Vinnige feite

  • Suid-Afrikaanse fabrieke het tussen 1940 en 1944 tydens die Tweede Wêreldoorlog meer as 57 000 pantservoertuie (voertuie met sterk kante of panele as beskerming  teen bomme en koeëls) en 35 000 weermagvoertuie gemaak. Verder is daar 70 000 ton bomme en 1,5 miljoen staalhelms (hoed met ʼn harde koepelvormige bol en harde rand vir soldate) gemaak. 12
  • Ongeveer 284 000 liter water is nodig om een ton staal te maak. 24
  • Die eerste fabrieke in die wêreld was in Venesië in Italië. Hulle het bote gemaak. In ʼn stadium kon hulle een skip per dag maak! 25
  • Staal is 1 000 keer sterker as yster in sy mees natuurlike vorm. 26
  • Sowat 88% van alle staal wêreldwyd word herwin (weer gebruik). Vir elke ton staal wat herwin word, word 1 100 kg ystererts, 635 kg steenkool en 54 kg kalksteen herwin. 27
  • Die wêreldwye staalbedryf (besighede en mense wat ystererts myn, staal maak en koop en verkoop) is naas die petrol- en oliebedryf die grootste ter wêreld. Meer as 2 miljoen mense op aarde is betrokke by die staalbedryf. 26
  • Aan die begin van 2020 het 63 miljoen meisies en 97 miljoen seuns wêreldwyd kinderarbeid gedoen. Baie van hierdie kinders werk in fabrieke. 28
  • Dr. Hendrik van der Bijl, een van die stigters van Yskor, het gehelp om kommunikasie tussen vliegtuie en mense op die grond moontlik te maak. 5
  • Die grootste staallepel in die wêreld is 16,18 m lank. Dit is in 2019 deur Uri Geller van Israel gemaak.29
Foto: iStock

Daardie blikkie waarin jou gunstelingkoeldrank is, die foelie waarin jy jou toebroodjies toedraai, selfs die dak oor jou kop is so vanselfsprekend asof dit maar al die eeue daar was. Yster en staal het so deel van ons alledaagse lewe geword, dat ons byna nie eens meer besef waar dit oral gebruik word nie.

In Suid-Afrika het die maatskappy Yskor (die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk) sedert 1928 die meeste van al hierdie staalprodukte gemaak. Yskor, wat toe reeds uit verskillende myne en fabrieke bestaan het, het baie vir Suid-Afrika se ekonomie beteken.

Waar baie van ons ouma- en oupagrootjies nog boere op plase was, het fabrieke nuwe werk in stede verskaf. Mense het om hierdie rede na stede verhuis – skole, paaie en treinspore moes gebou word. Dorpe soos Vanderbijlpark is selfs gestig om genoeg huise vir al die fabriekswerkers te bou.

Deesdae is Yskor deel van die internasionale maatskappy ArcelorMittal, een van die grootste vervaardigers van staal in die wêreld.

Suid-Afrikaanse staalbedryf tot 1928

Aan die begin van die vorige eeu (1900’s) het die grootste deel van Suid-Afrika se ekonomie steeds uit boerdery (landbou) bestaan. Boere het geld gekry deur hul produkte soos groente, vleis, en so meer te verkoop. Die ontdekking van veral goud en diamante in Suid-Afrika het dinge heeltemal verander. Mynbou, waartydens daar vir goud, diamante en ander minerale (waardevolle stowwe uit die grond) gemyn is, het ʼn belangrike ekonomiese aktiwiteit in Suid-Afrika geword. 1

Treine tussen die myne in die binneland (plekke in provinsies soos Gauteng) wat ver van die see af is, en hawedorpe (dorpe by die see wat hawens het, soos byvoorbeeld Kaapstad) was noodsaaklik om die goud, diamante, ensovoorts te vervoer.

