Vinnige feite

  • Yang Li van Australië spog met die grootste versameling asbakkies in die wêreld. In 2014 het dié versameling reeds uit 1 560 asbakkies bestaan! 25
  • Aan die begin van die twintigste eeu was sigarette nog nie so bekend en gewild soos sigare of pyptabak in die Verenigde State van Amerika (VSA) nie. Dit is eers toe die Amerikaanse regering begin het om sigarette deel van soldate se daaglikse kosvoorraad (rantsoen) te maak, dat die verbruik daarvan toegeneem het. Tussen 1914 en 1920 het al meer mense sigarette begin rook. Sigarette het van 7% tot 20% van die VSA se totale tabakverbruik toegeneem. 26
  • Die grootste uitbetaling nóg deur ʼn tabakmaatskappy as vergoeding vir skade wat aan iemand se gesondheid aangerig is, is $1,1 miljoen (bykans R20 miljoen). Brown & Williamson Tobacco Corporation moes hierdie bedrag in 1995 aan ʼn 70-jarige oudroker opdok. 27
  • Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) is daar sowat 1,3 miljard tabakverbruikers wêreldwyd. Meer as 7 miljoen rokers sterf jaarliks weens tabakverbruik, terwyl nog 1,2 miljoen nierokers sterf wat aan tweedehandse (indirekte) rook blootgestel is. 28
  • Die lewensverwagting van ʼn roker is gemiddeld 10 jaar korter as ʼn persoon wat nie rook nie. 30
  • Sigaretrook bevat nagenoeg 7 000 chemikalieë waarvan 70 kanker veroorsaak. 31
  • Iemand wat elke dag een pakkie sigarette rook, sal elke tien jaar twee tande verloor. 32
  • E-sigarette, wat bestaan uit ʼn houer met vloeistof wat deur ʼn battery verhit word, is net so skadelik soos ander tabakprodukte. Hoewel dit meestal nie tabak bevat nie, is daar steeds nikotien en ander chemikalieë in die vloeistof. Dit kan ook metale soos tin, lood en nikkel bevat. Benewens kanker en longprobleme, kan e-sigarette ook hartsiektes veroorsaak. 33

Die saadjie van ʼn tabakplant is piepklein, maar in daardie plantjie skuil groot gif. Nikotien, een van die mees verslawende middels ooit, is waarskynlik die rede hoekom die tabakbedryf vandag wêreldwyd so groot is.

Tabak word in 130 lande, op al die vastelande, behalwe Antarktika, verbou. Ook aan die suidpunt van Afrika is tabak al vir meer as 400 jaar deel van Suid-Afrika se geskiedenis. Tabak is ‘n belangrike deel van Suid-Afrika se totale landboubedryf (verskillende dele van ʼn land se landbou). Danksy dié bedryf het meer as 100 000 Suid-Afrikaners maandeliks kos op hul tafel.

Tabakplante is ‘n spesie van die genus Nicotiana, wat aan die Solanaceae (nagskadu)-familie behoort; dit sluit ook aartappels, tamaties, eiervrugte, belladonnalelies en petunias in. Daar is 64 Nicotiana-spesies wat vir tabak gebruik word. Die twee wat wyd gekweek word vir gebruik as tabak, is Nicotiana tabacum en Nicotiana rustica, waarvan laasgenoemde die hoër vlakke nikotien bevat. 1

Geskiedenis van tabak wêreldwyd

Die vroegste skrywes oor die verbruik van tabak is deur die plaaslike inwoners van Noord- en Suid-Amerika. Hulle het tabak reeds tussen 600 en 900 onder meer as medisyne en in rituele seremonies voor oorloë gebruik of om ʼn vriendskap te bevestig. 1 Hulle het geglo dat tabak wondere doen om oorpyn, maagpyn, asma, koors en insekbyte te behandel. 2

Die tabakblare is gerook, gesnuif, gekou en selfs in water gekook om as ʼn soort tee te drink. 1

Toe die Spaanse ontdekkingsreisiger Christopher Columbus op 12 Oktober 1492 op die Bahamas voet aan wal sit, het die plaaslike inwoners van die eiland sy geselskap (die matrose wat saam met hom op die skip was) met vrugte, kos, spiese en gedroogde tabakblare welkom geheet. Vir die plaaslike inwoners was tabak goud werd. Hulle het dit as ruilmiddel gebruik en as geskenke gegee. 3

