Vinnige feite

  • Die woord uitsaai is oorspronklik ʼn landbouterm wat verwys na saad wat wyd gesaai is (oor ʼn oppervlak versprei). 12
  • Radio was die eerste draadlose (koordlose) manier van kommunikasie. Radio’s stuur boodskappe deur radiogolwe pleks van drade. Daarom het mense dit vroeër die draadloos genoem.
  • Wêreldradiodag word elke jaar op 13 Februarie gevier. 13
  • Suid-Afrika het tans 40 kommersiële of openbare radiostasies en 256 gemeenskapstasies, wat dit ’n totaal van 296 stasies in die land maak. 14
  • Podsendings (“podcasts”) is ’n uitvloeisel van radio wat vandag baie gewild is. ’n Podsending is ’n reeks gesproke digitale klanklêers wat ’n gebruiker aanlyn kan luister of op ’n toestel kan aflaai. Daar word geraam dat daar sowat 2 miljoen podsendingsprogramme en meer as 48 miljoen “episodes” (April 2021) is. 15
Foto: iStock

Hoe lekker is dit nie om op pad see toe of in die kombuis na die radio te luister nie. Mooi musiek, interessante geselsprogramme en selfs vervolgverhale laat ’n mens sommer van tyd vergeet.

Lank voordat televisie (wat ook beeldradio genoem is) in elke huis beskikbaar was, het mense op radio staatgemaak vir veral nuus en belangrike inligting van die regering af. Tydens groot oorloë het mense vasgenael voor die radio gesit en na nuusflitse en toesprake deur wêreldleiers geluister. 1 In ’n stadium is weerberigte gesensor sodat vyandige duikbote nie kon weet hoe die weer op ’n spesifieke plek was nie. Die eerste keer wat die Japannese mense hul keiser se stem gehoor het, was toe hy tydens die Tweede Wêreldoorlog Japan se oorgawe oor die radio aangekondig het. 2

Hoewel ’n mens nie sommer vandag meer ’n radio in elke huis sal aantref nie, luister ons nog dikwels radio in die motor en het tegnologie en die koms van die internet dit moontlik gemaak om radio op jou rekenaar en jou selfoon te luister. Talle radiostasies het selfs apps ontwikkel wat jou in staat stel om enige plek in die wêreld na jou gunstelingradiostasie te luister. Radio in die palm van jou hand! 3

Deur die geskiedenis

Die Skotse wetenskaplike James Clerk Maxwell het al in die 1860’s voorspel dat daar die moontlikheid van radiogolwe en die uitsending daarvan bestaan. 4

Radio was die eerste draadlose (koordlose) manier van kommunikasie. Radio’s stuur boodskappe deur radiogolwe pleks van drade. Die Duitse wetenskaplike Heinrich Hertz het bewys dat radiogolwe in die natuur voorkom. 5

Guglielmo Marconi geniet erkenning vir die eerste radiouitsending in 1896, maar hy het nie enige geluide of stemme uitgesaai nie, slegs ʼn sein. Stemme is eers in die vroeë 1900’s met ʼn radiosein uitgestuur. 6

Guglielmo Marconi

Ons moet eintlik vir Nikola Tesla dankie sê vir radio’s – hy het al in 1892 met die ontwerp vorendag gekom, maar weens Marconi se patente het Tesla eers in 1943 krediet gekry vir sy idee.

Nikola Tesla

Marconi het in 1901 en 1902 die eerste radiogolwe oor die Atlantiese Oseaan gestuur. In 1903 het hy die Amerikaanse president, Theodore Roosevelt, gehelp om ʼn radioboodskap na Edward VII, die koning van die Verenigde Koninkryk, te stuur.

Radio het amptelik op 24 Desember 1906 ʼn “stem” gekry. Talle skeeps- en amateur radio-operateurs het gesit en luister na die aand se verkeersboodskappe, wat in die kolletjies en strepies van morsekode uitgesaai is, toe ʼn man se stem skielik gehoor is. Hy het “CQ, CQ” (“aandag alle stasies”) geroep. Prof. Reginald Aubrey Fessenden het dié boodskap vanuit ʼn klein radiostasie in Brant Rock, Massachusetts, in die VSA uitgesaai. 7

Vroeë ontwikkelings in radio is “draadloostelegrafie” genoem, en daarom is daar vir lank na ʼn radio as ʼn “draadloos” verwys. Marconi het in 1909 die Nobelprys in fisika met Karl Ferdinand Braun gedeel vir hul “bydrae tot die ontwikkeling van draadloostelegrafie”.

