Vinnige feite

  • Hy het later vertel: “Toe ek op 28 September 1928 net ná sonsopkoms wakker geword het, het ek definitief nie beplan om ’n ommekeer in medisyne teweeg te bring deur die wêreld se eerste antibiotikum te ontdek nie. Maar dit is seker maar presies wat ek gedoen het.” 2
  • Die Fleming-krater op die maan is na hom vernoem. 7
  • Fleming was lid van ’n kunsklub wat kuns met bakterieë geskep het! Vir elke kleur het hy ’n ander bakterie gebruik. Hy het met die bakterieë geverf, maar aanvanklik kon dit nie gesien word nie – die kleure het eers ontwikkel as die bakterieë op die skilderdoek gegroei het! 5

Probeer jou indink: Jy is ’n wetenskaplike wat op vakansie gaan en per ongeluk ’n petribakkie vol kultuur op ’n blad in jou laboratorium los. Toe jy na die vakansie terugkom, het daar iets op jou kultuur gegroei.

In plaas daarvan om dit weg te gooi, besluit jy om ondersoek in te stel. Vyftien jaar later is die ding wat op daardie kultuur gegroei het, medisyne. En nie sommer enige medisyne nie.

Dit is penisillien: medisyne wat al om en by 200 miljoen lewens gered het! Sommige mense beskou die ontdekking van penisillien as die belangrikste ontdekking van die laaste duisend jaar; 1 ander as die belangrikste ontdekking in die geskiedenis van medisyne ooit! 2

Die persoon wat die petribakkie in sy laboratorium gelos het, is ’n Skotse wetenskaplike genaamd Alexander Fleming.

Grootwordjare

Alexander Fleming is op 6 Augustus 1881 op die Skotse platteland gebore. 2

Sy ouers, Hugh en Grace Fleming, was skaapboere. 1 Hy was die tweede jongste van hul vier kinders. 3 Hy het ook vier halfbroers en susters uit sy pa se vorige huwelik gehad. 2

Sy pa het gesterf toe hy sewe was. Daarna het sy ma en sommige van sy ouer broers die plaas bestuur. 3 Die familie was arm, maar gelukkig. 4

Fleming het by plaaslike skole soos Loudoun Moor School, Darvel Primary School en Kilmarnock Academy, 2 ’n baie goeie basiese opvoeding gekry. 3

Hy het skool geniet, ten spyte van verskeie uitdagings. Hulle moes byvoorbeeld skool toe stap, en Darvel was amper 13 kilometer ver van die huis. 5

Toe hy 13 was, het hy Londen toe getrek en by sy halfbroer, Thomas, ingetrek. Thomas het dit reggekry om as dokter opgelei te word. 3

Fleming het sy skoolopleiding by die Regent Street Polytechnic (vandag die Westminster-Universiteit, Londen) voltooi, 2 waar hy besigheid en handel studeer het. 5

Hy het vir vier jaar as versendingsklerk gewerk, maar dit het hom verveel. 1

Toe hy 20 was, het hy geld by sy oom geërf. Dit het hom toegelaat om sy droom om ’n dokter te word, te laat waar word. 4

Weermag en eerste studiejare

Fleming het tussen 1900 en 1914 in die Skotse weermag gedien. 2 Hy was vlugtig in Suid-Afrika gedurende die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), maar het nie aan ’n geveg deelgeneem nie. 3

In 1901 het hy met mediese opleiding by St. Mary’s Hospital Medical School in Londen begin. 2 Hy sou vir die res van sy lewe by St. Mary’s werksaam wees. 3

Fleming was slim en het as student uitgeblink. Hy het sy eerste graad met lof voltooi. 1 Hy het in 1908 die prys vir top- mediese student gewen, 2 asook omtrent elke ander prys en medalje wat daar was om te wen. 4

St. Mary’s Hospitaal in Paddington, Londen

Bakteriologie

Fleming het aanvanklik beplan om ’n chirurg te word. 2 Sir Almroth Edward Wright, die direkteur van die inentingsdepartement by St. Mary’s, het hom egter gevra om in sy departement te kom werk. 4 Fleming het die pos aanvaar. Sy mediese spesialiteit het hierna bakteriologie geword. 2

Wright was ’n briljante bakterioloog en immunoloog. Onder hom het Fleming se navorsingsvaardighede vinnig verbeter. 2

Wright het revolusionêre idees oor entstowwe gehad. 2 Hy het geglo dat inenting die sleutel was om aansteeklike siektes te behandel. 4 Volgens hom moes mens die liggaam met inenting versterk sodat die liggaam self siekte kon bestry. Dit was beter as chemoterapie, wat die siekte van buite af doodmaak. 3

Eerste Wêreldoorlog

Gedurende die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het Fleming in Wright se wondnavorsingslaboratorium in Frankryk gewerk. Daar het hy infeksie in wonde bestudeer. 3

Fleming het besef dat die antiseptiese middels wat hulle op diep wonde gebruik het, skadelik was. Dit het witbloedselle doodgemaak. Hy was reg: die antiseptiese middels het méér witbloedselle as bakterieë doodgemaak, en dus meer sterftes veroorsaak as wat dit gekeer het.

