Vinnige feite

  • Die grootste of sterkste aardbewing wat nog ooit in die wêreld aangeteken is, was in Chili in 1960. Dit het 9,6 op die Richterskaal gemeet. Die grootste in die VSA het in 1964 in Alaska plaasgevind. Dit het 9,2 op die Richterskaal gemeet. 9
  • Aardbewings kan groot golwe in die oseaan veroorsaak wat tsoenami’s genoem word. Die beweging van tektoniese plate het selfs groot bergreekse soos die Himalajas en die Andes-gebergtes gevorm. 10
  • Byna 80% van al die aardbewings op ons planeet vind langs die rand van die Stille Oseaan plaas, wat ook die “Ring van Vuur” genoem word. Dis ’n streek wat die Stille Oseaan omring en is die tuiste van 452 vulkane (meer as 75% van die wêreld se aktiewe en rustende vulkane). 11
  • ’n Aardbewing onder die see in die Indiese Oseaan het op 26 Desember 2004 ’n reeks verwoestende tsoenami’s veroorsaak. Dié tsoenami’s (wat baie hoë golwe maak) het die kuslyn van die meeste lande wat aan die Indiese Oseaan grens, getref, en meer as 225 000 mense in 11 lande is dood. 12
  • Dit is nie net paddas wat seismiese aktiwiteit kan aanvoel nie. Voor die Indonesiese aardbewing en tsoenami in 2004 het ooggetuies gesê dat hulle gesien het hoe diere en voëls na hoër grond beweeg. Wetenskaplikes meen dat diere ligte bewings voor ’n aardbewing kan aanvoel, of selfs elektriese seine optel wat veroorsaak word deur die verskuiwing van ondergrondse rotse en klippe. 13
Foto: iStock

Het jy al in jou bed gelê en skielik het dit gevoel of die hele kamer skud? Of op die bank gesit en televisie kyk en dan klink dit of die vensters bewe en uit hul rame gaan breek? Dan het jy waarskynlik ’n aardbewing gevoel! Aardbewings is die skuddende, rollende of skielike skok in die aarde se oppervlak en is die aarde se natuurlike manier om van “spanning” ontslae te raak.

Hoewel aardbewings nie so algemeen in Suid-Afrika voorkom nie, vind daar tot 50 000 aardbewings per jaar wêreldwyd plaas – en dis net dié wat sonder ingewikkelde instrumente gevoel kan word. Nog honderde klein aardbewings, wat slegs met duur toerusting gemeet kan word en nie noodwendig gesien of gevoel word nie, vind elke dag plaas. Sommige wetenskaplikes meen daar kan tot ’n miljoen klein aardbewings per jaar wees. 1

Ongeveer 100 van die aardbewings wat jaarliks plaasvind, rig baie groot skade aan as daar huise of winkels naby die middelpunt van die aardbewing is. Deur die eeue heen was aardbewings verantwoordelik vir miljoene sterftes en ’n onberekenbare hoeveelheid skade aan huise, winkels, motors en ander eiendom. 2

Die aardbewings self veroorsaak nie die meeste skade nie, maar wel mensgemaakte strukture wat inmekaar val as gevolg van die aardbewing, asook natuurlike gevolge van aardbewings soos tsoenami’s en rots- en sneeustortings. 3

Ongelukkig kan wetenskaplikes nog nie aardbewings voorspel nie. Die beste wat hulle vandag kan doen, is om aan te dui waar sogenaamde foutlyne is, sodat ons weet waar aardbewings moontlik kan voorkom. Het jy geweet daar is tot aardbewings (of maanbewings) op die maan. 4 In Japan en Kalifornië in die VSA, waar aardbewings gereeld voorkom, waarsku die regering mense as hulle dink daar is ’n aardbewing op pad deur SMS’e uit te stuur of dit op TV aan te kondig.

Wat veroorsaak aardbewings?

Daar is ongeveer 20 plate (ons noem dit ook tektoniese plate) wat deel van die aarde se oppervlak vorm. Dié plate beweeg aanhoudend en stadig verby en oor mekaar. Wanneer die plate saamgedruk word of rek, vorm groot rotse aan die kante en die rotse verskuif met groot krag, wat ’n aardbewing veroorsaak. Dit is amper soos die stukke van ’n legkaart. 5

Dink so daaraan: Stel jou voor dat jy jou potlood horisontaal hou. As jy ’n krag aan albei kante van die potlood toepas deur daarop af te druk, sal die potlood buig. As jy baie krag toepas, sal die potlood in die middel breek en die spanning wat jy daarop geplaas het, vrystel. Die aarde se kors werk op presies dieselfde manier. Terwyl die plate beweeg, plaas hulle druk op hulself en mekaar. Wanneer die krag te groot of sterk is, breek die kors.

Hiposentrum en episentrum

Die plek onder die aarde se oppervlak waar die aardbewing begin, word die hiposentrum genoem, en die plek direk bo dit op die oppervlak van die aarde word die episentrum genoem. 6

Voor-, hoof- en naskokke

Soms het ’n aardbewing voorskokke. Dit is kleiner aardbewings wat op dieselfde plek gebeur as die groter aardbewing wat volg. Wetenskaplikes kan nie sien dat ’n aardbewing ’n voorskok is voordat die groter aardbewing plaasvind nie. Die grootste aardbewing word die hoofskok genoem. Hoofskokke het altyd naskokke wat volg. Dit is kleiner aardbewings wat daarna op dieselfde plek as die hoofskok voorkom. Afhangend van die grootte van die hoofskok, kan naskokke weke, maande en selfs jare ná die hoofskok voorkom!

Wat is seismiese golwe?

Die skokgolwe van ’n aardbewing wat deur die grond beweeg, word seismiese golwe genoem. Dié golwe is die sterkste in die middel van die aardbewing (die middelpunt). Dit beweeg baie vinnig van dié middelpunt deur ’n groot deel van die aarde en dan weer terug na die oppervlak – 20 keer vinniger as die spoed van klank. ’n Aardbewing is daarom slegs ’n paar sekondes lank. 7

Wetenskaplikes gebruik seismiese golwe om te meet hoe groot of sterk ’n aardbewing is. Hulle gebruik ’n toestel of instrument wat ’n seismograaf genoem word om die grootte van die golwe te meet. Om die sterkte van ’n aardbewing te bepaal, gebruik wetenskaplikes ’n skaal (van 1 tot 10) genaamd die Moment Magnitude Scale of MMS (dis voorheen die Richterskaal genoem). Hoe groter die getal op die MMS-skaal, hoe groter is die aardbewing. ’n Mens sien en voel gewoonlik eers ’n aardbewing as dit minstens ’n telling van 3 op die MMS-skaal meet.

Hier is ’n paar voorbeelde van wat die tellings op die MMS-skaal beteken: 8

4.0 – Die huis skud asof ’n groot vragmotor verbyry. Sommige mense sal dit nie voel nie.

6.0 – Boeke en koppies val van rakke af, en in sommige huise kan die mure kraak en vensters breek. Byna almal naby die middelpunt sal hierdie aardbewing voel.

7.0 – Swakker of ouer geboue sal ineenstort en krake sal in brûe en in strate voorkom.

8.0 – Baie geboue en brûe stort ineen en daar is groot skeure in die aarde.

9.0 en hoër – Hele stede of dorpe stort ineen en daar is baie groot en wydverspreide skade.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Aardbewings 101

Wat is ’n aardbewing?

Hoe gebeur aardbewings?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Februarie 2024