Vinnige feite

  • Kan jy glo? Arnoldus Pannevis het reeds in 1880 die woord “slaggat” opgeteken as ’n woord wat in Afrikaans gebruik word. Ons gebruik natuurlik steeds die woord vandag. 6
  • Pannevis was ’n onderwyser by die Laerskool Paarl Gimnasium. Die skool is in 1858 deur ds. G.W.A. van der Lingen gestig met Nederlands as onderrigtaal. Daar is ’n plein op die skoolgronde wat Pannevis-plein heet. 7
  • Pannevis is nie die enigste kampvegter vir Afrikaans wat in die Paarl begrawe is nie. Die grafte van ds. Van der Lingen, Pannevis én Gideon Malherbe word by die Strooidakkerk op die dorp gevind. 8
  • Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria (Affies) se een koshuis is in 1975 Huis Pannevis gedoop. 6
  • Daar is ook ’n straat in Vanderbijlpark met die naam Arnoldus Pannevis-straat.
  • P.J. Nienaber het ’n boek, Dr. Arnoldus Pannevis: vader van die Afrikaanse taal, geskryf. Dit is in 1968 gepubliseer.
  • Nog ’n bekende baanbreker vir Afrikaans was S.J. du Toit. Hy was ’n predikant, joernalis en redakteur van Die Afrikaanse Patriot, Ons Klyntji en Ons Taal. Sy seun was die digter Totius. 9
  • Die Unie van Suid-Afrika is in 1910 gestig en Nederlands het naas Engels ’n amptelike taal geword. 1
  • Die skrywer C.J. Langenhoven het op 23 April 1914 ’n mosie by die Kaapse Provinsiale Raad ingedien en gevra dat Afrikaans as onderrigtaal vir kinders tot en met standerd vier (vandag se graad 6) as voertaal op skool gebruik moes word. Dit is goedgekeur en daarna deur ander provinsies aanvaar. 1
  • Teen 1925 het Afrikaanssprekende kinders in hul moedertaal skoolgegaan en in Augustus 1918 is Afrikaans ook ’n universiteitsvak by die Universiteit van Stellenbosch (vandag net Universiteit Stellenbosch) geword. 1
  • Afrikaans het in 1925 ’n landstaal geword. Dit het in 1994 een van die 11 (vandag 12) amptelike landstale van Suid-Afrika geword. 1
  • Pannevis het ’n groot invloed op C.P. Hoogenhout gehad, wat hard gewerk het om Afrikaans as volks- en kultuurtaal erken te kry. Hy het tussen 1873 en 1875 vele artikels oor die Engelse invloed en die bevordering van Afrikaans die lig laat sien.

 

Afrikaanssprekendes is vandag gelukkig om in hul taal te kan skryf, lees en skoolgaan. Ons kan dig in Afrikaans, sing in Afrikaans en stry in Afrikaans. Daar is talle boeke, tydskrifte, koerante, liedjies, TV-programme en flieks in ons taal.

Dit was egter nie altyd die geval nie. Soos julle al weet, het Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom, en saam met hom het die Nederlandse taal ook vir die eerste keer in die land aangekom. Dit was egter nie die enigste taal wat in daardie tyd gepraat is nie, want daar was reeds Khoi-groepe in die Kaap. Slawe is ook na die Kaap gebring, en hulle het hul eie eerste tale gepraat. [Lees hier oor slawerny in Suid-Afrika.] Al hierdie tale het in kontak met mekaar gekom, en dit het gelei tot Kaaps-Hollands, en later die taal wat ons vandag as Afrikaans ken. Dit was egter geen maklike pad nie, en daar was vele struikelblokke. 1

Hoe meer mense Afrikaans gepraat het, hoe meer het dit gegroei, maar die Engelse het ʼn groot stokkie voor die ontwikkeling daarvan gesteek. Brittanje het in 1806 die Kaap vir ’n tweede keer oorgeneem en het Engels die amptelike voertaal gemaak. Hulle wou hê dat slegs Engels in die howe, skole, kerke en regering gebruik moes word, en het só baie mense kwaad gemaak. Daar was gelukkig kampvegters vir Afrikaans, en een van hulle was ’n man genaamd dr. Arnoldus Pannevis (1838-1884). Hy word dikwels die “ontdekker van Afrikaans” of “vader van Afrikaans” genoem.

