Vinnige feite

  • Van der Bijl was in die destydse Staats Model School in Pretoria, maar sy opvoeding is deur die Anglo-Boereoorlog ontwrig, want die skool is gesluit en in ʼn kamp vir krygsgevangenes omskep. 5
  • Toe Van der Bijl besluit het om in Duitsland verder te gaan studeer, het sy pa dit duidelik gemaak dat hy nie verder gaan betaal nie, en die geld vir sy studies sou dus ’n lening wees. 5
  • Sy bejaarde vader, wat by hom aangedring het om na Suid-Afrika terug te kom na Jan Smuts se aanbod, het in 1919 kort voor sy terugkeer gesterf. 1
  • Van der Bijl het homself nooit aan ’n politieke party gebind nie. 1
  • Die FRS het lede gehad soos Isaac Newton en William Thomson, beter bekend as lord Kelvin. 1
  • Sy boek, The Thermionic Vacuum Tube and its Applications (1920), was vir 20 jaar ’n standaardhandleiding oor dié onderwerp. 3
  • Die Universiteit van Pretoria besit ’n bronsbeeld van hom wat deur die beeldhouer Coert Steynberg gemaak is. 1
  • Die Universiteit van Pretoria bied jaarliks ’n Hendrik van der Bijl Gedenklesing aan. Die spreker in 2021 was André de Ruyter, die voormalige uitvoerende hoof van Eskom.
Foto: iStock

“Die grootste en eerbaarste funksie van wetenskap en ingenieurswese is om die lewenstandaard van mense te verhef.”

Die man wat hierdie woorde gesê het, was dr. Hendrik Johannes van der Bijl (1887-1948), ’n wetenskaplike, ingenieur en industrialis, en in sy tyd die voorste Suid-Afrikaner in al drie hierdie beroepe. 1

Van der Bijl het miskien meer as enige ander Suid-Afrikaner gedoen om Suid-Afrika te industrialiseer, veral in die tydperk ná die Eerste Wêreldoorlog.

Vroeë jare

Hendrik van der Bijl is op 23 November 1887 in Pretoria gebore, die vyfde uit ’n gesin van vier dogters en vier seuns van Pieter Gerhard van der Bijl en sy vrou Hester Elisabeth Groenewald. 2 Sy pa was ’n goeie vriend van die Boeregeneraals Louis Botha, Jan Smuts en J.B.M. Hertzog. 3

Ná die Britte die Transvaal gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) verower het, het die gesin na die Kaapkolonie verhuis. 2

Van der Bijl het aan die Hoërskool Franschhoek gematrikuleer. Hy het in 1906 begin studeer aan die Victoria-kollege op Stellenbosch (vandag die Universiteit Stellenbosch), 3 en verwerf in Desember 1908 sy graad in fisika met lof (met onderskeiding).

Hy was een van die slimste studente wat dié universiteit ooit gehad het, 2 en verskeie pryse is aan hom toegeken soos, onder meer, vir die beste student in wiskunde én fisika. 3

Hoofgebou van die Universiteit van Stellenbosch

Duitsland

Van der Bijl het besluit om elektrotegnologie – die praktiese toepassing van elektrisiteit – in Duitsland te gaan studeer. Hy het hom spoedig as navorser onderskei en het, onder meer, metodes wat sir William Thomson (later bekend as lord Kelvin) gebruik het, uitgebrei. In 1913 het hy sy doktorsgraad verwerf. 2 In sy tesis het hy bewys dat ’n elektron dieselfde fundamentele lading in geïoniseerde vloeistowwe as gasse dra. 3

Hierna het hy gewerk as assistant in fisika by die koninklike tegnologiese skool in Dresden, waar hy onder professor Wilhelm Hallwachs gewerk het en ook sy eie navorsing oor foto-elektrisiteit gedoen het. (Hallwachs was die ontdekker van die foto-elektriese effek wat later klankrolprente moontlik gemaak het.) 2

Sy werk het die aandag getrek van Robert Millikan, ’n vooraanstaande Amerikaanse fisikus, wat vir Van der Bijl oorreed het om by die Western Electric Company in die Verenigde State van Amerika (VSA) te gaan werk. 3

VSA

Van der Bijl se tyd in die VSA het ’n ingrypende uitwerking gehad op sy vorming as mens, navorser en nywerheidsbeplanner (iemand wat die verwerking van grondstowwe in fabrieke bestuur). Hy het die geleentheid gehad om die fenomenale industriële ontwikkeling (vervaardiging van goedere op groot skaal, soos in fabrieke) van die welvarende VSA mee te maak, en het baie geleer wat later van onskatbare waarde vir Suid-Afrika was. 2

Hy was een van die wetenskaplikes op die voorhoede (voorste punt) van Amerika se tegnologiese ontwikkeling en het hom veral toegelê op radio en telefonie (elektriese oorbring van geluid, veral van ’n stem). Sy navorsing en toepassing daarvan het langafstand-radiotelefonie moontlik gemaak.

