Vinnige feite

  • Ná die Slag van Boomplaats is Pretorius voëlvry verklaar en ’n losprys is op sy kop gesit vir enigiemand wat hom, lewend of dood, aan die Britte sou uitlewer. Pretorius het Transvaal toe gevlug en is nooit gevang nie. Die losprys is later teruggetrek. 2
  • Die stigting van die Republiek van die Oranje-Vrystaat het die einde van die Groot Trek beteken. 2
  • Tydens die oorlog van 1865 het twee bekende Vrystaters gesneuwel: Louw Wepener en F.P. Senekal. 2
  • Die latere Boeregeneraals Koos de la Rey en Christiaan de Wet het albei transportryers op die diamantvelde geword. 1
  • Die historikus Karel Schoeman het oor die Oranje-Vrystaat geskryf: “Die jong staatjie het geen besondere ambisies of pretensies gehad nie, maar van sy kanse gebruik gemaak met die beskeidenheid, ingetoënheid en gesonde verstand wat hom al meer sou kenmerk.” 5
  • President Brand se moeilike verhouding met sy mense het gemaak dat hy nie so geliefd in die Afrikaner-geheue is as wat hy behoort te gewees het nie. 2
  • By die vredesonderhandelings by die Vrede van Vereeniging was president Steyn so swak dat hy by die saal soos ’n kindjie ingedra moes word. 2
  • In 1875 het ’n Duitse reisiger, Ernst von Weber, die OVS die bes geregeerde staat in Suid-Afrika genoem, en ’n ‘ware modelstaat’ vir sy buurlande. 5
Foto: iStock

Voor Suid-Afrika in 1994 ’n demokrasie geword het en vandag uit nege provinsie bestaan – een waarvan die Vrystaat – het die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS) tussen 1854 en 1902, in die gebied tussen die Oranjerivier en die Vaalrivier bestaan. Dit was die eerste onafhanklike Afrikaner-republiek met sy eie grondwet. Die Oranje-Vrystaat het in 1910 ’n provinsie van die Unie van Suid-Afrika geword.

Voorgeskiedenis

Teen die 1840’s was daar vier sterk gemeenskappe wat in die gebied, wat later die Vrystaat sou word, gewoon. In die suidooste, min of meer waar Lesotho vandag is, was die Sotho-volk onder Moshoeshoe.

In die weste was die Griekwas onder Adam Kok III.

Adam Kok III

Daar was ook twee wit groepe. Die een was trekboere – wit veeboere wat nie aan die Groot Trek deelgeneem het nie. Hul leier was Michiel Oberholzer, en hulle was lojaal aan die Britse regering. 1

Die ander was Voortrekkers wat ná 1836, toe die Groot Trek deur dié gebied na Natal en Transvaal beweeg het, daar agtergebly het. Hulle was republikeine, met ander woorde hulle wou onafhanklik van Brittanje wees. Hul leiers was Jan Kock en Jan Mocke. Hulle het die dorpie Winburg naby die Vetrivier gestig. 2

Tregardt-hulle trek oor die Noordelike Drakensberg

In 1848 het die Britse goewerneur, sir Harry Smith, die gebied geannekseer. Hy wou konflik tussen die verskillende groepe verminder, en het ook gedink die inwoners wou anneksasie gehad het. Die republikeine wou egter nie die anneksasie aanvaar nie, en daar het ’n oorlog uitgebreek waar die Britte die Voortrekkers by die Slag van Boomplaats verslaan het.

sir Harry Smith
Slag van Boomplaats

In die volgende ses jaar het die Britte gesukkel om grense tussen die gemeenskappe vas te stel en wou die verskillende groepe – veral die Sotho’s en die Voortrekkers – met mekaar versoen en wou hê dat hulle Britse beheer aanvaar. 2

Teen 1854 moes die Britte besluit: Bly in die gebied en los die probleme op – met die uitgawes en gesukkel wat daarmee gepaardgaan – of onttrek. Hulle het gekies om te onttrek. Dit het in elk geval nie gelyk of die gebied enige waarde gehad het nie. 2