Columbus en sy manskappe het egter nie geweet wat tabak is nie. Vir hulle was dit net droë blare wat sleg geruik het. Dis eers toe hulle later in Kuba land en sien hoe die plaaslike inwoners die blare rook, dat hulle verstaan het wat die nut van dié vreemde blare was. 4

Met hul terugkeer na Spanje, was dit vir die mense skrikwekkend om te sien hoe rook uit die rokers se mond en neus gekom het. Rodrigo de Jerez, een van Columbus se manskappe wat teen hierdie tyd taamlik verslaaf was, is vir sewe jaar in huisarres geplaas (hy mag nie die huis verlaat het nie). Gelukkig vir hom het al hoe meer seevaarders huis toe gekom met tabak en het al hoe meer mense in Spanje en Portugal begin om tabak te rook. 4

Rondom 1530 het Portugese matrose tabak by die meeste van hul verversingsposte aangeplant – vir eie gebruik en as ʼn ruilmiddel en geskenke wanneer hulle met die plaaslike inwoners van daardie lande handel gedryf het. Teen 1550 het Portugal begin om tabak in Brasilië te verbou. Hulle het begin om die surplus (voorraad wat oorgebly het) na Europese lande uit te voer. Pogings om tabak in Europa te plant, het egter misluk omdat dit nie warm genoeg was om daar te groei nie. 4

Aan die begin van die 1600’s het baie lande al met tabak te doen gekry. Dit was ook nie net meer die Portugese wat in Brasilië op groot skaal met tabak geboer het nie. Indië, China, Japan, die Midde-Ooste en dele in Afrika het begin om tabak te verbou. 5 Tabakwinkels is in 1614 vir die eerste keer in Brittanje oopgemaak. 4

Die agtiende eeu word gekenmerk deur die vervaardiging van, onder meer, pype, sigare en snuif. Groot tabakfabrieke in Spanje het sigare in grootmaat (groot hoeveelhede) begin vervaardig en in Nederland het dorpe soos Gouda begin om tabakpype te vervaardig. Tabak in ʼn snuifvorm word in dié tyd ook baie gewild. Verskillende plekke in die wêreld het tabakpype volgens eie smaak en gebruik aangepas.

In Asië is die pype van verskillende materiale soos hout, bamboes, ivoor en porselein gemaak. In die Midde-Ooste het mense verkies om tabak deur waterpype (ook ʼn okkapyp genoem) te rook. 5 ʼn Okkapyp bestaan uit ʼn houer vir die rookgoed, ʼn metaalskag wat van die tabakhouer loop tot in ʼn houer van glas wat met water (of soms alkohol) gevul word, en ʼn buigsame pyp met ʼn mondstuk waardeur die rook ingesuig word uit ʼn houer met tabak. 6 Die okkapyp het baie vinnig na Iran, China en dele van Afrika versprei. 5

Deur die loop van die 19de eeu het sigarette die tabakbedryf betree. Tot in daardie stadium was tabak hoofsaaklik in sigare, pype en snuif verbruik. Sigarette is met die hand gerol. Die meeste sigaretrokers was seuns en vroue. In 1881 ontwikkel die Amerikaner James Bonsack ʼn sigaretrolmasjien wat 120 000 sigarette per dag kon vervaardig. 7

Sedert die begin van die 1900’s het sigarette al hoe gewilder onder tienerseuns geword omdat dit so goedkoop was. Anti-rookorganisasies (organisasies of verenigings wat rook probeer keer het) het in Frankryk, Australië, Brittanje, Kanada en die Verenigde State van Amerika (VSA) ontstaan. Dit het uiteindelik tot wetgewing gelei wat dit onwettig maak om tabak aan minderjarige persone te verkoop. 5

Hierdie wette het egter nie baie beteken nie, want tydens die Eerste Wêreldoorlog is sigarette deur die weermag en regerings aan soldate verskaf as ʼn manier om hul angs tydens die oorlog te verminder. Dit was ook makliker om op die slagveld ʼn sigaret as ʼn sigaar of pyp aan te steek. Teen 1920 het die Camel-sigaretmaatskappy meer as 20 miljard sigarette per jaar verkoop! Tydens die Tweede Wêreldoorlog word sigarette weer aan die soldate uitgedeel wat daartoe lei dat 50% van tabakverbruik in die VSA sigarette was. 5

