Vinnige feite
- Herbert Baker is in 1926 tot ridder geslaan en het van toe af as sir Herbert Baker bekendgestaan. 18
- Hy was vriende met talle bekendes, soos Cecil John Rhodes (Britse mynmagnaat en destydse eerste minister van die Kaapkolonie), Thomas Edward Lawrence (Britse argeoloog wat ook as Lawrence of Arabia bekendgestaan het en op wie se lewe die gelyknamige fliek gebaseer is) en Jan Smuts (voormalige eerste minister van die Unie van Suid-Afrika). 19
- Groote Schuur, die huis wat Baker vir Cecil John Rhodes gerestoureer het, het ʼn biblioteek wat meer as 2 000 boeke bevat. Daar word gesê dat Rhodes oorlede is terwyl daar nog ʼn boek in sy hand was. 20
- Die Uniegebou is 285 m hoog. Daar is wetgewing in Pretoria wat beperkings plaas op hoe hoog geboue mag wees tussen die Voortrekkermonument en die Uniegebou. Dit is om seker te maak dat die uitsig tussen dié twee geboue nie versteur word nie. 21
- Die Slag van Delville het in ʼn woud plaasgevind. Die Duitse magte het die gebied met soveel bomme bestook dat daar aan die einde van die ses dae in Julie 1916 net een boom oor was. 22
- Tydens die eerste vier dekades van die Olimpiese Spele was argitektuur ʼn afdeling waarvoor mense kon inskryf. Al voorwaarde was dat die inskrywing iets met sport te doen moes hê. 23
- Dit het 2 600 jaar geneem om die Groot Muur van China te bou. 24
- Die eerste kommersiële gebou (gebou waarin sake gedoen word) wat deur ʼn 3D-drukker gebou is, is in die stad Doebai in die Verenigde Arabiese Emirate te sien. Die drukker wat gebruik is om dié gebou te “druk”, was ongeveer 6 m hoog, 37 m lank en 12 m wyd. Sement is as boumateriaal gebruik. Die drukwerk het 17 dae geneem en die gebou is in Februarie 2020 binne twee dae geïnstalleer. 25
- Suid-Afrika het 54 geboue wat hoër as 100 m in die lug strek. Die hoogste struktuur in die land is die Telkom-toring in Johannesburg – ʼn allemintige 269 m hoog. Dit is egter nie ’n gebou nie. Die eerste plek behoort, volgens The Skyscraper Centre, aan The Leonardo in Sandton, wat 227,9 m hoog is. 26
Hy word nie net beskou as een van die vernaamste argitekte van die Britse Ryk nie, maar in Suid-Afrika het sir Herbert Baker sy stempel behoorlik afgedruk deur die Kaaps-Hollandse styl verder te ontwikkel en uit te bou as ʼn unieke styl eie aan ons land. Hy was enersyds die kunstige skepper van deftige geboue soos die Uniegebou en Cecil John Rhodes se huis, en andersyds was hy ook betrokke by projekte om behuising aan mynwerkers en die middelklas te verskaf.
Vandag is daar voetspore van sir Herbert Baker die wêreld vol – geboue en monumente van uitsonderlike argitektuur in vyftien lande! Die monumente en gedenkstene wat hy gebou het, is eeue later steeds ʼn sigbare nalatenskap van sy lewe.