Seël van die Oranje-Vrystaat

Staatsvorming

Die eerste demokraties verkose Volksraad in Suid-Afrika is op 2 Desember 1836 tydens ’n volksvergadering in die laer van Voortrekkerleier Hendrik Potgieter naby Thaba Nchu verkies om ’n voorlopige regering vir die Voortrekkers daar te stel. ’n Burgerraad van sewe lede is verkies, met Gerrit Maritz as regter-president en Potgieter as ‘leger kommandant’ van die gekombineerde Potgieter- en Maritz-trekke. ’n Grondwet bestaande uit nege klousules is daarna by ’n volksvergadering in Winburg op 6 Junie 1837 aanvaar. 2

Hendrik Potgieter

Die Bloemfontein Konvensie is op 23 Februarie 1854 onderteken. Daarvolgens is die Republiek van die Oranje-Vrystaat amptelik gestig, totaal vry van Britse beheer. Die lede van die regering is op demokratiese wyse verkies deur wit manlike inwoners. 2

Daar was omtrent 15 000 wit inwoners in 1854, en meeste, maar nie almal nie, was republikeinsgesind. 1

Die presidente van die OVS was, onderskeidelik: J.P. Hoffmann (1854-1855); J.N. Boshof (1855-1859); M.W. Pretorius (1859-1864); J.H. (Jan) Brand (1864-1888); F.W. Reitz (1889-1894); en M.T. Steyn (1895-1902). 2

Jan Brand
M.W. Pretorius
President Reitz van die Vrystaat en President Kruger van die ZAR by die geleentheid van die aansluiting van Transvaal en Vrystaat per spoor, 21 Mei 1892. Sammy Marks staan ​​vyfde van regs.

Die hoofstad was (vanaf 1850-1902) in Bloemfontein. Tydens President Brand se regeringstyd is die lied “Heft, Burgers, ‘t lied der vrijheid aan”, as amptelike volkslied aangeneem. 2

Bladmusiek van die lied van die Oranje-Vrystaat

Die eerste klompie jare van die Republiek van die Oranje-Vrystaat se bestaan het dit ekonomies swak gegaan. Die Republiek het nie eintlik ’n bron van inkomste gehad nie, en moes dus geld by buitelandse banke leen. Baie burgers was traag om hul burgerlike plig, soos belasting betaal en kommandodiens te doen, na te kom. 3

Die hantering van swart groepe

Geen ander bevolkingsgroepe is by die regering betrek nie. Die swart groepe het ook nie daarvoor gevra nie. Hulle hoef dus nie burgerplig, soos veg in oorloë, te doen nie. Daar is ’n beleid van segregasie toegepas, waarvolgens elke groep sy eie grondgebied gekry het, soos dit in daardie stadium in die koloniale wêreld gegaan het. Die regering wou egter nie gehad het dat die plaaslike groepe wapens kry nie omdat hul getalle soveel meer was. Hulle het wel op Vrystaatse plase gewerk en moes belasting betaal. 2

Binne die grense van die OVS is drie klein, geïsoleerde reservate vir swart mense opsy gesit. Die totale gebied was minder as 1% van die grond. Daar is nie voorsiening gemaak vir Afrika-gebruike nie, en stamwette en tradisionele huwelike is nie erken nie. Die Republiek se wette het vir almal gegeld. Daar was baie min swart leierskap of regeringsbetrokkenheid. Een uitsondering was die Waaihoek-woonbuurt naby Bloemfontein, wat swart raadslede en ’n swart burgemeester gehad het. 3

Kwessies in die geskiedenis van die OVS

Die geskiedenis van die Vrystaat word hieronder in vyf dele bespreek: konflik tussen die Sotho en die regering; die diamantveldvraagstuk; die Britse anneksasie van die Transvaal in 1877; die Eerste Vryheidsoorlog, die periode tussen 1880 en 1899; en die Anglo-Boereoorlog. 2

