Vinnige feite

  • Die naam “hoorspel” word soms ook vir ’n radiodrama gebruik. Dit is dus letterlik “toneelspel” wat net gehoor word. 3
  • Die eerste radiodrama – A Comedy of Danger deur Richard Hughes – is in Januarie 1924 deur die BBC (British Broadcasting Corporation) uitgesaai. 12
  • Radiodramas word soms “teater van die verbeelding” of “teater vir die blinde” genoem. 4
  • Renske Jacobs het vanaf 2015 as regisseur van radiodramas opgetree en van 2015 tot 2023 was sy elke jaar regisseur van een of meer radiodramas. Sy het reeds vir vier van haar radiodramas pryse ontvang. 5
  • Joe Kleinhans het reeds verskeie radiodramas, radiovervolgverhale asook twee televisiedramas geskryf. Sy jongste radiodrama – Die Kompetisie – is op 15 Junie 2023 op RSG uitgesaai. 6
  • Sommige luisteraars luister fyn en laat weet sommer gou die radiostasie as daar iewers ’n feitefout is!
  • Maroela Media het al verskeie radiodramas vervaardig, soos Briekaandraai, Begrond en Katbosbult, met Bettie Kemp as regisseur.
Foto: iStock

Mense is gewoond om al hul sintuie in te span wanneer hulle iets ervaar. Maar soms het jy net een sintuig nodig en kan die ander maar so ’n bietjie rus. Dis wat gebeur wanneer jy na ’n radiodrama luister – al wat jy moet doen, is LUISTER. Dit kan nogal moeilik wees omdat ons vandag gewoond is dat alles ook GESIEN moet word, maar toets dit bietjie en kyk hoe lekker dit kan wees om die storie in jou verbeelding te sien.

Wat is ’n radiodrama?

ʼn Radiodrama is ’n soort storie wat spesiaal vir die radio geskryf en saamgestel is. Luisteraars kan net daarna luister, daar is niks om na te kyk nie. Hulle moet dus hul verbeelding gebruik om die “prente” vir die storie te maak. 1

Bettie Kemp, bekende regisseur van onder meer radiodramas, sê radiodramas word geskryf vir “mense wat nie oë het nie”, omdat die luisteraars nie sien wat gebeur nie. 2

Kenmerke van ’n radiodrama

’n Radiodrama moet ’n taamlik eenvoudige struktuur hê en konsentreer op dit wat werklik ’n funksie het in die storie. Die taal en woorde wat gebruik word, moet maklik verstaanbaar wees omdat die luisteraars dit net een keer hoor en dit dadelik moet kan verstaan.

Byklanke word gebruik om die storie te help vertel sodat luisteraars weet waarmee die karakters besig is. 3

Christopher van der Westhuizen en Elma Potgieter tydens die opname van die radiodrame Klipgebede

Op ’n verhoog kan jy sien wat ’n akteur doen, in ’n radiodrama is dit nie moontlik nie – jy kry die inligting oor die storie slegs deur te luister.

Vir radiodramas is die luisteraars se verbeelding belangrik. Mens kan eintlik sê dat die verbeelding van die luisteraars help om die radiodrama “te skryf”. Omdat hulle net kan luister, moet elke luisteraar self prentjies maak oor hoe die spelers lyk, wat hulle doen en wat alles gebeur. 4

Die taal wat in radiodramas gebruik word, moet klink soos dit klink wanneer mense met mekaar gesels, nie soos wanneer mens skryf of die taal in boeke nie. Iemand wat besig is om te praat, kan byvoorbeeld ook onderbreek word deur ’n telefoon of voordeurklokkie wat lui of deur iemand anders wat by die vertrek inkom.

Sinne moet kort wees sodat mense wat dit net een keer hoor, dit dadelik kan verstaan. 4

Elma Potgieter en Anton Schmidt besig om te speel. Anderkant die venster sit die twee klankmense en die regisseur

Dinge wat ’n radiodrama moeilik maak

Daar is nogal ’n hele paar dinge wat dit vir mense wat ’n radiodrama aanbied, moeiliker maak as ’n gewone toneelstuk op die verhoog.

