Vinnige feite

  • Daar is rotse wat uit die ruimte kom! Ons noem dit meteoriete. Meteoriete kan uit meer verskillende elemente of minerale bestaan as ’n tipiese aardse gesteente. Gewoonlik bestaan meteoriete meestal uit yster.
  • Klippe kan nie gewoonlik gebuig word nie, of hoe? Wel, een uitsondering is dun plate itakolomiet, ’n seldsame sandklip wat in Indië en Noord-Carolina in die VSA voorkom. Danksy sy kristalagtige struktuur kan dit met die hand gebuig word.
  • Die indrukwekkende Devils Tower, ’n reusagtige monoliet (enkele rotsblok) op die Wyoming-vlakte in die VSA, is ’n uitstekende voorbeeld van magma wat deur die aarde se oppervlak gedring en so te sê hemelwaarts “gespuit” het.
Foto: iStock

Het jy al opgelet dat alle klippe verskil, nie net wat grootte en vorm betref nie, maar ook kleur en samestelling? Klippe (’n mens kan dit ook rotse of gesteentes noem) verskil van dorp tot dorp, land tot land, kontinent tot kontinent.

Die klippe wat ’n mens in die Karoo aantref, verskil baie van die fyn klippies wat ’n mens op Bloubergstrand in die Kaap vind. Net so verskil die klippe en rotsformasies in die Malutiberge in Lesotho, die Magaliesberge, die Alpe, die Andes, Mauna Kea in Hawaii en die Cordillera-bergreeks in die VSA almal van mekaar. 1

Iets wat alle klippe of gesteentes gemeen het, is dat dit meestal, wel, kliphard is. Dit is ’n vaste stof wat bestaan uit ’n klomp verskillende minerale. Agt elemente maak meer as 90% van die wêreld se klip uit: suurstof, silikon, aluminium, yster, kalsium, natrium, kalium en magnesium.

Gesteentes is oor die algemeen nie eenvormig (dieselfde) nie en bestaan nie uit presiese strukture wat deur wetenskaplike formules beskryf kan word nie.

Wetenskaplikes (soos geoloë – oftewel mense wat onder meer gesteentes, grond, fossiele, berge en aardbewings bestudeer) kan baie inligting uit ’n klip aflei, soos die ouderdom van die klip en hoe en waar dit gevorm het. Sommige gesteentes bestaan uit net een mineraal, terwyl ander weer uit baie verskillende lae of deeltjies bestaan wat oor jare saamgedruk is en later in kleiner stukke klip of rotse afgebreek het.

Geologie is eers in die laat 18de eeu as ’n nuwe wetenskap beskou, te danke aan die waardevolle bydrae van die Skot James Hutton (1726-1797). ’n Baie groot deel van die klip- en mineraalsoorte wat ons vandag ken, het hul name by Viktoriaanse spesiesoekers gekry.

Drie soorte gesteentes

Ons kan tussen drie basiese klipsoorte of gesteentes onderskei, naamlik sedimentêre gesteentes, stollingsgesteentes en metamorfiese gesteentes.

Sedimentêre gesteentes is die algemeenste soort wat ons op die aarde se oppervlak sien, maar dit vorm net ’n klein deel van die aarde se kors in vergelyking met stollingsgesteentes en metamorfiese gesteentes. 2

Sedimentêre gesteentes (ons noem dit ook afsettingsrotse) word gevorm uit afgebreekte stukkies gesteentes en selfs uit die oorblyfsels van plante of diere. Die klein stukkies versamel in laagliggende gebiede deur mere, oseane en woestyne. Hulle word dan in rotsvorm saamgepers deur die gewig van die materiale rondom en bo-op hulle. Op die bergfoto bo kan die afsettingslae soos dit deur die eeue gevorm het, baie mooi gesien word. Geoloë kan hierdie inligting gebruik om te bepaal hoe oud so ’n gesteente is.

Sedimentêre gesteentes is baie belangrik, want dit gee ons leidrade oor die aarde se verlede. Voorbeelde van sedimentêre gesteentes is steenkool, sandsteen, skalie, kalksteen, kryt en gips.

