Vinnige feite

  • Die eerste radioblaps wat in Suid-Afrika gemaak is, is toe een van die musikante tydens eerste minister Jan Smuts se toespraak op 29 Desember 1923 nie stilgebly het nie. Luisteraars kon baie duidelik hoor hoe iemand hom of haar stilmaak met ʼn “shh-shhh!” 1
  • Dit was ʼn Suid-Afrikaner wat die eerste keer daarin geslaag het om menslike spraak oor ʼn lang afstand sonder draad te gelei. In 1915 het dr. Hendrik van der Bijl dit reggekry dat spraak tussen Parys in Frankryk en New York in die VSA (ʼn afstand van sowat 5 800 km) met radiogolwe oorgedra is. 17
  • Durban se munisipaliteit was die eerste in die wêreld om sy eie uitsaaistasie te hê. 4
  • In 1952 bied die SAUK bied sy eerste “oorsese” uitsending vanaf Robbeneiland aan. 18
  • Isidore Schlesinger, die stigter van die ABC, was ook die eerste voorsitter van die OK-winkelgroep. 6
  • René Caprara was ʼn klarinetspeler in die Kaapstadse simfonieorkes voor hy as die eerste direkteur-generaal van die SAUK aangestel is. 6
  • Die isiZulu-radiostasie Ukhozi FM is die grootste stasie in Suid-Afrika én Afrika met 7,9 miljoen luisteraars. 9
  • In Januarie 2022 was daar altesaam 349 radiostasies in Suid-Afrika. 19
  • Die afstandbeheerder (“remote control”) het eers in die 1980’s sy verskyning gemaak. 20 ʼn Afstandbeheerder genaamd “Lazy Bones” kon reeds in die 1950’s ʼn televisie beheer, maar die toestel was met ʼn draad aan die TV-stel gekoppel. 21
  • Die gemiddelde persoon spandeer ten minste tien jaar van sy of haar lewe voor die televisie. 22
  • Die eerste kleurtelevisieuitsending het tydens die Wimbledon-tennistoernooi in 1967 plaasgevind. 22
  • Verskeie akteurs het al die $1 miljoen-kerf per episode verbygesteek, soos Steve Carrell (vir Space Force), die rolverdeling in The Big Bang Theory en die rolverdeling van Friends. 23
Foto: iStock

Die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinnings, Madiba se vrylating, die aanval op die Wêreldhandelsentrum in die Verenigde State van Amerika (VSA) op 11 September 2001 …  Ons sou niks van dié belangrike gebeurtenisse geweet het as dit nie vir radio en televisie was nie. Radio en televisie het die geskiedenis tot in ons sitkamers gebring en die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) was die organisasie wat uitsaaidienste in Suid-Afrika vir jare beheer het.

Van slegs een radiostasie in 1936 het die SAUK uitgebrei na verskeie nuus- en radiostasies wat in verskillende lande beeld en klank na miljoene mense bring. In 2023 is dit een van die grootste staatsbeheerde maatskappye in Suid-Afrika met kanale vir sport, nuus en opvoeding.

Pioniers van die uitsaaiwese

Nog voor die SAUK gestig is, was daar reeds ander maatskappye wat radio-uitsendings gedoen het. Een van hierdie pioniers (baanbrekers) was die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (SASH) wat die eerste radiostasie in die land begin het. Die SASH wou bewys dat dit nie net ʼn vervoermaatskappy was nie. Op 18 Desember 1923 vind die eerste radio-uitsending vanaf die SASH-hoofkantoor in Johannesburg plaas. 1

Die maatskappy se volgende doel was om ʼn radiokonsert vanuit Johannesburg uit te saai. ’n Amerikaanse tegnologiemaatskappy, Western Electric, het die SASH tegnies ondersteun deur luidsprekers by Johannesburg en Kaapstad se spoorwegstasies te installeer sodat reisigers na die uitsending kon luister. 1 Mense by die huis kon by hul radio’s inskakel (luister) om hierdie geskiedkundige gebeurtenis op 29 Desember 1923 te beleef. 2 Jan Smuts, destyds die eerste minister van Suid-Afrika, moes ʼn toespraak tydens hierdie geleentheid lewer. 1

 

Nadat die SASH bewys het dat hy ook ʼn leier op ander tegnologiese gebiede was, word die radiostasie op 1 Julie 1924 aan die Wetenskaplike en Tegniese Klub van Johannesburg verkoop. 3

Ander groot stede in Suid-Afrika het vinnig in Johannesburg se spore gevolg. In September 1924 begin die Cape and Peninsula Broadcasting Operation ʼn radiostasie in Kaapstad en in Desember van dieselfde jaar kon Durbaniete vir die eerste keer na uitsendings luister toe die stadsraad (burgemeester en raadslede wat ʼn stad beheer) ook met ʼn eie radiostasie begin. 4

