Vinnige feite

Gewapende burgers bewaak Britse krygsgevangenes in die kamp by Waterval.
  • Daar is na raming driekwart van die perde in die Boererepublieke dood. Die oorlog het die einde van die Boerperd as ras beteken. 3
  • Die republieke se name is amptelik deur die Britte verander: die Zuid-Afrikaansche Republiek het Transvaal geword en die Oranje-Vrystaat die Oranjerivierkolonie. 1
  • ’n Joernalis het kort ná die oorlog Suid-Afrika besoek en geskryf: “Op een plek … het die vernaamste maaltye bestaan uit mieliepap en pampoen; die volgende dag was dit pampoen en mieliepap. Droë brood en swart koffie het die ander maaltye gevorm.” 3
  • Ten spyte van die donker situasie ná die oorlog, het sommige mense tog hoop gehad. Die skrywer J.D. Kestell het in 1903 geskryf: “God het die Afrikaanse volk in die groot stryd gevorm. Dit is nie uitgedelg: sy taal is nie vernietig nie. Die mag van die vyand het dit wel oorweldig, dit het soos ’n magtige golf oorstroom, maar die Afrikanersin en -gees bestaan nog. Geen swaard kan die wil laat buig, geen geweld kan die gees onderdruk nie. Die Afrikanervolk bly ’n onuitdelgbare element in die Britse Ryk. 3
  • In April 1904 was die totale bevolking van die Unie 5,1 miljoen mense, wat bestaan het uit 35 miljoen swart mense, 1,1 miljoen wit mense, 445 000 bruin mense en 122 000 Indiërs. Die Kaap het die grootste bevolking gehad, naamlik 2,4 miljoen, dan Transvaal met 1,2 miljoen, Natal met 1,1 miljoen, en die OVS met 0,4 miljoen. 2

Die Anglo-Boereoorlog (ABO) was vir die ou Boererepublieke, naamlik Transvaal en die Oranje-Vrystaat, ’n katastrofe. Hulle het nie net die oorlog verloor nie, maar ook hul onafhanklikheid – die reg om hulself te regeer. Boonop was hul land verwoes. Die heropbou was ’n massiewe proses. Dit het van twee kante af gekom: amptelike stappe deur die nuwe, Britse regering, en pogings uit Afrikanergeledere. Eers teen 1910, toe die Unie van Suid-Afrika tot stand gekom het, was die land uiteindelik op ’n pad van herstel.

‘n Groep soldate tydens die Anglo-Boereoorlog.

Impak van die ABO

Die verlies van hul vryheid was vir die Boere verpletterend. Dit het gelyk asof hul opofferings in die oorlog tevergeefs was. 1 Die wit bevolking was boonop erg verdeeld: Engelsman teen Afrikaner, bittereinder teen joiner, en Kaapse rebelle (wat pro-Boer was) teen Engelse lojaliste (wat pro-Brits was). 2

Tussen een uit ses en een uit tien van die totale Boerebevolking van die twee republieke het in die oorlog gesterf. 3

Die Britte se verskroeideaardebeleid tydens die oorlog het boonop verwoesting gesaai. Plaasopstalle is afgebrand en honderde-duisende plaasdiere, insluitende beeste, skape en hoenders is afgemaai. Voorts is landerye, vrugteboorde, damme en heinings, asook paaie, brûe en treinspore vernietig, soms deur die Boere self. 2

Die vernietiging tydens die Anglo-Boereoorlog was verpletterend.

’n Britse boek wat kort ná die oorlog verskyn het, The Times History of War in South Africa, het die land beskryf as “an absolute wilderness”. In sommige distrikte was daar geen plaashuise oor nie, en in baie gebiede geen vee nie. In 2011 het historici die skade aan individuele mense se private eiendom is in 2011 op R45 miljard (in Engels billion) geskat. 3

Duisende families het teruggekeer na plase waar daar letterlik niks oor was nie. Vir baie mense was verlammende armoede hul enigste voorland. 1

Amptelike heropbou

Die persoon in beheer van die Britse regering se amptelike heropboupoging was lord Alfred Milner, die Britse Hoë Komissaris. Brittanje wou Suid-Afrika in ’n bate vir die Britse Ryk verander, om dit reg te kry moes hulle eers die Afrikaners se lojaliteit probeer wen. Na alles wat hulle in die oorlog gedoen het, was dit egter makliker gesê as gedaan. 2

Brittanje se beleid het twee doelwitte gehad: 

Om die verwoesting van die oorlog ongedaan te maak die land op ’n pad van ekonomiese herstel te plaas, en; 

Om ’n Britse manier van dinge doen in Suid-Afrika daar te stel.