Geboorte en opleiding
Herbert Baker is op 9 Junie 1862 in Cobham, Kent in Engeland gebore. 1 Reeds as ʼn jong seun is Herbert aan ʼn tradisie van goeie vakmanskap blootgestel danksy die geboue en huise wat in dié woonbuurt behoue gebly het. As ʼn seun het hy graag die geskiedkundige ruïnes in die gebied besoek en het dus van vroeg af al in argitektuur belanggestel. 2
Met tien ander kinders in die huis het sy ouers, Thomas Henry en Francis Baker, nie geld vir al hul kinders gehad om aan ʼn universiteit te gaan studeer nie. Ná sy skoolloopbaan reël sy pa dat Herbert ʼn vakleerlingskap in bouwerk by Herbert se oom, Arthur Baker, voltooi. ʼn Vakleerling werk saam met ʼn persoon om prakties te leer hoe ʼn ambag gedoen moet word. 3
Nadat hy sy vakleerlingskap by sy oom voltooi het, begin hy in 1886 by die Londense argitekmaatskappy Ernest George & Peto. Saam met hom werk Edwin Lutyens. Dié twee mans word groot vriende en hulle het later saam groot geboue, onder meer regeringsgeboue in Indië, ontwerp. 1
In Londen woon hy die Royal Academy of Schools by. Tydens sy studiejare besoek hy verskeie lande, soos Nederland, Frankryk, België en Italië, om sketse van dié lande se argitektuur te maak. In 1889 slaag hy die Royal Institute of British Architects se toelatingseksamen en hy ontvang ook die Asphitel-prys vir die beste student in die klas. Ná sy studies maak hy sy eie praktyk in Rochester, Engeland oop, maar dit is ongelukkig nie baie suksesvol nie. 4
Vroeë loopbaan in Suid-Afrika
Op dertigjarige ouderdom vertrek Baker na Suid-Afrika omdat sy pa hom gevra het om ʼn ogie oor sy broer Lionel se vrugteplaasonderneming te hou. Lionel was een van die bestuurders van die vrugteplase van Cecil John Rhodes, Britse mynmagnaat en die Kaapkolonie se destydse eerste minister. 4
Baker besluit om ook die geleenthede wat Afrika hom kan bied, aan te gryp en open ʼn praktyk in Kaapstad. Een van sy eerste opdragte was om ʼn huis vir James Rose-Innes te ontwerp. In daardie stadium was Rose-Innes die minister van justisie (die deel van die regering wat in beheer van die regstelsel is). 4
Dit was net ʼn kwessie van tyd voor Baker en Rhodes mekaar tydens ʼn aandete sou ontmoet. ʼn Rukkie daarna kruis die twee mans se paaie weer toe hulle mekaar tydens Rhodes se daaglikse perderit teen die hange van Tafelberg raakloop. Hulle maak net daar en dan ʼn afspraak vir die volgende oggend waar Baker die opdrag kry om Groote Schuur, Rhodes se herehuis in die Kaap, te restoureer. Rhodes wou hê Baker moes die gebou herstel sodat dit lyk soos dit voorheen was. 3
Terwyl Baker saam met sy broer vrugteplase in die Kaap besoek het, is hy bekoor deur die Kaaps-Hollandse boustyl. 5 Die Kaaps-Hollandse boustyl was die manier waarop baie huise in die Kaap tussen ongeveer 1750 en 1823 gebou is. Die huise is gekenmerk deur wit mure, gewels (boogvormige dakke), groot stoepe en ʼn binnehof (ʼn klein tuintjie wat deur ʼn gebou omring word). Die Kaaps-Hollandse boustyl was ʼn mengsel van verskillende Europese style en dit het gelei tot ʼn styl wat uniek aan die Kaap is. 6
Rhodes het ook baie van die Kaaps-Hollandse styl gehou en daar word toe ooreengekom dat Baker Groote Schuur volgens hierdie styl sou restoureer. Net voor die restourasie voltooi is, is die huis egter deur ʼn brand beskadig. Baker het onmiddellik begin om weer ʼn huis te bou. 5
Daar was baie voordele daaraan om die eerste minister te ken. Vanaf 1893 ontwerp Baker verskillende kerke in Kaapstad, soos die St. Andrews-kerk in Nuweland en die St. George-katedraal in die middestad. 4
Baker het gereeld plaaslike boumateriaal in die ontwerp van sy kerkgeboue gebruik. Hy sou byvoorbeeld hout en steen van die omliggende omgewing gebruik pleks van boumateriaal wat van ander lande ingevoer is. 7 In 1897 sluit ʼn medestudent van die Royal Academy in Londen, Francis Edward Masey, as vennoot by hom aan. Masey sou dikwels projekte oorneem of voltooi in tye wanneer Baker nie daar kon wees nie. Briewe tussen die twee mans wys egter dat Baker steeds ʼn wakende oog oor al die werk gehou het. 4