As gevolg van goeie bemarking en advertensies van die sigaretmaatskappye is die rook van sigarette algemeen aanvaar. By die huis, die werk, in rolprentteaters en selfs in vliegtuie is rook toegelaat! 5

Die eerste mediese studies wat rook met longkanker verbind het, is in die 1930’s gedoen. Soos wat navorsingstegnieke verbeter het, was daar in die laat 1940’s en 1950’s al hoe meer bewyse dat rook met longkanker verbind kan word. Die eerste amptelike studies oor die negatiewe invloed van rook op mense se gesondheid het in die vroeë 1960’s verskyn. Die impak van hierdie navorsing op die tabakbedryf in ontwikkelde lande in die wêreld, was baie groot. As ʼn manier om tabakverbruik te beheer, het lande belasting op tabakprodukte verhoog, rookvrye gebiede in openbare plekke geskep, advertensies oor sigarette beperk en die gevaar van rook op die verpakking van tabakprodukte begin plaas. Tabakverbruik in ontwikkelde lande het as gevolg van hierdie maatreëls en wette vanaf 1970 verminder. 8

In teenstelling met die vermindering van tabakverbruik in die ontwikkelde lande, het die verbruik van sigarette in ontwikkelende lande sedert 1970 drasties verhoog. Waar die gemiddelde verbruik van ʼn persoon in ontwikkelende lande in 1970 ongeveer 900 sigarette per jaar was, het dit in die vroeë 1990’s gestyg tot 1 420 sigarette per jaar. Daar word geskat dat 7 miljoen mense per jaar in ontwikkelende lande in 2030 aan rookverwante siektes gaan sterf in vergelyking met 2 miljoen in 2000. 6

Geskiedenis van tabak in Suid-Afrika

Voor tabak as ʼn landbougewas (plant) in Suid-Afrika verbou is, is dit deur die Europese ontdekkingsreisigers van Portugal en Nederland as ʼn ruilmiddel vir vee en selfs grond van die plaaslike inwoners gebruik.

In 1672 het die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie (destyds Vereenigde Oost-Indische Compagnie, algemeen afgekort as die VOC) – ʼn maatskappy van Nederland wat ʼn verversingstasie (of verversingspos) in die Kaap begin het – gesê dat die streek tussen Tafelbaai, Houtbaai en Saldanhabaai aan hulle behoort omdat hulle dit van die Khoi-leier Osingkhima met brood, brandewyn en tabak gekoop het. 9 Dit is egter eers in die sewentiende eeu dat daar vir die eerste keer met tabak in die Kaap geboer is. 8

Roltwakvervaardiging, ongeveer 1905

Die klimaat van die Kaap was ʼn bietjie koud vir tabak en in die negentiende eeu begin boere in warmer dele van die land daarmee boer. Oudtshoorn, ʼn dorp in die Klein-Karoo, was een van die plekke in die land waar daar met tabak geboer is. Die dorp het nog nie eers bestaan toe daar in 1845 tabakplase aangelê is nie. Die boere het sommer self die tabak gerol en as pruim– en pyptabak verkoop. 10

Rustenburg in vandag se Noordwes-provinsie is die ander streek in Suid-Afrika wat tydens die negentiende eeu tabak op groot skaal begin plant het. Met die stigting van die dorp was tabak asook sitrus, mielies en grondboontjies reeds op plase in die omgewing verbou. 11

Die tabak wat hier geproduseer is, was van baie goeie gehalte. ʼn Plaaslike maatskappy met die naam Tobacco, Cigarette and Snuff Manufacturers se produkte het pryse gewen op landbouskoue (geleenthede waar boerderyprodukte uitgestal word) in Johannesburg en Kaapstad. Nog ʼn maatskappy, K. Machol & Co, het vanaf 1891 tabak aan Suid-Afrika, Londen (Engeland) en Berlyn (Duitsland) verkoop. Die fabriek was van wêreldklasgehalte en kon 4 500 kg tabak per dag produseer. 11

Nadat drie damme in die omgewing in die vroeë 1930’s in die omgewing aangelê, is, het die produksie van tabak die hoogte ingeskiet. Van 3,7 miljoen kg in 1929, tot 7,2 miljoen kg in 1944 en 13,6 miljoen kg in 1950. 12