In daardie tyd het maatskappye nog nie advertensies gebruik om hul produkte oor die radio te adverteer nie. Die enigste inkomste (geld wat gemaak is) het van lisensies gekom. ʼn Lisensie was ʼn bedrag geld wat die luisteraars van ʼn radiostasie moes betaal om toestemming te hê om na die uitsendings te luister. Die drie stasies het in daardie stadium afsonderlik van mekaar gewerk en die opvangsgebied (die area waar mense na ʼn stasie kon luister) was só klein dat die stasies finansieel nie met die lisensiegeld van luisteraars kon oorleef nie. 5

Isidore Schlesinger, ʼn Amerikaans-gebore sakeman wat baie sukses in die koerantwese in Suid-Afrika gehad het, het in 1926 tot die stasies in Johannesburg, Kaapstad en Durban se redding gekom. Hy kry toestemming van die Suid-Afrikaanse regering om die uitsaaiwese in Suid-Afrika vir die volgende tien jaar te bestuur en voeg al die stasies saam onder die naam African Broadcasting Corporation (ABC). In tien jaar slaag Schlesinger daarin om die aanvanklike lisensiehouers (luisteraars) van 20 000 na 125 000 te vermeerder. 6

Stigting van die SAUK

Ten spyte van die groot aantal luisteraars wat vir lisensies betaal het, het die stasies steeds nie wins getoon nie. In 1936 vra die destydse eerste minister genl. Barry Hertzog dat daar ʼn ondersoek oor die toekoms van die uitsaaiwese in Suid-Afrika gedoen moet word. 5

Aan die hoof van hierdie ondersoek was John Reith, wat in daardie stadium die direkteur-generaal (bestuurder) van die British Broadcasting Corporation (BBC) was. Die BBC is vandag steeds een van die grootste uitsaaikorporasies in die wêreld. 6

Die BBC-logo wat van 4 Oktober 1997 tot 20 Oktober 2021 gebruik is

Op grond van Reith se voorstelle word die SAUK op 1 Augustus 1936 volgens die Suid-Afrikaanse Uitsaaiwet gestig. Die SAUK het aan die staat behoort en die hele uitsaaiwese in die land beheer. Dit was ʼn maatskappy sonder winsbejag (of winsoogmerk) wat beteken dat die SAUK nie ʼn wins hoef te maak nie. René Caprara is as die eerste direkteur-generaal van die SAUK aangestel en hy het hierdie betrekking (pos of werk) tot in 1948 beklee. 6

Engelse luisteraars kon in die beginjare van die SAUK uit verskillende programme kies en keur omdat die BBC se inhoud ook op Radio South Africa uitgesaai is. Afrikaanse uitsendings was op Radio Suid-Afrika te hoor. Daar was nog nie baie Afrikaanse programme nie, maar die uitsending van die Simboliese Ossewatrek in 1938 het alles verander. Tydens hierdie landswye gebeurtenis is die 100-jarige herdenking van die Voortrekkers se reis na die binneland gevier deur met ossewaens by stede en dorpe in die land aan te gaan. 7 Radio Suid-Afrika se breedvoerige uitsending van die Trek het die radio (of draadloos soos die ouer mense ʼn radio genoem het) vinnig gewild onder Afrikaanse gehore gemaak. 6

Die SAUK brei uit

Voor 1950 het die SAUK alle nuus vanaf die Suid-Afrikaanse Persagentskap (Sapa) en die BBC ontvang. Die korporasie het nog nie sy eie nuusspan met joernaliste en nuuslesers gehad nie. ʼn Nuusdiens is vir die eerste keer in 1950 begin. In 1952 word nog ʼn mylpaal bereik toe die eerste streeknuusdiens in die Wes-Kaap gevestig is. Die ander provinsies, en later selfs Namibië, kry ook mettertyd hul eie plaaslike nuusdienste. 6

Die stigting van Springbokradio in 1950 was ook ʼn groot eerste vir die SAUK – nie net word daar in Afrikaans én Engels uitgesaai nie, maar dit was ook die eerste stasie wat deur betaalde advertensies ʼn inkomste vir die korporasie kon genereer. Vervolgverhale, radiodramas en musiek het dié stasie baie gewild gemaak. Die koms van televisie in die sewentigs het ongelukkig veroorsaak dat die stasie baie luisteraars verloor het en uitsendings is in 1985 gestaak. 6