Lord Alfred Milner, 1897.

Logistieke heropbou

Tienduisende mense wat in die oorlog verplaas is moes na hul huise en plase toe terugkeer. Dit het ingesluit: 

-31000 Boerekrygsgevangenes, waarvan baie aan die einde van die oorlog in oorsese kampe, soos op St. Helena in die Atlantiese Oseaan, was.

-116000 wit mense en 115000 swart mense in konsentrasiekampe

-50000 uitlanders, 21 000 bittereinders, en nog duisende mense wat vir die Britse leër gewerk het. 4

Om hierdie mense weer tuis te kry was ‘n logistieke nagmerrie. Dit het die Britse regering op die ou end meer as £16 miljoen (sowat R 37 miljard in 2023) uit die sak gejaag. 

Honderde kinders is wees deur die oorlog gelaat.

Kompensasie

Die Britse regering het £3 miljoen (in 2023 se geldwaarde om en by R7 miljard) se kompensasiegelde vir geruïneerde boere beskikbaar gestel. 4 Daar was baie uiteenlopende menings oor hoe en aan wie dit toegeken moes word. Die geld moes verdeel word volgens die verliese wat mense in die oorlog gely het. Die hensoppers en joiners het gevoel hulle moes ‘n groter deel kry omdat hulle die Britte in die oorlog ondersteun het.

Daar was gelukkig een positiewe nadraai. Op die ou end was omtrent al die Boere só ontevrede met die Britte se hantering van hierdie saak, dat die Britte vir almal weer hulle weer die gemeenskaplike vyand geword het. Dit het dus ’n bietjie van die verdeeldheid onder die Afrikaners laat verdwyn. 2

Boere wat by Elandslaagte gevange geneem is, word deur Britse soldate begelei.

Burgher Land Settlement Scheme

Die Britte het ’n “Burgher Land Settlement Scheme” ingestel om, wit bywoners op te hef, maar dit was onsuksesvol. Duisende bywoners, asook plaaseienaars wie se plase totaal deur die verskroeideaardebeleid vernietig is, het na die stede gestroom op soek na werk. Hulle het armblankes geword. 2 [Lees meer hier oor die Armblankevraagstuk.]

‘n Tipiese armblanke huisie.
‘n Bywonersgesin naby Heilbron in 1903.

Verengelsing

Die Britte wou Suid-Afrika verengels deur Engels die enigste amptelike taal maak. Hy het probeer om ’n pro-Britse onderwysbeleid in te stel waar Engels die medium van onderrig sou wees en die kurrikulum op Britse geskiedenis sou fokus. Hierdie plan het misluk. 5

Boereleiers het privaat skole gestig met ’n Christelik Nasionale Onderwysbeleid (CNO). 2 Groepe soos die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) is in Kaapstad is gestig om Afrikanerbelange in skole te bevorder. 5

Die impak van die Britse beleid was in elk geval beperk, want onderwys was nie verpligtend nie. In 1905 was daar 28 500 wit kinders in staatskole, 9 000 in privaat skole en 25 000 glad nie in skole nie. 2

Die Britte het ook gehoop om die Engelse kultuur te versterk deur Britse setlaars na Suid-Afrika te lok, maar net sowat 1 000 Britse gesinne hierheen geïmmigreer. 2

Skoolkinders op ‘n uitstappie.
Tipiese vervoer skool toe.
‘n Plaasskool naby Oudtshoorn.

