Vinnige feite

  • NASA (National Aeronautics and Space Administration) is in 1958 geskep ná die lansering van die Russiese satelliet Spoetnik I. 1
  • Kennedy wou in September 1963 die hele Apollo-program kanselleer omdat hy bang was dat dit te duur geword het. Hy is egter op 22 November in ’n sluipmoordaanslag vermoor, en Lyndon Baines Johnson, sy opvolger, het besluit om daarmee voort te gaan. 2 [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.]
  • Die hele rit van lansering, landing op die maan en terugkeer na die aarde het 8 dae, 3 uur en 18 minute geneem. Die Eagle was altesaam 22 uur en 37 minute op die maan. 6
  • Die ruimtevaarders se dieet het bestaan uit spekblokkies, suikerkoekies, perskes, pynappel- en pomelosap, en koffie. 6
  • Die grond was só hard dat Armstrong nie die vlagpaal dieper as ’n paar sentimeter kon plant nie. Toe die Eagle weer opgestyg het, het dit omgeval. 6
  • Mense in Suid-Afrika kon nie na die maanlanding kyk nie, want televisie-uitsendings het eers in 1976 hier afgeskop. 10

In 1969 het die mensdom vir die eerste keer ooit op ’n ander ruimteliggaam geloop toe twee Amerikaanse ruimtevaarders, Neil Armstrong en Buzz Aldrin, op die maan geland het. Die maanlanding was ‘n groot geskiedkundige gebeurtenis en is ’n bewys van die mens se vindingrykheid en deursettingsvermoë.

Die Koue Oorlog en die ruimtewedloop

Die Koue Oorlog (1945-1991) was ’n stryd tussen die Verenigde State van Amerika (VSA) en die Sowjetunie (dit is Rusland en ander kommunistiese republieke wat tussen 1917 en 1991 ʼn federasie gevorm het) om te sien watter land die ander kon oortref. Een van die gebiede waar hulle teen mekaar meegeding het, was die ruimtewedloop, ’n resies om te sien wie eerste in die ruimte kon wees (in Engels: space race).

Die Sowjetunie het in 1957 die voortou geneem toe hulle Spoetnik I (in Engels: Sputnik I), die wêreld se eerste suksesvolle satelliet, in die ruimte geplaas het. Dit het die VSA se selfvertroue ’n ernstige knou toegedien, want hulle het geglo húlle is die voorste tegnologiese land in die wêreld. Hulle het onmiddellik teruggeslaan en in Januarie 1958 hul eie satelliet, Explorer I, in die ruimte geplaas. Die ruimteresies het toe in alle erns begin. 1

Die Sowjetunie het ook die tweede rondte gewen. Op 12 April 1961 het die Russiese ruimtevaardiger Yuri Gagarin die eerste mens ooit geword wat ’n geslaagde ruimtevlug voltooi het. Hy was vir 108 minute in die ruimte en het weer veilig op die aarde geland. 1

Vir die Amerikaners was Gagarin se ruimtevlug verdere bewys van hoeveel verder gevorderd die Sowjetunie se tegnologie was. 2 John F. Kennedy, die Amerikaanse president, is gewaarsku dat die Sowjetunie gou die vermoë sou hê om nóg groter ruimtetuie te bou, selfs ruimtetuie wat maan toe kon gaan. 1

Vyf dae ná Gagarin se sukses het die VSA nóg ʼn terugslag in die Koue Oorlog beleef. Dié land se poging om Fidel Castro, Kuba se kommunistiese leier, se regering omver te werp in die sogenaamde Varkebaai-inval in Kuba, was ’n volslae mislukking. 2

Daar was nou ’n definitiewe moontlikheid dat die VSA die ruimtewedloop en selfs die Koue Oorlog kon verloor! Dit was vir Kennedy ondenkbaar. Daarom het hy met die idee vorendag gekom om die eerste land te wees om mense op die maan te laat loop. 2

Die aankondiging

Op 25 Mei 1961 het Kennedy in ʼn openbare toespraak die Apollo-program – die projek om ’n mens op die maan te land – aangekondig. In sy toespraak het hy die volgende gesê:

