Vinnige feite
- Die wyn- en druifproduksie is een van Suid-Afrika se grootste landbousektore en dit is veral so in Wes-Kaapland. Die wynbedryf is stewig as leier onder landbou-uitvoerprodukte gevestig en dra jaarliks meer as R22 miljard tot die land se ekonomie by. 13
- ’n Hortoloog is iemand met diepgaande kennis van alle produksie-aspekte asook die fisiologiese prosesse betrokke by die produksie van vrugte en snyblomme. 9
- Die woord agronomie kom van die Griekse woorde agros wat ‘veld’ beteken en nomos wat ‘bestuur’ beteken. Agronomie behels dus die studie, wetenskap en verbetering van grond, graan-, proteïen- en oliesaadgewasse en die goeie bestuur daarvan om voldoende voedselvoorsiening aan ’n steeds groeiende wêreldbevolking te verseker. 9
- Suid-Afrika het in die afgelope 10 jaar omtrent 12-14 miljoen ton mielies per jaar geoes.
- Springmielies word van mieliesade (gedroogte mieliepitte) gemaak. 6
- Lemoene kan ook in woestyn- en halfwoestyngebiede groei, solank as wat hulle genoeg water kry en dit nie ’n koue gebied is nie. 6
- Tropies is ’n woord vir warm, nat toestande. Tropiese vrugte soos piesangs, papajas, pynappels en koejawels is vrugte wat die beste in warm, nat plekke groei. 6
- Avokado’s is tropiese vrugte. 6
- Ongeveer eenmiljoen mense (oftewel 2% van die Suid-Afrikaanse bevolking) verkry hul inkomste uit die suikerindustrie. 4
- Aartappels is ryk aan Vitamiene C en een aartappel verskaf ongeveer die helfte van die dosis wat volwassenes per dag benodig. 14
- Rosyne word op matte en sementoppervlakke onder sinkdakke teen ʼn temperatuur van 38-42 °C vir sewe tot nege dae gedroog. 7
In Suid-Afrika word ongeveer 38% van die land se oppervlakte deur kommersiële landbou in beslag geneem. 1 Landbou is die wetenskap en praktyk van boerdery en alles wat daarmee verband hou. Ons noem dit ook die boerderybedryf. 2
Daar is verskillende afdelings in landbou, naamlik gewasboerdery en veeteelt. (Veeteelt is die aanteel van vee as bedryf en word ook veeboerdery genoem. 2)
Die woord gewas verwys na ’n bepaalde soort plant, byvoorbeeld: die vernaamste gewasse wat langs die Oranjerivier verbou word, is druiwe, sagtevrugte, groente, lusern en katoen. 2
Gewasboerdery sluit twee hoofgroepe in:
- Akkerbou is die afdeling van landbou wat plantaardige produkte voortbring, byvoorbeeld mielies, koring, sonneblomsaad, grondbone en suikerriet. 2
- Tuinbou is die afdeling van landbou wat die kweek van groente, vrugte, blomme, struike en bome insluit. Sagtevrugte soos appelkose en perskes, pynappels, piesangs, asook verskeie groentes word hierby ingesluit. 2
Die begin van boerdery in Suid-Afrika
Sedert die begin van Suid-Afrika se geskiedenis, het die landbou ’n rigtinggewende rol in die land en vir sy inwoners gespeel.
Jan van Riebeeck se koms aan die destydse Kaap de Goede Hoop het gelei tot boerdery deurdat mense vars groente en vrugte benodig het wanneer hulle tydens hul skeepsreise by die Kaap aangedoen het. Soos die nedersetting in daardie tyd uitgebrei het, het die landboubedrywighede verder ontwikkel en landboustreke is in Stellenbosch en Drakenstein oopgestel. Die koms van die Franse Hugenote in 1688 het tot verdere uitbreiding van boerdery gelei en die trekboere het tydens die 18de eeu ook boerdery na die binneland van Suid-Afrika geneem. 3
Gewasboerdery verskaf kos en werk
Deur die plant van sade en die oes van produkte, voorsien boere nie slegs kos aan die bevolking van Suid-Afrika nie, maar stel ook gewasse beskikbaar vir die uitvoer na ander lande. Boerdery skep dus uit die aard van die saak werkgeleenthede vir duisende plaasbestuurders en -arbeiders wat op die plase woon en werk. Boerdery genereer ook besigheid vir trekker-, saad-, chemikalieë- en kunsmismaatskappye wat verskeie boerderybenodigdhede verskaf.