Konflik tussen die Sotho en die regering

Die Sotho’s en die inwoners van die Vrystaat het geveg oor grond. Moshoeshoe se volgelinge het deur die 19de eeu vermeerder, en kon net noord of wes uitbrei. (Suid en oos was die Xhosa’s, en daardie gebiede was reeds dig bevolk.) Noord en wes het die wit Vrystaatse boere gebly. Die Sotho’s het die Vrystaat as húl land beskou, daarom is dit geen wonder dat daar tussen 1854 en 1868 ’n gedurige stryd was nie. 2

Moshoeshoe

Die eerste amptelike oorlog was in 1858, toe Vrystaatse kommando’s ’n onsuksesvolle aanval op Moshoeshoe se hoofstad, Thaba Bosiu, aangevoor het. In reaksie het die Sotho-krygers die republiek ingedring en plase geplunder. President Boshoff het beide die president van die ZAR, M.W. Pretorius, en die Kaapse goewerneur, sir George Grey, om hulp gevra. 2

Sir George Grey

Pretorius het hulp aangebied op voorwaarde dat die twee republieke verenig. Grey wou dit egter nie toelaat nie, en het gedreig dat Brittanje nie die Sandrivier- en Bloemfontein-konvensie sou huldig indien hulle saamsmelt nie. Pretorius het hierop sy aanbod onttrek. Boshoff het toe nie ’n keuse gehad as om Grey se hulp te aanvaar nie. Die Britte se ingryping het tot ’n nuwe grens gelei, maar die konflik het voortgeduur. 2

Tussen 1858 en 1865 het die verhouding sleg gebly. Die Sotho-volk het hulle al hoe meer begin vestig op land wat beide die OVS én die Sotho’s as húlle s’n beskou het. Dit het uiteindelik uitgeloop op nóg ’n oorlog. Hierdie oorlog het beter verloop vir die OVS. Hulle het uiteindelik die Sotho-krygsmag totaal oorrompel. Moshoeshoe het toegestem tot die Verdrag van Thaba Bosiu van 1866, waarin hy vrugbare dele van sy land aan die OVS moes afstaan. 2

Dit was egter nog nie die einde nie. Oorlog het weer opgevlam in 1867. Toe die Sotho-magte weer verslaan is, het Moshoeshoe by die Britte gepleit vir ingryping. Dit was suksesvol, en in Maart 1868 het Basoetoeland ’n Britse protektoraat geword. Die Sotho’s het hierdie keer finaal groot dele van die grond wat hulle voor 1865 besit het, verloor. 2

Dit was die einde van die oorloë met die Sotho-volk. Vir die Vrystaters het dit beteken hulle kon nou in vrede hul republiek opbou. 2

Bloemfontein, 1850’s

Die diamantveldvraagstuk

Die ontdekking van diamante in 1866 waar Kimberley vandag is, het alles verander. Daar het natuurlik onmiddellik konflik ontstaan oor wie die land, waar die diamante gevind is, besit het. Daar was verskeie aanspraakmakers.

Die Griekwas onder Nicolaas Waterboer het op die hele gebied aanspraak gemaak. Die OVS het gesê die gebied tussen die Vaal- en Garieprivier (Oranjerivier) was hulle s’n. Daar was ook aansprake van die Transvaal, die Thlaping-, die Rolong- en die Kora-bevolkingsgroep. 1

Kimberley-werkers op ‘n diamantmyn op ‘n trem
Kimberley

In Mei 1871 het ’n Britse arbiter bepaal dat die grootste deel van die diamantvelde aan die Griekwas behoort het. Tien dae later het die Kaapse Goewerneur, sir Henry Barkly, Britse gesag oor die gebied aangekondig, kwansuis om die Griekwas te beskerm. Dit het eintlik maar net beteken dat Brittanje die gebied oorgeneem het. 4

Henry Barkly

President Brand het geweier om die Britse arbiter se besluit te aanvaar, en aangedring op ’n neutrale arbiter, maar dis geïgnoreer. Ander Vrystaters het die saak hof toe gevat, want 143 plase wat aan Vrystaatse boere behoort het, was nou onder Britse beheer. Die hof in Griekwaland-Wes het in die boere se guns beslis. Brand is toe Londen toe om direk met die Britse regering te praat.