Van skeepsdokter tot taalstryder

Arnoldus Pannevis is op 16 Februarie 1838 in Oudekerk, Nederland, gebore. Hy was onder meer ’n skeepsdokter in die Nederlandse vloot en het op 11 Julie 1866 in Suid-Afrika aangekom.

Hy het beslis ’n aanleg vir tale gehad en was vlot in Nederlands, Engels, Frans en Duits. Hy kon boonop Spaans, Italiaans, Deens en Sweeds lees en het later ’n onderwyspos by die Laerskool Paarl Gimnasium aanvaar. 2

Hy was van meet af aan baie beïndruk met Afrikaans (wat toe nog Kaaps-Hollands genoem is) en het dit ’n “voortreflike” en “selfstandige” taal genoem. 3 Hy het besef dat Afrikaans ’n volwaardige taal is, aangesien dit nie meer genoeg ooreenkomste met Nederlands toon om slegs as ’n dialek van Nederlands beskou te word nie. Pannevis was glo die eerste mens wat die taal Afrikaans genoem het. 1

Hy het egter gesien dat Afrikaans onderdruk word en daar was in daardie stadium selfs met Afrikaans gespot. Dit is ’n kombuistaal genoem en is al hoe meer uitgeskuif. Die Britte het alles probeer verengels en wou Afrikaans en Nederlands verdring. Hulle het selfs Skotse predikante ingevoer, sodat Nederlands nie meer in die kerk gebruik hoef te word nie.

Pannevis het baie oor Afrikaans en sy geskiedenis opgelees en oor die taal en kultuur geskryf. Hy het ook in Nederlands en Afrikaans gedigte geskryf. Hy was ook medeskrywer van die Afrikaanse volkslied “’n Ieder nasie het sijn land”. 4

Die Genootskap van Regte Afrikaners

Pannevis het sy vriende gemotiveer om vir Afrikaans op te staan en het ’n groot invloed op mense, soos S.J. du Toit en C.P. Hoogenhout, gehad. Hulle het ook tot die stryd toegetree om Afrikaans as taal erken te kry en word vandag as taalstryders erken.

Affies se seuns voor Huis Pannevis

Pannevis is veral bekend vir die brief wat hy op 7 September 1872 aan die Kaapse koerant De Zuid-Afrikaan geskryf het. Hy het in die brief gepleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Daardie brief het gelei tot ’n vergadering van agt mans op 14 August 1875 in die Paarl. Dit was C.P. Hoogenhout, D.F. du Toit (Oom Lokomotief), S.J. du Toit, A. Ahrbeck, S.G. du Toit, G. Malherbe, D.F. du Toit en P.J. Malherbe. Hulle het besluit om saam te staan vir Afrikaans en het die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) gestig. Die doel van die organisasie was om Afrikaans as taal te bevorder. 1

Adviseurs van die 1933-vertaling van die Afrikaanse Bybel. Boonste ry: di. J.P.H. Steyn, C.F. Kees, G.D. Malan, W.J.W. Naudé, A.S.E. Yssel, W. de Vos. Middel: Di. C.W.M. du Toit (Totius se broer), H.J. Otto, proff. J.A. du Plessis, C.J.H. de Wet, dr. H.D. van Broekhuizen, di. Dirk Postma, P.J.J. Boshoff en H.J. Pienaar. Voor: prof. B.B. Keet, Totius, ds. J.D. Kestell, proff. E.E. van Rooyen en H.C.M. Fourie. Hulle het amptelik bekendgestaan as die Kommissie vir Afrikaanse Bybelvertalers..

Ontwikkeling van Afrikaans

Pannevis was baie gelowig en hy wou graag hê dat die Bybel in Afrikaans vertaal moes word. Hy was ook ’n groot voorstander daarvan dat kerkdienste in Afrikaans en Nederlands gehou moes word.

S.G. du Toit

Hy het aan die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap geskryf en S.J. du Toit voorgestel as iemand wat die Bybel kon vertaal. Daar is egter op die eerste vergadering van die GRA besluit dat Afrikaans eers as skryftaal moes ontwikkel voor die Bybel vertaal kon word. Dit het die bal aan die rol vir die Eerste Afrikaanse Taalbeweging gesit.