Omdat die luisteraars nie die karakters kan sien nie, kan hulle ook nie sien watter soort klere die karakters dra of hoe hulle lyk nie. Mens weet byvoorbeeld nie hoe oud of jonk die karakters regtig is nie.

Dit is ook moeilik om die manier waarop karakters fisiek beweeg aan die luisteraars oor te dra slegs deur stemme en spraak te gebruik.

Omdat luisteraars nie die karakters sien nie, is dit moeiliker om hulle te identifiseer of te leer ken. Dit is een van die redes waarom dit beter is om minder karakters in die radiodrama te gebruik, sodat dit vir luisteraars makliker is om gou agter te kom watter stem aan watter karakter behoort.

Die gehoor wat luister

Wanneer gehore na ’n toneelstuk gaan kyk, weet die spelers meeste van die tyd of dit ouer mense, jonger mense of kinders is.  Met radiodramas werk dit heeltemal anders.

Die luisteraars kan oud én jonk wees en hulle kan enige soort mense insluit – studente, skoliere, sakemanne en -vroue, ’n predikant, ’n loodgieter of huisvroue.

Daarom is dit belangrik vir die skrywer van die radiodrama asook die spelers om daaraan te dink en so te skryf en te speel dat die luisteraars verstaan wat gebeur.

Dit is ook belangrik om die luisteraars se aandag sommer dadelik te kry en te hou. Wanneer mens radio luister en die storie is nie boeiend genoeg nie, kan mens mos sommer maklik besluit om liewer te gaan koffie maak of buite te gaan speel! 4

Hoe spelers in radiodramas moet speel

Daar is ’n hele paar dinge wat radioteaterspelers moet doen om hul werk goed te kan doen. Kom ons kyk na ’n paar van hierdie vereistes.

  • Radiospelers moet goed en vlot kan lees.
  • Dit moet klink asof die karakter wat vertolk word, die woorde self uitgedink het, ’n rol word dus vertolk en nie net gelees nie.
  • Die regte woorde moet beklemtoon word, sodat dit klink soos wanneer mense normaalweg praat.
  • Spelers moet so natuurlik as moontlik klink en nie probeer om “mooi” te praat nie.
  • Dialoog moet natuurlik só gelees word dat die karakter die luisteraars kan oortuig, hulle moet glo wat hulle hoor.
  • Spelers moet onthou dat hulle besig is om met iemand te praat, dit moet dus klink soos ’n gesprek en nie soos mense wat net sinne lees nie.
  • Dit is belangrik om pouses in te voeg waar dit nodig is of waar dit in die teks so aangedui word.
  • Spelers moet soms vinniger en soms stadiger praat, net soos in ’n gewone gesprek.
  • Wanneer ’n speler die rol van ’n ouer karakter moet speel, kan dit gedoen word deur stadiger te praat of deur jou stem laer te maak. Net so kan spelers met ’n jonger karakter weer die karakter vinniger en met ’n hoër stem laat praat.
  • Soms sal twee spelers gelyktydig praat, net soos dit soms in ’n gesprek gebeur.
  • Spelers moet daarop let dat dit nie klink asof hul karakters oorversigtig of oorduidelik praat nie. In gewone gesprekke laat mens mos soms party woorde weg en jy praat net gewoonweg, jy maak nou en dan selfs taalfoute – dit is soos dit in die radiodrama ook moet klink.
  • Al hoor die luisteraars net die spelers se stemme, is dit belangrik dat spelers “met hul hele lyf speel”. Luisteraars kan dit aan jou stem hoor wanneer jy loop, wanneer jy gaan sit, of wanneer jy uit die bed uit opstaan of selfs wanneer jy iets van jou af weggooi. 5
Elma Potgieter en Anton Dekker in ‘n radioteater

Dialoog vertel meer oor die karakters

Die manier waarop verskillende karakters praat, vertel vir die luisteraar meer oor die karakter.

Kom ons kyk na hierdie voorbeeld oor hoe twee verskillende karakters in ’n radiodrama ’n ongeluk wat pas gebeur het, beskryf. ’n Man word in die straat voor ’n apteek deur ’n motor raakgery en ernstig beseer. Daar is twee verskillende mense wat die ongeluk sien gebeur en elkeen van hulle – ’n vrou en ’n predikant – gaan vra by die apteker hulp en beskryf die ongeluk in hul eie woorde.