Daar het ʼn behoefte aan staal (ʼn produk gemaak van ystererts) vir treinspore en die myne self ontstaan. Suid-Afrika het in daardie stadium nog nie fabrieke gehad om yster in staal te verwerk (verander of omskep) nie. Ons moes staal van ander lande invoer. Wanneer iets ingevoer word, koop jy die produk (soos staal) van ʼn ander land. As Suid-Afrika self hierdie staal kon maak, sou dit baie goedkoper wees, en boonop ook werk aan baie mense verskaf. 1

Sammy Marks

Horace Wright en Sammy Marks het in 1909 toestemming gekry om ʼn smeltoond naby Vereeniging in Gauteng te bou. ʼn Smeltoond word gebruik om metaal teen baie hoë temperature te smelt. Hulle noem die maatskappy die Unie-Staalkorporasie van Suid-Afrika Bpk. (Usko).

Horace Wright

Teen 1913 het hulle ʼn opeherdoond van 10 ton (10 000 kg) gebou. 2 ʼn Opeherdoond is ʼn buiteoond met ʼn lae dak. Die kombinasie van oop vlamme en warm lug laat yster makliker smelt. Tot in die vroeë 1970’s was opeherdoonde die metode wat die meeste gebruik is om yster te smelt. 3 Aan die begin is afvalyster (ook genoem skrootyster) van die myne en spoorweë gebruik om staal te vervaardig. Usko word die eerste suksesvolle staalmaatskappy in Suid-Afrika. Die staalbedryf (maak en verkoop van staal) in Suid-Afrika sou later van die grootste in die wêreld word. 4

President Reitz van die Vrystaat en President Kruger van die ZAR by die geleentheid van die aansluiting van Transvaal en Vrystaat per spoor, 21 Mei 1892. Sammy Marks staan ​​vyfde van regs.

Cornelius (Cor) en Johan Delfos is twee Nederlanders wat in 1916 begin het om ystererts (die eenvoudige vorm van yster soos dit uit die grond gehaal word) naby Pretoria te myn. Hulle noem hul maatskappy Pretoria Ystermyne Beperk. In 1918 bou hulle ʼn hoogoond. 5

Oorspronklike kantore van Yskor, Pretoria, op die hoek van Pretorius- en Paul Krugerstraat

ʼn Hoogoond werk bietjie anders as ʼn opeherdoond: Deur ystererts (rots wat stukke yster bevat), ʼn soort steenkool genaamd kooks (wat 85% koolstof bevat) en kalk by die hoogoond in te gooi, veroorsaak die warm lug en suurstof ʼn chemiese reaksie. [Lees hier oor koolstof.] Teen ʼn temperatuur van 1 200 °C smelt die yster en loop dit aan die onderkant van ʼn pyp uit. 6

Tussen 1918 en 1921 het hierdie oond reeds 4 000 ton ru-yster gelewer. 5 Usko, wat intussen ook ʼn hoogoond opgerig het, produseer ongeveer 700 ton ru-yster in hierdie tyd

Die volgende groot gebeurtenis in die ontwikkeling van Suid-Afrika se staalbedryf was toe die Newcastle Iron and Steel Works Limited in 1920 in Newcastle, KwaZulu-Natal gestig word. Werk by dié fabriek begin in 1926. Die maatskappy word later hernoem na Armco Iron Works. Hierdie aanleg (fabriek) is deur Yskor oorgeneem. 7

Een van die Delfos-broers, Cor, neem in 1920 Pretoria Ystermyne Bpk. by sy broer oor. Dit het baie geld gekos om yster en staal te maak – iets wat Cor nie gehad het nie. Hy het eers probeer om geld van mense oorsee te kry, maar toe dit nie werk nie, het hy die Suid-Afrikaanse regering gevra.

Opening van Yskor by Pretoria deur genl. J.B.M. Hertzog

Jan Smuts, wat toe die eerste minister (die leier) van die land was, het nie geglo dat dit moontlik is om yster en staal in Suid-Afrika te maak nie. 8 Dit is eers nadat ʼn Duitse maatskappy met die naam Gutehoffnungshütte ʼn verslag (iets wat geskryf word nadat mense ʼn saak ondersoek het) geskryf het om te sê dat die Suid-Afrikaanse staalbedryf baie goed kan doen, dat mense anders oor staalfabrieke begin dink het. 9

Gutehoffnungshütte

Toe J.B.M. Hertzog die eerste minister word, word daar ʼn wet in 1928 aanvaar wat lei tot die stigting van die Suid-Afrikaanse Yster en Staal Industriële Korporasie Beperk (Yskor). 5