Posisie van swart mense ná die ABO

Swart mense in Suid-Afrika was die grootste verloorders ná die oorlog. Baie het in die oorlog aan Britse se kant geveg in die hoop dat die Britte hulle ná die oorlog sou help om politieke regte te verkry. Hierdie hoop is egter beskaam. Brittanje se belangrikste prioriteit na die oorlog was versoening tussen Afrikaners en Engelse. Die kwessie van politieke regte vir swart mense het nie hul aandag geniet nie. 6

Gedurende die oorlog het talle swart mense leë plase beset en ná die oorlog wou sommige nie dié plase aan die wit plaaseienaars teruggee nie. Milner het wit grondbesitters egter belowe dat hulle hul eiendom sou terugkry. Die polisie het dus van plaas na plaas gegaan aar nodig die  swart mense ontwapen, en hulle van die plase af verwyder. Die wit plaaseienaars het gevolglik stadigaan weer beheer oor die plase gekry. 2

Die oorlog het swart deelboerdery meer volop gemaak. Deelboerdery is wanneer wit boere aan swart boere wat die vee en toerusting het om te kon boer, die kans gee om op hul plase te woon en boer. In ruil daarvoor moet die swart boer ‘n deel van sy wins aan die wit plaaseienaar afstaan. In die oostelike dele van die Oranjerivierkolonie, byvoorbeeld,  het baie Sotho-boere só ’n bestaan gemaak. Op hierdie manier het baie wit boere weer hul boerdery aan die gang gekry, terwyl baie swart deelboere ook goed gedoen het. 2

Die Britte was nié ten gunste van rasse-integrasie nie. Die Britse amptenaar in beheer van swart sake het gesê dat die swart mense ferm hanteer moes word want “anders sal hulle [die swart mense] astrant, gewoonte-leeglêers en ’n verskrikking word … Hulle kan nie toegelaat word om sonder passe rond te swerwe nie, anders sal die land vir ’n wit ras onhoudbaar word.” 2 Hierdie houding was in skerp kontras met beloftes wat die Britte voor die oorlog aan die swart mense gemaak het.

Baie swart werkers was natuurlik vies vir die Britte oor hulle nie hul beloftes nagekom het nie. Ander het gevoel dat swart mynwerkers se lone te laag was. Hulle het dus geweier om in die myne te gaan werk, wat tot ‘n massiewe arbeidstekort gelei het. (Een van die oplossings waarmee die Britte vorendag gekom het, was om Chinese arbeiders in te voer om op die myne te werk. Dit het wel tot ‘n mate die probleem opgelos, maar die Chinese mynwerkers is onmenslik behandel en duisende het gesterf. Om swart werkers te dwing om op die myne te kom werk het die Britte ’n strenger passtelsel geïmplementeer. 

Tussen 1903 en 1905 het die South African Native Affairs Commission ‘n beleid probeer skep sodat swart mense in al vier die kolonies dieselfde hanteer sou word. Hierdie kommissie het politieke- en gebiedsegregasie aanbeveel. Dit sou die hoeksteen van Suid-Afrika se rassebeleid in die 20e eeu word. 2 [Lees meer hier oor apartheid en segregasie.]

Heropbou deur Afrikaners

Tydens die vredesonderhandelings by Vereeniging in 1902 is ’n komitee gekies wat na die burgers se belange moes omsien. Generaals Louis Botha, Christiaan de Wet en Koos de la Rey is gekies om na Europa te reis om fondse in te samel. Alhoewel hulle as helde in Europa ontvang is, het hulle skaars £125 000 (sowat R300 miloen in 2023) ingesamel. 4 Dit was nie naastenby genoeg nie. Dit was vir hulle duidelik dat die Afrikanergemeenskap homself deur sy eie toewyding, volharding en vindingrykheid moes ophef. 1

Genl. Louis Botha.
Christiaan de Wet.
Generaal Koos de la Rey.

Die Boereleiers het geweet dat Brittanje die vier kolonies (Kaapkolonie, Transvaal, Natal en Oranjerivierkolonie) in een land onder Britse beheer wou verenig. Afrikanerleiers wou natuurlik sélf ’n leidende rol in só ’n unie speel. Daarvoor moes hulle egter so gou as moontlik eenheid onder Afrikaners bewerkstellig. Een manier om dít te bewerkstellig, was om ‘n Afrikaanse politieke party te stig om Afrikanerbelange te bevorder.

