sy afskeidspreek in Graaff-Reinet gegee en die leisels by De Burger oorgeneem (hy het die hoof geword). Hy het hierdie pos tot in 1923 beklee. 2

NP-leier en politieke strewe

Die middel van die 1910’s was ’n krisistydperk vir die Afrikaner. Suid-Afrika se besluit om die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) aan Brittanje se kant te betree, het gedreig om die Afrikaners, wat alreeds verdeeld was tussen die Suid-Afrikaanse Party (SAP) en die Nasionale Party (NP), nog verder te skeur. Die Rebellie van 1914 het verder tot dié verdeling bygedra.

Dr. Malan het landwyd vinnig bekendgeword. Hy was lid van die deputasie (afvaardiging) wat tevergeefs by genl. Smuts by sy Doornkloof-plaas gaan pleit het dat een van die rebelle, Jopie Fourie, nié tereggestel (met die dood te straf) moes word nie. 4

Strijdom, Malan en Sauer

Hy was ook deel van die vryheidsdeputasie. Dié deputasie, onder leiding van Hertzog, het ná die Eerste Wêreldoorlog by die vredesamesprekings by Versailles gaan pleit vir die herstel van Transvaal en Vrystaat se onafhanklikheid (om hulself te regeer), wat hulle ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) verloor het. 2 Nie een van hierdie pogings was suksesvol nie, maar Malan het bekendheid verwerf as ’n kampvegter (stryder) vir Afrikaners.

In 1915 is hy verkies tot leier van die NP in Kaapland en in 1919 as lid van die Volksraad (LV). 2

Dr. Malan se leuse was: “Om bymekaar te bring wat bymekaarhoort.” Hiermee het hy bedoel die twee groepe Afrikaners. Sy doel in die politiek was deurentyd om op ’n positiewe manier – deur op die goeie eerder as die slegte te fokus – die verdeeldheid uit te roei en ’n verenigde Afrikanervolk te skep. 1

Kabinetslid

In 1924 het die NP die verkiesing gewen en Hertzog het eerste minister geword. Hy het Malan in sy kabinet aangestel as minister van binnelandse sake, onderwys en volksgesondheid (openbare gesondheid). 2

Vir die volgende tien jaar het Malan hom op ’n reeks sake toegespits. Buite die amptelike sake wat hieronder bespreek word, was Malan ook deurentyd betrokke by die opheffing van armblankes. 6

Bevordering van Afrikaans

Malan het gevoel dat Afrikaans en die Afrikaner in die staatsdiens (die mense wat die administrasie van ’n land behartig) afgeskeep is en daarom het hy hard gewerk om dit reg te stel. 3

Hiermee het hy in 1925 ’n groot triomf behaal. Gesteun deur senator C.J. Langenhoven het Malan ’n wet voorgestel wat op 8 Mei 1925 eenparig (almal het saamgestem) deur die parlement aangeneem is. 2 Volgens hierdie wet, Wet No. 8 van 1925, is Afrikaans as ’n amptelike taal van Suid-Afrika erken. 7

’n Manier om meer Afrikaners in die staatsdiens in te trek, was om tweetaligheid voor te staan. Omdat meer Afrikaners as Engelse tweetalig was, sou daar dus meer Afrikaanssprekendes in die staatsdiens wees. 2 Hier was Malan nie só suksesvol nie: teen 1931 was daar steeds meer Engels- as Afrikaanssprekendes in die staatsdiens. 8 Voorts het Malan die staatsdiens opgeknap deur meer geld beskikbaar gemaak te maak vir beter geriewe en opleiding. 2

In 1933 is die Bybel ook in Afrikaans vertaal. Malan het dit beskryf as die grootste gebeurtenis in die kulturele en godsdienstige lewe van die Afrikanervolk. 9

’n Eie vlag vir Suid-Afrika

Malan wou graag ’n eie vlag en volkslied vir Suid-Afrika hê. 3 Tot in daardie stadium het Suid-Afrika die Britse vlag (die Union Jack) en die Britse volkslied (“God Save the Queen/King”), gebruik. In 1926 het hy ’n wetsontwerp (idee vir ’n wet) ingedien wat voorsiening gemaak het vir ’n eie landsvlag vir Suid-Afrika. 10