Delwersgesin in Noord-Kaap

Hulle wou nie sy aansprake op die diamantvelde aanvaar nie, maar het hom £90 000 aangebied. In daardie dae was Suid-Afrika se geldeenheid nog die Britse pond en as ons dit omskakel na die waarde van so ’n bedrag in vandag se tyd, sal dit sowat £11 783 000 wees 3 – ’n allemintige bedrag van ongeveer R2 364 miljoen 1 en ’n klein fortuin in daardie tyd! Brand het dit aanvaar, en daarmee was die saak amptelik afgehandel. 2

Die ontdekking van diamante en die kwessies ten opsigte van die beheer daaroor het ’n paar belangrike gevolge gehad.

Tennis in die veld, Rouxville, 1890’s

Eerstens het dit die bande tussen die OVS en die ZAR versterk. In 1872 het die twee sogenaamde susterrepublieke die Transvaal-Vrystaatse Vriendskapsverdrag gesluit. 1 Dit was ook ’n ekonomiese inspuiting.

Eerstens kon Brand die £90 000 wat hy gekry het, gebruik om die Vrystaat se infrastruktuur te verbeter en op te bou. Hy het ’n telegraaflyn na Bloemfontein aangelê en paaie, brûe en treinspore laat bou. Hy het ook ’n nasionale bank laat oprig om die ekonomie te bevorder. 5

Bloemfontein, 1880’s

Die diamantvelde het baie geleenthede gebied vir die boere van die Wes-Vrystaat. Daar was markte vir hul plaasprodukte, en geld in transportry. 1

Die diamantvelde het ongeskoolde werkers nodig gehad. Daar het dus duisende swart werkers oor en weer deur die OVS tussen die myne en hul huise beweeg. Dit het die Vrystaters onveilig laat voel. ’n Belangrike gevolg hiervan was dat daar strenger reëls ingestel is om die swart mense se beweging te reguleer, veral deur nuwe passtelsels. 2

President Steyn se eerste amptelike besoek, Harrismith

Die OVS se bevolking het skerp gegroei in hierdie tyd: teen 1878 was daar ongeveer 45 000 inwoners: 30 000 wit, en altesaam 15 000 swart en bruin. 3

Die Britse anneksasie van die Transvaal in 1877 en die Eerste Vryheidsoorlog

Alhoewel die OVS nie direk betrokke was by die Eerste Vryheidsoorlog nie, het dit tog ’n belangrike impak gehad. Die optrede van die Britte het empatie vir die Transvalers onder die Vrystaters verwek, en dit het die bande tussen die Boererepublieke versterk. So het ’n Vrystaatse regeringslid, byvoorbeeld, in 1879 verklaar dat “sy hart warm vir die Transvalers klop”.

Pres. Kruger in onderhandeling met Britte

Honderde Vrystaters het die Transvalers gaan help veg. Brand was nie ten gunste van oorlog nie, en het probeer om die konflik sonder oorlog op te los. Hy het ook ’n rol gespeel in die voorlopige vredesooreenkoms tussen die Britte en die OVS aan die einde van die oorlog. 2

Vredesonderhandelinge Pretorius, Kruger, Wood, Brand, Joubert en Jorissen

Die periode tussen 1880 en 1899

President Brand was ’n uitstekende president. Hy het egter soms gesukkel om ’n goeie verhouding met sy burgers op te hou. Dit was omdat hy besef het sy vooruitgang hang af van ’n goeie verhouding met Brittanje. Daardie idee was nie altyd so populêr onder die Vrystaters nie. 2

Brand het egter die grondslag gelê vir ’n modelrepubliek. Teen sy dood het die OVS behoorlike finansiële bestuur, ’n nasionale bank en onafhanklike regstelsel gehad. Dit het handelaars en sakelui na die OVS gelok, en korrupsie uitgeroei. Daar was ook ’n moderne onderwysstelsel. Verder was die OVS welvarend, met ’n goed ontwikkelde infrastruktuur, soos telegraaflyne en ’n spoorlynverbinding met Kaapstad. 3