In 1914 is New York en San Francisco oor ’n afstand van amper 5 000 km met mekaar verbind, en in 1915 is die eerste transatlantiese radioboodskap tussen die Eiffel-toring in Parys en Arlington, Virginia gestuur (met ander woorde mens kon iemand se stem hoor sonder ’n kabel wat die twee plekke verbind). 2

Hy was as deskundige op die gebied van termionika – die proses waarby hitte na energie omskep word – geken, en het lesings by universiteite gelewer. Hy het ook in 1915, met ander woorde voor sy 30ste verjaarsdag, die Society of Planners and Builders saam met sy kollegas gestig. 2

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het die Amerikaanse regering hom genader om te help met die land se verdediging. Hy was ook betrokke by die Bell Telephone Laboratories, die maatskappy wat gestig is deur Alexander Graham Bell, wat bekend is as die uitvinder van die telefoon. 3

Alexander Graham Bell

Hy het oplossings gesoek vir die stuur van beelde per telegraaf en radio. Sy voorstel dat foto-elektriese selle daarvoor gebruik kan word, is ‘n metode wat vandag nog in televisieuitsendings en klankrolprente toegepas word. 2

Terug na Suid-Afrika

Ná afloop van die Eerste Wêreldoorlog het Jan Smuts, toe die eerste minister van Suid-Afrika, besef dat die land gereed was om industrieel te ontwikkel en dat Suid-Afrika ryk natuurlike hulpbronne gehad het wat ontgin moes word. Daar was ook voorstelle dat die spoorweë in Suid-Afrika geëlektrifiseer word. In hierdie stadium was daar egter nie een organisasie wat landwyd vir die verspreiding van elektriese krag gesorg het nie. 2

Smuts het vir Van der Bijl uitgenooi om die wetenskaplike en tegniese raadgewer van die Departement van Mynwese te word. 3 Van der Bijl het die pos aanvaar, ondanks die feit dat hy baie goeie vooruitsigte in die VSA gehad het. Hy het geglo dat Suid-Afrika voor ’n blink toekoms gestaan het, 2 en het self gesê: “Suid-Afrika kan nie bekostig om onbewus te wees van die massiewe veranderings wat in ander lande plaasvind nie. Mens kan nie anders as om beïndruk te wees met die enorme industriële moontlikhede in hierdie land nie.” 3

Werk in Suid-Afrika

Tot in die 1920’s was Suid-Afrika se ekonomie gebou op landbou en mynbou. Om die skuif te maak na industrialisasie, moes daar eers ’n paar wette deur die regering aangeneem word om Suid-Afrika voor te berei op nywerheidsontwikkeling. Van der Bijl was self die argitek van die belangrike Wet op Mate en Gewigte van 1922, 2 wat Suid-Afrika ’n eenvormige beleid vir mate en gewigte gegee het.

Eskom

Een van die dringendste behoeftes in Suid-Afrika was ’n omvattende struktuur vir die verspreiding van elektrisiteit. Van der Bijl se ideaal was om goedkoop elektrisiteit aan myne, landbou, opkomende industrieë en gewone huishoudings te verskaf. Hy het saam met sir Robert Kotze gewerk aan die opstelling van die Elektrisiteitswet. In 1923 is die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) – vandag bekend as Eskom – gestig, met Van der Bijl as eerste voorsitter. 2

Eskom het in daardie tyd ʼn Afrikaanse en Engelse naam gehad: die Elektrisiteitsvoorsieningskommissie (Evkom) en die Electricity Supply Commission (Escom). Dié twee name is in 1987 gekombineer (saamgevoeg) en die maatskappy is tot vandag algemeen bekend as Eskom. 4

 

Eskom was ’n niewinsgewende openbare diensmaatskappy. Van der Bijl moes geld by die regering leen (R16 miljoen rand teen 5% rente) 3 om die maatskappy aan die gang te kry. Eskom was gelukkig so suksesvol dat die geld spoedig terugbetaal is. Veertig jaar later het die waarde van Eskom-bates meer as dertigvoudig vermeerder en het die maatskappy meer as 16 000 werknemers gehad (6 100 wit mense en 10 000 bruin en swart mense; in daardie tyd bekend as nieblankes). 2

Die stigting van Eskom het die beplande gevolg gehad: nywerheidsontwikkeling in Suid-Afrika het gefloreer. 2