Landbouprodukte word deur nywerhede verwerk, verpak en deur kleinhandelaars verkoop. Selfs landbouversekeraars vorm deel van die landboubedryf: boere neem versekering uit indien dit sou gebeur dat hul oeste weens slegte weersomstandighede of droogtes misluk. 4
Natuurlike groei en boerdery
Daar is ’n verband tussen die plantegroei wat natuurlik in ’n gebied sal groei teenoor die gewasse wat aangeplant word vir boerdery.
Klimaat affekteer die natuurlike plantegroei van ’n gebied en bepaal watter tipe gewasse daar sal groei.
Mielies groei byvoorbeeld die beste in graslandgebiede. Mielies, net soos die lang grasse van graslande, benodig warm, nat somers om te groei. En, soos die grasse, droog die mielies uit in die koue, droë winters.
Sommige vrugte soos piesangs, veselperskes (mango’s), lietsjies en papajas benodig weer warm, nat klimate. Die meeste van hierdie vrugteplase is dus geleë aan die oostelike deel van Suid-Afrika, waar daar warm en klam toestande heers. Hierdie deel staan bekend as die Laeveld en dit sluit groot dele van Limpopo en Mpumalanga in. 5
Akkerbou
Koring, mielies, sonneblom, suikerriet, graansorghum, sojabone, katoen, droëbone en grondbone is van die bekendste akkerbougewasse wat jaarliks in Suid-Afrika verbou word.
Graan, ’n akkerbougewas, is die geoesde saad van grasse soos koring, hawer, rys, sorghum, giers (ook bekend as mannakoring), rog en gars. 6
Mielies
Mielies is ’n tipe gras met sade wat mense en diere eet. Dit is die belangrikste gewas waarmee in Suid-Afrika geboer word. Dit groei die beste in die somerreënval-graslandgebiede, maar kan feitlik in enige grond groei, behalwe natuurlik uitsonderlike droë plekke. Die meeste mielieplase kom in die noordelike provinsies voor: Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en die besproeiingsgebiede in Limpopo en die Noord-Kaap. 6
Mieliesaad word geplant vanaf Oktober tot November, ná die eerste somerreën. Die plante groei dan tydens die somer totdat die mieliekoppe ryp is vir oes teen April en Mei. Ná afloop van die oes, word die oorblywende stele, gras en blare van die plante vir veevoer gebruik of in die grond teruggeploeg. 6
Die Vrystaat is al jare lank vir die grootste mielieaanplantings van Suid-Afrika se nege provinsies verantwoordelik – meer as 40% van die totale oppervlakte is vir mielieverbouing opsygesit. 4
Koring
Koring is die tweede grootste gewas wat in Suid-Afrika aangeplant word en speel ’n belangrike rol in die nasionale voedselsekuriteit van die bevolking. Die meeste van die koring wat in ons land geplant word, is koring vir brood, met kleiner hoeveelhede durumkoring wat spesifiek vir die maak van pasta gebruik word.
Koring word in Suid-Afrika dus grootliks vir menslike verbruik aangewend soos vir brood, koek, ontbytgraan, beskuit, ensovoorts, terwyl die oorblywende koring gebruik word vir saad en veevoer.
Daar is nog gebruike van koring soos die produksie van alkohol vir etanol, kleefmiddels en ander industriële gebruike.
