Vinnige feite

  • Daar is 10 UNESCO-wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika.
  • Mense het meer as een miljoen jaar gelede reeds in die omgewing van die Makhonjwa-berge gewoon.
  • Sommige vulkaniese rotse in die Makhonjwa-berge is meer as 3 miljard jaar oud.
  • Die dorp Barberton is vernoem na George Barber wat in daardie omgewing na goud gesoek het.
Foto: iStock

Die Makhonjwa-berge is in Barberton in die Mpumalanga-provinsie geleë en strek oor ʼn groot deel van die provinsie se oppervlak 1. 80% van die bergreeks is in Mpumalanga geleë en die oorblywende 20% in eSwatini (voormalig Swaziland). Die bergreeks staan ook bekend as die Barberton-bergreeks. Die naam Barberton is vernoem na George Barber wat een van die persone was wat die soektog na goud in hierdie omgewing begin het. Hierdie soektog het aanleiding gegee tot die stigting van die dorp Barberton. 1

Waarom is hierdie bergreeks belangrik?

Die Makhonjwa-bergreeks is een van die wêreld se oudste geologiese verskynsels. Hier vind mens onder meer vulkaniese rotse wat baie goed bewaar gebly het en wat dateer uit tye toe die kontinente wat ons vandag ken, hulle vorm begin aanneem het. Hierdie rotse is meer as 3 miljard jaar oud! 2

Die vulkaniese rotse wat hier gevind word, is oorblyfsels van die warmste lawa wat ooit op aarde gevloei het. Dit is dus vir navorsers belangrik om hier navorsing te doen omdat hulle daardeur baie leer oor die ontwikkeling van wat hier gebeur het oor miljoene jare heen 3. In 2014 is daar ontdek dat ʼn meteoor ʼn krater met ʼn deursnee van tussen 37 en 58 km gevorm het. 4

Geskiedenis

Navorsers het bewyse in die gebied gevind wat daarop dui dat mense meer as 1 miljoen jaar gelede hier geleef het. 1 ʼn Mikrofossiel van ʼn bakterie wat hier gevind is, dui egter daarop dat daar inderwaarheid ongeveer 3 miljard jaar gelede al tekens van lewe was. 5 6 In die Songimvelo-wildreservaat is daar werktuie wat uit die vroeë Steentydperk kom, gevind. 1

Die bergreeks was ook die tuiste van veeboere wat die groot grasvelde as weiding vir hulle vee gebruik het. Argeoloë het in hulle opgrawings die oorblyfsels gevind van woonplekke wat in klein dorpies saamgegroepeer was en wat mure rondom gehad het. Hierdie woonplekke het meer as 1 000 jaar gelede bestaan. Daar is ook rotskunsskilderye van Sangroepe gevind. 1

Wêrelderfenisgebied

In Julie 2018 is die bergreeks as ʼn Wêrelderfenisgebied deur die Die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) verklaar. 1 Die Makhonjwa-berge is een van 10 Wêrelderfenisgebiede in Suid-Afrika. 2

Die gebied is nie alleenlik as gevolg van die geskiedkundige agtergrond as Wêrelderfenisgebied verklaar nie, die besondere natuurskoon van die gebied het ook ʼn rol gespeel. Die omgewing toon ʼn wye verskeidenheid natuurverskynsels: groot grasvlaktes, woude, valleie, rotskoppies, grotte en berge, asook baie soorte wildlewe. Mens kan onder meer olifante, renosters, luiperds, buffels en ʼn groot verskeidenheid voëls hier sien. 1

Mense wat grond in hierdie gebied besit, moes instem dat hulle sal help om hierdie gebied vir die nageslag te help bewaar. Hulle samewerking is belangrik omdat hulle toegang vir toeriste wat die gebied wil besoek en ook vir navorsers wat verder in die gebied wil werk, moet gee. 5

Woordbank

fossiel Oorblyfsel van ʼn dier of plant wat vir baie jare in die gesteentes van die aarde bewaar gebly het.
vulkaniese Die beskrywing van voorwerpe, soos as of rotse, wat van ʼn vulkaan afkomstig is of daarop betrekking het. 7

Sien meer

Kyk hierdie video om nog meer te leer oor die Makhonjwa-bergreeks

Die geskiedenis van die Makhonjwa-berge

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2022 | Bygewerk op 26 Februarie 2024