Vinnige feite

  • Die vroegste gepubliseerde Afrikaanse woordelys is deur ’n Nederlander, A.N.E. Changuion, opgestel. Die lys Proeve van Kaapsch taaleigen bevat woorde soos biltong, boeta, kombuis, mos en sies!
  • Het jy geweet dat Afrikaans al as ’n taalwonderwerk beskryf is? Kwesi Prah van Ghana het in 2010 die ontwikkeling van Afrikaans as een van die drie taalwonderwerke in die wêreld beskryf waarvan Hebreeus en Bahasa die ander twee is. In 50 jaar het Afrikaans van ’n huistaal gevorder tot ’n taal wat in sake, kerke, skole en universiteite gepraat word.
  • Die skrywer, digter en dramaturg D.F. Malherbe is in 1918 as die eerste professor in Afrikaans aangestel.
  • Petronella van Heerden was die eerste vroulike dokter in Suid-Afrika en het in 1923 die eerste Afrikaanse proefskrif in die geneeskunde aan die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam ingedien.
  • Die taalbeleid aan voormalige Afrikaanse universiteite was ná demokrasiewording ’n omstrede onderwerp. Baie universiteite, soos die Universiteit van Johannesburg, bied glad nie meer enige kursusse in Afrikaans aan nie. Die Konstitusionele Hof het in 2021 bevind dat die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) se 2016-taalbeleid, wat Afrikaans as onderrigtaal uitsluit, ongrondwetlik is.

Dit is nogal vreemd om te dink dat daar eens op ’n tyd nie ’n enkele Afrikaanse skool in ons land was nie! In vergelyking met ander tale op aarde is Afrikaans eintlik ’n baie jong taal en tog vier ons in 2025 die 100ste bestaansjaar van Afrikaans as amptelike taal in Suid-Afrika.

As ons na die eerste skole in Suid-Afrika kyk, was dit weliswaar nie Afrikaanse skole nie, want Afrikaans het geleidelik in die Kaap ontwikkel en toe, soos mense weggetrek het, na die res van die land versprei.

Die eerste skool in die Kaap het in 1658 vir slawe van alle ouderdomme klas gegee, terwyl die eerste openbare skool in 1663 geopen het. Dit was vir die kinders van mense wat vir die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (VOC) gewerk het. Die eerste openbare skool buite Kaapstad is in 1683 in Stellenbosch gestig. 1

Tuan Guru.

Dit was die Moslem-gemeenskap in Kaapstad wat Afrikaans die eerste keer as voertaal in Suid-Afrika gebruik het. Dié skool was in Dorpstraat 37 in die Bo-Kaap en die Moslem-kinders het hul godsdiensonderrig in Kaapse Afrikaans ontvang. Die skool, wat ook madrasah (die Arabiese woord vir “skool”) genoem word, is deur Tuan Guru gestig. Guru was ’n prins van Tidore in die Ternate-eilande (vandag is dit Indonesië). Guru was ’n banneling wat deur die VOC na Robbeneiland gestuur is. In 1807 was daar ongeveer 375 slawekinders wat onderrig is. Hulle moes skryfoefeninge in Kaapse Afrikaans doen, maar die Arabiese alfabet gebruik. 2 Dit kon beslis nie maklik gewees het nie!

In daardie jare is verskeie Islamitiese geskrifte in Arabiese Afrikaans oorgeskryf, en die Koran is ook by hierdie skool vir die eerste keer in Afrikaans vertaal. Dit was glo deur ’n man genaamd Achmat van Bengale.

Op 12 Januarie 1858 is ’n privaat skool gestig wat Afrikaanssprekende kinders in Nederlands onderrig het. Dit is deur ’n predikant, ds. Van der Lingen van die Paarl, gestig. Die skool is De Gimnasium genoem en wat wonderlik is, is dat dit vandag nog bestaan. Hierdie skool staan vandag as Paarl Gimnasium bekend en het in 2023 sy 165ste verjaardag gevier!