Die eerste uitsendings in Afrika-tale het in die 1940’s plaasgevind deur telefoonlyne na die swart woonbuurte wes van Johannesburg te herlei. 8 Die oprigting van die Brixton-toring in 1962 in Johannesburg het beteken dat al die radiostasies na FM (frekwensiemodulasie) kon oorskakel. 6

Danksy die verbetering in tegnologie word radiodienste vanaf die 1960’s na al die inheemse tale van Suid-Afrika uitgebrei. In 1960 kry isiZulu-, isiXhosa-, Sesotho- en Sepedi-sprekers radiostasies in hul moedertaal. In 1962 was dit Setswana- en in 1965 Tshivenda- en Xitsonga-sprekers se beurt. Met die uitbreiding van ʼn Swazi-stasie in 1982 en ʼn Suid-Ndebele-stasie in 1983 beteken dit dat die SAUK in al elf amptelike tale in Suid-Afrika radio-uitsendings doen. 9

Benewens die elf amptelike tale, saai Radio Lotus ook in Hindi uit, die taal wat Indiërs in Suid-Afrika praat. Radio X-K FM is in 2000 gestig. Hierdie stasie saai in Xhu! en Khwe, die tale van die San in die Noord-Kaap, uit. 9 Vandag kan 99% van alle Suid-Afrikaners na die radio luister in ʼn taal wat hulle verstaan. 6

Die koms van televisie

Suid-Afrikaners het baie lank gewag vir televisie (of beeldradio soos dit ook genoem is). Die eerste Amerikaanse televisiediens het reeds in 1928 met uitsendings begin. Aan die begin was dit slegs swart-en-wit-beelde op die televisie. Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog het 1 miljoen Amerikaners reeds ʼn televisie besit. 10 Selfs Zimbabwe, wat ekonomies nie so sterk soos Suid-Afrika was nie, het in 1961 al met televisie gespog. 11

Suid-Afrika was een van die min lande in die wêreld wat die maanlanding in 1969 nie op televisie kon sien nie. Die Suid-Afrikaanse publiek was só ongelukkig daaroor dat die regering sessies moes reël waar mense vir 15 minute lank na opnames van die maanlanding kon kyk. 12

Die maanlanding is waarskynlik een van die redes waarom P.J. Meyer, raadsvoorsitter van die SAUK, in 1969 deur die regering gevra is om ondersoek na die haalbaarheid van ʼn televisiediens in Suid-Afrika in te stel. 6 In 1971 kry die SAUK toestemming om met ʼn televisiediens te begin. Aan die begin is twee kanale voorgestel – een in Afrikaans en Engels en ʼn tweede kanaal wat in die ander tale van Suid-Afrika sou uitsaai. Uiteindelik het die SAUK net een kanaal gehad toe toetsuitsendings op 5 Mei 1975 begin het.

Op 5 Januarie 1976 begin Suid-Afrika se eerste televisiediens met landwye uitsendings. Waar ander lande aan die begin tevrede moes wees met swart-en-wit-televisie kon die SAUK onmiddellik met kleurtelevisie afskop. 12 Aangesien daar nog nie Afrikaanse programme gemaak is nie, is die dialoog (woorde) van buitelandse programme in Afrikaans oorgeklank. Die oorspronklike klankbane kon op Radio 2000 gehoor word. 6

Aanvanklik word die stasie net deur lisensiegeld van die kykers befonds (gefinansier of betaal), maar vanaf 1978 word daar ook ʼn inkomste deur advertensies gegenereer. 12

ʼn Tweede kanaal, wat onder meer in isiZulu, isiXhosa, Sesotho en Setswana uitsaai, word in 1981 begin. Die SAUK se alleenreg op televisiedienste in Suid-Afrika word in 1986 bedreig met die ontstaan van M-Net, die land se eerste betaalkanaal. ʼn Konsortium (groep wat saamwerk) van koerantuitgewers het M-Net ondersteun. Een van die voorwaardes aan M-Net om uit te saai, was dat slegs die SAUK nuus kon uitsaai. Hulle het dit so aanvaar. 13

Die jaar 1994 het groot veranderings vir die SAUK se radiodiens beteken. Waar die SAUK altyd direk onder die regering se departement van binnelandse sake geval het, was daar nou ʼn Onafhanklike Uitsaaiowerheid (tans die Onafhanklike Kommunikasieowerheid van Suid-Afrika of Okosa) wat die uitsaaiwese in Suid-Afrika gereguleer het. Vir die eerste keer is daar lisensies vir gemeenskapsradiostasies beskikbaar gestel. Dit het gemeenskappe en groepe reg oor Suid-Afrika die geleentheid gebied om inhoud uit te saai wat vir daardie gebied of groep belangrik is. 14

