Vinnige feite

  • Samuel Morse is geïnspireer om ’n manier van vinnige langafstandkommunikasie te vind nadat hy in 1825 ’n persoonlike tragedie beleef het. Terwyl hy in Washington was, het hy ’n brief van sy pa ontvang oor die skielike dood van sy vrou. Teen die tyd wat hy sy tuisdorp New Haven bereik het, was sy reeds begrawe. 7
  • In 1843 het Morse $30 000 in vandag se geldwaarde is dit sowat $1,2 miljoen of nagenoeg R22 miljoen) by die Amerikaanse kongres gekry om die eerste telegraaflyn te bou wat Washington DC en Baltimore, Maryland, verbind het. Dit was die eerste kommersiële telegraaflyn.
  • Morse se eerste boodskap per telegraaf was op 24 Mei 1844. Die boodskap het gelui: “Wat het God gedoen!” Dit was ’n gedeelte uit die Bybelboek Numeri, wat gekies is deur Annie Ellsworth, die dogter van ’n vriend. 8
Foto: iStock

Die telegraaf is ’n toestel wat tot en met die koms van die telefoon gebruik is om oor ’’n afstand te kommunikeer (boodskappe te stuur en te ontvang). Die telegraaf het elektrisiteit gebruik om gekodeerde boodskappe deur middel van kabels of drade te stuur. In die middel van die 1800’s was die telegraaf die vinnigste manier om oor lang afstande te kommunikeer. 1

Telegrawe werk dus deur die stuur van ’n elektriese pols of sein wat in lengte kan wissel en wat in teks vertaal of omskep word. Om per telegraaf te kon kommunikeer, moes daar twee telegraafmasjiene wees – een aan die kant van die sender (die een wat die boodskap stuur) en een aan die ontvanger (wat die boodskap kry) se kant. Albei die telegraafmasjiene moes met drade of kabels gekoppel wees. 2

Die woord telegraaf is afgelei van die Griekse woorde tele, wat “ver” beteken, en graphein, wat beteken “om te skryf”.

Deur die geskiedenis

In die vroeë 19de eeu het twee ontwikkelings op die gebied van elektrisiteit die grondslag gelê vir die produksie van die elektriese telegraaf. Eerstens, in 1800, het die Italiaanse fisikus Alessandro Volta (1745-1827) die battery uitgevind wat ’n elektriese stroom betroubaar kon opberg en dit in ’n beheerde omgewing kon gebruik. Tweedens, in 1820, het die Deense fisikus Hans Christian Oersted (1777-1851) die verband getoon tussen elektrisiteit en magnetisme deur ’n magnetiese naald met ’n elektriese stroom te buig.

Terwyl wetenskaplikes en uitvinders oor die wêreld heen met batterye en die beginsels van elektromagnetisme begin eksperimenteer het om ’n soort kommunikasiestelsel te ontwikkel, kom die eer vir die uitvinding van die telegraaf twee groepe navorsers toe: Sir William Cooke (1806-79) en Sir Charles Wheatstone (1802-75) in Engeland, en Samuel Morse, Leonard Gale (1800-83) en Alfred Vail (1807-59) in die VSA.

 

In die 1830’s het Cooke en Wheatstone ’n telegraafstelsel ontwikkel met vyf magneetnaalde wat deur ’n elektriese stroom na ’n paneel met letters en syfers gewys kon word. Hul stelsel is vir spoorwegseine in Brittanje gebruik. Gedurende dieselfde tydperk het Morse (wat sy loopbaan as skilder begin het) gewerk om ’n elektriese telegraaf te ontwikkel. Na verneem word, was hy geïnteresseerd in die idee nadat hy ’n gesprek oor elektromagnetisme gehoor het terwyl hy in die vroeë 1830’s van Europa na Amerika gevaar het en later meer oor die onderwerp by die Amerikaanse fisikus Joseph Henry (1797-1878) geleer het. 3

In samewerking met Gale en Vail, het Morse uiteindelik ’n enkeltelegraaf geskep wat gewerk het deur die operateursleutelskakelaar af te druk om die elektriese stroombaan van die battery te voltooi. Hierdie aksie stuur die elektriese sein via ’n draad na ’n ontvanger aan die ander kant. Al wat die stelsel nodig gehad het, was ’n sleutel, ’n battery, draad en ’n ry pale tussen stasies.Om boodskappe deur telegraafdrade te stuur, het Morse en Vail in die 1830’s die sogenaamde morsekode geskep.In 1843 het Morse en Vail finansiering van die Amerikaanse kongres ontvang om hul telegraafstelsel tussen Washington DC en Baltimore, Maryland op te stel en te toets.