Fleming se voorstel was dat diep wonde net droog en skoon gehou moes word, en dat hulle dan self sou herstel. Sy advies is egter verontagsaam. 2

Lisosiem

Ná die oorlog het Fleming na St. Mary’s teruggekeer as adjunk-direkteur in die inentingsdepartement.

In 1921 het hy in die laboratorium gewerk terwyl hy verkoue gehad het. Daar het per ongeluk ’n druppel van die slym in sy neus op ’n bakterieplantjie geval. Dit het gelyk asof die slym ’n effek op die groei van die bakterie gehad het. Hy het dus aspris nog slym met die bakterieplantjie gemeng. ’n Week later was die bakterieë dood. 2

Fleming het op dié manier lisosiem ontdek. Dit is ’n antiseptiese stof wat in mense se liggaamvloeistowwe voorkom, en bakterieë vernietig. Lisosiem kom ook voor in bloedserum, trane, speeksel en borsmelk.

Ná baie toetse is bevind dat lisosiem net in sy natuurlike staat, met ander woorde, soos wat dit in jou liggaam voorkom, effektief was. Dit was dus nie moontlik om medisyne daarvan te maak nie. 3

Nietemin was dit Fleming se eerste groot ontdekking, en was beslis ’n belangrike bydrae tot navorsing oor menslike immuniteit. 2

Fleming het in 1928 professor in bakteriologie geword. 1

Die ontdekking van penisillien

Fleming was ’n briljante navorser, maar ’n nalatige laboratoriumtegnikus. Hy het gereeld kulture buite gelos en sy laboratorium was gewoonlik chaoties. 1

Fleming het in September 1928 ná ’n lang vakansie na sy laboratorium teruggekeer. 2

Hy was besig om navorsing te doen oor Staphylococcus, ’n tipe bakterie. Hy het per ongeluk ’n petribakkie met ’n Staphylococcus-kultuur buite gelos in plaas daarvan om dit in ’n kweektoestel te plaas. 3

Die kultuur het besmet geword met ’n skimmelplant in die vorm van ’n sap. 5 Fleming het opgemerk dat die bakterieë wat rondom die skimmel was, vernietig is. 2

Tot vandag toe weet niemand hoe die skimmel op die kultuur beland het nie. Dit het moontlik deur die venster ingekom. Die mees waarskynlike verduideliking is dat dit gekom het van ander skimmelplante wat in ander laboratoriums in dieselfde gebou gekweek is.

Soos met sulke ontdekkings was daar ook geluk betrokke: die temperatuur in die laboratorium was net reg om die bakterieë en die skimmel te laat groei. 3

Fleming het aanvanklik daarna verwys as skimmelsap. Dit het later bekend geword as penseelskimmel of Penicillium notatum. 2

Fleming se bydrae

Alhoewel die proses wat tot die ontdekking van Penicillium of penisillien, soos dit algemeen bekend is, ’n gelukskoot was, is Fleming se rol onontbeerlik. Dit was sy oplettendheid en afleidings wat hom toegelaat het om te besef dat iets spesiaals aan die gebeur was. 1

Fleming het gedink hy het ’n ensiem gevind wat sterker as lisosiem was. 2 Hy het met ander woorde gedink dit was nóg ’n antiseptiese middel vir wonde. 3

Hy het besluit om verder ondersoek in te stel. Sy bevinding was dat dit nie ’n ensiem was nie, maar ’n antibiotikum – een van die eerstes ooit. 2

Van ontdekking na medisyne

Fleming het sy bevindinge in 1929 bekendgemaak, maar dit het eers nie baie reaksie gekry nie. 1

Vir die volgende 12 jaar het hy die oorspronklike penseelskimmel gekweek en versprei. 1 Hy het besef dat die produk kliniese moontlikhede gehad het, en het ander wetenskaplikes – chemikusse ingesluit –  genader vir hulp. 2

Fleming het byvoorbeeld navorsing gedoen deur die produk op ’n muis en ’n haas te toets. Hy het egter nooit die diere met die bakterie besmet en daarna met penisillien ingespuit nie. Hy het geglo dis ’n antiseptiese middel wat op die oppervlak gebruik moes word. 3

Fleming kon nooit ’n chemikus met genoeg vaardigheid inkry om die penseelskimmel in ’n medisyne te verander nie. 2 Hy het uiteindelik in 1932 ophou daaraan werk. 1

Chain en Florey

Die ontwikkeling van die medisyne wat ons vandag as die antibiotikum penisillien ken, was op die ou end die werk van baie mense.