Yskor

Van der Bijl het geglo daar is twee aspekte tot ’n rooskleurige nywerheidstoekoms: goedkoop elektrisiteit en goedkoop staal. Die eerste was gedoen, nou was dit tyd om op die tweede te fokus. 2 In hierdie stadium is omtrent alle staal in Suid-Afrika uit die buiteland ingevoer. Ten spyte van groot teenkanting teen die stigting van ’n eie staalnywerheid in Suid-Afrika, het Van der Bijl deurgedruk. 1 Saam met CF Delfos het hy gewerk aan die Yster- en Staalnywerheidswet, ’n 1928-wet wat die weg gebaan het vir die stigting van die Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie (Yskor). 5

Oorspronklik besit deur Yskor en hernommer vanaf Yskor 18D by oordrag na die Suid-Afrikaanse Spoorweë

Van der Bijl was die voorsitter van Yskor tot kort voor sy dood. Hy het saam met Delfos in die buiteland gaan reis waar hulle die staalvervaardigingsproses noukeurig gaan navors het. Yskor het Suid-Afrika se eerste staal in 1934 vervaardig, 3 en kort voor lank kon Suid-Afrika die goedkoopste staal in die wêreld lewer! 4

Nywerheidsgroei

Van der Bijl se drome is ryklik beloon. Die beskikbaarheid van goedkoop staal het nywerheidsontwikkeling gestimuleer en nuwe industrieë het orals ontstaan. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het Yskor ’n bykans onmisbare bydrae tot die voorsiening van oorlogsvoorrade gemaak. Die ekonomiese ontwikkeling van die land is nóg verder aangewakker, veral in ’n tyd toe die oorlog gemaak het dat geen staal uit die buiteland verkrygbaar was nie. 2

Yskor het só vinnig gegroei dat uitbreidings in die vooruitsig gestel is. In 1942 is begin met planne vir ’n nuwe staalaanleg op Vanderbijlpark, naby Vereeniging (wat na Van der Bijl vernoem is). Hierdie aanleg, waarvan die bouwerk in 1946 begin is, was drie keer so groot soos die oorspronklike Yskor in Pretoria. 2

Daar is later ook groot staalaanlegte in Newcastle en Secunda gebou. 4

Amkor, Vikor en NOK

Intussen het Van der Bijl bewus geword van hoe Suid-Afrika se voorrade van onedele metale (metale wat roes, soos koper, lood en sink) verwaarloos en verkwis word deur die uitvoer van hoë gehalte ertse (rotse of grond wat metale bevat). Deur sy toedoen is daar in 1937 oorgegaan tot stigting van Afrika-Metale-korporasie (Amkor), wat die ontginning en verwerking van hierdie metale moes bevorder. 2

Hy het ’n leidende rol gespeel in die totstandkoming van die Vanderbijl Ingenieurskorporasie Beperk (Vikor), omdat hy geglo dat die land se nywerheidstoekoms van die swaar ingenieursbedryf afhanklik was. Vikor het daarvoor gesorg dat Suid-Afrika op nywerheidsgebied nóg meer onafhanklik van die buiteland geword het. 2

In 1940 het hy die voorsitter van die nuut gestigte Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) geword, waarvan die doel was om binnelandse industriële ontwikkeling te bevorder. Van der Bijl se onverpoosde (sonder pouse of rus) werk op hierdie gebied het Suid-Afrika se industriële groei op ’n hegte en gesonde grondslag geplaas. 2

Welsyn van sy werkers

Van der Bijl het baie belanggestel in die welsyn (gesondheid en voorspoed) van sy werkers. Hy het hom toegespits op ’n goeie verhouding tussen werkgewer en werknemer en dat die belange van die werkers effektief behartig word. Hy het pensioen- en mediese hulpskemas in die lewe geroep. Hy het ook ’n grondige studie van dorspbeplanning gemaak: as gevolg daarvan het die Yskor-behuisingsmaatskappy en die Vanderbijlpark-eiendomsmaatskappy ontstaan wat vir doeltreffende behuising vir werkers gesorg het. 2

Ander belangstellings

Van der Bijl was betrokke by die oprigting van die radiosender deur die Marconi-maatskappy op Klipheuwel naby Kaapstad. Hy het reeds in 1920 die ontginning van olie uit steenkool in Suid-Afrika in die vooruitsig gestel. Hy het ook planne gehad vir die verbetering van landboumetodes. In 1946 was hy betrokke by die stigting van die South African Marine Corporation (Safmarine). 2

Rol gedurende die Tweede Wêreldoorlog

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is Van der Bijl aangestel as Direkteur van Oorlogsvoorrade en later Direkteur van Voorrade. 1 Hierdie poste het aan hom die status van minister gegee.3 Dit was veeleisende werk, maar hy het dit dwarsdeur die oorlog sonder vergoeding gedoen. 2

Congella kragstasie

Onder sy leiding is stappe gedoen vir die produksie van oorlogstoerusting. Sommige fabrieke het uniforms en komberse vervaardig, en die staalfabrieke wapens en ammunisie. Herstelwerk is gedoen aan die Britse leër se toerusting en talle vliegvelde is gebou om Britse vlieëniers op te lei. 4