Paarl Gimnasium bestaan reeds vir 165 jaar.

In 1838 is die eerste onderwyskollege by Suid-Afrika se oudste sendingstasie, Genadendal, gestig. Dié skool wou ook Afrikaanse onderwysers oplei en het selfs in ’n stadium finansiële hulp van die owerheid geweier omdat een van die voorwaardes was om slegs Engels as onderrigmedium te gebruik. 3

Een van die onderwysers daar was Arnoldus Pannevis, ’n taalkundige, wat in 1866 vanaf Nederland na die Paarl gekom het. Dit was Pannevis wat besef het dat die taal in die Kaap baie anders is as dít wat hulle geken het. Hy was die eerste een wat dit Afrikaans genoem het en word deur baie mense as die vader van Afrikaans beskou.

Op 14 Augustus 1875 is daar besluit om die Bybel in Afrikaans te vertaal, maar hulle het ook besef dat Afrikaans eers in ’n skryftaal moes ontwikkel. Daar is toe besluit om ’n vereniging te stig wat hom hiervoor kon beywer. Dit was die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) wat ’n groot rol daarin gespeel het om Afrikaans en sy kultuur te laat groei en ontwikkel.

Die Gedenkschool der Hugenoten is ’n volwaardige skool vir Afrikaanse kinders wat in 1882 op die plaas Kleinbosch in Dal Josafat, Paarl, op die been gebring is. Die skool se eerste onderwyser se naam was D.F. du Toit en die skool het ’n groot rol daarin gespeel om Afrikaans uiteindelik as ’n amptelike skooltaal erken te kry.

Gedenkschool der Hugenoten.

Dit het toe ook in 1914 gebeur toe Afrikaans in die Kaap, Vrystaat en die ou Transvaal as laerskooltaal erken is. Gevolglik is die taal in 1919 as skoolvak en voertaal tot by graad 12 gewettig. Teen 1925 was daar reeds baie Afrikaanse skoolhandboeke gepubliseer soos vir lees en taal, snelskrif, meetkunde, algebra, liggaamsopvoeding, boerdery, geskiedenis, huishoudkunde en kunsnywerheid. 

In 1925 het Afrikaans saam met Engels een van die land se twee amptelike landstale geword. Meer Afrikaanse skole het die lig gesien.

Afrikaans by universiteite

Nadat die Universiteitswet in 1916 deur die destydse parlement van die Unie van Suid-Afrika aanvaar is, kon universiteite gestig geword het. Voorheen was daar net kolleges. Op 2 April 1918 het die Universiteite van Kaapstad, Stellenbosch en Suid-Afrika tot stand gekom. Die Grey-Universiteitskollege was byvoorbeeld die voorganger van die Universiteit van die Oranje-Vrystaat, die Transvaalse Universiteitskollege was die voorganger van die Universiteit van Pretoria en die SA School of Mines and Technology was die voorganger van die Universiteit van die Witwatersrand. 4 In 1921 het die Potchefstroom-Universiteitskollege ook bygekom.

Die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat.

Die Universiteit van Suid-Afrika het eksamens gebied en grade toegeken, en het Afrikaans en Engels as gelyk beskou. Engels het wel voorrang as onderrigmedium geniet, maar Afrikaans is al hoe meer gebruik. Afrikaans is uiteindelik op 2 Augustus 1918 as onderrig- en eksamentaal erken.

Die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) in Pretoria.
Die Universiteit van Witwatersrand in Johannesburg.

Die latere Afrikaanse universiteite was eers Engels en daarna tweetalig. Die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO; vandag die Noordwes-Universiteit of NWU) was die eerste een wat alle lesings in Afrikaans aangebied het. Die Universiteit van Stellenbosch (nou die Universiteit Stellenbosch of US) was volgende, terwyl die Universiteit van Pretoria in 1932 besluit het om Afrikaans te word. Die Universiteitskollege van die Oranje-Vrystaat het in die jare veertig Afrikaans geword. Daar was vir lank ’n droom om ’n Afrikaanse universiteit te verwesenlik en dit het op 12 Februarie 1968 gebeur met die inlywing van die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU). Dié universiteit is vandag egter nie meer ’n Afrikaanse universiteit nie en word nou die Universiteit van Johannesburg (UJ) genoem.