Dit was ’n bittere kwessie. Malan het ’n “skoon vlag” gesteun, waarop daar nie ’n Union Jack of republikeinse vlae sou wees nie, want hy wou gehad het dit moes wys dat Suid-Afrika ’n land in eie reg is. 6 Daar was baie teenkanting hierteen en dit het só ’n krisis in die regering veroorsaak, dat Malan gedreig het om te bedank. 10

Uiteindelik is ’n skikking bereik (albei kante het toegegee). Daar word besluit dat die Prinsevlag as basis sal dien vir ’n nuwe Unievlag, maar dat die vlae van die twee Boererepublieke en die Union Jack op die wit vlak aangebring moes word. (Die Nederlandse Prinsevlag is deur Prins Willem van Oranje gebruik in sy stryd teen die Katolieke Kerk). 11

Indiërs

Die NP het verkies dat mense uit Indië wat in Suid-Afrika gewoon het, terugkeer na Indië, en onder Malan het die regering gestem om meer geld beskikbaar te maak vir Indiërs wat Suid-Afrika uit vrye wil wou verlaat. 2 Baie Indiërs wou egter nie die land verlaat nie, en Malan se regering moes dit aanvaar.

Malan het daarna onderneem om ondersoek in te stel na die verbetering van Indiëronderwys en behuising, 6 maar die Indiërs was onderworpe aan die apartheidswette (soos hier onder bespreek).

Stemreg vir vroue en die bruin stem

Tot in 1929 was Malan ’n ondersteuner van gelyke regte vir wit en bruin mense en het dit selfs in die openbaar gesê. 7 Ná die NP die verkiesing van 1929 gewen het, het Malan ’n leidende aandeel gehad in die beweging om aan wit vroue stemreg te gee. 2 Die verskaffing van stemreg aan wit vroue het die bruin stem laat daal tot 6% van die totale stem. Die NP het daarna nie meer probeer om die bruin mense se stem te wen nie. 9

Die skeur met Hertzog en die stigting van ’n eie party (1933-1934)

In 1933 was Hertzog, leier van die NP, onder druk as gevolg van die slegte gevolge van die Groot Depressie. Daarom het hy besluit om ’n koalisie (ooreenkoms) met generaal Jan Smuts, die nuwe leier van die SAP, te vorm.

Die koalisie, wat in 1934 gesluit is, het bekendgestaan as die Verenigde Party (VP) en dit was in die volksmond (in die taal van gewone mense) bekend as die Samesmelting. Die Nasionaliste wat teen die samesmelting gekant was, het neerhalend na die lede as die Smelters verwys. 2

Malan, wat sy heftige teenkanting teen die samesmelting openlik laat hoor het, het wel ’n lid van die Volksraad gebly, 2 maar is uit die kabinet weggelaat. 7

Die rede vir Malan se teenkanting was dat die Suid-Afrikaanse Party (SAP) met Engelssprekendes saamgewerk het. Malan het gevoel dat die Afrikaners nie op gelyke voet met die Engelse gemeenskap was nie. Omdat die Engelssprekendes meer mag gehad het, sou enige samewerking eerder die Engelssprekendes bevoordeel het. Dit was dus nie vir die Afrikaners wys (slim) om met die Engelssprekendes saam te werk nie. 9

Kort daarna het Malan en sy ondersteuners, meestal lede van die Kaaplandse NP, weggebreek van die NP af en ’n eie party, die Gesuiwerde Nasionale Party (GNP), gevorm. 10 In die volksmond is húlle die Gesuiwerdes genoem. 7

Malan en 18 van sy volgelinge het die opposisie in die Volksraad geword. 2

Die GNP en VP het veral oor twee kwessies verskil. 10 Die eerste was die rassekwessie. Die VP wou vir bruin mense in al vier provinsies gelyke stemreg met wit mense gee, terwyl Malan politieke en residensiële segregasie verkies – stemreg vir elke verskillende ras in hul eie gebied. 2

Die tweede kwessie was Suid-Afrika se verhouding met Brittanje. Hertzog het gevoel Suid-Afrika het genoeg onafhanklikheid, terwyl Malan ’n sterker skeiding tussen Suid-Afrika en Brittanje wou gehad het. 2