Oorspronklik besit deur Yskor en hernommer vanaf Yskor 18D by oordrag na die Suid-Afrikaanse Spoorweë

Die stigting van Yskor

Yskor is as ʼn semistaatsinstelling gestig. ʼn Semistaatsinstelling beteken dat die regering direkteure (mense wat besluite oor ʼn maatskappy maak) aanwys, maar alle ander besluite word geneem deur die mense wat by Yskor self werk. ʼn Semistaatsinstelling beteken ook dat die meeste van ʼn maatskappy se geld van die regering af kom. Die regering het dus geld vir Yskor gegee as hulle wou uitbrei en fabrieke op ander plekke oprig. 10

Cor Delfos word eerste gevra om die voorsitter van Yskor te wees, maar nadat hy dit van die hand gewys het, het dr. Hendrik van der Bijl die voorsitter geword. Die eerste fabriek met ʼn opeherdoond word in Pretoria gevestig. Op 4 April 1934 word die eerste staal by Yskor se Pretoria-werke gemaak en binne vyf jaar maak Yskor die goedkoopste staal in die wêreld! 5

Hendrik van der Bijl

Staal en die Tweede Wêreldoorlog

Yskor sou eers net staal vervaardig vir gebruik in Suid-Afrika, maar met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog moes Suid-Afrika skielik ook vir oorsese lande staal maak omdat hulle fabrieke in die oorlog vernietig is en baie werkers in die oorlog geveg het. [Lees hier oor die Tweede Wêreldoorlog.] Suid-Afrika het verander van ʼn invoerder na ʼn uitvoerder van staal. Die staalfabrieke het aan baie mense werk gegee tydens die oorlogsjare. 11

Die res van die wêreld het nie net staal nodig gehad nie, maar ook wapens (gewere, kanonne, ens. waarmee oorlog gevoer word) en ammunisie (koeëls en springstof). Gedurende die oorlog het Suid-Afrika pompe, elektriese motors, brûe, hyskrane, rotsbore en honderde kilometer telefoondraad, om net ʼn paar goed te noem, gemaak en verkoop. 12

Yskor in Vanderbijlpark

Reeds in 1941 was dit duidelik dat die aanleg in Pretoria nie meer in die land se vraag na staal sou kon voldoen nie. Nog ʼn fabriek was nodig. Hendrik van der Bijl was van mening dat die omgewing rondom die Vaalrivier in vandag se Gauteng, die perfekte plek vir Yskor se tweede fabriek was. 11 Dit weens die feit dat water noodsaaklik is in al die verskillende fases van die vervaardigingsproses van staal: Groot hoeveelhede water is nodig vir afkoeling, die maak van stoom, om afval te vervoer en selfs om stof en besoedeling (vuil lug wat deur fabrieke veroorsaak word) te verminder. 13

In 1943 word Yskor se tweede aanleg (fabriek) naby die stad wat vandag Vanderbijlpark genoem word, begin. Hierdie plaatfabriek moes in die begin dik staalplate vervaardig wat vir die herstel van skepe en die maak van oorlogstuie gebruik is. 11

Die einde van die oorlog het nie die einde van die staalbedryf in Suid-Afrika beteken nie. Anders as wat die meeste mense gedink het, het die soeke (vraag) na staal net groter geword. 12

In 1947 begin Yskor om die plaatfabriek wat tydens die oorlog gebruik is, deel te maak van ʼn geïntegreerde staalfabriek. 11 ʼn Geïntegreerde staalaanleg verskil van fabrieke wat net skrootmetaal kan verander in verskillende produkte. Hierdie fabrieke kan ystererts na yster, yster na staal en dan in ander produkte soos plate of draad verander. 14

Hierdie nuwe fabriek was só groot dat daar huise vir al die werknemers gebou moes word. In 1948 sterf Hendrik van der Bijl aan kanker. 5 Hy word vereer deurdat Vanderbijlpark in 1949 na hom vernoem word. In 1952 word dit as ʼn munisipaliteit verklaar toe E.G. Jansen Yskor se tweede staalwerke open. Vandag gee Vanderbijlpark se sowat 500 000 aangeplante bome skadu aan strate wat vernoem is na bekende wetenskaplikes, komponiste, digters, skrywers en dokters. 15