Die vrou

VROU: (UITASEM, BYNA HISTERIES) Meneer – ag meneer, bel die ambulans en kom help gou! Dis verskriklik.

APTEKER: Wat is verkeerd?

VROU: Dis net bloed. Dit voel of ek gaan flou word.

APTEKER: Wat het gebeur?

VROU: ʼn Man… hier buite in die straat. ʼn Kar het hom omgery. Ek dink hy is dood.

APTEKER: Ken u die man?

VROU: Moenie net daar staan nie. Gaan help hom!

APTEKER: Het u gesien wat gebeur het?

VROU: Ja – ek het die kar se remme gehoor. Toe maak ek my oë toe. En toe ek weer kyk, toe lê hy daar.

Mens sien dat die vrou nie samehangend vertel wat gebeur het nie. Sy gee nie al die feite oor die ongeluk duidelik nie omdat sy te ontsteld is. Sy praat dus net soos iemand wat werklik pas ’n ongeluk gesien het en hulp gaan soek.

Die predikant wat baie formeel praat:

PREDIKANT: Meneer, daar het pas ’n ongeluk voor u apteek plaasgevind.

APTEKER: Wat het gebeur? Ek het ’n kar se remme gehoor en toe ʼn slag.

PREDIKANT: ’n Man het voor ʼn motor beland. Sal u so vriendelik wees om hulp te ontbied? Ek vrees die arme man is ernstig beseer.

APTEKER: Ek bel dadelik die ambulans en die polisie.

PREDIKANT: Baie dankie.

Byklank: nommer word geskakel

PREDIKANT: Tog so tragies, al die ongelukke. Dis of mense net nie meer omgee nie.

Sien jy hoe die predikant heeltemal anders as die vrou reageer en ook anders praat? Mens sien dus hier hoe die taal wat die karakters gebruik en hul reaksie op die ongeluk heeltemal verskil, net soos dit in die werklike lewe sal wees. Elke karakter het sy eie woordeskat en sy eie manier van praat en reageer. 4

Die karakters se manier van praat en hul taalgebruik teken vir die luisteraars ’n prentjie van daardie karakter. Daarom is die teks wat die skrywer vir verskillende karakters skryf belangrik en dit is ook belangrik dat die taal wat ’n karakter gebruik, die hele tyd dieselfde bly – dit moet dus geloofwaardig wees. Die luisteraar moenie verwar word deur ’n karakter wat skielik heeltemal anders klink as voorheen nie. 6

Die belangrikheid van byklanke

“Byklanke” is die woord wat gebruik word vir geluide wat die regisseur saam met die stemme van die karakters in die radiodrama gebruik.

Byklanke help die luisteraars om die plek waar die karakters is, in hul verbeelding te sien. Byklanke kan ook help om atmosfeer te skep. 4

Daar is drie soorte byklanke:

Byklanke deur spelers

Dit is klanke wat deur die spelers in die ateljee gemaak word, soos voetstappe, klop aan ’n deur of om deure oop en toe te maak. 7

Hierdie klanke word gewoonlik gemaak deur spelers wat nie op daardie oomblik besig is om te lees nie – hulle sal byvoorbeeld ’n koerant se bladsye omblaai wanneer dit moet klink asof iemand besig is om koerant te lees. Of hulle sal ’n koevert of pakkie oopmaak sodat dit klink asof die speler dit doen. Mens moet onthou dat die spelers hul teks vashou en voor die mikrofoon staan en lees – dit werk dus net makliker wanneer ander spelers help om die byklanke te maak. 8 (Kyk na die foto’s onderaan die artikel om te sien hoe dit lyk terwyl spelers besig is om ’n radiodrama op te neem.)