Wetenskaplikes het eers teen die laat 1930’s aandag begin gee. In 1939 het ’n span wetenskaplikes by die Universiteit van Oxford daaraan begin werk. Onder leiding van Howard Florey en Ernst Chain het hulle dit reggekry om die penisillien te isoleer en te suiwer. 2 Hulle het in 1940 gedemonstreer dat pensillien gebruik kon word om ’n groot reeks bakteriële siektes te behandel. 3

Daarna het farmaseutiese maatskappye belangstelling begin toon. 4

Gebruik in die Tweede Wêreldoorlog

Die antibiotikum is uiteindelik wyd tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) gebruik. Dit het tot ’n omwenteling in oorlogsmedisyne en infeksiebeheer gelei. 2

In Desember 1941 is met die massa vervaardiging van penisillien begin. Teen Junie 1944 is genoeg penisillien vervaardig om al die gewonde troepe van die oorlog te behandel. 1

Nobel-prys

Fleming, Chain en Florey het die 1945 Nobel-prys in Fisiologie of Geneeskunde gedeel.

Daar was spanning tussen die drie mans, en veral tussen Fleming en Florey, oor wie die meeste krediet moes kry.

Die media het verkies om op Fleming se bydrae klem te lê. Daar was twee redes hiervoor. Die storie van Fleming se toevallige ontdekking was meer boeiend as Florey en Chain se stelselmatige proefnemings. 2 Fleming was ook aangenaam en toeganklik en het graag met die media gepraat. Florey was nie en wou nie onderhoude aan die media toestaan nie. 6

Fleming het egter altyd erken dat Florey en Chain en hul span die persone was wat pensillien in bruikbare medisyne verander het. 4

Hy het sy eie bekendheid die “Fleming-mite” genoem. 1 Hy het probeer om nie sy rol te oordryf nie en het byvoorbeeld gesê: “Natuur maak die penisillien; Ek het dit net gevind.” 4

Later jare en eerbetoon

Fleming het beroemd geword. Hy het dwarsoor die wêreld lesings gegee.

Hy is in 1944 tot ridder geslaan. 4

Fleming het in 1946 by Wright as hoof van die inentingsdepartement by St. Mary’s oorgeneem. Dit is herdoop na die Wright-Fleming Instituut.

Hy was ook lid en soms president van verskeie wetenskaplike genootskappe. Voorts was hy erelid van omtrent elke mediese en wetenskaplike gemeenskap in die wêreld.

Hy was tussen 1951 en 1954 die rektor van Universiteit van Edinburgh.

Hy het by amper 30 Europese en Amerikaanse universiteite eredoktorsgrade ontvang. 2

Persoonlike lewe en dood

Fleming se noemnaam was Alec. 1

Hy het op 23 Desember 1915 met ’n verpleegster, Sarah Marion McElroy, getrou. 1 Sy het in 1949 ná 34 jaar van huwelik gesterf. 4

Hulle het een kind, Robert, gehad, wat ook ’n mediese dokter was. 1

Fleming het weer in 1953 getrou met Amalia Coutsouris-Voureka, ’n dokter. Hulle was gelukkig getroud tot met sy dood. 4

Fleming het skielik op 11 Maart 1955 aan ’n hartaanval in sy huis in Londen gesterf.

