Vinnige feite

  • Die aarde se totale deursnee is 12 756 km.
  • Die aarde se gemiddelde afstand van die son is ongeveer 149,6 miljoen km.
  • Die aarde het slegs een maan terwyl daar heelwat planete is wat verskeie mane het.
  • Die aarde is die enigste planeet in die sonnestelsel met enige vorm van lewe.
  • Die water van die aarde se oseane bedek sowat 72% van die aarde se oppervlak.
Foto: iStock

Die aarde, die planeet waarop mense woon – die enigste planeet waarop lewe kan bestaan – is ʼn sfeer, wat beteken dat die aarde effens platter by die pole is en meer uitbult by die ewenaar. 1

Die aarde is een van agt planete wat rondom die son wentel en deel van die sonnestelsel vorm. Die planete in die sonnestelsel beweeg in ’n elliptiese baan om die son. Die planete hou nooit op beweeg nie en word deur swaartekrag (gravitasie) in hul bane gehou. 2 Die aarde is die derde naaste planeet aan die son. 3

Swaartekrag tussen die planete en die son

Die son is die grootste en swaarste in die sonnestelsel, daarom oefen dit ook die grootste hoeveelheid swaartekrag op die planete uit. Die swaartekrag veroorsaak dat al die planete in bane om die son beweeg, dus ook die aarde. 3

Al die planete

Die name van die planete in die sonnestelsel: 2

Van naby tot ver van die son Groot na klein
Mercurius Jupiter
Venus Saturnus
Aarde Uranus
Mars Neptunus
Jupiter Aarde
Saturnus Venus
Uranus Mars
Neptunus Mercurius

Nota: Afgesien van hierdie planete is daar nog vyf dwergplanete, waarvan Pluto sekerlik die bekendste is. 4

Die binneplanete van die sonnestelsel

Die agt planete wat deel vorm van die sonnestelsel word verdeel in binneplanete (planete naaste aan die son) en buiteplanete (planete verste van die son). Die vier binneplanete, waarvan die aarde een is, bestaan almal uit rots, en sommige van hulle het ’n dun laag gas om die buitekant.

Die aarde het ook ‘n baie dun laag van water en grond. Die planete wentel elk in sy eie baan om die son. 3

Meer oor die Aarde

Die planeet aarde wentel om die son in 365,25 dae – dus een jaar. (Dit is ook die rede waarom ons elke vier jaar ʼn skrikkeljaar het. Dan kry Februarie een dag by.) In die hemelruimte beweeg die aarde aanhoudend om die son teen meer as 100 000 km elke uur. Die swaartekrag trek die son en aarde nader aan mekaar. 3

Seisoene

Soos die aarde geleidelik van een posisie na ’n ander om die son beweeg, word die vier seisoene verkry: somer, herfs, winter en lente. Die aarde is teen ’n hoek van 23,5 ° gekantel en terwyl dit om die son beweeg, kry verskillende dele daarvan verskillende hoeveelhede lig en hitte van die son. Indien die aarde nie gekantel was nie, sou daar geen seisoene wees nie. 2

Wanneer dit somer in Suid-Afrika is, is dit winter in Kanada. In Desember leun die Suidpool na die son toe – lande in die Suidelike Halfrond, soos Suid-Afrika, beleef dan somer. Terselfdertyd beleef lande in die Noordelike Halfrond, soos Kanada, dan winter. 5 Die aarde beweeg dus in sy eie wentelbaan om die son, maar die aarde roteer ook om sy eie as. 3

Dag en nag

Gedurende die dag lyk dit asof die son deur die lug beweeg soos dit in die oggend opkom (sonsopkoms) en saans sak (sonsondergang). Die son se posisie van opkoms en ondergang dui ook vir ons rigting aan: die son kom soggens in die ooste op, terwyl dit met sonsondergang in die weste sak.

Wanneer ons na die son kyk, lyk dit vir ons asof die son beweeg, maar in werklikheid is dit die aarde wat om sy eie as draai (roteer). Die aarde se as loop van die Noordpool tot die Suidpool.

Die aarde neem 24 uur om een volledige rotasie te maak en sy aswenteling veroorsaak dag en nag. 3 Elke plek op die aarde draai elke dag na die son toe en dan weer weg van die son. Wanneer ’n plek op die aarde na die son toe wys, is dit dag in daardie gedeelte. Wanneer daardie deel weg van die son wys, is dit nag. Dit verklaar hoekom alle lande nie op dieselfde tyd dag en nag het nie, want soos die een kant van die aarde na die son toe draai, word die ander kant in duister gedompel.

Daar is lande waar ’n dag tot 21 uur lank kan duur! Wanneer dit hoogsomer is naby die Noordpool in Stockholm, Swede, is die aarde so geposisioneer dat dit byna heeldag lig is daar. By die Noordpool verdwyn die son op ’n midsomerdag nooit onder die horison nie en vir die volle 24 uur is dit daglig! 5

Die Aarde se maan

Die planeet aarde het een maan. Die gravitasiekrag tussen die aarde en die maan hou die maan in so ‘n posisie dat die een sy altyd na die aarde wys. Die maan wentel om die aarde in sy eie wentelbaan en neem 28 dae om een wentelbaan om die aarde te voltooi.

Die maan skyn nie regtig nie en kan dus nie self lig maak nie. Wat ons sien wanneer dit lyk of die maan helder skyn, is die weerkaatsing van die son op die maan. Wanneer die maan lyk of hy groter word, is dit ’n groeiende (of wassende) maan terwyl ons praat van ’n afnemende maan wanneer hy weer kleiner lyk. 2

Die maan se gravitasie is ook verantwoordelik vir die verskillende seegetye.