Op 2 November 1920 het die eerste kommersiële stasie in Pittsburgh, Pennsilvanië, in die VSA met uitsendings begin en dit was sommer dadelik ʼn sukses. Dit het die “goue era van die radiowese” ingelui.

Brittanje het in 1922 ʼn radiolisensie uitgereik wat 10 sjielings gekos het. Tussen 1922 en 1971 kon jy in die Verenigde Koninkryk nie na ʼn radio luister sonder ʼn lisensie nie.

Radio in Suid-Afrika

Die Suid-Afrikaanse Spoorweë het op 29 Desember 1923 in Johannesburg met die eerste radiostasie in Suid-Afrika begin. Die Wetenskap- en Tegniese Klub in Johannesburg het op 1 Julie 1924 dié stasie oorgeneem. Die Kaapse Skiereiland-uitsaaivereniging het op 15 September 1924 met ʼn soortgelyke diens in Kaapstad begin. Die eerste uitsendings in Durban was op 19 Desember 1924. Geld is bekom deur luisteraars wat lisensies betaal het. 8

Die lisensies het nie genoeg geld ingebring nie en met die toestemming van die Suid-Afrikaanse regering, het die welvarende Schlesinger-organisasie op 1 April 1927 die Afrika-uitsaaimaatskappy gestig en die drie uitsendingsorganisasies het saamgesmelt. Dié nuwe organisasie het die alleenreg op uitsendings gehad.

Generaal JBM Hertzog

Maar steeds het die radiowese finansieel gesukkel, en eerste minister genl. JBM Hertzog het opdrag gegee dat ondersoek ingestel moet word na alle aspekte van uitsending. Gevolglik is die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) kragtens Wet 22 van 1936 tot stand gebring. Uitsendings was in daardie stadium slegs in Engels en volgens dié wetgewing moes uitsendings ook binne een jaar in Afrikaans beskikbaar wees. 9

Die Engelse en Afrikaanse dienste het jare lank onderskeidelik as Radio South Africa en Radio Suid-Afrika bekendgestaan. Dit staan vandag bekend as SAfm en Radio Sonder Grense (RSG). ʼn Derde diens, Springbok Radio, het op 1 Mei 1950 begin. Dit was waarskynlik die gewildste van alle SAUK-dienste, maar toe televisieuitsendings in die laat 1970’s in Suid-Afrika begin het, het dié stasie se inkomste en luisteraarstal geleidelik begin afneem en die stasie is uiteindelik in 1985 gesluit, ondanks betogings deur lojale luisteraars.

ʼn FM-uitsaaidiens van die Brixtontoring in Johannesburg het op 1 September 1961 begin. Die eerste FM-uitsendings van die Afrikaanse en Engelse dienste, Springbokradio en Suid-Sotho- en Zulu-dienste het op Kersdag 1961 plaasgevind.

FM-stereotoetse het in 1985 in Johannesburg begin. Die eerste stasie wat in FM-stereo uitgesaai is, was Five FM in 1986. Op 1 Desember 1988 was dié stasie ook die eerste wat landwyd in FM-stereo uitgesaai is.

Radio’s word vandag met rekenaars gekombineer om die rekenaar deur satelliete aan die internet te verbind. Radio’s sal uiteindelik van analoog na digitale uitsending omskakel. Analoogseine word geraak deur steurings soos weerstoestande, terwyl digitale seine hoëgehalteklank verseker.

Het jy geweet?

Die Eiffel-toring in Frankryk het vandag sy bestaan te danke aan Gustave Eiffel wat sy toring wou beskerm. Die toring is in 1889 onthul tydens die eeufeesvieringe van die Franse Revolusie en sou ná 20 jaar weer afgebreek word. Talle ontwerpers was gekant teen dié “belaglike toring wat bo Parys uittroon”. 10

Eiffel het in 1898 draadlose telegrafie-eksperimente gefinansier nadat hy ʼn antenna bo-op die toring geïnstalleer het. In 1903 was Eiffel steeds op soek na ʼn manier om sy toring te red, en hy het aan die weermag voorgestel dat die toring vir sendereksperimente gebruik kan word. Hy het self die operasie gefinansier en boodskappe is oor meer as 400 km gestuur. ʼn Ondergrondse militêre radiotelegrafiestasie is in 1909 opgerig en die Eiffeltoring se konsessie is in 1910 hernu. Meer as 100 antennas op die Eiffeltoring versend vandag nog radio- en televisieuitsendings wêreldwyd. 11

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

’n Kort geskiedenis van radio

Die geskiedenis van radio

Hoe werk ’n radio?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 24 Januarie 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024