Vinnige feite

  • Pasgebore babas het geen bakterieë in hul liggame nie. 3
  • In sommige dele van die Indiese Oseaan skyn die seeoppervlak snags. Dit is so helder dat ʼn mens ʼn koerant kan lees. Hierdie lig word deur klein see-alge, die Dinoflagellata, veroorsaak. Soms het die verligte oppervlak ʼn deursnee van meer as 1,5 km. 4
  • Een kiem kan op een dag tot meer as agt miljoen kieme vermenigvuldig. Byna 80% van die kieme wat siektes veroorsaak, word deur ons hande versprei. 5
  • “Virus” is afkomstig van die Latynse woord vir “gif” of “slymerige vloeistof”, ʼn toepaslike beskrywing vir die skurke wat griep en verkoue veroorsaak. 6
Foto: iStock

ʼn Organisme is enige lewende ding, byvoorbeeld enige dier of plant. Organismes is  ʼn biotiese of lewende deel van die omgewing. Die woorddeel “bio” beteken ‘lewe’. Rotse en sonskyn, daarenteen, is deel van die nielewende (abiotiese) omgewing.

Organismes het gewoonlik vyf basiese behoeftes: Hulle het lug, water, voedingstowwe (voedsel), energie en ʼn woonplek nodig. Nie alle lewende dinge het egter al hierdie dinge gelyktydig nodig nie, en baie organismes het glad nie toegang tot lug nodig nie. Daar kan ook gesê word dat lewende organismes die sewe basiese lewensprosesse uitvoer, naamlik: selrespirasie, beweging, uitskeiding, voortplanting, voeding, groei en sintuiglike waarneming of sensitiwiteit. Daar is egter organismes wat nie ál hierdie prosesse uitvoer nie, maar steeds lewend is, en dit is wat die biodiversiteit op aarde so ongelooflik maak.

Oor virusse word daar kopgekrap, want daar is geen konsensus of hulle as lewendig beskou kan word, al dan nie. Virusse is gemaak van proteïene en nukleïensuur en kan muteer, wat verskillende variante van die virus kan meebring. Hulle bestaan ​​egter in twee heel verskillende fases. Een fase is rustend (onaktief). Die ander is in ʼn lewende sel van ʼn ander organisme; dan is die virus aktief besig om homself oor en oor te dupliseer. Dink aan ʼn rekenaarprogram. Wanneer dit gebruik word, is dit aktief; wanneer dit nie is nie, is dit onaktief, maar dit is nog steeds ʼn program.

Nog ʼn voorbeeld uit die biologie is spore, eensellige voortplantingsorgane wat in bakterieë, swamme of sommige plante, soos varings, is. Hulle is nie aktief voordat hulle in die regte situasie kom nie. Hulle het al die werkende dele om ʼn volledige organisme te wees, maar vir die oomblik is dit “afgeskakel”.

Baie organismes kan gesien word sonder om ʼn mikroskoop te gebruik. Sommige organismes is egter so klein dat dit nie met die blote oog gesien kan word nie; jy het ʼn mikroskoop nodig om dit te sien. Hierdie organismes word mikroörganismes genoem. Antonie van Leeuwenhoek het sy eie mikroskope ontwerp en gebou. In 1674 het hy die eerste persoon geword wat mikroskopiese organismes kon sien en beskryf. Hy het bakterieë, gis en vele ander mikroörganismes waargeneem. 1

Die meeste organismes bestaan ​​uit miljoene selle en word meersellige organismes genoem. Sommige organismes bestaan egter ​​uit net een sel, en hierdie tipes organismes word eensellige organismes genoem. Voorbeelde hiervan is bakterieë en protosoë. 2

Die vyf soorte lewende mikroörganismes is bakterieë, virusse, swamme, alge en protosoë.

  • Bakterieë kan staaf-, spiraal- of bolvormig wees. Sommige bakterieë kan nuttig wees, soos sekere soorte wat in die maag voorkom, maar ander nare soorte kan jou maagpyn of ʼn seer keel gee.
  • Virusse is parasiete, wat beteken dat hulle net binne die selle van ander lewende dinge kan oorleef. Hulle kan aansteeklike siektes veroorsaak, soos waterpokkies of masels.
  • Swamme (of fungi) kan verskillende groottes wees, wat wissel van ʼn enkele sel, soos gis (wat gebruik word om brood te laat rys), of ander swamme soos paddastoele.
  • Alge kan ook baie verskillende groottes wees – sommige eensellige alge word in tandepasta gebruik!
  • Protosoë is eensellige organismes en kan baie siektes veroorsaak, hoewel dit soms ook nuttig is.

Bakterieë

Die meeste bakterieë is baie nuttig vir ons. Daar is byvoorbeeld baie goeie bakterieë in ons liggame. Een van die primêre funksies van dié bakterieë is om ons te help om ons voedsel te verteer en af te breek. Sommige bakterieë kan ook help om ons immuunstelsel teen sekere organismes wat ons siek kan maak, te beskerm.