In 1899 het Rhodes Egipte, Griekeland, Italië en Sisilië besoek waar daar baie voorbeelde van klassisisme in die argitektuur te sien is. Klassisisme is die soort argitektuur wat in die antieke tye (baie lank gelede) in Italië en Griekeland gebruik is. 4 Eienskappe van klassieke argitektuur sluit in simmetrie (die een kant van iets moet soos die ander kant lyk), geometriese patrone en pilare (kolomvormige strukture wat gedeeltes in ʼn gebou aan mekaar bind). 8
Rhodes was baie beïndruk met die argitektuur wat hy in hierdie lande gesien het en wou dit graag met Baker deel. Volgens Rhodes was klassisisme ʼn belangrike element van enige boustyl en tydens die Anglo-Boereoorlog tussen Brittanje en die Boererepublieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat, stuur Rhodes vir Baker op ʼn toer deur al hierdie gebiede sodat hy self kan sien hoe die styl in geboue toegepas word. 4
Die Uniegebou in Pretoria
Alfred Milner word ná die Anglo-Boereoorlog aangestel om die destydse Transvaal en Vrystaat weer te herstel ná die skade wat tydens die oorlog aangerig is. Hierdie heropbou van die land het onder meer behels dat verskeie geboue herstel en oorgebou moes word – ʼn taak wat aan Baker en Masey opgedra is. Ná tien jaar in die Kaap verhuis Baker na Johannesburg. Tientalle kerke, huise, regeringsgeboue en selfs skole word deur dié twee vennote in hierdie tyd gebou en in sommige gevalle herstel. 4
Baker bou in 1902 ook vir homself ʼn huis in Johannesburg met die naam Stone House. 5 Op 21 Junie 1904 trou hy met sy niggie Florence Edmeades en hulle het vier kinders: Ann, Henry, Allaire en Alfred. 9
Van 1903 word Baker versoek om behuising vir die goudmyne van die Witwatersrand te ontwerp. Hy het aan meer as 70 projekte van 15 verskillende myne gewerk. 10 Baker en Masey se praktyk floreer en in 1906 sluit ʼn derde vennoot, Franklin Kendall, by hulle aan. 1
In 1908 kry Herbert Baker sy grootste opdrag tot dusver van sy loopbaan: die ontwerp van die Uniegebou in Suid-Afrika. Die Uniegebou moes die regering van Suid-Afrika huisves nadat die destydse vier provinsies saamgesmelt het om die Unie van Suid-Afrika te vorm. 11
Baker wou hê die Uniegebou moes ʼn simbool wees vir die eenwording van Afrikaanse en Engelse mense tydens Uniewording in 1910. Om hierdie twee kulture te simboliseer, het hy twee identiese reghoekige kantoorblokke ontwerp wat die twee kulture uitbeeld. Hierdie twee vleuels word deur ʼn halfmaanvormige sentrale blok verbind wat die agtergrond van ʼn amfiteater vorm. ʼn Amfiteater is ʼn teater wat in die buitelug is. Dit bestaan uit rye sitplekke wat ʼn “verhoog” aan die onderkant omring. Amfiteaters is in die antieke tye vir groot byeenkomste gebruik. Baker het waarskynlik hierdie funksie van ʼn amfiteater in gedagte gehad toe hy die Uniegebou ontwerp het. Die amfiteater van die Uniegebou het sitplek vir 9 000 mense. 11
Dit het 1 265 mense meer as drie jaar geneem om die gebou, wat in daardie stadium die grootste in Suid-Afrika was, te voltooi. Baker het sover moontlik plaaslike boumateriaal gebruik. Altesaam 14 miljoen bakstene vir die binneste mure van die kantore, 40 000 sakke sement, 150 000 kubieke meter makklip, 67 000 kubieke meter beton en 6 000 kubieke meter graniet as boumateriaal is gebruik. Bouwerk het in 1909 begin en die gebou is in 1913 voltooi. 11
In 1909 verlaat Masey Suid-Afrika om sy eie praktyk in Zimbabwe (wat destyds Rhodesië genoem is) te begin. Baker nooi Lutyens, sy vriend wat destyds saam met hom in Londen gewerk het, om saam met hom onder meer die Johannesburgse Kunsgalery te ontwerp. Op sy beurt word Baker deur Lutyens gevra om deel te wees van ʼn projek om regeringsgeboue in Nieu-Delhi in Indië te bou. In 1913 verlaat Baker Suid-Afrika en laat die praktyk aan die oorblywende vennoot, Fleming, oor. 1
Twis in Indië
Die regeringsgebou in Nieu-Delhi het uit kantore (die sekretariaat) en die ampswoning (die huis van die leier van Indië) bestaan. Lutyens was verantwoordelik vir die ampswoning (later die presidensiële paleis). Baker moes die identiese regeringskantore weerskante van die ampswoning ontwerp. Daar is aanvanklik beplan om die woning op ʼn heuwel te bou sodat die fokus op die paleis sou wees. Die regeringskantore sou op ʼn laer vlak gebou word om ʼn subtiele eenheid met die ampswoning te vorm. Die bedoeling was nooit om die fokus op die regeringskantore te plaas nie.