Verpakte klanke

Die tweede soort klanke word verpakte klanke genoem. Dit is klanke soos donderweer of reën, verkeersgeluide of geluide van diere wat vooraf opgeneem is en dan tydens die radiodrama voorgespeel word. 7

Die moontlikhede met byklanke is byna eindeloos – die geluid van ’n motor se enjin, deure wat oopgemaak word of toeklap, donderweer wat dreun, die geluide in ’n lughawe se aankoms- of vertreksaal, ’n waterstroom of die see se branders – noem maar op, dit kan in die radiodrama gebruik word. Al hierdie geluide help om die storie te vertel sodat dit nie heeltyd vir die karakters nodig is om te verduidelik wat gebeur of waar die storie plaasvind nie.

Musiek

Musiek vorm deel van die byklanke. Dit help die gehoor om sekere emosies te voel. Vrolike musiek kan help om die luisteraars in ’n vrolike stemming te plaas terwyl swaar, stadige musiek weer kan help om die luisteraars te laat verstaan dat daar ’n ernstige deel in die radiodrama volg. 9

Musiek kan ook gebruik word om aan te dui dat die plek waarin die volgende deel van die storie gebeur, verander het of dat daar tyd verloop het en dit nou die volgende dag is. 4

Regisseur

Behalwe vir die skrywer en die spelers in ’n radiodrama, het die regisseur ook ’n belangrike werk.

Hy of sy is die persoon wat die besluite neem en leiding neem. Die regisseur kies die spelers, besluit oor die byklanke en kies ook die musiek wat tydens die radiodrama gespeel word.

Die regisseur is ook die een wat bepaal wat die stemming en atmosfeer van die radiodrama moet wees. 10

Hoe lyk en werk dinge in die ateljee

Dis interessant om te kyk hoe dinge in die ateljee lyk waar die opnames vir radiodramas gedoen word. Dit gee vir mens so ’n klein kykie na wat gewoonlik agter die skerms gebeur om uiteindelik die opname van die radiodrama oor die radio te kan uitsaai. Kyk gerus onderaan die artikel na die foto’s wat in opname-ateljees geneem is.

Kom ons kyk hoe lyk dit by die ateljee:

  • Daar is ’n wagkamer waar die spelers sit en wag vir hul beurt om te begin opneem.
  • Binne-in die ateljee is die spelers wat besig is om op te neem, asook by tye ander spelers wat moet help om van die byklanke te maak. Die ateljee is ’n klankdigte
  • In die vertrek langsaan sit die regisseur en die skrywer (soms is die skrywer ook die regisseur), asook twee klanktegnici – die een neem die klank op en die ander een speel die byklanke en die musiek wat dan saam met die stemme opgeneem word. Hulle kan deur ’n venster sien wat die spelers doen.
  • Daar is ’n rooi lig wat in die ateljee brand terwyl opnames aan die gang is. Dit waarsku almal wat binne die ateljee is sodat hulle nie enige geluide maak wat nie opgeneem moet word nie. 8 Kyk op die foto of jy die rooi lig kan sien.
Eloise Cupido, Elma Potgieter David Louw in Disnisgedraai

’n Paar wenke vir iemand wat ’n radiodrama wil skryf

  • Moenie te veel karakters gebruik nie. Dit maak dit moeilik vir luisteraars om die karakters te leer ken.
  • Gebruik baie tyd om die begin van die storie presies reg te skryf – dit is die deel waar jy dadelik die luisteraars se aandag moet kry.
  • Luister self na baie radiodramas om meer daaroor te leer. 4
  • In elke toneel moet die luisteraar weet waar en wanneer die toneel afspeel – is dit oggend, middag of aand, is die mense in ’n huis of buite in ’n tuin of in die straat. Byklanke kan natuurlik ook help daarmee sodat die karakters dit nie noodwendig hoef te sê nie. 6
  • As die karakters in ’n tuin is, kan voëlgeluide gespeel word of as hulle in die kombuis is, kan die geluid van ’n ketel wat kook of ander kombuisgeluide gespeel word.
  • Gebruik kort sinne en skryf soos mense praat. Wees versigtig om dit nie te laat klink soos mense wat net voor ’n mikrofoon sit en praat nie, dit moet soos die werklike lewe klink, met beweging en dinge wat gebeur. 6
  • Skryf liewer oor ’n onderwerp wat jy ken. Indien jy skryf oor ’n onderwerp wat jy nie goed ken nie, moet jy vooraf navorsing doen sodat jy weet dat dít wat jy skryf, korrek is. 6
  • Om luisteraars te help sodat hulle weet watter karakters besig is om te praat, kan karakters mekaar so nou en dan op hul name aanspreek. 11
  • Dis dalk beter om jou eie dorp te skep wanneer jy ’n radiodrama skryf. Dan kan jy die dorp beskryf net soos jy wil en jy sal nie foute maak oor die beskrywing van die dorp nie – luisteraars kan dit agterkom! 6

