Vinnige feite

  • Die aardoppervlak bestaan uit verskillende groot rotsplate wat tektoniese plate genoem word.
  • Die meeste aktiewe vulkane word aan die “Vuurgordel” langs die kus van die Stille Oseaan aangetref.
  • Daar is sowat 1 800 aktiewe vulkane op aarde asook onder die see.
  • Die gesmelte rots onder die aardoppervlak word magma genoem. Sodra dit op die aardoppervlak uitvloei, word dit lawa genoem.
Foto: iStock

Jy het seker al op die televisie of in ‘n rolprent gesien hoe ‘n berg ‘n oranjerooi, vuurwarm vloeistof uitspoeg wat soos ‘n rivier oor die aarde se oppervlak vloei en alles in sy pad verbrand, verskroei of verteer. Ons noem dié verskynsel ‘n vulkaniese uitbarsting. Die woord vulkaan kom van die Romeinse naam Vulcan, wat “die god van vuur” vir die antieke Romeine was.

Wat is vulkane presies, wat veroorsaak dié dikwels verwoestende uitbarstings en watter verskillende soorte vulkane kry ‘n mens alles?

Voordat ons dít kan ontdek, moet ons eers meer oor tektoniese plate en die aarde se verskillende lae te wete kom. Tektoniese plate is die brokstukke (of groot, los stukke) wat deel is van die aardkors wat op die mantel dryf. Dié plate vorm nie ʼn soliede omhulsel oor die hele aarde nie en is versprei as dele van vastelande of onder die see. Die studie van hierdie plate word plaattektoniek genoem. Hierdie plate beweeg nie baie vinnig nie, omtrent 5 cm per jaar en kan tot 75 km dik wees!

Wanneer tektoniese plate bymekaar kom, ontstaan breuke, waar dit teen mekaar bots of skuur en selfs onder mekaar inskuif. As twee plate van mekaar skei, word ʼn vallei in die kors gevorm. Wanneer spanning opbou totdat die rande van die plate meegee, het dit ʼn aardbewing of tsoenami tot gevolg.

Meeste vulkaniese aktiwiteit word langs tektoniese plaatgrense aangetref, waar die aardkors op sy swakste is. Vulkane kan egter ook op dele uitbars wat ver van plaatgrense af is omdat daar dun vertikale pluime van magma van die aarde se kern kan opstyg en wat dan in ʼn vaste posisie bly totdat tektoniese plate bo-oor dit skuif of beweeg. 1

Die aarde se lae en vulkane

Om die struktuur van ʼn vulkaan te verstaan, moet ons eers na die vier lae van die aarde kyk:

Aardkors

Dit is die boonste laag met ʼn deursnee van 5 tot 70 km. Waar daar berge is, kan die deursnee tot 70 km wees. Onder die see is dit sowat 5 km dik. Die aardkors is die dunste van al die lae. 2

Mantel

Die mantel lê onder die aardkors en het ʼn deursnee van 2 900 km. Dit is oorwegend ʼn soliede deel, hoewel daar halfgesmelte metale hier voorkom wat stadig dryf. 3

Binnekern

Hierdie laag kom in die middel van die aarde voor en bestaan hoofsaaklik uit metale. Dit het ʼn deursnee van 2 440 km en die temperatuur is ongeveer 3 700 ˚C (dit is baie warm as ‘n mens dink dat water teen 100 ˚C kook).

Buitekern

Hierdie deel bestaan uit vloeibare metaal, vorm deel van die aarde se magneetveld en het ʼn deursnee van 2 440 km. Wanneer vulkane uitbars, kom die magma uit die mantel na die oppervlak. Magma wat bo die oppervlak uitvloei, noem ons lawa. 4

Sodra daar drukking in die aardkors opbou, word die magma deur swak plekke en krake gestoot. Hierdie swak plekke vorm vulkaniese pype (openings) en sodra die opgeboude magma die aardoppervlak bereik, vorm dit ʼn soliede stuk rots. Die rots blokkeer die vulkaniese pyp en drukking onder die pyp verhoog. As die drukking groot genoeg is, veroorsaak dit ʼn geweldige ontploffing waar die magma by die by die gat uitskiet, wat verwoestende gevolge het. 5

Lawa wat van die kuslyn by Big Island, Hawaii, in die see vloei.

Vulkaniese pyp

Daar kan dikwels net een primêre pyp (opening) na die oppervlak wees, maar daar kan ook ʼn paar sekondêre of kleiner pype wees. 6

Vulkanisme is dus ʼn verskynsel waarby gloeiende magma diep uit die aardkors na bo gebring en op die oppervlak as lawe uitgestort word of uitvloei. Maar wat is magma presies? Kilometers onder die aarde se oppervlak is ʼn gloeiende massa vloeistof genaamd magma. Waar daar swak plekke in die aardkors is, druk of beweeg dié warm vloeistof na die boonste oppervlak toe.