Tussen 1964 tot 1969 vind ʼn tweede ontwikkeling van Yskor in Vanderbijlpark plaas. Groot uitbreidings word aangebou, ouer aanlegte is modern opgeknap om beter produkte, asook nuwe produkte soos blikplaat (dun plate yster of staal wat met die metaal tin oorgetrek word sodat dit nie roes nie). Blikplaat word, byvoorbeeld, gebruik om koeldrankblikkies mee te maak. 16

Warmgewalste staalprodukte word gemaak deur staal teen ʼn hoë temperatuur van ongeveer 1 700 °C te verhit. Teen so ʼn temperatuur kan staal maklik in verskillende vorms verander word. Warmgewalste produkte word, onder meer, gebruik vir treinspore.

Koudgewalste staalprodukte is eintlik warmgewalste produkte wat verkoel word na kamertemperatuur en dan gerol word. Koudgewalste staal se kante is gladder en blinker as warmgewalste produkte omdat dit ook geskuur en gepoleer (blink gevryf) word. Koudgewalste produkte word gebruik waar reguit en mooi staal nodig is om ʼn voorwerp te maak. 17

Gegalvaniseerde produkte is yster wat met ʼn lagie sink bedek is om te keer dat dit roes. 18

Yskor se myne

Oor die jare het Yskor self myne besit omdat dit baie goedkoper was as om yster van ander plekke te koop. Die eerste myn is in 1934 in Thabazimbi, Limpopo begin. Toe Yskor in 1953 in Vanderbijlpark uitbrei, het die maatskappy nog meer ystererts nodig gehad. Die Sishen-myn naby Kathu in die Noord-Kaap was ʼn oopgroefmyn (yster was op die oppervlakte en dit was nie nodig om onder die grond te myn nie). Hierdie myn het later een van die grootste ysterertsmyne in die wêreld geword. 1

Yskorwerkers, Thabazimbi

Die Newcastle-aanleg

Op 17 Mei 1969 besluit die Suid-Afrikaanse regering, wat Yskor in daardie tyd besit het, dat daar ʼn derde geïntegreerde staalfabriek in Newcastle in KwaZulu-Natal begin moes word. Die grootste rede waarom Newcastle gekies is, was omdat die regering graag industriële (fabrieke waar grondstowwe verwerk word) groei in KwaZulu-Natal wou hê. Newcastle was ook naby aan die groot paaie en spoorweë tussen Durban en Johannesburg. Staal wat uitgevoer moes word, kon maklik na die Durbanse hawe geneem word. Verder het die dorp genoeg water en elektrisiteit gehad wat ʼn fabriek daar moontlik gemaak het. 16

Die fabriek was groot genoeg dat dit 200 miljoen ton gesmelte staal per jaar kon maak. Plaatprodukte wat gebruik word in die bou van skepe, motors en geboue, asook die maak van huishoudelike produkte soos yskaste, sou in Newcastle gemaak word.

Profiel- of vormstaal is die ander produk wat by Yskor in Newcastle gemaak is. 16 Profielstaal word gemaak deur staal te rol, uit te rek of te pers (plat te druk). Hierdie soort staal word gebruik om iets sterker te maak. 19

Van Yskor na ArcelorMittal

Tot aan die einde van 1989 was Yskor steeds ʼn semistaatsinstelling wat in 85% van Suid-Afrika se staalbehoeftes voorsien het. Meer as 60 000 mense het vir Yskor in verskillende dele van die land gewerk. In 1989 het die regering besluit om Yskor te verkoop.

Nadat die maatskappy op die Johannesburgse Effektebeurs (ʼn plek waar mense aandele koop en verkoop) gelys is, het 200 000 Suid-Afrikaners daardie jaar aandele gekoop. Omdat daar so baie mense aandele gekoop het, het Yskor nie aan iemand spesifiek behoort nie. 20

In 1991 het Yskor die staalgedeelte van Usko in Vereeniging gekoop. 11 Aan die einde van apartheid het lande oor die wêreld weer met Suid-Afrika begin handeldryf (koop en verkoop van goedere). Veral mynbou in Suid-Afrika het goed gedoen. Yskor se Sishen-myn groei totdat dit 23 miljoen ton ystererts per jaar lewer waarvan net 7 miljoen ton in Suid-Afrika gebruik is. Lande soos die Verenigde State van Amerika en China het ystererts van Yskor gekoop. 21

In 1996 koop Yskor die staalaanleg in Saldanha aan die Weskus van Suid-Afrika met produksie wat in 1999 begin. ʼn Jaar daarna word daar besluit om Yskor se fabrieke en myne van mekaar te skei dat dit nie meer een maatskappy is nie. [Lees hier oor produksieproses.]