Die SAUK privatiseer ses radiostasies in 1996, naamlik Highveld Stereo (vandag 947) en Radio Jakaranda (vandag Jacaranda FM) in Gauteng, East Coast Radio in KwaZulu-Natal, KFM in die Wes-Kaap, Radio Algoa in die Oos-Kaap en OFM in die Vrystaat. Met die verkoop van hierdie stasies samel die Suid-Afrikaanse regering meer as R1 miljard in. 15

Die SAUK in die 21ste eeu

In 2005 ondergaan die SAUK ʼn verdere groot verandering toe die korporasie in ʼn kommersiële en publieke afdeling verdeel word. 15 Oor die afgelope twee dekades het die SAUK gegroei tot ʼn organisasie met vyf televisiekanale en 18 radiostasies wat in al elf amptelike tale uitsaai. Digitale platforms is te vind op SABC se YouTube-nuuskanaal.

Woordbank

aandeel Een van ʼn aantal gelyke dele van die geld wat in ʼn maatskappy belê is.
advertensies Gedrukte bekendmaking, veral in ʼn koerant/tydskrif, om iets te vra, ʼn vakature aan te kondig, of iets te koop aan te bied.
befonds Geldelik/finansieel steun; (die) geld vir iets verskaf/voorskiet; finansier.
beleid Plan/program vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/ens.
betaalkanaal Televisiekanaal wat net toeganklik is vir kykers wat die vereiste intekengeld betaal het.
radioblaps Flater/fout.
digitaal Wat ʼn stelsel gebruik waarin data elektronies bewaar word of waarheen dit gestuur word deur syfers, gewoonlik nulle en ene, te gebruik.
frekwensiemodulasie Modulasie van die frekwensie van die draergolf in ooreenkoms met spraak of ʼn sein.
herstruktureer Nuut en anders struktureer/organiseer.
kanale Breedte van die draaggolf waarin die modulasie kenbaar is; televisiekanaal; TV-kanaal.
klankbane Die opgeneemde musiek/klanke/ens. van ʼn rolprent.
kommersiële Wat betref die koop en verkoop van goedere/dienste; wat die handel betref.
konsortium Groep maatskappye/organisasies/ens. wat saamwerk om iets te doen.
luidsprekers Toestel wat geluid op meganiese wyse versterk.
munisipaliteit Besturende liggaam van ’n stad/dorp, wat deur belastingbetalers gekies word; stadsraad.
oorgeklank Van ʼn (nuwe) klankbaan, dikwels in ʼn ander taal, voorsien.
pioniers Iemand wat belangrik is in die eerste ontwikkeling van iets en wie se idees later deur ander verder ontwikkel word; baanbreker.
digitale platforms Plek/middel wat gebruik (kan) word om nuus/idees aan ʼn klomp mense oor te dra.
privatiseer ʼn Staatsinstelling verkoop om deur lede van die privaat sektor bedryf te word.
publiek Al die mense saam wat ʼn gemeenskap vorm.
gereguleer In orde bring; reëlmatig maak; reël; regulariseer; bepaal; vasstel.
radiostasie Gebou/plek waar ʼn bepaalde soort diens gelewer word of ʼn bepaalde soort aktiwiteit plaasvind.
stromingsdiens (Internet)diens waarop gebruikers kan inteken om klank- en/of video-inhoud in opeenvolgende bondels/pakkies te ontvang sodat die inhoud voortdurend bly speel soos dit ontvang word, sonder om dit op die rekenaar of selfoon self hoef te bewaar.
uitsaaikorporasie Instansie wat verskeie radio- en/of televisiestasies behartig, in mindere of meerdere mate deur die staat gefinansier en beheer.
uitsendings Handeling van uit te stuur, uit te send.
wins Ekstra geld wat jy maak deur iets te verkoop of sake te doen nadat jy al jou onkoste/uitgawes betaal het. 24

Lees hier meer oor televisie en die uitsaaiwese

Gaan loer ʼn bietjie na hierdie video’s

Die heel eerste televisieuitsending in Suid-Afrika

Só klink die klapklanke van die oudste inheemse taal in Suid-Afrika wat op X-K FM gehoor kan word

Danksy die internet hoef jy nie in ʼn spesifieke streek te bly om na ʼn streeksradiostasie te luister nie

Heidi was een van die gewildste kinderprogramme in Afrikaans tydens televisie se beginjare

Liewe Heksie was een van die eerste kinderprogramme wat in Suid-Afrika gemaak is

Die verskil tussen AM en FM

Só werk ʼn radio

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 September 2022 | Bygewerk op 19 Januarie 2024