Die Gesuiwerde Nasionale Party (GNP)

Die jare tussen 1934 en 1938 was ’n laagtepunt in die geskiedenis van Malan en die GNP. Die VP het oorweldigend die steun van die Afrikaners gehad. Daar was egter hoop: die GNP in Kaapland was goed georganiseer, met ’n goeie pers. In die verkiesing van 1938 het hul ondersteuning amper verdubbel, wat vir hulle ’n groot aanmoediging was. Daarbenewens was daar konflik tussen Hertzog en Smuts binne die VP. 2

1938 was ’n bloeityd (groot vooruitgang) vir Afrikanernasionalisme. Dit was die 100-jarige herdenking van die Groot Trek, en daar was landwyd gedenkfeeste asook ’n simboliese ossewatrek. 2 Malan en sy ondersteuners het die geleentheid aangegryp om die boodskap uit te dra dat die Afrikaners ’n volk was wat alleen die mas moes opkom, met ander woorde, hulle moes op hul eie regkom.

By die Geloftedagfees by die Voortrekkermonument op 16 Desember was Malan een van die sprekers. Daarteenoor het Smuts nie ’n spreekbeurt gehad nie en Hertzog het dit nie bygewoon nie. 12

Hierdie afloop van gebeure het baie Afrikaners na die NP laat draai.

Die Tweede Wêreldoorlog, 1939

In 1939 het die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) in Europa uitgebreek. Suid-Afrika moes weer eens besluit of hulle die stryd aan Brittanje se kant sou betree.

Op die dag wat oorlog verklaar is, het Malan ’n brief aan Hertzog geskryf, waarin hy gepleit het vir neutraliteit – dat Suid-Afrika nie moes kant kies nie. 7 Hy het aangedui dat hy weer onder Hertzog as leier sou dien, en aan hom die steun van die GNP beloof. 3

In die debat oor neutraliteit in die parlement het Malan geargumenteer dat as Suid-Afrika sou veg in elke oorlog waarin Brittanje betrokke was, Suid-Afrika nie regtig vry was nie. 11

Die uitslag van die stemming was dat Suid-Afrika wél saam met Brittanje sou veg.

Die kabinet het in twee geskeur, met Malan en Hertzog aan die een kant en Smuts aan die ander kant. Malan en die ander wat teen die oorlog gestem het, is deur die skare toegesing toe hulle uit die parlementsgebou gestap het. 7

Malan en Hertzog het versoen, en het in Januarie 1940 die Herenigde Nasionale Party (HNP) gestig. 2

Alhoewel Malan steeds sterk teen die oorlog gekant was – en elke kans aangegryp het om in die openbaar te verklaar dat Suid-Afrika van die oorlog moes onttrek – het hy die idee van opstand teen die regering verwerp.

Die HNP was pro-Duits en anti-Brits, maar hulle het egter nie vir Hitler en sy Nazi-party ondersteun nie. 11 Die NP het demokrasie voorgestaan – ’n idee wat die Nazis verwerp het. 9

Politieke struwelinge

Genl. Hertzog is in 1940 as leier van die HNP verkies, maar die samewerking tussen hom en dr. Malan het nie lank gehou nie. Malan en sy aanhangers was vir Hertzog té pro-Afrikaner en pro-republikeins (hulle wou nie meer aan Brittanje verbind wees nie)11 Daarom het Hertzog uit die politiek getree, en in April 1941 het Malan die nuwe leier van die HNP geword. 2

Die volgende paar jaar was vir Malan moeilik en bitter. Die Afrikaners was erg verdeeld en die eenheid waarna hy so driftig gestreef het, het buite bereik gebly. Meeste Afrikaners het vir Smuts en die deelname aan die oorlog gesteun. 2 Daar was ook ’n opkoms van radikale groepe soos die Ossewabrandwag (OB), wat gekant was teen demokrasie. 7 Boonop het ondersteuners van Hertzog ’n nuwe party, die Afrikanerparty (AP), gestig, eerder as om met Malan saam te werk. 2

Dr. Malan het die OB in die openbaar verwerp 7 en HNP-lede beveel (aangesê) om te kies tussen die OB en die HNP. Meeste mense het die HNP gekies, en die OB se gewildheid het vinnig afgeneem. 11

