Vinnige feite

  • In die hartjie van die winter kry die Poolstreke glad nie son nie. Daar is dus nie ʼn dag én ʼn nag nie. Dit bly regdeur die dag donker, en temperature daal tot onder vriespunt. In die somer gaan die son weer nie onder nie. Daar is dus nie ʼn aand nie, en die son skyn selfs teen middernag, byvoorbeeld in Noorweë. Die Arktiese en Antarktiese sirkels is die streke wat 24 uur donkerte het tydens die wintersonstilstand, en 24 uur sonlig tydens die somersonstilstand.
  • Het jy al gewonder hoekom dit elke vierde jaar skrikkeljaar is? ʼn Jaar waarin Februarie 29 in plaas van die gewone 28 dae het, word ʼn skrikkeljaar genoem. 5 Omdat dit 365¼ dae vir die aarde neem om een keer om die son te beweeg, moet ons elke vierde jaar ʼn ekstra dag by die jaar voeg. Al die kwarte saam vorm dus nog een volle dag. Elke vierde jaar is daarom een dag langer, sodat ons kalender so na as moontlik aan die astronomiese kalender (‘n kalender waarvolgens alle astronomiese gebeure soos meteoor-stortings en supermane opgeteken word) kan wees. Jy kan altyd ʼn skrikkeljaargetal deur vier deel. 6

 

Foto: iStock

Die jaar word – na aanleiding van die aarde se veranderende posisie met betrekking tot die son – in vier periodes, tydperke of seisoene verdeel. Dit het natuurlike klimaatswisselinge of verskynsels wat hulself jaarliks herhaal, tot gevolg. 1 Om te verstaan hoe die seisoene gevorm word, is dit belangrik om te weet dat die aarde beweeg. Dit is ook hoekom ons donkerte in die nag en lig in die dag het.

Dag en nag

Die aarde draai of wentel die hele tyd om sy eie denkbeeldige as, en daardie as is glad nie regop nie. Hierdie denkbeeldige as lê min of meer Noord-Suid (van die Noordpool na die Suidpool). 2 Die aarde staan skuins en draai teen ʼn hoek van 23,5° met die vertikale as. Ons noem dit die aarde se aswenteling (wentel beteken “draai”). 3

Een wenteling van die aarde om sy eie as duur 24 uur, en dit is hoekom daar elke 24 uur ʼn dag en ʼn nag is.

  • Dag: die toestand op die deel van die aarde wat na die son toe wys.
  • Nag: die toestand op die deel van die aarde wat weg van die son af wys.

Wanneer die son op enige deel van die aarde skyn, is daar dag en lig, maar sodra die aarde van die son af wegdraai, is dit nag en donker. Al voel dit vir ʼn mens of die son self in die oggend tot omtrent twaalfuur die middag opkom en dan oor die aarde beweeg tot dit in die aand ondergaan, is dit eintlik die aarde wat beweeg en die son wat stilstaan. In die middag lyk dit asof die son afbeweeg (sak).

Die kortste, langste dae en dag-en-nag-ewening

Die korste en langste dae van die jaar, of sonstilstande, vind plaas wanneer die aarde se kanteling óf direk in die rigting van die son, óf direk weg van die son af wys. Op die kortste dag – die wintersonstilstand – is die son op sy laagste in die lug. Op die langste dag – die somersonstilstand – is die son weer op sy hoogste.

In Suid-Afrika, wat in die Suidelike Halfrond geleë is, is die volgende datums belangrik:

  • Kortste dag: 21 Junie
  • Langste dag: 21 Desember
  • Dag-en-nag-ewening (die dag en nag is ewe lank): 20 Maart en 22 September

Hoe seisoene vorm

Die aarde se kanteling (die feit dat die aarde teen ʼn hoek van 23,5° lê en nie in ʼn regop posisie is nie), veroorsaak dat seisoene verander. Oor ʼn tydperk van ʼn jaar is verskillende dele van die aarde nader of verder van die son af, en dit kry dus meer of minder sonlig. 3 Dit lei tot verskillende klimaatstoestande, van warm en koud, of droog en nat.