Hoofgebou van die Universiteit Stellenbosch.
Die Universiteit van Pretoria.

Nasionalisme se impak

Die ontstaan van die Randse Afrikaanse Universiteit kan ook na die dryf van Afrikaner-nasionalisme teruggevoer word. Nasionalisme (liefde en trots vir eie nasie) het ’n groot impak op die ontwikkeling van Afrikaanse skole en Afrikaans as voertaal by universiteite gehad. [Lees meer hier oor nasionalisme.]

Allerlei faktore het tot Afrikaner-nasionalisme bygedra, met Afrikaners se stryd om onafhanklikheid as die kern daarvan. As ons terugkyk in die geskiedenis, was daar die anneksasie van die Kaapkolonie wat tot die Groot Trek gelei het, die Suid-Afrikaanse Vryheidsoorloë (Eerste Boereoorlog en Anglo-Boereoorlog) en die gepaardgaande konsentrasiekampe waarin duisende Afrikaanse vroue en kinders dood is. Die toestande ná die oorlog was moeilik en daar was woede en bitterheid teenoor die Britte. Die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het ook baie Afrikaners verdeel, want sommige was ten gunste daarvan dat Suid-Afrika daaraan moes deelneem, terwyl ander weer nie vir Brittanje in die oorlog wou help nie.

‘n Rugbyspan in Aliwal-Noord.

Grootskaalse armoede en verstedeliking was bydraende faktore. Baie Afrikaners het van die platteland na die stede getrek en baie van hulle het nie skoolopvoeding of vaardighede gehad om in die stede werk te kry nie. 5

Nadat Afrikaans in 1925 as amptelike taal erken is, het dit flink gegroei. Die ekonomie het ook ná 1933 goed begin vaar en die wydverspreide armoede is in daardie tyd verlig. Daar is hard gewerk om Afrikaneronderwys te verbeter en in daardie tyd het Christelik-nasionale onderwys die grondslag van die onderwys geword.

Skoolmeisies in Aliwal-Noord.

Die bevolkingsgroei in Afrikaanse geledere aan die Witwatersrand het byvoorbeeld tot ’n skerp toename in die vestiging van skole gelei. Dit was die jare toe die eerste Afrikaanse hoërskole aan die Witwatersrand gestig is, soos Hoërskool Voortrekker, Helpmekaar (aanvanklik was dit ‘n afsonderlike seuns- en meisieskool – vandag staan dit as Helpmekaar Kollege bekend) en Hoërskool Monument aan die Wes-Rand. Waar daar voorheen nie genoeg skole vir Afrikaanse kinders was nie, was daar teen die laat vyftigerjare oorgenoeg keuses. 5

En só is die Goudstadse Onderwyskollege in Johannesburg gestig en daarna die destydse Randse Afrikaanse Universiteit.

Woordbank

anneksasie Besitneming of inlywing, gewoonlik van ’n gebied of land.
banneling Iemand wat uit ’n land verban word.
nasionalisme Liefde en trots vir jou eie land en nasie, maar met die behoefte om onafhanklik te wees.
omstrede Waaroor baie gestry word; betwisbaar, aanvegbaar; iets wat bevraagteken word.
verstedelik As mense van die platteland na die stede trek.
voertaal Die taal wat in opvoedkundige instellings gebruik word as die taal waarin onderrig gegee word.
weliswaar Dit is waar; inderdaad.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Die geskiedenis van Afrikaans

Nasionalisme in Suid-Afrika

Die beste universiteite in Suid-Afrika 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Augustus 2022 | Bygewerk op 8 Desember 2023