In 1943 se verkiesing het die VP maklik gewen, maar al hoe minder Afrikaners het vir hulle gestem, met die gevolg dat die HNP nog 2 setels bygekry het. 2 In ’n poging om die Engelse stem te wen, het Malan belowe dat daar gelyke regte vir Afrikaans- en Engelssprekendes sou wees indien hy die verkiesing sou wen. 6

Aanloop tot die 1948-verkiesing

Die verkiesing van 1948, wat vandag algemeen bekendstaan as die apartheidverkiesing, was ’n waterskeiding, oftewel ’n kritieke oomblik in Suid-Afrika se geskiedenis.

Dit het voor die verkiesing gelyk of Smuts en die VP die verkiesing maklik gaan wen, en inderdaad het die meeste mense dit verwag. Dit het egter nie so gebeur nie.

Waarom nie?

Een rede was die omstrede manier (waaroor mense erg verskil het) waarop Suid-Afrika die Tweede Wêreldoorlog binnegegaan het, en die ontwrigting van die oorlog (probleme wat deur die oorlog veroorsaak was, wat gemaak het dat dinge nie op hul gewone manier kon voortgaan nie). 9 Baie mense het as gevolg hiervan teen die VP gedraai. 11

In 1947 het Malan dit reggekry om ’n verkiesingsooreenkoms met die Afrikanerparty aan te gaan. Die twee partye wat Afrikanernasionalisme voorgestaan het, was nou weer een, en dit het Malan se steun laat groei. 2

Ten spyte van wat later gebeur het en dat die NP dit nie eintlik so wou hê nie, het apartheid dié belangrikste kwessie in die 1948-verkiesing geword. 9

Wit kiesers was onseker oor die toekoms. Die NP het besef dat ’n sterk rassebeleid vir die party steun sou werf. Dit was veral omdat Smuts en die VP nie ’n duidelike rassebeleid gehad het nie. Daarenteen het Malan wél: apartheid. Dus het die NP apartheid doelbewus op die voorgrond geplaas om kiesers te werf.

Apartheid, so het die mense geglo, was die oplossing vir wit mense se vrees vir die sogenaamde Swart Gevaar – die idee dat swart mense die land sou oorneem. 10

Die verkiesing van 1948

Die verkiesing is op 26 Mei 1948 gehou. Die NP, saam met die Afrikanerparty (AP), het met ’n meerderheid van vyf setels en 40% van die stemme gewen. 13 Die uitslag was ’n verassing. Smuts het dit as ’n frats (iets totaal ongewoon en onverwags) bestempel, en Malan het verklaar dit was ’n Godswonder, of ’n wonderwerk. 2

Dit was vir Malan belangriker dat die Afrikaners (wat deur die NP verteenwoordig is) bo die Engelse (wat deur die VP verteenwoordig is) geseëvier het, as bo die swart mense. 12

Hy het oor die verkiesing gesê: “Vandag behoort Suid-Afrika weer aan ons. Suid-Afrika is ons eie vir die eerste keer sedert die Unie van Suid-Afrika. Mag God gee dat dit altyd ons eie bly.” 9 Baie mense het later gedink hy het met hierdie “ons” bedoel die wit mense. Dit was nie die geval nie; die “ons” het verwys na Afrikaners.

Ter opsomming het die NP om drie redes gewen: eerstens omdat die VP besluit het om ’n verdeelde Suid-Afrika in die Tweede Wêreldoorlog in te vat; tweedens die NP se duidelike beleid van apartheid; en derdens, die bloei van Afrikanernasionalisme.