“Ek glo ons nasie moet daarna streef om, voor die einde van die dekade, ’n man op die maan te laat land en hom veilig terugbring aarde toe. Geen enkele ruimteprojek sal vir die mensdom meer indrukwekkend wees nie, sal meer belangriker wees vir langafstand-ruimteverkenning nie, en geen projek sal so moeilik of duur wees om uit te voer nie … Ons kies om in hierdie dekade maan toe te gaan, nie omdat dit maklik is nie, maar omdat dit moeilik is.” 1

Die Amerikaanse president John F. Kennedy tydens ‘n toespraak.

Beplanning

’n Projek soos die maanlandingprojek het natuurlik fyn beplanning geverg. Alles moes eers getoets word om seker te maak dat dit moontlik was.

Daar was byvoorbeeld in Oktober 1968 ’n bemande sending wat om die aarde moes wentel om die rekenaarstelsels te toets. 1 Ander ruimtevaarders is na die donker kant van die maan (met ander woorde die kant wat ons nie vanaf die aarde kan sien nie) gestuur om die maanlandingstuig (in Engels: lunar module) te toets. Nóg ’n pendeltuig het in ’n proeflopie rondom die maan gewentel. 3 Die bekende foto van die opkoms van die aarde oor die maan is gedurende een van hierdie beplanningstogte in Desember 1968 geneem. 1

Die projek was natuurlik ontsettend duur. In die eerste paar jaar van die projek het die VSA meer as 4% van sy hele begroting daaraan spandeer! Vandag spandeer dié land minder as 0,5% van sy begroting aan ruimtenavorsing. 4 Altesaam 400 000 tegnici en wetenskaplikes het daaraan gewerk. 3

Buiten die geld was daar ook ’n persoonlike koste vir die mense wat aan die projek gewerk het. Baie van die werkers het vir die duur van die projek amper nooit hul families gesien nie omdat hulle so hard gewerk het om alles gedoen te kry voor die einde van die dekade, soos Kennedy beloof het. 4 Boonop is drie ruimtevaarders oorlede toe ’n vuur uitgebreek het terwyl hulle besig was om die beheermodule (in Engels: command module), die deel van die ruimtetuig waar die beheerkontroles geplaas is, te toets. 1

Die ruimtevaarders Neil A. Armstrong, Michael Collins en Edwin E. Aldrin.

Die projek het deurentyd ongelooflik baie publisiteit gekry, en die ruimtevaarders is as helde opgehemel. 1

Die ruimtetuig en ruimtevaarders

Die ruimtetuig se naam was Apollo 11. Die tuig het uit drie komponente bestaan: die beheermodule, die diensmodule (in Engels: service module) waar dinge soos die tuig se suurstof en water gestoor is, en die maanlandingstuig. Die tuig is op ’n vuurpyl, genaamd die Saturn V Rocket, geplaas. Die tuig is by Cape Canaveral in Florida in die VSA gelanseer, 1 en die rit sou vanaf NASA se kontrolesentrum in Houston, Texas beheer word. 5 [Lees hier oor vuurpyle.]

Die drie ruimtevaarders wat die rit sou aanpak, was Neil Armstrong, Edwin (Buzz) Aldrin jr. en Michael Collins. Armstrong was die aanvoerder. Collins sou die beheermodule, genaamd die Columbia, bestuur. Die beheermodule sou om die maan wentel terwyl die maanlandingstuig, genaamd Eagle, 6 met Armstrong en Aldrin aan boord, op die maan sou land. 1

Neil Armstrong.