Tussen 1930 en 1950 het Suid-Afrika se produksie van tabak van 10 000 ton tot 19 000 ton toegeneem. Teen 1979 het hierdie hoeveelheid verdubbel. Nadat tabakregulasies en reëls vanaf die tagtigerjare ingestel is, het die produksie in 1996 verminder tot 27 000 ton. 8

Geskiedenis van sigarette in Suid-Afrika

Sedert 1940 is sigaretproduksie in Suid-Afrika oorheers deur Anton Rupert se Rembrandt-groep. Teen 1956 was die maatskappy reeds op die Johannesburgse effektebeurs (ook genoem die JSE) gelys. Een rede vir die sukses van hierdie maatskappy is omdat hulle van die begin af met verskeie oorsese maatskappye saamgewerk het. Teen 1961 het Rembrandt reeds in 120 lande sigarette verkoop. 8

Rembrandt het baie vinnig gegroei tot die vierde grootste sigaretmaatskappy in die wêreld – maatskappye in China en die voormalige Sowjet-Unie of USSR uitgesluit. In 2005 het die Remgro-groep, soos dit vandag bekend staan, van 10% in 1951 na ʼn 93%-markaandeel in die sigaretbedryf in Suid-Afrika gegroei (ná ʼn samesmelting wat vandag as die British American Tobacco bekendstaan). 8

Die plaaslike tabakbedryf vandag

Tabak is ʼn plant wat tussen 100 en 120 rypvrye dae benodig met ʼn gemiddelde temperatuur van tussen 20 °C en 30 °C. In Suid-Afrika is daar vyf streke in die land waar tabak met sukses verbou word. Hierdie streke is Lephalale (Ellisras), Mokopane (Potgietersrus), Mookgophong (Naboomspruit) en Sterkrivier in Limpopo; Brits, Groot Marico en Rustenburg in Noordwes; Loskop, Groblersdal, Mbombela (Nelspruit) en Barberton in Mpumalanga; die Gamtoosvallei in die Oos-Kaap; en Oudtshoorn in die Wes-Kaap. 13

Droging is die proses wat onderskei watter soort en in watter streke tabak gekweek word.

In Suid-Afrika word tabak hoofsaaklik op drie maniere gedroog:

Oonddroging

Tabak wat op hierdie manier gedroog word, word in stringe vasgemaak wat van die dak in ʼn skuur (ʼn groot gebou waar gewasse soos mielies of tabak geberg word) afhang. Hierdie skure het skoorstene wat van vuurbokse buite die gebou na binne loop. Die tabak word nie direk aan rook blootgestel nie, maar droog stadig maar seker uit soos die temperatuur in die skuur styg. Die proses neem ongeveer ʼn week en dit produseer sigarettabak met ʼn hoë suikerinhoud en medium tot hoë vlakke nikotien. Oondgedroogde tabak word in Mpumalanga, Limpopo en Noordwes geproduseer. 13

Luggedroogde tabak

Luggedroogde tabak word in goed geventileerde (ʼn plek waar die lug vrylik kan vloei) skure gehang waar dit oor ʼn periode van vier tot agt weke gedroog word. Luggedroogde tabak het ʼn lae suikerinhoud, maar bevat baie nikotien. Tabak wat deur lug gedroog word, word in Noordwes, die Wes-Kaap en Oos-Kaap verbou. Luggedroogde tabak word veral in sigare gebruik. 13

Songedroogde tabak

ʼn Kleiner gedeelte van die tabak in Suid-Afrika word deur die son gedroog. Met sondroging word die tabakblare onbedek (oop) in die son geplaas. Songedroogde tabak het ʼn lae suikerinhoud en bevat nie baie nikotien nie. 13 Songedroogde tabak word veral vir die maak van snuif gebruik. 14

Van die soorte tabak wat in Suid-Afrika verbou word, verteenwoordig luggedroogde tabak tussen 60% en 70% van die land se tabakbedryf en oondgedroogde tabak ongeveer 45%. 14

Die verbod op advertensies en die bemarking van sigarette het veroorsaak dat baie Suid-Afrikaanse sigaretmaatskappye se kersie finaal geblus is. Van die tientalle sigarette om van te kies, het net ʼn paar oorgebly. Toe die Rothmans-maatskappy van Anton Rupert in 1999 met die United Tobacco Company saamgesmelt het om die British American Tobacco (BAT) South Africa te vorm, het dit die grootste tabakvervaardiger in die land geword. BAT South Africa is die vervaardiger en verspreider van handelsmerke (name van verskillende soorte produkte) soos Peter Stuyvesant, Pall Mall, Dunhill, Rothmans en Benson & Hedges. 15

