Vinnige feite

  • Elke plant, dier en mens groei volgens ’n sekere groeiplan, amper soos die bloudruk van ‘n huis of gebou wat deur ‘n argitek en bouers gebruik word.
  • Die grootte en vorm van lewende organismes word deur gene bepaal, wat deur oorerwing oorgedra word.
  • Gene bevat inligting oor die organisme, soos eienskappe wat spesifiek is aan dié bepaalde organisme.
  • Gene is binne-in die selle van lewende organismes geleë.
Foto: iStock

Groei vind plaas wanneer iemand of iets groter word in hoeveelheid, grootte, lengte, getal of sterkte. 1

Byvoorbeeld:

  • Die gras groei vinnig en moet elke week gesny word.
  • Kerneels se baard groei so vinnig dat hy twee keer per dag moet skeer.
  • Ek het die afgelope twee jaar so gegroei dat ek nou vyf sentimeter langer is.

Groei vind plaas wanneer selle in ’n lewende organisme vermeerder in grootte en aantal. ’n Lewende organisme hou in sy hele leeftyd aan met groei op verskillende maniere. Deur die proses van selverdeling, word een sel in ’n lewende organisme verdeel in twee identiese selle. Hierdie proses van selverdeling word mitose genoem. Die verdeelde selle kan weer verdeel en sodoende vind groei plaas soos wat die proses voortduur. 2

Alle lewende dinge gaan deur die lewensprosesse van groei en ontwikkeling. Groei is een van die sewe eienskappe wat nodig is vir ’n organisme om as lewend geklassifiseer te word en vorm deel van die lewensiklus. ’n Lewensiklus beskryf die stadiums en prosesse wat plaasvind wanneer ’n plant, dier of mens groei en ontwikkel. ’n Lewensiklus beskryf ook hoe een geslag (of generasie) van ’n plant, dier of mens voortplant om nuwe plante, diere en mense voort te bring. Voortplanting is noodsaaklik om te verhoed dat ’n spesie uitsterf. Dood kan op enige stadium in die lewensiklus plaasvind. 3

Die rol van gene

Elke plant, dier en mens groei volgens ’n sekere groeiplan. Die grootte en vorm van lewende organismes word deur gene bepaal, wat deur oorerwing oorgedra word. Gene bevat inligting oor die organisme, soos eienskappe wat spesifiek is aan dié bepaalde organisme. Gene is dus binne-in die selle van lewende organismes. 2 By geslagtelike voortplanting word gene van albei ouers geërf.

Die rol van hormone

Elke lewende organisme wat uit meer as een sel bestaan, vervaardig hormone. Hormone is chemiese stowwe wat selle beïnvloed en die mens se liggaamsdele op sekere maniere en stadiums laat ontwikkel en funksioneer. Dit gee die liggaam opdrag om te groei en om op te hou groei. 2 Tydens puberteit skei die harsingslymklier hormone af wat baie veranderings in die liggaam veroorsaak.

Die rol van die omgewing

Die omgewing kan ’n lewende organisme se groei beïnvloed. Byvoorbeeld, ’n gebrek of ’n oorvloed temperatuur en lig kan ’n uitwerking hê op die tempo van groei. 2  Net soos in die geval van gene, speel die omgewing ook ’n groot rol in variasie, met ander woorde die verskille wat tussen individue van dieselfde spesie voorkom.

Groei by plante

Plante het sonlig, water, koolstofdioksied en grond nodig om te groei. Sade groei uit blomme en word bevrug met stuifmeel van ’n ander blom. Sade wat bevrug is, kan ontkiem en begin groei om ’n nuwe plant te vorm. Wanneer ’n mens ’n stukkie van ’n plant, gewoonlik die stingel, afsny en dit in nuwe grond plant, sal die wortels begin groei en ’n nuwe plant vorm. Plante kan ook uit lote groei. Lote is soos klein worteltjies wat uit spesiale deeltjies van die stingel groei en in ’n nuwe plant ontwikkel. 4

Die verdeling van selle is belangrik vir die groei van plante. Selle verdeel alreeds wanneer die plant nog net in saadvorm is. Wanneer die plant ontkiem, wortel skiet en ’n stingel met klein blaartjies begin vorm, begin selvorming gefokus raak op slegs sekere dele van die plant. Een area is by die wortels, waar nuwe selle meebring dat die wortels sterker en dieper in die grond kan groei. Die ander area waar selle verdeel, is by die gedeelte waar die stingel uitgroei en die stam vorm.

Die selverdeling laat vertakkings vanuit die stam vorm asook blare uit die vertakkings. Die selle in hierdie areas hou aan verdeel sodat die plant groei totdat dit sy bepaalde grootte bereik. Selverdeling vind ook plaas in sekere plantweefsel. Hierdie gedeeltes help om die water vanuit die grond tot in die blare te vervoer, asook suiker (glukose) vanaf die blare na die res van die plant. Nuwe selle in hierdie weefsel bring mee dat vesel wat water en suiker vervoer, aanhou groei.

Die nuwe selle help ook dat die plant se dikker buitenste laag groei. Nadat die plant se selle verdeel het, vergroot die nuwe selle wanneer hulle water inneem en stoor. Die gestoorde water veroorsaak druk teen die wande van die plant se selle. Dit bring mee dat die selle en die plant harder en groter word. 2

Groei by diere

Selvorming is die vinnigste by ’n ongebore diertjie. Nadat die dier gebore word, hou die selle aan om te verdeel soos die dier groter word, en word dan stadiger soos die dier ouer word. In uitgegroeide, volwasse diere gebeur selverdeling hoofsaaklik wanneer ou, dooie selle vervang moet word.

Sommige organe in diere het baie min selverdeling of groei ná geboorte. So byvoorbeeld word alle senuweeselle in die brein gevorm voordat die dier gebore word. Sekere ander organe hou aan met groei vir die hele leeftyd van die dier. Die lewer, byvoorbeeld, vervaardig voortdurend nuwe selle. 2

Groei as herstel

Sommige selle verdeel sodat verlore of beskadigde dele herstel kan word. Dit word regenerasie genoem. Die nuwe groei lyk gewoonlik anders as die oorspronklike selle, maar vervul wel die funksie wat dit moet uitvoer. Byvoorbeeld, wanneer ’n diep sny op ’n mens se vel gesond word met nuwe vel wat daaroor vorm, kan die nuwe vel anders lyk as die oorspronklike vel voordat die wond opgedoen is. Die nuwe vel is gewoonlik anders van kleur en moontlik dikker, en word dan ’n letsel genoem. Sommige diere het die vermoë om verlore liggaamsdele te hergroei, soos ’n akkedis wat sy stert verloor en dan ’n nuwe stert groei. Die menslike lewer kan herstel indien dit net gedeeltelik beskadig is. 2

Woordbank

gene Die deel van ‘n sel wat bepaal hoe ‘n lewende wese ontwikkel, groei en lyk; erflike eienskappe wat van ouer aan nakomelinge oorgedra word.
lote Spruit/takkie aan ‘n plant wat pas uitgeloop het.
mitose Wanneer selle in fyn draadjies verdeel; seldeling.
sel Die kleinste eenheid van plantaardige of dierlike weefsel wat minstens een kern bevat en homself kan vermenigvuldig.
weefsel Versameling selle van ‘n sekere soort.

Lees hierdie om meer te wete te kom

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Só groei en verander lewende dinge

Hoe word ‘n saadjie ‘n plant?

Mitose: Die ongelooflike selproses van verdeling om te vermeerder

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 November 2021 | Bygewerk op 1 Maart 2024