Die geld wat hulle in Europe ingesamel het, is dus nie aan die bekamping van armoede bestee nie. Hulle het besluit dat dié taak die Britte se verantwoordelikheid was. Pleks daarvan het hulle projekte geloods wat Afrikanereenheid kon bevorder en Afrikaners polities aktief kon maak. 2

In 1903 het die tweede Taalbeweging onder die Kaapse Afrikaners onder leiding van Jan Hofmeyr ontstaan met die doel om die Afrikaanse taal te ontwikkel. In die noordelike kolonies het mense soos die skrywer-joernalis Gustav Preller, asook Eugène Marais, Jan F.E. Celliers en Totius hulle vir die opheffing van Afrikaans bewyer. 2

Jan Hofmeyr.

Toenadering tussen hensoppers en joiners aan die een kant en bittereinders aan die ander kant, het maar moeilik gegaan. Die NG Kerk het vereis dat die hensoppers en joiners skuld moes bely voordat hulle die sakramente (soos nagmaal) kon gebruik. Hoe meer die hensoppers en joiners egter deur die Britse beleid ontnugter is, hoe meer bereid was hulle om na versoening te streef. 2

Lig aan die einde van die tonnel

Omstandighede in die eertydse Boererepublieke het stadig maar seker verbeter en dit was op die ou end meer te danke aan die Afrikaners as die Britte.

Die skrywer G.D. Scholtz het soos volg geskryf: “Nog nooit tevore – en ook seker nie daarna nie – het duisende Afrikaners só geswoeg en geslaaf as van 1902 tot ongeveer 1906 nie.” Die nuwe Vrystaat en nuwe Transvaal het “soos twee fenikse uit die as en puin” opgestaan. J.B.M. Hertzog, die latere eerste minister, het gesê: “[In 1902 kon mens] buite die dorpe en kampe … dae lank gaan sonder om mens of dier teë te kom … [die] vooruitgang [van die platteland en dorpe teen 1906] is te danke aan die karakteristieke eienskappe wat die Afrikanervolk besit, eienskappe wat die volk sal bewaar van ondergang.” 3

Op pad na ’n Unie

Ná 1902 het die idee van die vereniging van die vier kolonies al hoe meer posgevat. 2

Teen 1906 was dit idee so algemeen dat daar planne gemaak is om ’n Nasionale Konvensie op die been te bring om die details daarvan te bespreek.

Dit sou uiteindelik in 1910 ‘n werklikheid word, met die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika. 

‘n Nasionale konvensie is op die been gebring om oor Uniewording te besluit.

Woordbank

armblankes Wit mense wat skaars in hul eie onderhoud kan voorsien; baie arm.
beset Om beheer oor ʼn plek te neem en dit met wapens te beskerm.
bywoners Mense wat nie hul eie grond besit het nie en op ander se plase gebly het.
deelboerdery ’n Soort boerdery waar ‘n huurder op ‘n plaaseienaar se plaas boer, en dan die opbrengs van sy oes met die eienaar deel.
integrasie Wanneer ‘n groep mense deel van ‘n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar.
kompensasiegelde Vergoeding aan iemand betaal vir skade wat gely is.
logistieke Die beplanning en uitvoer van vervoer-operasies en die voorsiening van voorrade.
nasionalisme Liefde vir jou eie land of mense en die mening dat dit beter as enige ander is.
onafhanklikheid Die reg om jouself te regeer.
geruïneerde Iemand wat al hulle geld of besittings verloor.
gebiedsegregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse, etniese groepe geskei word.

