Vinnige feite

  • Uitskeiding is deel van ’n natuurlike proses vir mens, dier en plant om van metaboliese afvalstowwe ontslae te word.
  • Plante raak ontslae van koolsuurgas en skei dit deur hul blare en wortels uit.
  • Mense skei sweet, urine, koolstofdioksied, ensovoorts plaas.
  • Die organe van die ekskretoriese stelsel (uitskeidingstelsel), is daarvoor verantwoordelik om skadelike metaboliese afvalstowwe uit die bloed te verwyder sodat dit nie tot hoë konsentrasies opbou nie.
  • Een van die hooffunksies van die ekskretoriese stelsel, is om te verhoed dat daar te veel of te min water in die liggaam oorbly.
  • Die urienstelsel bestaan uit die niere, ureters, blaas en uretra.
  • Die hooffunksies van die ekskretoriese stelsel is filtrasie, absorpsie, diffusie en ekskresie.
Foto: iStock

Uitskeiding (ook ekskresie genoem) is wanneer stowwe uitgeskei word. Dit is ’n natuurlike proses vir mens, dier en plant om van afvalstowwe ontslae te raak en is een van die sewe basiese lewensfunksies.

Plante skei koolsuurgas en soute deur hul blare en wortels uit. Mense skei sweet, urine, koolstofdioksied, ensovoorts, uit. 1

Uitskeiding by die mens

Die mens se liggaam het voedingstowwe nodig vir groei, herstel en energie, maar indien dit nie eers deur middel van spysvertering verwerk word nie, is hierdie voedingstowwe onbruikbaar. Met ander woorde, voedsel wat ingeneem word, moet eers deur die spysverteringstelsel in klein deeltjies afgebreek (verteer) word, voordat dit deur die bloedstroom geabsorbeer en na die liggaamselle geneem kan word. Enige afvalstowwe wat die liggaam dus nie kan gebruik nie, word dan uitgeskei.

Meganiese vertering in die mond en maag breek kos met spierkrag af en chemiese vertering word deur ensieme gedoen. 2

Liggaamselle stort voortdurend afvalstowwe in die bloedstroom. Dit moet dan verwyder (uitgeskei) word om te voorkom dat dit opbou en die liggaam vergiftig. Die niere is as’t ware jou liggaam se suiweringsaanleg en speel ’n hoofrol in uitskeiding deurdat hulle bloed verwerk en afvalstowwe soos ureum en uriensuur verwyder. Die niere hou ook die volume en samestelling van jou bloed konstant deur oortollige water daaruit te haal.

Afvalstowwe en oortollige water vorm urine wat in die blaas gehou en ’n paar keer per dag uitgeskei word. Sodra die blaas vol is, word boodskappe na die brein gestuur dat die persoon moet urineer. 3

Die organe van die uitskeidingstelsel is daarvoor verantwoordelik om hierdie skadelike afvalprodukte uit die bloed te verwyder sodat dit nie tot hoë konsentrasies opbou nie. Tydens dié proses moet daar voedingstowwe teruggehou word vir die liggaam om te kan funksioneer. Een van die hooffunksies van die uitskeidingstelsel is om te verhoed dat daar te veel of te min water in die liggaam oorbly.

Die longe skei koolstofdioksied uit wanneer ons asemhaal. Die vel, ook ’n orgaan, skei afvalprodukte uit deur te sweet en sodoende ekskreteer die vel oortollige water, soute en ’n klein persentasie ureum. 4

Die urienstelsel

Niere

Die niere filtreer al die bloed in jou liggaam om ureum uit die bloed te verwyder. Jy het twee boontjievormige niere, elkeen omtrent die grootte van jou vuis. Niere produseer urine wat ’n kombinasie van oortollige water en afvalprodukte is. 4

Ureters

Daar is twee ureters (dun buisies) wat elke nier met die blaas verbind om die urine van die niere na die blaas neem. 4