Koring word tussen April en Junie in die winterreënvalgebiede geplant en tussen Mei en Julie in die somerreënvalgebiede. 4
Gars
Gars is naas mielies en koring die belangrikste soort graan in Suid-Afrika. Die grootste garsplantasies kom in die Suid-Kaap tussen Botrivier en Heidelberg voor. Weens onvoorspelbare weerstoestande in die Suid-Kaap, is garsproduksie ook in koeler besproeiingsgebiede in die Noord-Kaap uitgetoets. Daar is ook boere in Noordwes, Limpopo en die Vrystaat wat kleiner hoeveelhede gars plant en besproei.
Gars word in ’n korter periode, wat wissel tussen drie tot vyf weke, geplant. Gars word hoofsaaklik gebruik vir die produksie van mout vir die brou van bier, veevoer en pêrelgars. 4
Sonneblomsaad
Die Vrystaat en Noordwes is die grootste vervaardigers van sonneblomsaad, gevolg deur Limpopo, Mpumalanga en Gauteng. Suid-Afrika is die wêreld se 10de grootste vervaardiger van sonneblomsaad.
Sonneblomsaad kan geplant word vanaf die begin van November tot einde Desember in die oostelike dele en tot middel Januarie in die westelike dele. Sonneblomme groei die beste wanneer dit geplant word in die midsomer om te verseker dat minder vog uit die grond verlore gaan tydens die belangrikste groeifases. Sonneblomme groei goed in droë omstandighede. Mielieboere boer ook soms met sonneblomme omdat die toestande gewoonlik gunstig is om sonneblomme ná afloop van ’n mielie-oes te plant.
Sonneblomsaad word grotendeels gebruik vir die vervaardiging van sonneblomolie. Die olie word gebruik vir kook en kan ook tot diesel verwerk word. Margarien en ander smere word van ook van sonneblomolie gemaak. 4
Kanola
Kanola is ’n oliesaadgewas wat hoofsaaklik in die Wes-Kaap aangetref word. Dit het mettertyd uitgebrei na ander dele van die land soos die Noord-Kaap, Vrystaat, Oos-Kaap, KwaZulu-Natal, Limpopo en Noordwes wat kleiner hoeveelhede kanola begin aanplant het.
Kanola ding mee met ander oliesade soos sonneblomsade en sojabone. Kanolaplantasies is bekend vir hul pragtige geel blommetjies en kan die gebied waarin hul groei, verander in prentjiemooilandskappe van groen en geel. 4
Suikerriet
Suid-Afrika vervaardig hoëgehaltesuiker teen ’n mededingende prys. Die suikerbedryf is ’n diverse industrie wat boerderyaktiwiteite van suikerriet met die industriële sektor kombineer vir die produksie van rou- en verwerkte suiker, stroop en fynproewersuiker.
Die suikerrietplantasies kom hoofsaaklik in KwaZulu-Natal voor, asook op kleiner skaal in Mpumalanga en die Oos-Kaap.
Suikerriet is ’n soort gewas wat nuwe spruite uitskiet nadat die riet geoes is. Dit kan tot tien oeste oplewer, waarna die land omgeploeg word en nuwe plantasies aangeplant word. Suikerriet word gewoonlik geplant ná die eerste lentereën.
Suid-Afrika val onder die top-15 suikerproduserende lande uit 120 lande wêreldwyd. Die industrie produseer ’n gemiddeld van 2,2 miljoen ton suiker per seisoen. Ongeveer 75% daarvan word in Suid-Afrika verbruik, terwyl die res na Afrika, Asië en die VSA uitgevoer word. 4
Katoen
Katoen is ’n gewas wat in die warm streke van die land groei, naamlik Limpopo, Mpumalanga, Noord-Kaap, Noordwes en KwaZulu-Natal waar die minimum temperatuur ongeveer 15 °C tydens die groeiseisoen is. Katoen word hoofsaaklik geplant gedurende Oktober, maar die planttyd kan verleng word tot die tweede helfte van November.