Ander groot maatskappye in Suid-Afrika is Japan Tobacco International en Gold Leaf Tobacco Company. 16

Op die oomblik is China die wêreld se grootste tabakprodusent. 14 Ander groot rolspelers onder die 130 lande wat tabak verbou, is Indië, Brasilië, die VSA en Indonesië. 17

In 2022 het Suid-Afrika $153 miljoen (sowat R2,7 miljard) se tabak en tabakprodukte na die buiteland uitgevoer. 18

Gevare van rook

Altesaam 29,4% van alle Suid-Afrikaners rook of gebruik tabakprodukte. Byna 42% is mans en 17,8% is vroue. Byna 22% van Suid-Afrikaanse kinders tussen die ouderdom van 13 en 15 jaar rook.  23 Byna 40 000 Suid-Afrikaners sterf jaarliks weens rookverwante oorsake

Rook veroorsaak:

  • kanker
  • hartsiektes
  • beroerte
  • longsiektes
  • diabetes (suikersiekte)
  • chroniese longprobleme (emfiseem en chroniese brongitis ingesluit)
  • ʼn verhoogde risiko vir tuberkulose
  • ʼn verhoogde risiko vir sekere oogsiektes
  • probleme met jou immuunstelsel (insluitend gewrigsrumatiek). 24

Selfs al is jy net gereeld in die omgewing van iemand wat rook, is dit ook baie gevaarlik. Tweedehandse rook kan beroerte, longkanker en hartsiektes in volwassenes veroorsaak. Kinders wat gereeld aan tweedehandse rook blootgestel word, het ʼn verhoogde risiko vir asemhalingsprobleme, middeloorontsteking en erge asma. 24

Woordbank

effektebeurs Die plek waar effekte en aandele gekoop en verkoop word. 34
genus Kleinste groep diere/plante met gemeenskaplike eienskappe. 34
gewas Bepaalde soort plant. 34
klimaat Die algemene lug en weersgesteldheid van ʼn plek/streek. 34
landbou (Die wetenskap en praktyk van) boerdery en alles wat daarmee verband hou; boerderybedryf. 34
minderjarige Nog nie oud genoeg om volgens die reg selfstandig besluite te neem nie. 34
nikotien Gifstof in tabak, ʼn vloeibare en vlugtige alkaloïed. 34
ontwikkelde lande ʼn Soewereine staat met ʼn hoogs ontwikkelde ekonomie en gevorderde tegnologiese infrastruktuur in vergelyking met ander lande (Eerste Wêreldland) 34
ontwikkelende lande (Voorheen ook genoem onderontwikkelde land of Derde Wêreldland) ʼn land met ʼn minder ontwikkelde nywerheidsbasis en ʼn lae menslike ontwikkelingsindeks (MOI) in vergelyking met ander lande. 34
pruim Tabak kou. 34
ruilmiddel Middel/geld/goedere wat gebruik word om ʼn ruiling aan te gaan of handel te dryf. 34
sigare Dik buis met opgerolde tabakblare wat gerook word. 34
sigarette Rolletjie fyn tabak in ʼn dun papieromhulsel, dikwels voorsien van ʼn mondstuk met ʼn filter. 34
skuur Plek waar goed gebêre/gestoor word, veral op ʼn plaas; pakhuis; bêreplek; stoor. 34
snuif Fyn tabakpoeier deur jou neus inasem. 34
surplus Oorbodig; te veel; oortollig. 34
tabak Gedroogde blare van die tabakplant (Nicotiana tabacum), wat in ʼn pyp, sigaar of sigaret gerook of as pruimpie gekou word. 34
uit te voer Aan (iemand in) die buiteland verkoop en daarheen stuur. 34
verbou Kweek. 34
verslawende Nie in staat om sonder iets klaar te kom nie; heeltemal oorgegee aan iets. 34
verversingsposte ʼn Verversingspos of verversingstasie moes water en vars groente en vrugte aan die verbyvarende skepe voorsien. 35

Lees hierdie om meer oor tabak te wete te kom

Kyk hierdie om meer oor tabakverbouing te leer

Van saadjie tot sigaret. Só word tabak verbou.

Die plant en oes van tabak.

Luister na ʼn voorlesing van die verhaal Van Hunks en sy pyp

 

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024