Woordbank

agter die skerms Dit wat gebeur wat luisteraars nie sien nie.
beklemtoon Om ’n woord harder te sê as ander woorde.
byklanke Geluide wat gemaak word om die storie te help vertel.
eindeloos Te veel om te tel of op te noem.
formeel Wanneer iemand baie presies praat en dikwels moeilike woorde gebruik.
geloofwaardig Klink asof dit waar kan wees.
histeries Om baie ontsteld te wees.
identifiseer Om te sien wie ’n persoon is.
klankdigte Geen geluide kan van buite af in hierdie vertrek gehoor word nie.
navorsing Inligting soek oor ’n onderwerp om meer daaroor te leer.
regisseur Persoon wat die hele drama aanmekaarsit en besluit oor spelers, musiek, byklanke, ensovoorts. Die regisseur gee ook aan die spelers raad oor hoe hulle die karakters moet vertolk.
riglyne Die reëls wat mens volg om iets reg te doen.
samehangend Om duidelik te praat en dinge in die regte volgorde te vertel, soos dit gebeur het.
sintuie ’n Sintuig is die deel van ’n mens wat jou laat sien, hoor, proe, ruik of voel.
struktuur Hoe iets aanmekaar gesit is om ʼn geheel te vorm.
tragies Wanneer iets gebeur wat slegte gevolge vir mense het.
verbeelding Wanneer mens prentjies in jou kop maak.
vertolk Om jou in te leef in die storie en dit te lees asof jy werklik die karakter is.
verwar Deurmekaar maak sodat mens iets nie verstaan nie.
vlot Lees sonder om vas te haak of verkeerd te lees.
woordeskat Die soort woorde wat ’n persoon ken en gebruik wanneer hulle praat of skryf.

Lees meer

Lees en luister

Luister na ’n aantal radiodramas

Kyk hier

Radiodrama – ’n Voorlopige begrafnis (Skrywer: Albert Short)

Kyk hier na ’n opname van ’n radiodrama waarin die musiek wat gebruik word, regstreeks deur ’n musikant gemaak word. Christelle Webb-Joubert was die regisseur en sy vertel meer oor die opname. Die skrywer vertel ook waar die storie vandaan kom.

Christelle Webb-Joubert vertel ’n klomp interessante dinge oor die tegniese deel van opnames. Mens sien ook hoe ’n paar spelers opneem en hoe hulle die karakters vertolk, nie net lees nie.
Hoewel hierdie nie ’n radiodrama is nie, word dieselfde riglyne gevolg.

Radiodrama – Ver in die ou Kalahari (Skrywer: Zesta Vorster). Hier kan jy hoor hoe byklanke vir die luisteraars vertel waar die toneel plaasvind.

Luister hoe die luisteraar dadelik gehelp word om te verstaan waar hierdie radiodrama afspeel deur die byklanke aan die begin van hierdie radiodrama wat deur die BBC uitgesaai is. Die titel daarvan is A Bottle on the Shore, geskryf deur John Taylor.

Hier is ’n voorbeeld van hoe ’n verteller gebruik word om vir luisteraars meer te vertel oor waar die storie gebeur en waaroor dit gaan. So kan baie inligting aan luisteraars oorgedra word sonder dat die spelers dit alles moet uitspel. Die radiodrama is Picnic at Hanging Rock, ’n bekende klassieke werk deur Joan Lindsay. Dis ’n spanningsverhaal oor ’n groep jong meisies in Australië wat gaan piekniek hou.

Gepubliseer op: 24 Oktober 2023 | Bygewerk op 24 Oktober 2023