Benewens tekstielprodukte soos onderklere, sokkies en T-hemde, word katoen ook in visnette (as aas) gebruik. Katoen word ook gebruik vir die maak van koffiefilters, tente, boekbinders en argiefpapier. 7
Olie wat vanaf katoen afkomstig is, word gebruik vir kook en slaaisouse. Saad afkomstig van katoen kan gebruik word as bemesting of as voer vir vee, pluimvee en vis. 4
Rooibostee
Die rooibosplant is inheems aan die Sederbergstreek waar temperature tot 0 °C val gedurende die wintermaande en tot 48 °C in die somer styg.
Suid-Afrika produseer gemiddeld 15 000 ton rooibostee per jaar. Suid-Afrikaners verbruik 4 500 tot 5 000 ton en die res word uitgevoer na ander lande.
Rooibostee is veral bekend vir sy vele gesondheidsvoordele vanweë die antioksidante wat dit bevat. Daar is bevind dat rooibostee in ’n sekere mate kan help om siektes soos kanker te voorkom en te behandel, hoewel nie genees nie. 4
Die besonderse eienskappe en voordele van rooibos, oftewel Aspalathus linearis, is reeds in die 1700’s opgemerk en daar is in 1904 begin met die bemarking van rooibos. Maar nóg vroeër het die inheemse mense van die Kaap dié plant vir sy medisinale voordele gebruik. 8 9
Tuinbou
Sitrusvrugte, sagtevrugte, aartappels en ander groente is van die bekendste tuinbougewasse wat in Suid-Afrika geproduseer word en ’n paar voorbeelde sluit die volgende in:
Sitrus- en subtropiese vrugte
Sitrusvrugte sluit lemoene, nartjies, pomelo’s en suurlemoene in.
Suid-Afrika neem ’n 13de plek in die wêreld se sitrusproduksie in en is, naas Spanje en Turkye, die wêreld se derde grootste uitvoerder van vars sitrusvrugte. Sitrusproduksie is grotendeels beperk tot besproeiingsgebiede en word aangetref in Limpopo, Oos-Kaap, Wes-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Noord-Kaap.
Pynappels groei merendeels in die Oos-Kaap en die noorde van KwaZulu-Natal. Ander subtropiese gewasse soos avokado’s, mango’s, piesangs, lietsjies, koejawels, papajas, grenadellas, makadamia- en pekanneute word hoofsaaklik in Mpumalanga en Limpopo, asook aan die subtropiese kus van KwaZulu-Natal en in die Oos-Kaap aangetref.
Subtropiese toestande behels warm tot baie warm somers en middelmatige winters. 4
Aartappels
Aartappels is ’n veelsydige groentesoort waarvan jaarliks ongeveer 2 miljoen ton in Suid-Afrika geproduseer word. Die totale oppervlakte wat vir aartappelboerdery gebruik word, is ongeveer 50 000 hektaar. Sowat 8% van die aartappels wat in ons land geproduseer word, word uitgevoer.
Aartappels het hoë kaliumvlakke wat goed is vir mens se gesondheid en help om bloeddruk te reguleer. Aartappels bevat ook vitamiene A, B en C en ’n bietjie yster, fosfor, kalsium en eiwit. Die meeste van die vitamiene kom egter in die aartappel se skil voor. 10
Daar is 16 produksiegebiede in Suid-Afrika, verspreid oor veral Limpopo, die Wes-Kaap, Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal. 4
Daar word meer as 80 aartappelkultivars in Suid-Afrika verbou. 7
Druiwe en wyn
Suid-Afrika is die agste grootste wynprodusent ter wêreld met ’n totale bydrae van 4,1% tot die wêreld se wynproduksie.
Die wynindustrie verskaf werk aan ongeveer 270 000 mense op ’n direkte en indirekte wyse.