Blaas

Die blaas is ’n ballonagtige orgaan waarin die urine versamel voordat dit uitgeskei word. Soos die blaas voller word, stuur die strekreseptore in sy wand seine aan die rugmurg wat die sluitspier (sfinkter) laat ontspan. Seine gaan ook na die brein en ’n behoefte om te urineer, ontstaan. Sodra dit moontlik is, laat ontspan die persoon die buitenste sluitspier en die blaas trek saam om urine deur die uretra te stoot. 3

Uretra

Die uretra is ’n buis wat die blaas met die buitekant van die liggaam verbind en waardeur die urine dan uitgeskei word. 3

Die komponente van die urienstelsel kan in hierdie skets 4 gesien word.

Interessante feite oor niere

  • Die niere beslaan slegs 1% van die liggaam se massa, maar verbruik 25% van sy energie – ’n aanduiding van hul kritieke rol in die funksionering van die liggaam.
  • Die niere verwerk daagliks 1 750 liter bloed om sowat 1,5 liter urine te maak.
  • Urine word in die ureters (urienbuise) vanaf die niere na onder gepers en in die blaas geberg totdat dit vol is. 3

Toetsing van urine

Urientoetse identifiseer abnormale vlakke van sekere chemikalieë in urine en help dokters om siektes te diagnoseer. Dit word gedoen deur ’n strokie papier met kussingagtige blokkies in ’n urienmonster te doop. Hierdie blokkies verkleur van ’n bepaalde chemikalie en word met ’n verwysingskaart (wat die korrekte pH-balans, ensovoorts aandui) vergelyk. 3

Hoofprosesse in die ekskretoriese stelsel (uitskeidingstelsel)

Filtrasie

Alle bloed in die liggaam beweeg deur die niere as deel van die bloedsomloopstelsel. Die niere filtreer die bloed om ongewenste minerale en ureum te verwyder, sowel as oortollige water. Van die water word verwyder voordat die metaboliese afvalstowwe in ’n oplossing in die urine uitgeskei kan word.

Absorpsie

Nadat die bloed deur die niere gefiltreer is, word die stowwe wat die liggaam benodig, in die bloed geherabsorbeer sodat dit nie saam met die urine uitgeskei word nie.

Diffusie

Diffusie is die gelykmatige vermenging van stowwe (soos melk in koffie). Sekere stowwe word in en uit die gespesialiseerde selle van die nier vervoer deur die proses van diffusie.

Ekskresie (uitskeiding)

Die niere kanaliseer die vloeibare urine deur die ureters na die blaas waar dit geberg word. Wanneer die blaas vol is, gebruik dit spiere om die urine uit die liggaam te forseer deur die uretra.

Sweet

Die sweetkliere vervaardig sweet wat hulle afskei deur porieë (sweetgaatjies in die vel). Sweet is 99% water met soute daarby en ’n bietjie afvalstowwe. Dit word gefiltreer uit bloed wat deur die sweetklier vloei.

Die senustelsel beheer die vrystelling van sweet. In warm toestande word meer sweet op die veloppervlak vrygestel. Wanneer die sweet verdamp, koel dit die liggaam af en help só om ’n konstante liggaamstemperatuur te handhaaf. 3

Woordbank

diffusie Passiewe verspreiding van molekules van ‘n hoë na ‘n lae konsentrasie van ‘n stof, totdat die konsentrasie van die bepaalde stof oral dieselfde is. 5
ensieme Ensieme is proteïene wat die chemiese reaksies in ons liggame versnel
metaboliese Metabolisme is ’n kombinasie van prosesse wat jou liggaam gebruik om kos in energie te omskep.
molekule ’n Uiters klein stoflike deeltjie.
pH pH is ’n skaal waarvolgens die suur- en alkaligehalte van ’n vloeibare oplossing bepaal kan word.
ureum ‘n Stikstofbevattende, metaboliese uitskeidingsproduk van proteïenvertering. 6

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Interessante feite oor die uitskeidingstelsel

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023