Vinnige feite

  • Sedimentêre gesteentes kan ook gevorm word wanneer die skulpe van seediere na die seebodem toe afsak nadat dié diertjies doodgaan. Wanneer die skulpe ’n dik genoeg laag vorm, word hulle saamgepers en vorm dit rots.
  • Op plekke waar daar vlak water is, kan ’n ander soort sedimentêre gesteente gevorm word: As die omringende lug baie droog is, kan die water verdamp of opdroog en minerale agterlaat wat tot rots verhard.
  • Die oorblyfsels van plante en diere is oor miljoene jare in, byvoorbeeld, steenkool verander deur die druk van die rotslae van bo af. Steenkool is egter ’n niehernubare energiebron, wat beteken dat dié kosbare swart “klippe” eendag sal opraak.
  • Steenkool word ook as ’n sedimentêre gesteente geklassifiseer.
Foto: iStock

Vir geoloë (kenners wat, onder meer, gesteentes, grond, fossiele, berge en aardbewings bestudeer) is ’n rots ’n natuurlike stof wat bestaan ​​uit kristalle van verskillende minerale wat saamgevoeg is tot ’n harde vorm of klip. Die minerale het nie noodwendig gelyktydig gevorm nie, maar tog het die natuur dit alles met sy eie “wondergom” saamgepers en “aanmekaar geplak”. 1

Sedimentêre gesteentes (ons noem dit ook afsettingsrotse) word gevorm uit afgebreekte stukkies gesteentes en selfs uit die oorblyfsels van plante of diere. Die klein stukkies versamel in laagliggende gebiede deur mere, oseane en woestyne. Hulle word dan in rotsvorm saamgepers deur die gewig van die materiale rondom en bo-op hulle.

Sedimentêre gesteentes is baie belangrik, want dit help ons om leidrade te vind oor die aarde se verlede. Geoloë kan ook die lae bestudeer om te bepaal hoe oud die gesteentes is.

Ons kan tussen drie basiese soorte gesteentes onderskei, waarvan sedimentêre gesteentes een is. Die ander twee is stollingsgesteentes en metamorfiese gesteentes.

Sedimentêre gesteentes is die mees algemene soort wat ons op die aarde se oppervlakte sien, maar dit vorm ’n klein deel van die aarde se kors in vergelyking met stollingsgesteentes en metamorfiese gesteentes.

Stollingsgesteentes word gevorm wanneer magma of lawa van vulkane afkoel. Voorbeelde hiervan is basalt en graniet. Die meeste stollingsgesteentes is baie hard. Sommige van die skouspelagtigste rotsformasies op ons planeet is gemaak van stollingsgesteentes.

Metamorfiese gesteentes word gevorm wanneer ander gesteentes verander word as gevolg van hitte of druk. Voorbeelde sluit in leiklip en marmer. Dié gesteentes is baie hard, maar kan beskadig word deur, byvoorbeeld, suurreën. 2

Hoe word sedimentêre gesteentes gevorm?

Wanneer berge vir die eerste keer gevorm word, is dit hoog en met skerp punte soos die Rotsgebergte (Rocky Mountains) in Noord-Amerika. Soos berge verouder, erodeer (verslyt) die rots as gevolg van reën, sneeu, wind en lopende water – die skerp gedeeltes van die rots word dus stomper. Baie van die groot berge verkrummel dan stukkie vir stukkie.

Uiteindelik beland die meeste gebreekte stukkies klip of rots in strome en riviere wat teen die berge afloop. Hierdie klein stukkies rots en sand word sediment genoem. As die water stadig loop, sak die sediment in lae op die bodem van mere of oseane af.

Elke laag is soos die bladsy van ’n boek. Een stuk papier is nie swaar nie, maar ’n stapel of klomp boeke op mekaar is swaar en druk alles daaronder plat. Met die verloop van tyd verander die lae sand en modder aan die onderkant van mere en oseane in rotse wat sedimentêre gesteentes genoem word.

Dié gesteentes kan slegs gevorm word waar die sediment lank genoeg gelê het om harde lae te vorm wat saamgepers is. In die foto onder kan die lae in hierdie sedimentêre gesteente baie duidelik gesien word.