Afrikanernasionalisme 

Liefde vir jou eie land of mense en die mening dat dit beter as enige ander is. 
amptelike Formeel. 
amptenaar  Iemand wat ‘n openbare pos het, bv. in diens van die regering. 
arbeidstekort  Wanneer daar nie genoeg werkers is nie. 
bate  Dit is ’n besitting wat iemand tot sy voordeel kan aanwend. 
bely  Om iets in die publiek te verklaar of erken. 
beskaam  Ek is in my verwagting teleurgestel.
bewerkstellig  Tot stand bring, uitvoer. 
bittereinder  Benaming vir ʼn Boer wat tot aan die einde van die Anglo-Boereoorlog voortgeveg het. 
Christelik Nasionale Onderwysbeleid (CNO)  Onderwysstelsel wat op ‘n grondslag van Christenskap en Afrikanerskap berus. 
effek  Resultaat. 
eienskappe  ʼn Besonderse kenmerk wat iemand van ʼn ander onderskei. 
fenikse  ‘n Mitologiese dier wat sterf deur dood te brand, en dan weer uit sy eie as gebore word. 
geïmmigreer  Van ’n ander land kom om jou permanent in ’n land te vestig. 
geïmplementeer  Toepas; uitvoer (soos beplan); laat gebeur. 
gemeenskaplike  Wat aan meer as een persoon gesamentlik behoort. 
hensoppers  ‘n Boer wat gedurende die Anglo-Boereoorlog oorgegee het aan die Britte en dus nie verder aan Afrikanerkant geveg het nie. 
hoeksteen  Dit waarop iets gegrond is; grondslag; basis. 
joiner  ‘n Afrikaner wat in die Anglo-Boereoorlog aan Britse kant geveg het. 
karakteristieke  Kwaliteite of eienskappe wat aan iemand behoort. 
komitee  Groep persone wat ‘n bepaalde opdrag moet uitvoer. 
kontras  ʼn Teenoorgestelde situasie word geskep met die woorde wat gepraat word, byvoorbeeld hard teenoor sag, baie stemme teenoor min stemme, en so meer. 
krygsgevangene  ʼn Soldaat wat deur die vyand gevang en opgesluit word, meestal in ʼn krygsgevangenekamp. 
lojaliste  Iemand wat lief of getrou bly aan ‘n land of idee. 
lojaliteit  Om lief of getrou te wees aan byvoorbeeld jou skool of land. 
medium van onderrig  Die taal waarin kinders in skole leer en onderrig word. 
Nasionale Konvensie  Die komitee wat besluit het watter wette en stelsels Suid-Afrika as unie sou regeer. 
op die been te bring  Iets begin. 
ophef  Iemand help om die omstandighede waarin hulle leef, beter te maak. 
passtelsel  Stelsel waarvolgens sekere groepe amptelike dokumente moes dra wat aan hulle die reg gegee het om êrens in te gaan. 
privaat skole  Skole wat nie onder beheer van die regering is nie. 
puin  Oorblyfsels van ‘n aanval of verwoestende gebeurtenis. 
rassebeleid  Plan/program vir die bestuur van verskillende rassegroepe in ‘n land. 
rebelle  Mense wat teen hulle land se wettige regering veg. 
sakramente  Belangrike Christelike seremonie soos doop of nagmaal. 
staatskole  Skole wat onder beheer van die regering is. 
tevergeefs  Vrugteloos en sonder enige positiewe resultaat. 
teë te kom  Ontmoet of raakloop. 
toenadering  Na mekaar toe bring. 
toewyding  Om ’n taak met oorgawe aan te pak, dit so goed as moontlik te doen. 
uitgedelg  Klaar. 
verengels  Engels maak of word, angliseer. 
verplaas  Verskuif. 
verpligtend  Wanneer jy gedwing word om iets te doen. 
verskroeideaardebeleid  Volgens hierdie beleid het die Britse soldate plase afgebrand en vee doodgemaak om die Boere te probeer dwing om op te hou met die Anglo-Boereoorlog. 
versoening  Om ‘n vyandskap tot ‘n einde te bring. 
vindingrykheid  Slim of kreatief; die vermoë om dinge uit te vind en slim oplossings te bedink. 
volharding  Om aan te hou probeer. 
volop  Wanneer daar baie van iets is. 
voorland  Jou waarskynlike bestemming, oftewel die plek waar jy gaan opeindig. 

Lees dié artikels om meer te leer

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Augustus 2022 | Bygewerk op 18 April 2024