Vinnige feite

  • In 1926 is die heel eerste eksperimentele televisie-uitsendings gedemonstreer aan 50 wetenskaplikes in Londen.
  • Enigiets wat op ’n skerm gekyk, gesien en gehoor kan word, vorm deel van oudiovisuele media. Hoewel oudiovisuele media as ’n gawe hulpmiddel ingespan kan word in opvoeding, is dit ook belangrik om die hoeveelheid tyd wat daarvoor ingeruim word konserwatief te hanteer, asook om versigtig te wees met die tipe programme en materiaal waarna gekyk word.
  • Die Universiteit van Cambridge het ’n studie op 800 14-jariges gedoen om hul skooluitslae weer op 16 jarige ouderdom te ontleed. Dié wat ’n ekstra uur per dag op skerms (televisie, rekenaar, speletjies, selfoon) deurgebring het, het ’n afname in hul skooluitslae getoon, wat gelykstaande is aan ’n afname van twee grade.
  • Navorsing toon dat oudiovisuele hulpmiddels ’n positiewe effek kan hê op die kreatiwiteitsvlakke van kinders.
  • In 1956 het ’n Amerikaanse firma, Bell, ’n telefoon ontwikkel wat aan ’n televisiestel gekoppel is sodat die persone in gesprek mekaar nie net kan hoor nie, maar sien ook. Dit was dan ook die voorloper van die video-oproep soos dit vandag met applikasies soos WhatsApp en ander digitale platforms uitgevoer word.
Foto: iStock

Oudiovisueel beteken met klank en beeld; iets waarna jy kan luister én kyk – dus met gehoor en sig. 1

Byvoorbeeld:

  • Ons gebruik oudiovisuele hulpmiddels in die natuurwetenskapklas wanneer juffrou vir ons ’n gedeelte van ’n video wys waarin iemand ’n eksperiment demonstreer.
  • My pa gebruik ’n oudiovisuele navigasiestelsel in sy motor; die skerm wys die roete wat hy moet ry terwyl ’n stem hom betyds waarsku wanneer hy moet afdraai.
  • Televisie is ’n oudiovisuele medium.

Massamedia

Oudiovisuele media is een van die kategorieë van massamedia. Massamedia is ’n term wat verwys na verskillende vorme van media waarmee gekommunikeer word om boodskappe en inligting oor te dra. 2

Kategorieë van massamedia

  • Gedrukte media – byvoorbeeld koerante en tydskrifte.
  • Oudio – byvoorbeeld radio en luisterboeke.
  • Oudiovisueel – byvoorbeeld televisie.
  • Elektroniese media – byvoorbeeld die internet deur middel van die “world wide web (www)”.
  • Biblioteek – ’n biblioteek is nie net ’n gebou met boeke wat jy kan uitneem nie, maar het ook afdelings waarin naslaanwerk gedoen kan word met toegang tot rekenaars en internetbronne.
  • Buitelug – byvoorbeeld groot advertensieborde (billboards) waarop produkte of dienste geadverteer word.

Funksies van massamedia

Die massamedia waarvan oudiovisueel deel vorm, het verskeie funksies wat dit vervul en spesifieke rolle wat dit in die samelewing speel.

  • Inligting: Dit hou die publiek ingelig oor belangrike sake en nuus.
  • Interpretasie: Dit verskaf deeglike interpretasies van situasies of gebeure.
  • Opvoeding: Dit dra opvoedkundige inligting oor soos gesondheidswenke, finansiële insigte, kosmaakprogramme en dies meer.
  • Vermaak: Dit verskaf ontspanning en vermaak deur middel van stories, flieks, musiekprogramme en meer.
  • Advertensies: Dit probeer die publiek oorreed om sekere produkte en dienste aan te skaf of te gebruik.
  • Dienste: Dit bied dienste aan soos om inligting oor die weer te verskaf, sportuitslae, feeste, boekresensies, gemeenskapsnuus en -programme en veel meer.
  • Om gesonde kultuur te promoveer: Dit kommunikeer die norme en waardes van die samelewing soos om veldtogte te hou teen geweld teenoor vroue en kinders.
  • Om te dien as ’n morele waghond: Dit moet misdaad en korrupsie blootstel in ’n gemeenskap en uitwys wat reg en verkeerd is. 2

Die uitvinders van televisie

Wetenskaplikes het dekades lank probeer om ’n televisie te maak. John Logie Baird (1888-1946), ’n Skotse uitvinder en ingenieur is amptelik die eerste persoon wat die televisie uitgevind het. Sy eerste probeerslag was redelik onafgewerk en is uit stukkies en brokkies saamgeflans, maar in 1924 het hy dit reggekry om ’n flikkerende beeld oor ’n kort afstand te beeldsend.

In 1926 het hy die heel eerste eksperimentele televisie-uitsendings gedemonstreer aan 50 wetenskaplikes in Londen. In 1930 het Baird televisies begin verkoop – die draaiskyfie binne-in het egter baie geraas.