Die ellips

Behalwe dat die aarde om sy eie as draai, beweeg dit ook in ʼn wentelbaan om die son in die vorm van ʼn langwerpige sirkel, wat ʼn ellips genoem word. Dit neem die aarde een jaar (365¼ dae) om een keer om die son te beweeg. 2 (Onthou van die kwartdag, want dit is belangrik!)

Elke seisoen is gewoonlik drie maande lank en het ʼn naam. Die seisoene volg altyd dieselfde volgorde en begin elke jaar weer van voor af.

Seisoenname en kenmerke

  • Lente: Ná die winter verhoog die temperatuur, met ander woorde dit word warmer. Die dae word langer en die nagte korter. Nuwe blare en bloeisels vorm aan die bome en oral in die natuur en tuine sien ons tekens van groei en groenigheid.
  • Somer: Dit is die warmste seisoen met heerlike, sonnige dae. Die dae is langer as die nagte. Sekere dele van die wêreld kry somerreënval en ook donderbuie. Die bloeisels ontwikkel in vrugte en word geoes. (Dit hang af van die verskillende soorte vrugte en groente. Sommige groei eerder in die winter.)
  • Herfs: Wanneer herfs aanbreek, raak die dae weer koeler en korter. Die bladwisselende bome (met ander woorde dié wat nie immergroen is nie) se blare verkleur in roesbruin en oranje skakerings en val af. Baie diere, soos eekhorinkies, maak kos bymekaar vir die koue winterdae wat voorlê.
  • Winter: Dit is die koudste seisoen. Baie wêrelddele ervaar ysige toestande saam met reën en sneeu. Dit kan wel baie droog in sekere dele wees al is dit winter, omdat sommige wêreldstreke slegs in die somer reën kry. Die boomtakke is kaal, en daar is min blomme.

Ná die winter is dit weer lente, en dan volg die somer, dan herfs, en dan weer winter.

Die son se rol in seisoene

In Junie kyk die aarde se noordelike helfte na die son toe. Die Noordelike Halfrond het dus lang, warm somersdae, en die son styg tot hoog in die lug. Terselfdertyd het die Suidelike Halfrond kort, koue wintersdae, en die son bly laag. In Desember kyk die Suidelike Halfrond na die son toe, en dus is dit somer daar, terwyl dit winter in die Noordelike Halfrond is. Die Poolstreke kry permanente daglig in die somer en permanente donkerte in die winter.

Temperature op die aarde word dus deur die hoek waarteen sonlig op die aarde skyn, bepaal. In die somer is die son hoog in die lug, en die sonlig skyn direk op die aarde. In die winter is die son laag in die lug, en die son se strale skyn indirek teen ʼn skuinshoek op die aarde. Die seisoene ontstaan omdat die aarde se as gekantel is relatief tot die pad van sy wentelbaan om die son; nie omdat die afstand tussen die aarde en die son wissel soos wat die aarde om die son wentel nie. 4

Watter seisoen kom in watter maande in die verskillende halfrondes voor?

Maande Halfrond Seisoen
September, Oktober, November Noordelike Halfrond Herfs
September, Oktober, November Suidelike Halfrond Lente
Desember, Januarie, Februarie Noordelike Halfrond Winter
Desember, Januarie, Februarie Suidelike Halfrond Somer
Maart, April, Mei Noordelike Halfrond Lente
Maart, April, Mei Suidelike Halfrond Herfs
Junie, Julie, Augustus Noordelike Halfrond Somer
Junie, Julie, Augustus Suidelike Halfrond Winter

Woordbank

bladwisselende
Plante wat hulle blare verloor om weer nuwe blare te kry.
denkbeeldige Wat alleen in die verbeelding bestaan.
ellips Ovale keëlsnee; figuur soos ‘n sirkel, maar met twee effens langer, platter kante.
klimaat Die algemene lug- en weersgesteldheid van ‘n plek/gebied/streek.
wentel Draai; rol; kantel; in ‘n vaste baan beweeg.

Lees hierdie om meer oor seisoene te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Die middernagson in Antarktika

Waarom het ons verskillende seisoene?

Hoekom is daar seisoene en hoe gebeur dit dat seisoene verander?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2021 | Bygewerk op 18 Oktober 2023