Malan en die NP het dit reggekry om mense in kragtige bondgenootskap (alliansie) teen die VP saam te snoer (te verenig). 11

Malan se NP-oorwinning was die hoogtepunt van die Afrikanervolk se opgang. Die NP het geesdriftig geveg vir die Afrikanersaak en het leiding geneem in die proses om Suid-Afrika ’n Afrikaanse karakter te gee – by wyse van simbole soos die vlag, of instansies soos Afrikaanse skole. 12

Malan aan bewind

Op 74-jarige ouderdom het Malan uiteindelik die eerste minister geword van ’n land wat slegs deur Afrikaners geregeer is. 3 Dit was vir hom ’n persoonlike oorwinning. Die kabinet het vir die eerste keer slegs uit Afrikaanssprekendes bestaan (alhoewel almal volledig tweetalig was). 2

Die eerste vyf jaar van NP-bewind was stormagtig. Hulle is deurentyd aan aanvalle en ondermyning (om heimlik iets te verswak) van Smuts se ondersteuners blootgestel. 2 Daar was ook nog die agteruitgang van die land as gevolg van die oorlogsjare, en veral die armoede. 3

In 1951 het die HNP en die Afrikanerparty saamgesmelt en Malan se party het weer amptelik bekendgestaan as die Nasionale Party (NP). 2

Dit het gou begin beter gaan met die ekonomie. Goudverkope het gestyg, en tesame met sterker goudpryse, was daar meer geld om die ekonomie te laat groei. Dit het gelei tot meer werkgeleenthede en hoër salarisse, wat die kiesers tevrede gestel het. 2

Vlag van die Nasionale Party

Apartheid

Malan was die persoon wat die woord apartheidsbeleid geformuleer en betekenis gegee het. 2 Hy het in Januarie 1944 die eerste keer die term apartheid in ’n toespraak in die parlement gebruik. Jare later het hy dit so verduidelik: “Ek gebruik nie die woord ‘segregasie’ nie, want dit word as afhok uitgelê, maar eerder ‘apartheid’, wat die onderskeie rasse die geleentheid sal bied om hulself op die grondslag (dit waarop hulle gesteun het) van dit wat hul eie is, op te hef.” 12

Malan se doelstelling was om die grondslag te lê vir Afrikanerbeheer oor Suid-Afrika. ’n Belangrike aspek hiervan was die totale skeiding van verskillende rassegroepe in Suid-Afrika. 14 Om hierdie doelstelling te bereik, is daar in sy tydperk as eerste minister ’n reeks wette aangeneem wat die grondslag vir apartheid gelê het.

Terloops, dit is belangrik om te onthou dat daar in 1948 reeds vir meer as ʼn eeu segregasie in Suid-Afrika was. Malan se beleid was dus nie nuut nie – dit het op die vorige beleid gebou en is net strenger toegepas.

Malan was wel eerste minister, maar die meeste wette is ontwerp en voorgestel deur T.E. Dönges, die minister van binnelandse sake tussen 1948 en 1958, en Hendrik Verwoerd, die minister van Naturellesake tussen 1950 en 1958.

Hendrik Verwoerd

Wette wat aangeneem is, het die volgende ingesluit:

  • Die Bevolkingsregistrasiewet (1950): alle inwoners van Suid-Afrika is amptelik in een van vier groepe opgedeel: blank (wit mens), Bantoe (swart mens), kleurling (bruin mens) en Asiaat (persoon van Asië) geklassifiseer is. 2
  • Die Groepsgebiedewet (1950) het sekere besigheids- en woongebiede in stede vir sekere groepe uitgesonder. 13
  • Wet op Onderdrukking van Kommunisme (1950) 2 waarvolgens die Kommunistiese Party van Suid-Afrika, asook enige partye met kommunistiese idees, onwettig gemaak is.
  • Die Wet op Verbod op Gemengde Huwelike (1949) en die Ontugwet (1950) het bloedvermenging tussen rasse verban. 13
  • Die Wet op Bantoe-Onderwys (1953) het aparte skoolstelsels daargestel vir verskillende rassegroepe. 13
  • Die Wet op Afsonderlike Verteenwoordiging van Kiesers (1951) het bruin mense van die gemeenskaplike kieserslyste (met ander woorde lyste saam met wit mense) afgehaal en hulle op hul eie lyste geplaas. Dit is aanvanklik deur die hof onwettig verklaar en ná ’n lang stryd is dit in 1953 geïmplementeer. 13

Die VP het al hierdie wette driftig beveg. Malan-hulle het dit egter onverbiddelik (streng en vasbeslote) deurgevoer. 2