Saldanna

Die myne van Yskor is nou Kumba Resources genoem, terwyl die fabrieke steeds as Yskor bekendgestaan het. Tussen 2003 en 2005 word Yskor deur verskillende maatskappye gekoop en verkoop.

Ná die samesmelting (twee maatskappye sluit bymekaar aan om een maatskappy te vorm) tussen Mittal Steel (waarvan Yskor toe deel was) en ArcelorMittal Steel South Africa, het Yskor in Oktober 2006 deel van ArcelorMittal South Africa geword. 11

 

Teen 2023 het ArcelorMittal staalfabrieke in 16 lande met 154 000 werknemers gehad. ArcelorMittal se myne het in 2022 altesaam meer as 45 ton ystererts gemyn. Dié maatskappy het boonop wêreldwyd 159 miljoen ton ru-yster in 2022 vervaardig. 22

Woordbank

aandele Een van die gelyke dele waarin die kapitaal van ʼn maatskappy verdeel is. 23
fabrieke Plek/gebou waar werkers met behulp van masjinerie gebruiksgoedere uit grondstowwe vervaardig. 23
invoer Uit ʼn ander land/gebied bring of laat kom. 23
herwin Wat nutteloos/onbruikbaar geword het, weer nuttig/bruikbaar maak. 23
kalk Poreuse, onsmeltbare wit stof, in ʼn groot aantal gesteentes. 23
kooks Steenkool wat deur hitte gesuiwer is. 23
koolstof Chemiese element (C) wat onder meer voorkom as diamant, grafiet en steenkool. 23
legering Metaalmengsel (bv. brons); Die proses van saamsmelting van metale. 23
maatskappy Groep mense wat saam ʼn sakeonderneming/handelsvereniging vorm. 23
produkte Iets wat groei of waarvan groot hoeveelhede in ʼn fabriek gemaak/vervaardig word, gewoonlik om verkoop te word. 23
produksie Wat vervaardig/voortgebring word; hoeveelheid geproduseer. 23
regering Ontploffingstof soos dinamiet/kruit/ens; plofstof. 23
springstof Yster met koolstof gemeng, sodat dit baie hard, sterk en taai is; smeedbare yster deur ʼn smeltproses verkry. 23
staal Sagte, rekbare blouwit metaal, onder meer gebruik in legerings, om yster- en kopervoorwerpe te bedek en vir ornamente. 23
tin Sagte, rekbare blouwit metaal, onder meer gebruik in legerings, om yster- en kopervoorwerpe te bedek en vir ornamente. 23
Tweede Wêreldoorlog ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het. 23
uitvoerder Aan (iemand in) die buiteland verkoop en daarheen stuur. 23
yster Belangrikste, mees voorkomende metaal wat omtrent 5% van die aardkors uitmaak; ʼn betreklik sagte, silwerwit element wat by 1 535 °C smelt, by 3 000 °C kook, 7,86 maal swaarder as water is, sterk deur magnete aangetrek word, met suurstof verbind en maklik roes in klam lug en waaruit (deur toevoeging van klein hoeveelhede koolstof, of ook nog ander elemente) verskillende soorte staal gemaak word. 23

Lees die volgende om nog meer te weet

Kyk gerus die volgende video’s

Van rots na yster en uiteindelik ʼn mes

Só maak hulle aluminiumfoelie (vel metaal wat so dun soos papier uitgerol is, onder meer gebruik om kos in gaar te maak of mee toe te draai).

Só het die eerste putoonde (diepoonde) gewerk

27 uitvindings van die nywerheidsrevolusie wat die wêreld verander het

Kort verduideliking van al vier nywerheidsrevolusies tot dusvêr

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2022 | Bygewerk op 12 April 2024