Deur sy toedoen het nywerheidsproduksie dwarsdeur die oorlog aanhou vlot verloop. Nuwe nywerhede is gestig om in leemtes te voorsien waar die oorlog buitelandse voorrade afgesny het. Voorrade is landwyd gerantsoeneer (om die voorsiening van iets te beperk omdat daar nie genoeg daarvan is nie). Dit was grotendeels as gevolg van sy leiding gedurende die oorlogsjare dat Suid-Afrika na die oorlog in ’n sterker posisie as voor die oorlog was. 2

Dood

In 1948 was Van der Bijl op die kruin van sy skouspelagtige loopbaan, en in voorkoms en gees nog ’n jong man. Evkom was op dié tydstip die grootste elektrisiteitsvoorsieningsonderneming in suidelike halfrond en die werke by Yskor en Vanderbijlpark en sy ander ondernemings, was florerend. 2 In dié jaar het hy skielik siek geword van kanker. Hy is binne ses maande dood, 6 kort voor sy 61ste verjaarsdag. 2

Eerbetoon

Van der Bijl het in 1931 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch ontvang. In 1934 is hy aangestel as die kanselier van die Universiteit van Pretoria. In 1937 word hy ’n erelid van die Nederlandse Koninklijk Instituut van Ingenieurs, en in 1943 lid van die National Academy of Science van die VSA. 2

In 1945 het hy ’n FRS (Fellow of the Royal Society) geword, 2 waarskynlik die voorste wetenskaplike vennootskap ter wêreld. Van der Bijl het gevoel dat hierdie die grootste eer was wat aan hom gegee is. 3

In 1946 was daar probleme in Brittanje tussen die Britse regering en die Britse staalindustrie. Clement Attlee, die Britse eerste minister, het vir Van der Bijl genader om as bemiddelaar tussen die twee groepe op te tree, wat hy met sukses gedoen het. Sy voorstel dat daar ’n Board of Steel Control gevorm moes word, is aanvaar en hulle was so beïndruk, dat hulle hom onmiddellik die pos as voorsitter van dié Raad aangebied het. Hy het dit egter van die hand gewys om in Suid-Afrika te bly. 1

Wapen van die Royal Society van London

Persoonlike lewe

Op skool was hy geïnteresseerd in musiek, letterkunde en filosofie, maar dit was die presiesheid en logika van wetenskap wat hom die meeste aangetrek het. 3

Hy het in 1915 met Florence Lisette Wagner van Seattle in die VSA getrou. Sy was ’n musiekstudent wat hy in Duitsland ontmoet het. Daar is geen kinders uit dié huwelik gebore nie. In 1942 het hy weer getrou, met Ethel Buxton, en hulle het een seun en twee dogters gehad. 2

Hy was onopgesmukte man met eenvoudige smaak. Hy was baie trots op sy kinders en het graag oor hulle gepraat. 1

Hy was geïnteresseerd in ’n wye veld – van fotografie na flieks, tuinmaak en visvang. Hy het seëls versamel en ’n partytjie geniet. Hy het vroeër in sy lewe tennis gespeel en later gholf. 1

Van der Bijl was ’n fantastiese beplanner en kon vinnig dink. 3 Hy was ’n man van visie en ’n sterk wil, met ’n positiewe uitkyk op die lewe. 1

Aan die begin van die artikel is Van der Bijl se lewensuitkyk aangehaal: “Die grootste en eerbaarste funksie van wetenskap en ingenieurswese is om die lewenstandaard van mense te verhef.” 1 Hy het dit sonder twyfel en met groot sukses reggekry.

Woordbank

elektrotegnologie Die praktiese toepassing van elektrisiteit.
erts Rotse of grond wat metaal bevat.
industriële Die vervaardiging van goedere of ‘n stof soos steenkool of staal op groot skaal.
ingrypend Grootskaals, verreikend, omvattend; drasties.
met lof Met onderskeiding.
nywerheid Die werk en prosesse wat betrokke is by die verwerking van grondstowwe, veral op groot skaal, soos in ‘n fabriek.
onedele metale Metaal wat roes, bv. koper, lood en sink.
onverpoosd Sonder pouse of rus; onafgebroke.
rantsoeneer Die voorsiening van iets beperk omdat daar nie genoeg daarvan is nie.
telefonie Elektriese oorbring van geluid, veral van die stem; kuns van die telefoon; telefoonwese.
termionika Die proses waarby hitte na energie omskep word.
welsyn Gesondheid; voorspoed. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor HJ van der Bijl

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor HJ van der Bijl

Tien feite oor Hendrik van der Bijl

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Oktober 2022 | Bygewerk op 3 April 2024