Verhouding met Brittanje

Suid-Afrika was in hierdie tyd nog deel van die Britse Ryk, en die Britse monarg (koning of koningin) was Suid-Afrika se staatshoof. Die titel van die Britse koningin is deur wetgewing verander om dit ’n eg Suid-Afrikaanse kleur te gee: “Elizabeth II, koningin van die Unie van Suid-Afrika en van haar ander Koninkryke en Gebiede, Hoof van die Statebond”. 2

Malan het egter begin om die laaste simbole van Britse heersing oor Suid-Afrika te verwyder. 12 Volgens die Wet op Suid-Afrikaanse Burgerskap (1949) is dubbele burgerskap afgeskaf – mense kon nie meer Britse én Suid-Afrikaanse burgers wees nie. 2

Vir Malan was hierdie die bereiking van ’n ou droom en ’n teken dat onderdanigheid (gehoorsaamheid) aan Brittanje nou iets van die verlede was. 12

Die situasie in 1953

In die verkiesing van 1953 het die NP sy meerderheid vergroot, wat bewys het dat die wit kiesers dr. D.F. Malan se regering goedgekeur het. 2 Hierna kon die apartheidsbeleid, wat nog redelik onafgewerk was, nog sterker deurgevoer word. 12

Suid-Afrika se status, wat in die res van die wêreld skade gekry het ná die 1948-verkiesing, was aan die verbeter. In 1953 het dr. Malan koningin Elizabeth II se kroningsplegtigheid in Londen bygewoon. Hy het ook Israel besoek. Hy was nie meer beskou as erg omstrede nie. 2

In 1954 het die NP ook ’n groot sege behaal in die algemene provinsiale verkiesing. 2

Uittrede

Op 11 Oktober 1954 het Malan aangekondig dat hy op 30 November uit die politiek gaan tree. Hy was toe reeds 80 jaar oud. 2 Dit was ’n dramatiese oomblik omdat dit vir beide die publiek én sy kollegas in die kabinet ’n verrassing was. 1

Lewe ná die politiek en sterfte

Ná sy aftrede het Malan hom in Stellenbosch gevestig. Hy het aan sy outobiografie begin skryf, maar as gevolg van twee beroertes in 1958 is hy gedeeltelik verlam. Van sy vriende het dit later voltooi. 2

Net ná Nuwejaarsdag van 1959 het sy gesondheid vinnig agteruitgaan, en op 7 Februarie 1959 het hy gesterf. 3 Hy is in die Stellenbosch-begraafplaas begrawe. 2

Hoe sou mens D.F. Malan kon opsom?

Dr. D.F. Malan het onverbiddelik geveg vir wat hy geglo het is reg. 2 Hy was tot in sy diepste wese ’n Afrikanernasionalis. Hy het hom beywer vir die Afrikaanse taal en kultuur, 2 het diep geglo aan volkseenheid, en was obsessief daaroor om die verdeeldheid onder die Afrikaners uit te roei. Dit het hy tot ’n mate reggekry tot 1948 en daarna. 3

Voorts was hy ’n ware demokraat en republikein. Hy het ’n groot bydrae gelewer tot die verbreking van bande tussen Brittanje en Suid-Afrika. 2

Hy was ’n gedugte (sterk en kragtige) lid van die regering. Hy het uiters hard gewerk en mense was gereeld verras met hoe wyd sy kennis gestrek het. 2

Daarby was hy een van die beste redenaars in die geskiedenis van Suid-Afrika se parlement. 2 Hy was buitengewoon welsprekend – beide as skrywer en spreker. 3 Hy was altyd deeglik voorbereid vir enige debat, en hy kon uitstekend logies redeneer. Sy verhoogpersoonlikheid was ook indrukwekkend. 2

As mens was Malan geduldig en kalm. 3 Hy het selde in die openbaar mense laat agterkom hoe hy gevoel het. Vir sy gesin en vriende het hy egter ’n warm menslikheid en spontane humorsin getoon. 2