Die eienskappe van die magma bepaal in groot mate die vorm van die vulkaan en die manier waarop die uitbarstings plaasvind. Vir geoloë is vulkane belangrik omdat fisiese eienskappe van die stollingsproses waargeneem kan word. 7

Vulkaniese materiaal en vulkaantipes

Die vorm en aktiwiteit van ʼn vulkaan hang van die aard van die magma af. Die chemiese samestelling, druk en temperatuur speel ook ʼn rol, asook die snelheid van afkoeling tydens ʼn uitbarsting. Vulkaniese gasse word saam met die vaste stowwe en vloeistowwe tydens ʼn uitbarsting vrygestel. Hoe suurder die lawa is, hoe taaier is die lawa.

Hierdie lawa beweeg stadig en stol geleidelik. By vloeibaarder basiese lawa stol die bolaag, en die “vlies” (boonste lagie) word verrimpel deur die onderste bewegende lawa. Kussinglawa vorm waar ʼn lawastroom in water vloei en lobvormige strukture vorm wat deur die vinnige afkoeling aan die buiterand van die lawa veroorsaak word. Vaste bestanddele wat deur ʼn vulkaan uitgewerp word, word volgens grootte onderskei: bomme (˃ 64 mm), lapilli (2 – 64 mm) en as (˂ 2 mm). 8

Bo-aansig van die vulkaan Etna.

Skildvulkaan

Wanneer min gas in magma aanwesig is, vorm die vulkaan suiwer lawa. ‘n Skildvulkaan kan voorgestel word as ʼn pyp met vertikale wande waarin die magma voorkom (ʼn lawameer). Tydens ʼn uitbarsting styg die lawa in die meer totdat die lawa oor die rand loop. Aangesien die lawa so vloeibaar is, ontstaan ʼn vulkaan met ʼn baie vlak helling. 9

Stratovulkaan

ʼn Stratovulkaan ontstaan wanneer suur lawa afgewissel word deur brokstukke van ʼn uitbarsting, en só ʼn gelaagde voorkoms verleen.

Sommavulkaan

Dié vulkaansoort het ʼn dubbele vulkaniese kegel.

Tuyavulkaan

Hierdie vulkane breek uit onder gletsers waar die lawe met die ys in aanraking kom. Die ys begin stadig smelt, en soos die lawa afkoel, word vulkaniese rots onder die water gevorm.

Twee vername vulkane in die geskiedenis

Krakatoa

Dié vulkaan het in 1883 groot skade in Indonesië aangerig. Toe dit uitgebars het, het meer as 36 000 mense gesterf en die knalgeluid kon 5 000 km ver gehoor word. Die lugbesoedeling wat deur die vulkaan veroorsaak is, het nog vir jare daarna ʼn koperkleurige sonsondergang veroorsaak.

Vesuvius

In 79 n.C. het die berg Vesuvius uitgebars en die stad Pompeii heeltemal onder vulkaniese as en rotse begrawe.

Gevolge van vulkane

Vir die mens is die gevare van ʼn vulkaniese uitbarsting baie groot. Dié gevare sluit in lawastrome, asreën, gloedwolke, modderstrome, aardbewings, giftige gasse en vloedgolwe. Vulkane kan ook positiewe gevolge hê. As lawa stol, vorm stollingsgesteentes waarin edelstene soos diamante gevorm word – wat weer ekonomies baie vir ʼn land kan beteken.

Verweerde stollingsgesteentes kan ná baie jare dien as vrugbare grond vir die aanplant van gewasse en só weer voedsel aan die gemeenskap voorsien. Gewoonlik kom warmwaterbronne naby vulkane voor, wat ʼn groot trekpleister vir toeriste is. In kouer lande word die warmwaterbronne selfs ingespan om warm water aan geboue te verskaf. 10

‘n Huis wat deur lawa in die dorp Pahoa in Hawaii verwoes is.
‘n Straat in Hawaii waar lawa gevloei en begin stol het.

Woordbank

deursnee Gemiddelde afmeting in wydte of dikte; diameter.
lawa Warm, gesmelte rots wat uit ‘n vulkaan stroom.
magma Vloeibare vulkaangesteente.
tektoniese Wat verband hou met die vorming en beweging/verskuiwing van die groot rotsplate waaruit die aardkors bestaan.
vulkanisme Vulkane en gepaardgaande verskynsels soos aardbewings, wat met magma onder die aardoppervlak en die skuif van tektoniese plate verband hou.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie om meer oor vulkane te leer

Hoe word ‘n vulkaan gevorm?

Wat is ‘n vulkaan en wat veroorsaak dit?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Augustus 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024