Die eerste eksemplare van die Afrikaanse Bybel-is in mei 1933 by die Britse en buitelandse-Bybelgenootskap afgelewer

Die GRA het op 15 Januarie 1876 ’n Afrikaanse koerant Die Afrikaanse Patriot die lig laat sien en het in 1878 ’n drukkersonderneming gestig om Afrikaanse publikasies uit te gee. Dié organisasie het baie vir Afrikaans beteken, want só is daar meer in Afrikaans geskryf en gelees, en die eerste Afrikaanse boeke het ontstaan. Hulle het ook ’n Afrikaanse skool gestig, wat die Gedenkschool der Hugenoten genoem is.

Gedenkschool der Hugenoten

Afrikaans word gestandaardiseer

Die informele kodifisering (om ’n taal of variëteit te beskryf deur die reëls, beginsels, ens. op te skryf) van Afrikaans het dus reeds in die negentiende eeu begin toe die eerste Afrikaanse tekste geproduseer is. Dit sluit Die Afrikaanse Patriot vanaf 1876 in, maar ook vroeër godsdiensgeskrifte en ander informele geskrifte.

S.J. du Toit, kampvegter vir Afrikaans en medestigter van die Genootskap vir Regte Afrikaners (GRA).

Die eerste konsepreëls word ook in dié tyd deur organisasies soos die GRA, Zuid-Afrikaansche Taalbond, Afrikaanse Taalvereniging en Afrikaanse Taalgenootskap geskryf. Daarna volg die Suid-Afrikaners se nederlaag teen Brittanje, wat lei tot ’n opbloei (grootskaalse groei) in Afrikaner-nasionalisme en ’n toenemende behoefte aan ’n gestandaardiseerde vorm van Afrikaans (dit is die vorm van Afrikaans wat meestal vir onderwys-, regerings- en mediadoeleindes gebruik word).

C.J. Langenhoven sit daarna prosesse aan die gang wat lei tot die publikasie van die eerste konsepspelreëls in 1915, nadat dit in daardie jaar deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns goedgekeur is. Tydens dié sitting word daar besluit dat ’n woordelys ook so spoedig moontlik opgestel moet word, en dit lei uiteindelik tot die publikasie van die Afrikaanse woordelijs en spelreëls in 1917. Dit is deur T.H. le Roux, D.F. Malherbe en Johannes J. Smith geskryf, maar in die voorwoord word spesifiek genoem dat dit ’n vrug van die werk van die GRA is. Dit word dus beskou as ’n deurslaggewende gebeurtenis in die ontwikkeling van Afrikaans as volwaardige skryf- en akademiese taal. 5

C.J. Langenhoven

Pannevis het op 14 Augustus 1884 gesterf. Dit is ’n jammerte dat hy nooit die Bybel in Afrikaans gesien het nie, want dié is eers later in 1933 gepubliseer. Hy is in die Paarl begrawe.

Woordbank

aanleg Talent of gawe.
baanbreker Iemand wat ’n pionier is en nuwe terreine ontsluit.
dialek Ook streektaal genoem. Taal wat in ’n bepaalde streek gepraat word en van die standaardtaal verskil.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in of stry vir ’n saak waarvoor hy hom of sy haar beywer.
mosie Voorstel wat by die parlement ingedien word sodat dit bespreek kan word.
onderdruk As iets gestuit of bedwing word.
gepleit Vra of smeek.
slawe ’n Persoon wat die eiendom van ander is en gedwing word om vir daardie persoon sonder betaling te werk.
struikelblokke ’n Hindernis wat oorkom moet word.
taalstryders Persoon wat vir ’n taal opstaan en hard werk om die taal erken te kry.
verdring Iemand of iets word weggestoot en sy plek ingeneem.
verengels Om iets Engels te probeer maak.
voertaal Die taal wat in opvoedkundige instellings gebruik word as die onderrigtaal.
voorstander Kampvegter, ten gunste van ’n sekere saak.
vlot Praat ’n taal vloeiend, is bedrewe daarin.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Arnoldus Pannevis en Afrikaans

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Arnoldus Pannevis en Afrikaans

Hoe het Afrikaans ontstaan?

Kyk terug op Afrikaans

Kyk hoe lyk die Afrikaanse Taalmonument

Afrikaans as een van Suid-Afrika se 12 amptelike tale

Foto: iStockFoto: Kraal UitgewersFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Oktober 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024