Vinnige feite

  • Dit neem tussen 500 en 1 000 jaar om 2,5 cm bogrond (die vrugbaarste laag grond) te produseer. 8
  • Plekke wat vroeër vulkaniese aktiwiteite gehad het, het gewoonlik besonders vrugbare grond. Druiwe en olywe groei byvoorbeeld baie goed aan die vrugbare hange van Berg Etna in Sisilië. 9
  • ’n Eetlepel grond bevat meer organismes as wat daar mense op aarde is en jy sal tot 1 400 000 erdwurms in ’n akker landbougrond aantref! 10
  • Grond berg groot hoeveelhede koolstof op: wetenskaplikes meen dat daar meer koolstof in die grond voorkom as in die atmosfeer en die plantlewe saam. Daar is 2 500 miljard ton koolstof in die grond, vergeleke met 800 miljard ton in die atmosfeer en 560 miljard ton in die plant- en dierelewe. 11
Foto: iStock

Het jy al gewonder hoeveel grond daar op aarde is en waar dit vandaan kom? Toe die aarde baie, baie jare gelede gevorm is, het dit net uit rotse bestaan. Soos die rotse verkrummel het en dit deur wind en water verweer is, is grond gevorm. Op hierdie manier is ’n grondlaag op die aarde se oppervlak gevorm. Hierdie proses gebeur steeds daagliks.

Die boonste laag grond (30 tot 40 cm diep) word die bogrond genoem. Onder die bogrond is ’n laag ondergrond en heel onder is ’n rotslaag. 1

Goeie bogrond is gewoonlik ’n donker kleur. Bogrond is baie belangrik vir lewe en plante en diere is afhanklik van die bogrond. As ons dieper grawe, kry ons die ondergrond. Dié laag is gewoonlik sanderig en oranjekleurig. Wanneer ons nog dieper grawe, kom ons by rots uit. Die laag rots onder die grond word die rotsbodem genoem. 2

Wanneer ons deur die rots grawe, ’n paar honderd meter diep, kan ons verskillende lae rots kry. Ons mag moontlik op sommige plekke water in die rotskrake kry en op ander plekke selfs steenkool. Nog dieper af, omtrent ’n kilometer diep, kan ons olie en gas kry. As ons selfs nog dieper gaan, sal ons baie harde rotse kry en dié rotse sal warm wees as jy daaraan raak. Op hierdie diep plekke onder die grond lê groot hoeveelhede minerale. Suid-Afrika is ryk aan minerale soos goud, platinum en diamante. 3

Grond is ’n mengsel van vier dinge: minerale, organiese stowwe, water en lug. Die minerale en organiese deeltjies (soos die oorblyfsels van dooie organismes of diere, blare asook klein lewende organismes) word saam gronddeeltjies genoem.

Wurms verryk die bogrond deur op organiese materiaal in die grond te voed en dit in voedingstowwe vir plante om te skakel. Namate hulle deur die grond beweeg, word dit meer absorberend en beter belug (meer lug kom tussen die gronddeeltjies voor). Grond is aan die onderkant van die voedselketting, maar tog is dit die hoeksteen van lewe op aarde. 5

Daar kan tussen drie hoof grondsoorte onderskei word, naamlik sandgrond, kleigrond en leemgrond. Kom ons kyk na dié drie groepe asook die eienskappe van elke soort.

Verskillende soorte grond

Sandgrond

Sandgrond het ’n groter konsentrasie sand in vergelyking met ander grond en word soms ook “ligte grond” genoem. Dit bestaan uit ongeveer 35% sand en slegs 15% klei en slik. Hierdie soort sand is nie presies soos wat jy op die strand sal kry nie – dit is die produk (of resultaat) van jare se geërodeerde minerale en gesteentes. Dit het ’n fyn, korrelige tekstuur en is relatief maklik om raak te sien vanweë die hoë konsentrasie sand. Dit het groter maar minder ruimtes tussen die korrels as kleigrond. Sandgrond raak vinnig droog ná reën en water vloei ook maklik weg.

Kleigrond

Kleigrond bevat meer kleikorrels as sandkorrels en kan daarom water beter hou as sand. Dit bly langer nat omdat die water nie so maklik en vinnig wegvloei nie. Daar is klein, maar baie ruimtes (spasies) in kleigrond (soos vir water en lug). Droë kleigrond voel glad as jy dit tussen jou vingers vryf en nat kleigrond voel klewerig en behou sy vorm (dis lekker om modderkoekies met kleigrond te bak en ons ouers het selfs kleilat met dié soort grond gespeel. Vra bietjie vir jou pa hoe kleilat werk!)

Leemgrond

Leemgrond is ’n mengsel van gelyke hoeveelhede klei- en sandgrond en ander grondkorrels. Dit bevat ook humus wat leemgrond lig en vol voedingstowwe maak. Plante groei die beste in leemgrond. Soos plante- en dierereste ontbind, maak mense kompos. Baie mense maak kompos uit groente- en vrugteskille, eierdoppe, blare en grassnysels en spit dit in die grond in om voedingstowwe by te voeg. Klein diertjies soos erdwurms en krieke help om kompos af te breek en die grond te meng. Dié diertjies veroorsaak dat daar meer ruimte in die grond vir lug en water is, wat dit makliker vir plante maak om te groei. Bakterieë, fungi en swamme speel ʼn baie belangrike rol in ontbinding.

Wat is die doel van grond?

  • Grond is die plek waarin alle soorte plante groei. 6
  • Grond verander die atmosfeer (die lug om ons) deur gasse (koolstofdioksied, metaan, waterdamp en so meer) en stof af te gee en te absorbeer (op te neem).
  • Grond verskaf blyplek (habitat) vir diere wat in die grond woon (soos molle, erdwurms en muise) en aan organismes (soos bakterieë en swamme), wat die meeste lewende dinge op aarde uitmaak.
  • Grond absorbeer, verander en suiwer water in landelike stelsels.
  • Grond verwerk herwinde voedingstowwe, insluitend koolstof, sodat lewende dinge dit kan gebruik.
  • Grond dien as basis vir die bou van huise, paaie, damme en geboue, en vernietig selfs mense se bouwerk byvoorbeeld deur erosie.
  • Grond dien as ’n filter om water skoon te maak voordat dit in ’n waterbron soos ’n rivier beland.

Wat is gronderosie?

Gronderosie is die afwas of wegwaai (deur water of wind) van die boonste laag grond. Dit is ’n ernstige probleem vir boere. As die grond erodeer, sal die gewasse wat voedsel maak, nie baie goed groei nie. Erosie laat ook groot sinkgate in die grond agter, wat geboue kan verswak en selfs kan laat ineenstort. Stedelike gebiede word gewoonlik beskerm teen gronderosie, en daarom stort nie baie geboue in duie weens erosie nie. 7

Woordbank

absorberend Opsuig; opslurp; opneem.
erosie Die wegvreet/wegkalwe/verweer deur die werking van ‘n element of liggaam van buite, soos wind en water.
gewasse
Bepaalde soort plant, veral in die landbou, soos mielies en koring.
kompos Mengsel van verrotte plante/blare/mis/ens. as bemestingstof in grond ingewerk om die gehalte daarvan te verbeter.
ontbinding Tot bederf oorgaan; stadig verrot en vergaan; vrot.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Die belangrikheid van grond

Grondsoorte en verskillende eienskappe

Grondlae

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Desember 2021 | Bygewerk op 26 Februarie 2024