Baker bou egter die kantore op ʼn hoër vlak as wat aanvanklik beplan is. Hoewel Lutyens Baker se planne goedgekeur het, het hy nie behoorlik aandag geskenk aan die hoogte waarop die sekretariaat gebou sou word nie. Uiteindelik lei dit daartoe dat die kantoorgeboue die ampswoning bykans verdwerg het. As ʼn mens op ʼn sekere plek na die regeringsgeboue in Nieu-Delhi kyk, is die presidensiële paleis skaars sigbaar. ʼn Klein stukkie van die koepel kan slegs in die verte gesien word. Baker en Lutyens het vir die volgende paar jaar aan die projek bly werk, maar hul vriendskap het egter gesneuwel. 12
Terug in Engeland
Hoewel Baker vir twaalf jaar by die projek in Nieu-Delhi betrokke was, het hy nie die heeltyd in Indië gebly nie. Hy moes net een keer per jaar na Indië reis om te sien hoe die bouwerk vorder. 13 Hy maak ʼn praktyk in Londen oop en begin fokus op geboue in Engeland. 9
Op 5 Maart 1918 word hy aangestel as een van die argitekte van die Britse Statebond se Oorlogsgrafkommissie (CWGC). Die doel van hierdie organisasie was om hulde te bring aan al die soldate wat namens die Britse Ryk in die wêreldoorloë gesneuwel het. Daar is vir alle kolonies (lande wat deur Brittanje regeer is) se soldate grafte en monumente reg oor die wêreld gebou. Tot met sy bedanking uit die kommissie in 1928, was Baker verantwoordelik vir die ontwerp van 112 begraafplase en verskeie gedenk- en grafstene. 13
Een van die monumente waarvoor hy verantwoordelik was, was vir die Slag van Delvillebos (Delville Wood) wat in Julie 1916 in Frankryk plaasgevind het. Tydens hierdie skermutseling in die Eerste Wêreldoorlog was Suid-Afrikaanse soldate vir ses dae en vyf nagte lank in ʼn dodelike geveg teen Duitse magte gewikkel. Altesaam 2 153 soldate is tydens hierdie geveg dood. Net 780 soldate het oorleef. 14 Daar is replikas (namaaksels) van die oorspronklike monument voor die Uniegebou in Pretoria en in die Kompanjiestuin in Kaapstad. 15
Ná die Eerste Wêreldoorlog ontwerp Baker ook ampswonings en regeringsgeboue in Kenia. In Engeland was hy verantwoordelik vir die ontwerp van kerke en selfs banke. Ten spyte van baie kritiek omdat hy die oorspronklike gebou van die Bank van Engeland afgebreek het om ʼn nuwe een te bou, word hy in 1926 tot ridder geslaan (vandaar die titel “sir”) vir sy werk in vyftien lande waarvan twaalf in Engelse kolonies was. 4
Hy sterf op 4 Februarie 1946 in die ouderdom van 84 jaar in sy geboortehuis in Engeland. Sy laaste rusplek is in Westminster-abdy, ʼn kerk in Londen waar baie bekende mense, veral koninklikes, begrawe is. Hout van ʼn kersieboom in sy tuin is gebruik om die kissie vir sy as te maak. Vandag kan jy steeds sy naam op ʼn steen in die kerk sien – ʼn monument vir hierdie man wat soveel monumente vir ander ontwerp het. 9
Van Baker se bekendste geboue
Hier is ʼn paar van Sir Herbert Baker se bekendste geboue en monumente:
Rhodes House (deel van die Universiteit van Oxford, Engeland), ter nagedagtenis aan Cecil John Rhodes. 16
South Africa House in Trafalgarplein, Londen (tans Suid-Afrika se konsulaat in die Verenigde Koninkryk).