’n Mens kan die verskillende lae van sedimentêre gesteentes baie goed onderskei en dit vertel onder meer die volgende drie dinge:

  • Wat die omstandighede was waaronder dit gevorm het;
  • waaruit dit bestaan, byvoorbeeld minerale, organismes of klein stukkies plante; en
  • watter fossiele daarin voorkom en hoe hulle daar beland het.

Sedimentêre gesteentes kan ook gevorm word wanneer die skulpe van seediere na die seebodem toe afsak nadat dié diertjies doodgaan. Wanneer die skulpe ’n dik genoeg laag vorm, word hulle saamgepers en vorm dit rots.

Op plekke waar daar vlak water is, kan ’n ander soort sedimentêre gesteente gevorm word: As die omringende lug baie droog is, kan die water verdamp of opdroog en minerale agterlaat wat tot rots verhard. 3

Soorte sedimentêre gesteentes

Ons kan verskillende soorte sedimentêre gesteentes onderskei:

  • Sandsteen is sagte klip wat gevorm word wanneer sandkorrels saamgepers word. Soms bestaan die sandsteen uit verskillende lae sand wat verskillende kleure het.
  • Skalie is klei wat hard geword en in rots verander het. Dit breek dikwels uitmekaar in groot plat dele of stukke.
  • Kalksteen is rots wat baie fossiele bevat en bestaan uit kalsiumkarbonaat en selfs klein skulpe. As dit met die verloop van tyd aan hitte en druk blootgestel word, vorm dit metamorfiese gesteentes soos marmer.
  • Kryt is ’n sagte, wit vorm van kalksteen.
  • Gips is ’n algemene wit of kleurlose mineraal wat gebruik word om sement en pleister te vervaardig.
  • Konglomeraatgesteentes het ronde klippe soos spoelklippe wat in lynpatrone met spasies tussen-in saamgevoeg is.
  • Breksie (ook breccia genoem) is soortgelyk aan konglomeraatgesteentes, maar pleks van ronde klippe, bevat dit klippe met skerp punte.

Het jy al geleer oor fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en natuurlike gas? Wel, dit is honderde miljoene jare gelede gevorm uit die oorblyfsels van lewende organismes – daarom word dit fossielbrandstowwe genoem.

Dié oorblyfsels van plante en diere is oor miljoene jare in, byvoorbeeld, steenkool verander deur die druk van die rotslae van bo af. Steenkool is egter ’n niehernubare energiebron, wat beteken dat dié kosbare swart “klippe” eendag sal opraak. Steenkool word ook as ’n sedimentêre gesteente geklassifiseer. 4

Woordbank

suurreën Reën wat vol suur is as gevolg van fabrieke of nywerhede.
magma Vloeibare vulkaangesteente.
lawa Warm, gesmelte rots wat uit ‘n vulkaan stroom.
sediment Afsaksel.
kalksteen Rots wat bestaan uit ’n mengsel van verskillende minerale.
marmer ’n Soort klip, gewoonlik wit, wat gebruik kan word in beeldhouwerk en argitektuur.
steenkool Harde, meestal swart, brandbare delfstof in lae/beddings onder die oppervlak van die aarde aangetref, ʼn fossielbrandstof wat ontstaan het uit saamgeperste versteende plantreste, wat hitte lewer vir, onder meer, die opwekking van elektrisiteit, en waaruit, onder meer, steenkoolgas (ʼn mengsel van waterstof, metaan en koolstofmonoksied) berei word.
skalie Aardlaag wat leiagtig is, uit lei bestaan.
sandsteen Fynkorrelrige klipsoort.
gips Poeier (delfstof) wat met water gemeng word en kliphard word; deur medici gebruik om byvoorbeeld frakture te spalk of liggaamsdele te beskerm of in plek te hou.
organismes Enige lewende wese.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Waar kom sedimentêre gesteentes vandaan?

Leer saam oor die verskillende soorte gesteentes

Voorbeelde van sedimentêre gesteentes 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 10 September 2024