Die lansering en landing

Apollo 11 is op 16 Julie 1969 gelanseer. 1

Die ruimtetuig het in 76 uur amper 400 000 kilometer ver gereis, en teen 19 Julie die maan se wentelbaan betree. Die Eagle het die volgende dag van die Columbia geskei. 3

Die landing het nie glad verloop nie. Kort voor die landing het daar ’n alarm afgegaan wat aangedui dat iets fout was met die tuig. Dit was gelukkig net ’n rekenaarprobleem, 1 en die ingenieurs in Houston het besluit die landing kon voortgaan. 4

Die volgende probleem het gekom toe die tuig moes land. Hulle het beplan om te land op die Mare Tranquillitatis of See van Rus (in Engels: Sea of Tranquility), maar dit was nie so glad soos wat dit van die aarde af gelyk het nie. Daar het rotse so groot soos motors oral rondgelê. 4 Armstrong moes dus ’n veilige landingsplek soek, en dit het omtrent al hul petrol opgebruik. 1

Die tuig het uiteindelik om 22:17 (Suid-Afrikaanse tyd) suksesvol geland. 7 Armstrong het die landing aan die kontrolesentrum aangekondig met die woorde: “Houston, Tranquility base here. The Eagle has landed.” 4

Hierna het Armstrong en Aldrin eers vir meer as ses uur gerus voor die tuig oopgemaak is en hulle kon uitklim.

Werknemers in NASA se beheersentrum.

Terwyl die televisiekamera wat aan die Eagle vas was hom afgeneem het, het Armstrong sy voet op die maan se oppervlak neergesit en die beroemde woorde geuiter: “That’s one small step for man, one giant leap for mankind.” 3

Tyd op die maan en terugreis

Armstrong en Aldrin het vir ongeveer twee en ’n half uur op die maan rondgeloop. Hul eerste taak was om maanrotse en ander monsters te versamel. 1 Hulle het ook ’n Amerikaanse vlag geplant, ’n paar wetenskaplike toetse gedoen, met Richard Nixon, die Amerikaanse president, gepraat, 3 en ’n gedenkplaat, waarop die woorde “We come in peace for all mankind” staan, opgerig. 1

Daarna het hulle na die Eagle teruggekeer en weer gerus voor hulle opgestyg en weer by die Columbia aangesluit het. 3

Op 24 Julie was hulle terug op die aarde en het in die Stille Oseaan geland. Ná die landing is die ruimtevaarders eers in kwarantyn geplaas, om seker te maak dat hulle geen bakterieë of virusse saam met hulle teruggebring het aarde toe nie. 1

Die maanlanding in perspektief

Meer as ’n halfmiljard mense het na die maanlanding op televisie gekyk. Tot op daardie stadium was dit die mees gekykte lewendige (regstreekse) gebeurtenis ooit op televisie. 1

Die VSA het nie die maan vir hulself in besit geneem nie. Die vlag wat hulle op die maan geplant het, was net bedoel om simbolies te wees. 4

Die maanlanding het wel die Amerikaners die ruimtewedloop laat wen, en dit het nuwe patriotisme onder Amerikaners laat posvat. 4

Daar is al ses ruimtesendings maan toe, die eerste maanlanding ingesluit. 4 In hierdie ses sendings het daar al 12 mense op die maan geloop. Die laaste sending, met Apollo 17, was in 1972. 1

Neil Armstrong in 1999.

Op wetenskaplike gebied het die sendings stukke van verskillende dele van die maan, soos rotse en stof, teruggebring aarde toe. Hulle het ook wetenskaplike eksperimente gedoen wat tot vandag toe vir wetenskaplikes inligting gee. 4 Voor die eerste maanlanding het ons byvoorbeeld nie geweet hoe die maan ontstaan het nie. Nou weet ons: die maan het gevorm toe ’n planeet so groot soos Mars met die aarde gebots het, en ’n stuk van die oorblyfsels het in die aarde se wentelbaan vasgesit en die maan gevorm. 4

Die maanlanding het die moontlikheid van ruimtevlugte en maanlandings vir almal in die wêreld moontlik gemaak. 4 Dit het aan die mensdom ’n nuwe idee gegee van wat ons met tegnologie kan bereik. 1

Gerugte dat die maanlanding nie waar was nie

Ná die maanlanding het sommige kritici gesê dat dit nie regtig gebeur het nie. Volgens hulle is die hele storie in ’n studio in Hollywood geskep.