Baird se televisie was nie die elektroniese toestel wat ons vandag ken nie. Dit het bestaan uit ’n draaiende kartonskyf met ’n ry vierkantige gaatjies in. Soos die kartonskyf gedraai het, het elke gaatjie ’n ander deel van die beeld afgetas. Hierdie televisie het ’n piepklein beeld geproduseer wat uit 30 lyne bestaan het, terwyl moderne televisies uit meer as 1 000 lyne bestaan. 3

Ná die uitvindsel van Baird se televisie, het Charles Francis Jenkins in die VSA en August Karolus in Duitsland ook televisiestelsels ontwikkel. Die eerste gereelde uitsendings het in Duitsland begin rondom 1935 en kort daarna in Brittanje. Die beeldgehalte was wel nog swak, maar verbeterings het meegebring dat televisie vanaf die 1940’s gewilder geword het. Ná die Tweede Wêreldoorlog het die televisie ’n belangriker plek in die samelewing begin inneem. 4

Die eerste fliek in bioskoopstyl

’n Wyedoek-rolprenttegniek (cinemascope) is in 1928 deur Henri Chrétien uitgevind en ontwikkel. Hierdie tegniek is egter eers sedert 1953 in die Verenigde State van Amerika vir kommersiële rolprente (fliek op ’n groot skerm) gebruik. 4

Beeldtelefoon

In 1956 het ’n Amerikaanse firma, Bell, ’n telefoon ontwikkel wat aan ’n televisiestel gekoppel is sodat die persone in gesprek mekaar nie net kan hoor nie, maar sien ook. Dit was dan ook die voorloper van die video-oproep soos dit vandag met applikasies soos WhatsApp en ander digitale platforms uitgevoer word. 4

Voordele van oudiovisuele hulpmiddels in opvoeding

  • Navorsing toon dat oudiovisuele hulpmiddels ’n positiewe effek kan hê op die kreatiwiteitsvlakke van kinders.
  • Oudiovisuele hulpmiddele kan help om die wye wêreld vir ons kleiner te maak deur interessante feite en beelde oor ander lande en kulture as’t ware lewend maak op ’n televisieskerm in jou eie huis.
  • Oudiovisuele hulpmiddele kan verbeelding stimuleer.

Nadele van oudiovisuele hulpmiddels in opvoeding

Oudiovisuele media moet wel met versigtigheid gebruik word en nie aktiwiteite soos kreatiewe speel, lees, luister na musiek en verf vervang nie. 5

Hoeveel skermtyd is goed vir my?

In die moderne era waarin ons leef, is die term ‘skermtyd’ alombekend wanneer ouers die riglyne neerlê vir die hoeveelheid tyd wat bestee mag word aan televisie, rekenaarspeletjies, selfone en tablette. Met ander woorde, enigiets wat op ’n skerm gekyk, gesien en gehoor kan word, vorm deel van oudiovisuele media. Hoewel oudiovisuele media as ’n gawe hulpmiddel ingespan kan word in opvoeding, is dit ook belangrik om die hoeveelheid tyd wat daarvoor ingeruim word konserwatief te hanteer, asook om versigtig te wees met die tipe programme en materiaal waarna gekyk word.

Te veel tyd voor die televisie en ander skerms

Hier is ’n paar goeie redes om eerder buite te speel as om voor ’n skerm vasgeplak te wees:

  • Die Universiteit van Cambridge het ’n studie op 800 14-jariges gedoen om hul skooluitslae weer op 16 jarige ouderdom te ontleed. Dié wat ’n ekstra uur per dag op skerms (televisie, rekenaar, speletjies, selfoon) deurgebring het, het ’n afname in hul skooluitslae getoon, wat gelykstaande is aan ’n afname van twee grade. Die gemiddelde 14-jarige spandeer vier uur van hul vrye tyd voor die televisie, rekenaar, of op hul selfone. Selfs wanneer die studente dan harder studeer, kan hulle steeds nie genoegsaam verbeter as hulle nie hul skermtyd verminder nie.
  • Die navorsing het verder bevind dat kinders wat meer as twee uur per dag voor die televisie of rekenaar spandeer, ’n 60% groter kans het om sielkundige probleme te hê, ’n negatiewe selfbeeld te kweek of probleme met hul geestelike welstand te ervaar.
  • Kinders wat aan elektroniese skermsindroom lei, het tekens getoon van sensoriese oorlading en ’n gebrek aan restoratiewe slaap. Hierdie kinders is dan impulsief, buierig en kan nie fokus nie.
  • Rekenaarspeletjies kan hoogs verslawend wees. Speletjies in die virtuele wêreld lei ook tot ’n vals idee van persoonlike bevoegdheid.
  • Opvoedkundiges beveel aan dat kinders tussen vyf en 18 jaar oud nie meer as twee uur per dag aan skermtyd spandeer nie. 6

Woordbank

media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet ensovoorts) waardeur nuus en inligting versprei word. 1
interpretasies Die betekenis daarvan (probeer) verduidelik. 1

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

So werk satelliettelevisie

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 19 Oktober 2023