Herbouing van die Bank van Engeland.
Church House, Westminster. 17
Hamilton-saal by Grey Kollege in Bloemfontein. 18
McClean-sterrewaggebou in Observatory, Kaapstad.
Rhodes-gedenkteken in Kaapstad.
St. George-katedraal in Kaapstad.
Mount Nelson-hotel in Kaapstad.
Administratiewe gebou by die Rhodes-Universiteit in Makhanda (Grahamstad) in die Oos-Kaap.
Roedean School for Girls in Johannesburg.
St. Andrew’s School for Girls in Johannesburg.
St. John’s College in Johannesburg.
Spoorwegstasie in Pretoria.
Uniegebou in Pretoria.
Woordbank
ambag | Aangeleerde handwerk waarby stowwe bewerk/verwerk word. |
argitektuur | Boukuns; boustyl. |
beton | Mengsel van gruis, sand en sement aangemaak met water, veral by bouwerk gebruik. |
boustyl | Manier van bou in ʼn bepaalde tydperk. |
geometriese | Met lyne en/of vorms soos driehoeke/sirkels/vierkante in patrone gerangskik. |
graniet | Harde, korrelrige stollingsgesteente wat hoofsaaklik bestaan uit kwarts en kaliumveldspaat. |
klassisisme | Rigting/strewe in die kuns/lettere/argitektuur wat die modelle van die Griekse en Romeinse oudheid navolg. |
kolonie | Gebied waar ʼn groep mense hulle in ʼn nuwe land gevestig het en ʼn gemeenskap gevorm het wat geheel of gedeeltelik afhanklik is van die moederland; gebied wat deur ʼn ander land oorheers word; oorsese besitting; nedersetting. |
makklip | Sagte sand- of kalksteen wat maklik bewerk kan word. |
monumente | Gedenkteken/standbeeld/gebou/ens. wat opgerig is om ʼn persoon/gebeurtenis te herdenk. |
praktyk | Beroepswerksaamheid van ʼn dokter/tandarts/advokaat/ens. |
replikas | Namaaksel van die oorspronklike; presiese kopie; duplikaat. |
restoureer | Tot sy oorspronklike toestand terugbring; herstel; opknap; verbeter. |
ruïnes | Gebou wat in puin verval het; bouval; puinhoop. |
simbool | Voorwerp/woord/teken/ens. (wat sintuiglik waarneembaar is) as voorstelling van ʼn bepaalde begrip. |
simmetrie | Herhaling van eenderse dele wat teenoor mekaar of teenoor ʼn middelstuk staan. |
tradisie | Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word. |
vakleerling | Iemand wat in ʼn vak onderrig word en terselfdertyd, prakties, nog vakkennis en -vaardigheid opdoen. |
vakmanskap | Beheersing van ʼn besondere vak/gebied; vaardigheid, vernuf. |
vennoot | Lid van ʼn vennootskap/onderneming/maatskappy. |
Lees dié om meer oor Baker te leer
- Harold Peto, een van die vennote van die eerste maatskappy waar Baker in Londen gewerk het, was ook ʼn bekende landskapargitek wat tuine en groter landskappe ontwerp het. Hier is ʼn paar van sy ontwerpe
- Sketse van die verskillende Kaaps-Hollandse boustyle in die agtiende en negentiende eeu
- Nuuskierig om te sien hoe dit vandag in Delville lyk?
- Stel jy daarin belang om eendag ʼn argitek te word?
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
ʼn Videotoer van Herbert Baker se geboortehuis
Mal oor Lego? Hierdie wêreldrekords sal jou asem wegslaan.
ʼn Opsomming van veertig verskillende boustyle
Kenmerke van die Kaaps-Hollandse boustyl
Een van die hartseerste gebeurtenisse in Suid-Afrikaanse geskiedenis is die Slag van Delvillebos