Woordbank

afloop Einde; eindresultaat; gevolg.
alleen die mas opkom Op jou eie regkom. 16
argumenteer Redes vir (of ten gunste van) iets aanvoer. 17
beleid ’n Program vir die bestuur van iets.
beroep ’n Uitnodiging om iewers predikant te word.
beveel (Amptelik en/of met gesag) sê dat iemand iets moet doen.
bloeityd Tydperk waarin daar groot vooruitgang is.
bondgenootskap Vereniging of verbond tussen mense.
debat Bespreking op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede, bv. in ’n parlement
demokrasie ’n Staat wat ’n regering het wat deur al die land se mense verkies is.
deputasie Afvaardiging. Om iemand te stuur om jou te verteenwoordig.
eenparig ’n Besluit waar al die mense wat betrokke is, met mekaar saamstem.
erfenis Iets Van iemand oorneem.
frats Iets ongewoons en onverwags.
gedugte Sterk en kragtig; baie goed.
grondslag Dit waarop iets steun.
Groot Depressie Wêreldwye armoede; Swart Dinsdag (24 Oktober 1929), was die begin van die grootste markineenstorting (by Wall Street) in die moderne geskiedenis, wat gelei het tot die Groot Depressie, waaronder die wêreld tien jaar gely het. 17
kampvegter Iemand wat veg vir iets.
koalisie ’n Ooreenkoms Tussen twee partye.
konflik Onenigheid, getwis, geskil, stryery, botsende standpunte, meningsverskille. 17
leisels opneem Leiding neem.
leuse ’n Kort sin of frase wat gekies is om die oortuigings of ideale van ’n individu, gesin of instelling in te sluit. Slagspreuk; motto. 18
nasionalisme Die begeerte van ’n groep mense (van dieselfde volk, met dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm.
neutraliteit Nie kant kies nie.
obsessief Behep met iets; sonder ophou aan iets dink; gedurig ’n begeerte hê om iets te doen.
omstrede Waaroor mense sterk, uiteenlopende menings het en hewig verskil.
onderdanigheid Altyd gewillig om iemand te gehoorsaam, al behandel die persoon jou ook onvriendelik.
ondermyning Heimlik iemand of iets Se posisie verswak.
ontwrigting Probleme veroorsaak en verhinder dat iets op die gewone manier gebeur.
onverbiddelik Streng, wreed of vasbeslote; wat nie tot ander insigte gebring kan word nie.
onafhanklikheid Nie deur ’n ander regering Beheer te word nie.
pers Koerantwese as openbare mondstuk. 17
pleit Soebat/smeek.
positiewe Wat die goeie eerder as die slegte raaksien.
redakteur Die persoon aan die hoof van ’n koerant/tydskrif wat oor die inhoud daarvan besluit.
redenaars Iemand wat ’n toespraak lewer.
republikein Iemand wat glo dat ’n regering deur ‘n land se burgers verkies moet word en nie ’n heerser (koning/koningin) wil hê nie.
residensiële Wat ’n woonplek of woonbuurt betref.
saam te snoer Tot ’n eenheid verenig.
segregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse en/of etniese groepe geskei word.
sfinksagtig Raaiselagtige persoon, onpeilbare mens (jy weet nie wat hy dink of hoe hy voel nie).
geskaar Iemand se kant kies.
skikking ’n Saak oplos deur van albei kante toe te gee.
spreekbuis Iemand wat namens iemand anders of ’n groep praat.
staatsdiens Die gesamentlike departemente wat die administrasie van ’n staat behartig.
teologie Godgeleerdheid; wetenskap van die godsdiens. 17
tereggestel Met die dood straf.
versoening Om ’n vyandskap tot ’n einde te bring.
volksmond In die taal van die gewone mense.
Volksraad Hoogste regerende en wetgewende liggaam van ’n land/parlement. 17
waterskeiding Gebeure wat bepaal in watter rigting ’n saak sou verloop.
wetsontwerp ’n Konsep (idee) van wat verlang word om tot wet te maak; konsepwet. 17
gewroeg Met jou gewete in stryd wees of jou oor iets bekommer.
wysbegeerte Filosofie; ondersoek na die aard en wese van dinge. 17

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor D.F. Malan

Kyk hierdie video’s om meer te wete te kom oor dr. D.F. Malan

’n Interessante oorsig van dr. D.F. Malan (sommige dele sonder klank)

Die nuwe Suid-Afrikaanse vlag en die geskiedenis daaragter

Die ontwerp van die Unievlag (1928)

Foto: iStock
Gepubliseer op: 27 Februarie 2023 | Bygewerk op 7 Maart 2024