Op 24 Mei 1844 stuur Morse die eerste historiese boodskap aan Vail: “Wat het God gedoen!” Die telegraafstelsel het daarna reg deur die VSA en die wêreld versprei, aangehelp deur verdere innovasies. Onder die verbeterings was die uitvinding van goeie isolasie vir telegraafdrade. Die man agter hierdie innovasie was Ezra Cornell (1807-1874), een van die stigters van die universiteit in New York. ’n Verdere verbetering deur die beroemde uitvinder Thomas Alva Edison (1847-1931) in 1874, was die Quadruplex-stelsel wat toegelaat het dat vier boodskappe gelyktydig met dieselfde draad gestuur kon word.

Die elektriese telegraaf het die manier hoe oorloë gevoer en hoe joernaliste en koerante sake gedoen het, baie verander. In plaas daarvan dat dit weke geneem het om boodskappe met perdekarretjies te stuur, kon nuus feitlik onmiddellik tussen telegraafstasies uitgeruil word. Die telegraaf het ook ’n groot ekonomiese uitwerking gehad, wat dit moontlik maak om geld oor groot afstande te stuur (vandaar die Engelse benaming om geld te “wire”).

Reeds teen die einde van die 19de eeu het daar nuwe tegnologieë begin ontstaan waarvan baie gebaseer is op dieselfde beginsels wat eers vir die telegraafstelsel ontwikkel is. Die koms van radio het telegrafie baie verander. Boodskappe is nou tussen die sender en ontvanger deur radiogolwe gestuur. ’n Telegrafis het die seine gestuur en ontvang. Dit was ’n maklike manier om boodskappe vinniger as ’n brief te stuur.

Mettertyd het hierdie nuwe tegnologie die telegraaf oorskadu. Hoewel die telegraaf vervang is deur die telefoon, faksmasjien en internet, is die uitvinding daarvan ’n keerpunt in die wêreldgeskiedenis. 4

Morsekode

Voordat morsekode uitgevind is, het langafstandkommunikasie bestaan ​​uit lamp-/ligseine vanaf heuweltoppe, rookseine, asook boodskappe wat geskree is. Morsekode is ’n soort kode wat gebruik word om telegrafiese inligting deur middel van ritme te stuur.

Morsekode gebruik kolletjies en strepies om die verskillende letters van die alfabet, syfers, leestekens en spesiale karakters van ’n spesifieke boodskap voor te stel. 5

Dit is vernoem na Samuel Morse, wat gehelp het om dit uit te vind. Dit word vandag nie soveel gebruik soos in die 19de en 20ste eeu nie. Sommige mense gebruik egter steeds morsekode om oor byvoorbeeld amateurradio te kommunikeer. Morsekode kan op verskillende maniere gestuur word. Op skepe is flikkerende ligte dikwels gebruik in plaas van radiokommunikasie.Morsekodespoed word gemeet in woorde per minuut.

’n Goed opgeleide operateur kan ongeveer 40 woorde per minuut in sy kop ontsyfer. Internasionale Morsekodekompetisies is van tyd tot tyd gehou. Die wêreldrekord word gehou deur Ted R. McElroy, wat 75,2 woorde per minuut ontsyfer het!

SOS

Die bemanning van ’n kernduikboot wat in die Baltiese See gesink het, is onlangs van reddingswerkers geïsoleer toe hul radio beskadig is. Gelukkig het hul radio-operateurs morsekode geken en kon hulle kommunikeer deur aan die kante van die skip te klop.  6

Daar is baie verduidelikings waarvoor die woord SOS staan, insluitend “Save Our Souls” of “Save Our Ship”. Die betekenis is egter dieselfde: dit is ’n pleidooi om hulp deur iemand in nood. Dit is ’n gekodeerde sein om hulp wat steeds gebruik word deur skepe, vliegtuie en gestrande mense wêreldwyse – dit meer as 100 jaar nadat morsekode uitgevind is.

SOS is die maklikste kode om te stuur en te herken. Die kode bestaan ​​uit drie kolletjies, drie strepies en drie kolletjies (… –  –  – …) ’n Mens kan dit op die telegraaf tik of met ’n fakkel, flitslig of selfs met ’n vlag sein.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die ontwikkeling van die telegraaf

Die uitvinding van die telegraaf

Hoe werk morsekode?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 18 Januarie 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024