Vandag weet ons sonder twyfel dat dit wel gebeur het, veral om vier redes:

Al die voetstappe wat al ooit op die maan gemaak is, is steeds sigbaar. Hulle verdwyn nie, want faktore wat goed op aarde laat verdwyn, soos weer, water en mense, bestaan nie op die maan nie. 8

Daar is meer as 8 000 foto’s op die maan geneem, wat vrylik op die internet beskikbaar is. (Sien “Lees meer” onderaan die artikel.) 8

Wetenskaplike toerusting soos seismometers is op die maan gelos, wat deurentyd data terugstuur aarde toe. 8

Die ruimtevaarders het verskeie maanmonsters teruggebring. Sommige word gebruik vir wetenskaplike eksperimente, en sommige is in museums uitgestal. 8 By die National Air and Space Museum in Washington DC kan jy selfs aan ’n stuk van die maan vat! 9

‘n Uitnodiging na die bekendstelling van Apollo 11.

Woordbank

aanvoerder Leier.
bakterieë Organismes wat siektes by mense kan veroorsaak.
begroting Die geld wat die regering elke jaar uit belasting kry om aan die verskaffing van dienste en verbetering van die land te spandeer.
gelanseer Om iets af te skiet, die lug in te skiet, in beweging te bring.
uiter Om iets te sê.
gevorderd Vooruitgegaan, ’n taamlik hoë trap bereik.
knou toegedien Iets of iemand moedswillig seermaak of beskadig.
kommunistiese ’n Regeringstelsel waar die regering alles in die land besit en beheer.
Koue Oorlog ’n Tydperk van spanning tussen die VSA en die Sowjetunie tussen 1945 en 1991, wat nie op fisiese oorlog uitgeloop het nie.
kwarantyn Om iemand te dwing om vir ’n bepaalde tyd weg van ander mense te bly.
maanlandingstuig Die ruimteskip waarmee daar op die maan geland is.
Mare Tranquillitatis ’n Gebied op die maan.
monsters ’n Deeltjie van iets wat jou laat sien hoe die geheel lyk.
omver te werp Te laat misluk of tot ’n val bring.
opgehemel Om iemand oormatig te prys.
patriotisme Om lief te wees vir jou land en te dink dat jou land beter as die ander lande is.
pendeltuig Ruimteskip wat van die aarde af gelanseer word, ruimte toe gaan en weer na die aarde kan terugkeer.
ruimteliggaam Planeet (son, maan, aarde, Mars, ens.)
streef Probeer; om iets te wil doen/reg te kry.
posvat Gewild word.
proeflopie Om iets te doen ter voorbereiding op iets anders.
publisiteit Die aandag wat iemand/iets in koerante, oor die radio, op televisie, ens. kry
satelliet ’n Mensgemaakte voorwerp wat in ’n baan om die aarde wentel.
seismometers Die toestel wat die bewings van die maan en Aarde opteken.
simbolies Iets wat ’n sekere betekenis het of iets voorstel; wat ‘n bepaalde idee verteenwoordig
sluipmoordaanslag Die moord van ’n bekende persoon wat gewoonlik in die geheim beplan is.
tegnici Meervoud van tegnikus; iemand wat bekwaam is in ’n sekere veld.
vindingrykheid Die vermoë om met slim oplossings vorendag te kom.
virusse ‘n Baie klein organisme wat sekere siektes kan veroorsaak.
voortou geneem Leiding neem.
vuurpyl Spesiale pyl met hoë dryfkrag om maanprojektiele en spoetniks af te vuur.
wentel Om ’n middelpunt te draai.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s oor die maanlanding

Luister hier na Armstrong se historiese woorde

Interessante feite oor die maanlanding

President J.F. Kennedy se toespraak oor die ruimteprogram

Video van die eerste maanlanding

Pres. Kennedy se toespraak ná die suksesvolle maanlanding

 

Teken jou eie ruimteskip

Apollo 13

Gepubliseer op: 14 Augustus 2023 | Bygewerk op 2 Mei 2024