Stollingsgesteentes is gewoonlik baie hard en word gevorm wanneer vulkane warm gesmelte rots, wat lawa genoem word, uitspuit. Dié lawa koel af en verhard sodra dit die aarde se oppervlak bereik, of dit vorm harde stollingsgesteentes in die aarde se kors. Voorbeelde hiervan is basalt en graniet. Sommige van die skouspelagtigste rotsformasies op ons planeet bestaan uit stollingsgesteentes.

Metamorfiese gesteentes word gevorm deur intense hitte en groot druk. Dit word gewoonlik in die aardkors aangetref waar daar genoeg hitte en druk is om dié gesteentes te vorm. Metamorfiese gesteentes word dikwels van ander soorte gesteentes gemaak. Byvoorbeeld skalie, ’n sedimentêre gesteente, kan verander word (’n metamorfose ondergaan) in ’n metamorfe gesteente soos leiklip. Ander voorbeelde van metamorfiese gesteentes sluit in marmer, antrasiet en speksteen.

Hoewel dié gesteentes baie hard is, kan dit beskadig word deur byvoorbeeld suurreën. 3

Gesteentes se vormingsiklus

Gesteentes verander voortdurend in die sogenaamde rotssiklus. Dit neem miljoene jare vir gesteentes om te vorm en verander. Gesteentes kan oor tyd van stollingsgesteente na sedimentêr na metamorfies verander. Dit hoef egter nie hierdie spesifieke siklus te volg nie. Dit kan van die een soort na die ander verander en in feitlik enige volgorde weer terugkeer.

  1. Gesmelte rots of vuurwarm magma word deur ’n vulkaan na die aarde se oppervlak gedruk. Die lawa koel af en vorm ’n stollingsgesteente.
  2. Vervolgens sal die weer, ’n rivier of ander gebeurtenisse hierdie rots stadig in klein stukkies sediment opbreek.
  3. Namate die sediment oor jare ophoop en verhard, word sedimentêre gesteentes gevorm.
  4. Hierdie sedimentêre gesteentes word stadig met ander gesteentes bedek en beland diep in die aardkors.
  5. As die druk en hitte hoog genoeg word, verander die sedimentêre gesteente in ’n metamorfiese gesteente en die siklus begin van voor af.

Fossiele

Het jy al geleer van fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en natuurlike gas? Wel, dit is honderde miljoene jare gelede gevorm uit die oorblyfsels van lewende organismes – daarom word dit fossielbrandstowwe genoem.

Dié oorblyfsels van plante en diere is oor miljoene jare in byvoorbeeld steenkool verander deur die druk van die rotslae van bo af. Steenkool is egter ’n niehernubare energiebron, wat beteken dat dié kosbare swart “klippe” eendag sal opraak.

Fossiele is belangrike bondgenote vir geoloë om die geskiedenis van die betrokke klip te bepaal. Fossielkorrelasie is een van die tegnieke wat geoloë gebruik om sekere afleidings oor spesies asook die vorming van die spesifieke gesteente te maak. 4

Die meeste fossiele is skulpe of die bene van diere. Baie is deur die jare vernietig omdat dit diep onder die aardkors ingesak het of wanneer ’n sedimentêre gesteente (waarin die meeste fossiele aangetref word) oor tyd in ’n metamorfiese gesteente verander het. 5

Devils Tower in die VSA is ‘n voorbeeld van magma wat na die aarde se oppervlak gebring is.

Woordbank

fossiele Enige oorblyfsel van ‘n dier/plant wat in gesteentes van die aarde bewaar gebly het.
geologie Wetenskap wat handel oor die aardkors, die lae waaruit die bestaan, hulle geskiedenis, en die kragte en prosesse wat daarin werksaam is.
magma Vloeibare vulkaangesteente.
sediment Afsaksel uit ‘n vloeistof; droesem; besinksel.
siklus
Periode/tydperk ná verloop waarvan sekere gebeurtenisse hulle herhaal; kringloop.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die verskillende soorte gesteentes 

Gesteentes en minerale

Leer meer oor rotse en rotsvorming

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 20 Februarie 2024