Vinnige feite

  • Mikroörganismes word ook mikrobes genoem en sorg vir bykans die helfte van die suurstof wat ons inasem.
  • As jy ’n handjievol tuingrond optel, hou jy honderde duisende verskillende soorte mikrobes in jou hand.
  • As ons nies en hoes, trek virusdeeltjies tot 320 kilometer per uur deur die lug en tot 900 meter ver. Dit is vinniger as ’n passasiersvliegtuig wat opstyg!
  • Een teelepel grond bevat 1 miljard bakterieë, 120 000 swamme en 25 000 alge.
  • Sonder grondmikrobes sou ons almal sterf. Plante kan nie die voeding wat hulle benodig uit die grond neem sonder dat mikrobes in die grond werk nie.
Foto: iStock

Mikroörganismes is lewende organismes wat te klein is om met die blote oog te sien en word gewoonlik met ’n mikroskoop bekyk. Bakterieë, virusse, fungi (of swamme), alge en protista is voorbeelde van mikroörganismes.

Mikroörganismes word ook mikrobes genoem en sorg vir bykans die helfte van die suurstof wat ons inasem. Dié wat siektes veroorsaak, word kieme of patogene genoem. Mikroörganismes kom oral voor, insluitend in die grond, lug, water en binne en op die oppervlak van lewende dinge. Die studie van mikroörganismes word mikrobiologie genoem.

Die meeste mikroörganismes is noodsaaklik vir lewe op aarde. Mikroörganismes is byvoorbeeld van kritieke belang in die herwinning van voedingstowwe in ekosisteme omdat dit as ontbinders optree. Sommige mikroörganismes kan ook stikstof uit die lug haal (stikstofbindende bakterieë) en daarom is dit ’n belangrike deel van die stikstofsiklus. Patogene, of skadelike mikrobes, kan ander organismes binnedring – is skadelik vir mense, diere en plante – en kan siektes veroorsaak.

Alle diere het onskadelike bakterieë en protosoë (mikrobes) in hul liggame. Soms, soos met herbivore, is die mikroörganismes lewensbelangrik vir die vertering van voedsel. Die ingewande van die mens bevat meer mikroörganismes as wat daar selle in die menslike liggaam is! 1

Verskillende soorte mikroörganismes

  • Bakterieë het net een sel (eensellig), geen ware selkern nie en is gevorm soos ’n sfeer, staaf of spiraal. Bakterieë is baie klein – miljoene kan op die punt van jou pen pas! Bakterieë bestaan ​​al miljoene jare en kan op enige plek oorleef, ongeag hoe warm of koud dit is. Baie min bakterieë is skadelik en die meeste help om ons gesond te hou. Goeie bakterieë word gebruik om kos en selfs sommige soorte medisyne te maak. Bakterieë is van die beste ontbinders – hulle breek dooie en verrottende organiese materiaal, van blare tot insekte, af. Bakterieë kan ook gebruik word om oliestortings op te ruim. Slegte bakterieë hou daarvan as jy of jou omgewing onhigiënies of vuil is.

  • Virusse is baie eenvoudige mikrobes en kan nie veel vanself doen nie. Hulle het geen selkern of sitoplasma (alle dele van ’n sel wat buite die kern geleë is) nie en kan gevolglik nie as ’n sel beskou word nie. Virusse kan ook nie die sewe lewensprosesse sonder ’n gasheer of op hul eie uitvoer nie, en word daarom as nielewende organismes beskou. Virusse is ook nie deel van die vyf koninkryke van lewe nie (plante, diere, bakterieë, swamme en protista). Virusse benodig ’n gasheer (’n ander lewende organisme) om hulle alles te gee wat hulle nodig het om te oorleef. Virusse gebruik enige kans om ’n gasheer te vind. Hulle dring die selle van die gasheer binne en neem dit oor. Virusse gebruik dan die gasheerselle om te vermenigvuldig. Verkoue en griep is virusse wat afhanklik is van die gasheer wat hoes of nies in die omgewing van ‘n ander gasheer om te versprei.
  • Swamme is oral: in die lug, water, op mure, in tuine, op voedsel en selfs mense. Hulle kan een- of meersellig wees en is verwant aan plante, maar kan nie fotosinteer nie, daarom moet hulle ook hul voedingstowwe by ’n gasheer kry. Hulle groei op baie verskillende plekke en veral waar dit warm en klam is. Swamme kan nie rondbeweeg nie en maak spore (eensellige voortplantingsorgane). Spore is baie lig en kan deur die lug beweeg, deur water vervoer of deur diere versprei word. Wanneer die toestande gunstig is, sal dit ontwikkel en nuwe swamme voortbring.

  • Protista is een- of meersellige mikroörganismes wat hul voedsel uit hul omgewing kry en sommiges kan fotosinteer. Diersoortige protista, ook genoem protosoë, is altyd eensellig. Hulle is op verskillende plekke te vind, insluitend in varswater, seewater en selfs in die grond. Hierdie groep is groot en baie uiteenlopend. Hulle kan gebruik word om dinge mee skoon te maak of te suiwer, maar kan ook baie ernstige siektes veroorsaak. 2 In sekere gevalle is protista baie nuttig omdat hulle skadelike bakterieë eet.