Benewens die voordele wat die bakterieë in ons liggame inhou, speel bakterieë ook ʼn belangrike rol in die ekosisteem van ons planeet, asook in die oorlewing van mense. Een soort bakterie, wat ontbinders genoem word (en deel van die voedselketting vorm), breek die materiaal van dooie plante en diere af. Dit is ʼn belangrike funksie wat help om grond te maak en van dooie weefsel ontslae te raak. ʼn Ander soort bakterie in die grond is Rhizobium-bakterieë, en dit help om die grond met stikstof te bemes, wat plante kan gebruik wanneer hulle groei. Ons kry ook bakterieë in kossoorte soos jogurt, kaas, piekels en sojasous.

Soos hier bo bespreek, is die meeste bakterieë nie nadelig vir ons nie, maar sommige is en kan ons baie siek maak. Hierdie bakterieë word patogene genoem. Patogene kan ook siektes by diere en plante veroorsaak. Sommige voorbeelde van patogene is melaatsheid, voedselvergiftiging, longontsteking, tetanus en tifus. Gelukkig het ons antibiotika wat ons kan drink om die slegte patogene te bestry. Ons het ook antiseptiese middels om wonde skoon te hou en antibakteriese seep wat ons gebruik om skottelgoed mee te was, oppervlaktes skoon te hou en selfs om ons hande mee te was.

Virusse

Virusse is selfs kleiner as bakterieë. Hulle is nie eens ʼn volledige sel nie. Dit is bloot genetiese materiaal (deoksiribonukleïensuur of DNS) wat in ʼn proteïenbedekking verpak is. Hulle moet die strukture van ʼn ander sel gebruik om te dupliseer. Dit beteken dat hulle nie kan oorleef nie, tensy hulle in ʼn gasheer – soos ʼn persoon, dier of plant – woon.

Virusse kan net ʼn baie kort tyd buite ander lewende selle oorleef. Virusse in besmette liggaamsvloeistowwe wat op oppervlaktes soos ʼn deurknop of toiletsitplek agterbly, kan byvoorbeeld vir ʼn kort tydjie daar woon. Hulle sal vinnig sterf, tensy hulle ʼn lewendige gasheer kry.

Wanneer virusse egter in iemand se liggaam intrek, versprei hulle maklik en kan die persoon siek word. Virusse veroorsaak ligte siektes soos verkoue, algemene siektes soos griep en baie ernstige siektes soos pokke of MIV/vigs. Antibiotika is nie doeltreffend teen virusse nie, maar is wel doeltreffend om sekondêre bakteriële infeksies, wat deur die virus of ʼn verswakte immuunstelsel veroorsaak word, te beveg. Antivirale medisyne is wel ontwikkel teen ʼn klein, uitgesoekte groep virusse.

Swamme

Swamme of fungi is meervoudige, plantagtige organismes. ʼn Swam kry voeding van plante, voedsel en diere in klam, warm omgewings. Baie swaminfeksies, soos atleetvoet– en gisinfeksies, is nie gevaarlik vir ʼn gesonde persoon nie. Mense met ʼn swak immuunstelsel (as gevolg van siektes soos MIV of kanker) kan egter ernstiger swaminfeksies kry.

Alge

Alge word op baie maniere deur mense gebruik, byvoorbeeld as kunsmis, grondversorgers en veevoer. Water- en mikroskopiese spesies word in helder tenks of damme gekweek en word geoes of gebruik om afvalwater (vloeibare afval) wat deur die damme gepomp word, te behandel. Natuurlik groeiende seewier is weer ʼn belangrike bron van voedsel, veral in Asië. Dit bevat baie vitamiene, waaronder vitamien A, B1, B2, B6, en C, en dit is ryk aan jodium, kalium, yster, magnesium en kalsium.

Protosoë

Protosoë is eensellige organismes, soos bakterieë. Dit is egter groter as bakterieë en bevat ʼn kern en ander selstrukture, wat hulle meer soos plant- en diereselle maak.

Plankton

Protosoë hou van vog. Derminfeksies en ander siektes versprei dus dikwels deur besmette water. Sommige protosoë is parasiete. Dit beteken dat hulle op of in ʼn gasheerplant of -dier moet leef om te kan oorleef. Die protosoë wat malaria veroorsaak, groei byvoorbeeld in rooibloedselle en vernietig dit uiteindelik. Sommige protosoë is in siste omhul, wat hulle help om vir lang tye buite die menslike liggaam en in moeilike omgewings te leef. Die Bilharzia-parasiet is ook ʼn voorbeeld van ʼn protosoön.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor nuttige en skadelike organismes

Nuttige en skadelike mikroörganismes

Mikroörganismes

Die nuttige en skadelike aard van mikroörganismes

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024