Hy is in Londen se St. Paul-katedraal begrawe. 1

Woordbank

adjunk-direkteur Die tweede in bevel tot die hoof of direkteur.
antibiotikum Antibiotikum is ’n geneesmiddel wat die groei van lewende organismes, veral bakterieë, keer.
antiseptiese Iets wat keer dat ’n wond septies raak en ook aansteking/besmetting voorkom deur siektekieme dood te maak.
bakterieë Klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
bakteriologie Die studie van bakterieë.
bloedserum Dit is ʼn soort bloedplasma (oftewel bloed sonder bloedliggaampies; die dik, geel vloeistofgedeelte van bloed).
boeiend Baie interessant of fassinerend.
chaoties Wanordelik, deurmekaar, ordeloos.
chemikusse Vakkundiges op die gebied van chemie; chemici. Chemie is die wetenskap wat hom besig hou met die ondersoek na die samestelling van stowwe uit hul elemente, na die wette van verbinding, die verwantskap en die eienskappe van stowwe en elemente.
chemoterapie Wanneer chemiese middels gebruik word om ’n siekte te behandel.
chirurg ’n Dokter wat operasies doen.
ensiem ’n Stof wat sekere stowwe in die liggaam in ander kan omsit.
entstowwe Preparaat van ʼn mikroörganisme/virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van antiliggame te stimuleer sodat die liggaam onvatbaar (immuun) kan word vir besmetting; vaksien.
eredoktorsgrade Dié graad word aan iemand toegeken sonder dat hy of sy ’n eksamen moes ondergaan en die persoon kry dit as gevolg van uitsonderlike prestasies.
farmaseutiese maatskappye Maatskappye wat geneesmiddels berei.
gedemonstreer Bewys; met ʼn proef aantoon.
genootskappe Verenigings van persone wat ’n bepaalde, gemeenskaplike doel nastreef.
immunoloog Deskundige op die gebied van immunologie (leer/wetenskap van immunologie).
inentingsdepartement Plek waar navorsing gedoen word oor produkte waarmee mens iemand kan inspuit om siekte te voorkom.
infeksie Ontsteking, inflammasie; die binnedring van kieme in die liggaam.
isoleer Om iets van iets anders heeltemal af te sonder.
kliniese Wat te doen het met die behandeling van mense wat siek is.
krediet Erkenning gee aan iemand vir iets wat hy/sy gedoen het.
kultuur ’n Versameling mikroörganismes, soos bakterieë, wat kunsmatig gekweek word.
kweektoestel ’n Voorwerp waarbinne mens dinge in ’n laboratorium kweek of laat groei.
laboratorium Vertrek/gebou wat spesiaal ingerig is vir wetenskaplike navorsing/eksperimente.
laboratoriumtegnikus Persoon wat in ’n laboratorium werk.
lisosiem Antiseptiese stof wat in jou liggaamsvloeistowwe voorkom.
media Al die verskillende vorms (koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet ensovoorts) waardeur nuus en inligting versprei word.
met lof Met onderskeiding.
mite Oorlewering van idees wat met gode, godsdiens of kulturele waardes te doen het. Dit word dikwels as die waarheid voorgehou.
omwenteling Wanneer ’n groot verandering plaasvind en dinge van daar af heeltemal anders begin gebeur.
onontbeerlik Waarsonder ’n mens nie kan klaarkom nie; wat mens nie kan ontbeer nie; absoluut nodig.
penisillien Dis medikasie en ’n tipe antibiotika wat gebruik word om bakteriese infeksies mee te behandel.
petribakkie ’n Vlak, ronde bakkie van dun glas of plastiek wat gebruik word om mikroörganismes soos bakterieë te kweek.
proefnemings Toetse, eksperimente.
professor ʼn Dosent van die hoogste rang aan ʼn universiteit.
rektor Hoof van ’n universiteit.
revolusionêre Baie anders as die bestaande.
skilderdoek Linne/seil waarop geskilder word.
skimmelplant ’n Sagte stof, gewoonlik groen, grys of swart, wat groei op voorwerpe in klam plekke.
spesialiteit Wanneer jy jou tyd bestee om baie goed/ʼn ekspert in iets te word.
stelselmatige Geleidelike.
suiwer Om onsuiwerhede uit iets te haal.
toeganklik Vriendelik en gemaklik tussen ander mense.
tot ridder geslaan Dit is ʼn eerbewys wat deur die koning of koningin van Engeland gegee word vir ʼn persoon wat baie goed presteer; die persoon ontvang ridderskap. Dié persoon kry dan die titel “sir” of “dame” voor sy/haar naam.
verontagsaam Geen ag slaan op nie; ignoreer; geringskat.
versendingsklerk Iemand wat alle produkte, materiaal en voorrade vir ’n besigheid bestuur.
vlugtig Vinnig, gou.
wetenskaplike Iemand wat die wetenskap bedryf; navorser.
witbloedselle Sel wat teenliggaampies vervaardig wat jou lyf in staat stel om infeksies en siektes te beveg.

Lees hierdie artikels oor Alexander Fleming

Video’s oor Alexander Fleming

Alexander Fleming en sy ontdekking

Leer meer van die man wat penisillien ontdek het

Hoe werk antibiotika?

Hoekom is party goed bestand teen antibiotika?

Gepubliseer op: 26 April 2024 | Bygewerk op 30 September 2024