Wyn word grotendeels in die Westelike Provinsie verbou asook in dele langs die Oranjerivier en in die Noord-Kaap. Die wingerde in hierdie gebiede is skilderagtig mooi met rye groen priële. Ná die oestyd verkleur die blare na wynrooi, roesbruin, oranje en geel voordat die wingerdstokke hul blare verloor. 4
Suid-Afrika is die Suidelike Halfrond se oudste en mees betroubare verskaffer van tafeldruiwe. Tafeldruiwe word gebruik terwyl dit vars is, anders as druiwe wat spesifiek vir die produksie van wyn, sap of rosyntjies gekweek word. Tafeldruiwe het ook ’n laer suikerinhoud as wyndruiwe. Oestyd geskied oor ’n tydperk van sewe maande wat begin in Oktober en eindig in Mei. 11
Ongeveer 90% van alle rosyntjies bestaan uit die saadlose Thompson-kultivar. Dit is ’n wit dunveldruif wat die beste rosyne wat vandag beskikbaar is, produseer. Dit het ’n hoë suikerinhoud en die droog daarvan verminder die hoeveelheid water en verhoog die suiker tot 60% terwyl dit as vars druiwe ongeveer 22% suiker bevat. ’n Mens benodig amper 2 kg druiwe om ’n halwe kilogram rosyntjies te produseer! 8
Makadamianeute
Suid-Afrika kompeteer met Australië as een van die grootste produsente van makadamianeute. Dit is die grootste groeiende gewas in Suid-Afrika, terwyl dit ’n redelik nuwe gewas is wat sy verskyning in die Suid-Afrikaanse gewasboerdery gemaak het.
Die totale waarde van Suid-Afrika se makadamianeutproduksie in 2020 beloop sowat R4,8 miljard.
Makadamianeute word tans hoofsaaklik in Limpopo, Mpumalanga en die kusstrook van KwaZulu-Natal verbou. 12
Die makadamianeut se smaak en gesondheidseienskappe, wat Omega 7 insluit, is deel van die faktore wat tot die neut se gewildheid bydra. 9
Ander groente
Groente word geproduseer in die meeste dele van Suid-Afrika. Boere fokus wel meestal op spesifieke groentesoorte, byvoorbeeld, groenbone word meestal in Kaapmuiden, Marble Hall en Tzaneen geplant, terwyl groenertjies in George en Vaalharts aangeplant word. Aspersies kom meestal in Krugersdorp en Ficksburg voor. Tamaties word ook landwyd geproduseer, maar die grootste hoeveelhede daarvan kom in Limpopo, die Mpumalanga-Laeveld en -Middelveld, die Pongola-gebied van KwaZulu-Natal en die suidelike dele van die Oos-Kaap en Wes-Kaap voor. Uie word meestal in Mpumalanga aangetref, maar ook in sekere dele van die Wes-Kaap, suidelike Vrystaat en alle gebiede in Limpopo. Koolsoorte word landwyd aangetref, maar die grootste produksie daarvan geskied in Mpumalanga en KwaZulu-Natal. 4
Woordbank
argiefpapier | Argiefpapier is ‘n besonder permanente, duursame suurvrye papier. Argiefpapier is bedoel om gebruik te word vir publikasies van hoë regs-, historiese of beduidende waarde. 15 |
etanol | Kleurlose alkohol wat verkry word uit die gisting van suiker of stysel en deur chemiese sintese; en gebruik word as oplosmiddel en bymiddel of vervangingsmiddel by petroleumbrandstowwe; etielalkohol 2. Dit staan ook bekend as groenenergie omdat dit hernubaar is en nie nadelige gevolge vir die omgewing het nie. |
industriële | Gesamentlike bedrywe wat grondstowwe of halfverwerkte stowwe tot gebruiksgoedere verwerk; nywerheid; vervaardigingsbedryf. 2 |
klimaat | Die algemene lug– en weerstoestand van ’n plek of streek. 2 |
kommersiële | Wat betref die koop en verkoop van goedere of dienste; wat die handel betref. 2 |
prieel | Stellasie of latwerk waarteen en waaroor wingerdstokke en ander rankplante opgelei is of opgelei kan word om teen te groei en ook koelte te bied. |
versekering | ’n Ooreenkoms waarby, teen betaling van ’n premie, ’n gewaarborgde uitkering van fondse op ’n sekere leeftyd of ná die dood, of as skadevergoeding in die geval van ’n ongeluk of brand, diefstal, haelskade, ensovoorts. 2 |