President Reitz het vir Brand opgevolg. Sy regeringstyd was ’n verdere tydperk van welvarendheid. Daar was goeie markte by die diamantmyndorpe, en die spoorweë is uitgebrei om daaruit voordeel te trek. Hy het ook nog skole laat bou. 2

Reitz is opgevolg deur president Steyn in 1895. Steyn was, soos die meerderheid Vrystaters, ’n voorstaander daarvan dat daar nouer bande met die Transvaal gesmee word. Dít het gelei tot ’n politieke bondgenootskap in 1897. 2

Pres. F.W. Reitz

Die Anglo-Boereoorlog

Teen 1899 was dit oorkant die Vaalrivier vir president Paul Kruger van die Transvaal duidelik dat oorlog met Brittanje op pad was. In September 1899 het hy vir president Steyn laat weet dat hy gevoel het dis beter om vinnig oorlog te maak – voor daar té veel Britse soldate in Suid-Afrika aangekom het. Steyn het saamgestem. Op 11 Oktober 1899 het die OVS dus as bondgenoot van die Transvaal oorlog teen Brittanje verklaar. 2

President Paul Kruger
President M.T. Steyn

Die oorlog was vir die Vrystaters katastrofies. Duisende burgers is dood, duisende vroue en kinders het in die konsentrasiekampe gesterf, en omtrent al die plaashuise is afgebrand. 2

Konsentrasiekampmoeder met sterwende dogtertjie op haar skoot
Boere-artilleriste
Tweer Boere-plaasopstalle word afgebrand
Britse magte trek Bloemfontein binne

Die einde van die Republiek

Die oorlog het ook die einde van die Republiek beteken. Volgens die Vrede van Vereeniging het die Vrystaat sy onafhanklikheid verloor. Die ooreenkoms is op die aand van 31 Mei 1902 in die Melrose-huis in Pretoria onderteken. 2

Melrose-huis

Hierna het die Vrystaat bekendgestaan as die Oranjerivierkolonie. Dit sou so wees tot in 1910, toe die Vrystaat een van die vier provinsies geword het van die Unie van Suid-Afrika, met Bloemfontein as een van die hoofstede.

Woordbank

arbiter ’n Onpartydige persoon wat besluit hoe ‘n geskil tussen mense vreedsaam opgelos moet word. 6
bondgenootskap Vereniging of verbond tussen mense/volke. 6
demokrasie ‘n Staat wat ‘n regering het wat deur al die land se mense verkies is. 6
grondwet Die basiese stel wette waarvolgens ‘n land regeer word. 6
korrupsie Oneerlike optrede, veral deur iemand met mag. 6
kwansuis Na bewering … (maar nie werklik nie). 6
lojaal Om getrou aan iemand of iets te wees. 6
losprys Die som geld wat betaal word om iemand vry te maak. 6
neutrale Nie kant kies nie; onpartydig wees. 6
ongeskoolde Werkers wat nie opgelei is nie. 6
passtelsels Stelsel waarvolgens sekere groepe amptelike dokumente moes dra wat aan hulle die reg gegee het om êrens in te gaan. 6
protektoraat ’n Gebied wat ‘n sterk staat onder sy beskerming plaas sonder om dit te annekseer of die inwoners daarvan onderdane te maak, maar waaroor die beskermheer tog alle staatsmagte uitoefen. 6
reservate Gebied wat vir ‘n spesiale doel opsygesit word. 6
segregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse of etniese groepe geskei word. 6
transportry Goedere vervoer. 6
versoen Om ‘n vyandskap tot ‘n einde te bring. 6
voëlvry Om nie meer deur die wet beskerm te word nie; en kan deur enigiemand vervolg word. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video oor die Republiek van die Oranje-Vrystaat

Só klink die volkslied van die Republiek van die Vrystaat

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023