Mikroörganismes kan vrylewend of parasities wees. Virusse en protosoë soos malaria kan slegs parasities wees, aangesien dit altyd in ander lewende organismes lewe en voortplant.

Vrylewende mikroörganismes

Vrylewende mikrobes kry hul energie op baie verskillende maniere. Sommige gebruik fotosintese soos plante. Sommige breek die natuurlike chemikalieë in hul omgewing af. Ander voed op dinge wat eens geleef het, soos blare wat van bome afgeval het en dooie diere.

In die natuur meng verrottende materiale met grond, wat noodsaaklike voedingstowwe bied vir plante om te gebruik. Sonder hierdie proses sou die voedingstowwe in die grond opraak. Die organismes wat hierdie proses uitvoer, word ontbinders genoem. Hulle is die natuurlike herwinnaars van lewende dinge op ons planeet.

Sommige swamme (of fungi) en bakterieë laat voedsel bederf. Brood of vrugte met skimmel op, suurmelk en vrot vleis is voorbeelde van bederfde kos. Mikrobes help ons egter ook om sekere voedsel te maak, soos brood, kaas, jogurt, bier en wyn. Hulle voed op die suiker in graan, vrugte of melk en gee hierdie voedselsoorte ’n spesiale tekstuur en smaak.

Parasitiese mikrobes

Sommige mikrobes, wat patogene of kieme genoem word, veroorsaak siektes. Dit is parasiete wat in lewende dinge leef. Waterpokkies, pampoentjies en masels word byvoorbeeld deur virusse veroorsaak. Sommige kieme is ook bakterieë en veroorsaak aansteeklike siektes soos tuberkulose en klem-in-die-kaak. Siektes soos hierdie word bakteriële infeksies genoem. Sekere bakterieë veroorsaak boonop tandbederf. Dit is moontlik om mense teen skadelike mikrobes te beskerm deur voedsel reg gaar te maak en te bêre, tande te borsel, hande te was en deur kontak met siek mense te vermy. 3

Protista of protosoë sluit parasiete in wat byvoorbeeld malaria veroorsaak. Swamme veroorsaak dinge soos voetskimmel by mense. 4

Het jy geweet?

Baie ernstige bakteriële infeksies kan behandel word met spesiale medisyne wat bakterieë doodmaak. Ons noem dit antibiotika. As mense antibiotika verkeerd gebruik, byvoorbeeld om siektes soos verkoue en griep te behandel wat deur virusse veroorsaak word, werk dit egter nie. Die bakterieë ontwikkel dan antibiotikaweerstandigheid. MRSA is een stam wat uiters gevaarlik geword het omdat dit ontwikkel het om byna alle antibiotika te oorleef. Antibiotika speel egter wel ’n baie belangrike rol om ons gesond te hou.

Alexander Fleming (1881-1955) was ’n Skotse bioloog en farmakoloog wie se ontdekking van penisillien een van die belangrikste deurbrake in die geskiedenis van die geneeskunde is. Dit was ook die eerste veilige antibiotikum vir die behandeling en voorkoming van bakteriële infeksies.

As jy ’n handjievol tuingrond optel, hou jy honderde duisende verskillende soorte mikrobes in jou hand. Een teelepel grond bevat 1 miljard bakterieë, 120 000 swamme en 25 000 alge! Sonder grondmikrobes sou ons almal egter sterf. Plante kan nie die voeding wat hulle benodig uit die grond neem sonder dat mikrobes in die grond werk nie.

Mikrobes leef en moet kos hê om te oorleef, en daardie voeding is afkomstig van organiese materiaal. Omdat hulle die voedingstowwe verbruik wat benodig word, skep mikrobes voedsel soos stikstof, koolstof, suurstof, waterstof en spoorminerale vir plante. Dit is die mikrobes wat die minerale in die grond omskakel in ’n vorm wat plante kan gebruik om voedsel en blomme te kweek en produseer.

As ons nies en hoes, trek virusdeeltjies tot 320 kilometer per uur deur die lug en tot 900 meter ver. Dit is vinniger as ’n passasiersvliegtuig wat opstyg! As jy hoes, kan kieme ongeveer 3 meter ver trek as jy nie jou hand of ’n sakdoek voor jou neus of mond hou nie. Dit is ook belangrik om jou hande deeglik te was nadat jy die toilet besoek het omdat daar baie bakterieë in badkamers is en hulle vinnig in warm, klam plekke kan vermeerder. 5

Woordbank

antibiotika Stof van swamme/kieme verkry wat lewende organismes, bv. bakterieë, vernietig of hul ontwikkeling rem; antibiotikum.
ekosisteme Biologiese sisteem; organismes wat saam- en op mekaar inwerk, asook die omgewing waar dit plaasvind.
fotosintese Vorming van chemiese verbindings onder invloed van lig en ander vorme van stralingsenergie, veral vorming van koolwaterstowwe in plante uit koolstofdioksied en water deurdat sonlig op die chlorofil inwerk.
parasiete Woekerplant of -dier wat op of ten koste van ander organismes leef.
patogene Wat siekte veroorsaak.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Mikroörganismes

Mikroörganismes

Bakterieë, virusse en fungi

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 November 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024