Die maan het ‘n ligte grys oppervlak met donker grys merke op. Niemand het geweet hoe die oppervlak lyk totdat ‘n ruimtetuig op die maan geland het nie. Die eerste ruimtevaarders wat op die maan geloop het, het in die fyn poeierige stof getrap. Hulle het rotsmonsters (klein stukkies rots) versamel en terug aarde toe gebring sodat kenners dit kon ontleed en verder navorsing daaroor doen. 3

Die ligkleurige gebiede op die maan is berge, en die donkerder gebiede is vlaktes. Sommige van die vlaktes is deur groot ruimterotse veroorsaak wat kraters van 300 km wyd gemaak het. Ander vlaktes is deur vulkane wat voorheen op die maan was, gemaak. Daar is tans geen aktiewe vulkane op die maan nie. Die maan het geen lug nie, daarom kan daar nie wind wees wat die stof rondwaai nie. Die maan het ook geen water nie, daarom is daar nie reën wat die grond kan wegspoel en erosie kan veroorsaak nie. Dit is waarom die kraters op die maan so duidelik sigbaar is. 3

Binne-in en buite-om die aarde

Die aarde bestaan uit ’n binnekern, buitekern, mantel en kors.

Die meeste van die planeet se gewig is in die kern gekonsentreer. Die kern bestaan hoofsaaklik uit yster, gemeng met nikkel. Die binnekern is solied, vanweë die drukking van die boonste lae daarop, maar word omring deur ’n vloeibare buitekern. Saam vorm die binnekern en die buitekern van die aarde ’n metaalbal van byna 7 000 km in deursnee, ongeveer die grootte van Mars.

Die kern word omring deur ’n massa soliede rots, bekend as die mantel. Dit is ryk aan yster en is baie swaar, maar nie so swaar in gewig soos die metaalkern nie. Die mantelrots is geweldig warm, wat dit vormbaar maak, byna iets soos speelklei. Vanweë die intense hitte binne-in die planeet, is die mantel gedurig besig om stadig te beweeg. Die strome in die mantel veroorsaak aardbewegings en vulkaniese uitbarstings.

Die aardkors wat die mantel omring, is ongeveer 5 tot 70 meter diep. Dit is ’n koel, bros rots en word verdeel in ’n oseaniese en kontinentale kors.

Die dun oseaniese kors bedek meer as twee derdes van die aarde se oppervlak en bestaan hoofsaaklik uit donker, swaar rots, genaamd basalt. Die dikker kontinentale kors bestaan uit ligter rotse soos graniet. In albei hierdie soorte kors is die harde rotsbodem dikwels bedek met sagter rotse.

Albei soorte bros kors is verbind met die boonste laag van die mantel. Hulle vorm ’n uitgestrekte, koel dop rondom die planeet, genaamd die litosfeer. Dit lê bo-op die warmer, meer vloeibare laag wat gedurig beweeg. Die beweging veroorsaak dat die litosfeer kraak. Daar is dus skeure en breuke in die litosfeer, asook baie vulkane. 6

Interessante feite

  • Everest is die hoogste berg op die aarde. Dit lê in die Himalajagebergte, op die grens tussen Nepal en China. Die kruin daarvan is 8 848 m hoog. Die eerste mense wat Everest uitgeklim het, was Edmund Hillary en Tenzing Norgay, wat die piek op 29 Mei 1953 bereik het. 5
  • Daar is dele op die aarde waar vulkane gereeld voorkom. ’n Vulkaan is ’n plek waar kokende, vloeibare rots (magma) deur die aardkors bars. Wanneer magma die oppervlak bereik, word dit lawa genoem. Rooiwarm lawa vloei of skiet by ’n vulkaan uit. Ná ’n vulkaniese uitbarsting koel die lawa af en vorm dit soliede rots. Met elke uitbarsting bou die vulkaan al hoe hoër op vanweë hierdie rotslae. 5
  • Oral op die aarde kry ’n mens natuurlike warmbronne en warm spuitbronne. ’n Mens verwag dat water in die natuur koud moet wees, maar op party plekke verhit warm rotse die water ondergronds. Die water kan selfs kookpunt bereik. Die warm water kan ’n meer of ’n warmbron vorm – of selfs soos ’n fontein by die grond uitspuit en ’n geiser (spuitbron) vorm. 5
  • Die Nylrivier in Afrika is die wêreld se langste rivier. Dit ontspring naby die Victoriameer en vloei Noord deur Egipte, waar dit in die Middellandse See uitmond. Die rivierloop is byna 6 700 km lank. 5
  • Die Angel-waterval in Venezuela is die aarde se hoogste waterval. Dit stort van die kant van ’n baie hoë, plat berg 979 m na benede. 5
  • Die antieke Romeine het die aarde se maan luna genoem. Die maan is die aarde se enigste natuurlike satelliet. 2
  • Die Amerikaner, Neil Armstrong, is die eerste man wat op die maan (in Julie 1969) geland het. 3

Woordbank

sonnestelsel Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïede, meteore, komete en die planete se mane in. 3 Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring. 2
swaartekrag (gravitasie) Dit is die krag waarmee twee voorwerpe mekaar aantrek. 3
wentel Om beweeg of draai. 1

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Die planeet aarde

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 April 2024