Vinnige feite

  • Uranus was die eerste planeet wat met behulp van ’n teleskoop ontdek is. Vorige planete, van Mercurius tot Saturnus, was almal sedert Antieke tye bekend.
  • As dit vir jou moontlik sou wees om op Uranus te staan – wat jy nie sou kon doen nie as gevolg van die temperatuur, die lugdruk en die gebrek aan suurstof – sou dit na vrot eiers ruik. 11

Uranus, ook bekend as die Gekantelde Reus as gevolg van sy unieke gekantelde rotasie wat dit laat lyk asof dit op sy kant lê, is soos Neptunus, Saturnus en Jupiter, een van die reuseplanete. Reuseplanete is ondenkbaar groot, verstommend mooi, en soms ’n bietjie vreemd. Hulle bestaan uit groot hoeveelhede gasse, en hulle is die vier buiteplanete in ons sonnestelsel. Uranus is die tweede verste planeet van ons son af.

Uranus se ontdekking

In 1675 het John Flamsteed Brittanje se eerste koninklike sterrekundige by die nuwe Royal Observatory (die koninklike sterrewag) by Greenwich geword. Sy taak was om die hemelruim akkuraat te karteer sodat skepe makliker en beter kon navigeer – skepe het in daardie tye nog nie satelliete gehad waarmee hulle kon bepaal waar hulle op die oop see is nie, en hulle moes die posisie van die sterre gebruik om te bepaal waarheen hulle moet vaar. Teen 1690 het Flamsteed in sy lys ’n hele aantal “vaste sterre” gehad. Een van hulle was ’n hemelliggaam met die naam “34 Tauri”. Dit was volgens Flamsteed ’n dowwe voorwerp in die konstellasie Taurus wat ’n mens net-net met die blote oog kon raaksien. 1

John Flamsteed

Die probleem was dat Flamsteed se “vaste ster” deur die hemelruim beweeg het, wat natuurlik die onderskeidende kenmerk van ’n planeet is (die woord “planeet” kom van die Grieks asteres planētai wat ‘wandelende ster’ beteken). 2 Planete “wandel”, want hulle wentel in wentelbane om die son.

Dit was eers ’n eeu later, ’n paar minute voor middernag op 13 Maart 1781, dat die Duits-gebore musikant en sterrekundige William Herschel ’n vreemde voorwerp in die oogstuk van sy tuisgemaakte 6,2 duim- reflekterende teleskoop gesien het. Eers het hy gedink dit is dalk ’n komeet, maar die afwesigheid van ’n stert het Herschel laat besef dit kan nie wees nie. Later het hy en die sterrekundiges by Greenwich 34 Tauri se wentelbaan uitgewerk, en toe besef dit is ’n planeet.

Die nuwe planeet het die naam “Uranus” gekry, want in die Romeinse mitologie was Uranus die vader van Saturnus, wat die vader van Jupiter was. 3 Jupiter en Saturnus was toe reeds al vir baie eeue aan die mens bekend, en hulle het reeds name gehad. Uranus is die verste van die son, daarom het hy die oudste naam van die drie gekry.

Posisie in ons sonnestelsel

Uranus is die sewende planeet vanaf die son en die derde grootste planeet in die sonnestelsel.

Sterrekundiges het die agt planete van ons sonnestelsel in die binneplanete en die buiteplanete verdeel. Die vier binneplanete is die naaste aan die son, en die buiteplanete is die ander vier – Jupiter, Saturnus, Uranus en Neptunus. Die buiteplanete is die reuseplanete. 4

Hierdie tabel behoort jou te help om Uranus ten opsigte van die ander planete in ons sonnestelsel te plaas:

Naaste tot verste van die son Van die kleinste na die grootste
Mercurius Mercurius
Venus Mars
Aarde Venus
Mars Aarde
Jupiter Neptunus
Saturnus Uranus
Uranus Saturnus
Neptunus Jupiter

Uranus se eienskappe

Gemiddelde temperatuur: -195 °C waar lugdruk gelyk is aan seevlak op aarde
Gemiddelde afstand vanaf die son: 2 873 miljoen km (19 keer verder van die son as die aarde)
Deursnee: 51 118 km (vier keer meer as die aarde, wat ’n deursnee van 12 742 km by die ewenaar het)
Volume: 68 miljard km3 (die aarde kan 63 keer in Uranus pas)
Swaartekrag: 8,7 m/s² (89% dié van die aarde)
Een dag (duur van ’n omwenteling om sy eie as): 17 aardse uur
Sonjaar (duur van ’n omwenteling om die son): 30 687 aardse dae
Atmosfeer: 83% waterstof, 15% helium, 2% metaan en ander gasse 5

Die planeet is koud en winderig, en hy het ’n blou-groen kleur as gevolg van groot hoeveelhede metaangas in sy samestelling. Metaan absorbeer rooi lig en weerkaats dan net die blou lig terug in die atmosfeer. Uranus se atmosfeer bestaan grootliks uit waterstof en helium, maar sluit ook groot hoeveelhede water, ammoniak en metaan in. 4

Wanneer Uranus sy dag-nag-ewening beleef, kry die planeet ewe veel sonlig in sy dag en nag, en is die temperatuur op die planeet se oppervlak betreklik konstant. Dan is die weer ook bestendig. Maar wanneer die sonstilstand plaasvind, soos ons op aarde in die middel van die somer en die middel van die winter beleef, is die temperatuurwisseling op die planeet enorm, en dan ontstaan daar groot storms met woeste tregterwinde. 6

’n Spesifieke soort reuseplaneet

Net soos Saturnus, Jupiter en Neptunus, is Uranus ’n reuseplaneet. Uranus en Neptunus is egter anders as die ander twee reuse – hierdie twee word ysreuse genoem omdat hulle samestelling verskil van Jupiter en Saturnus, die gasreuse. Jupiter en Saturnus bestaan ​​hoofsaaklik uit waterstof en helium, met groot mantels van metaalwaterstof (in Engels: metallic hydrogen), en hulle het slegs klein kerne van rots en ys. Dit is hoekom hulle gasreuse genoem word: Hulle is meestal gas, met baie min rots en ys. 7

Die twee ysreuse, Uranus en Neptunus, bestaan ​​uit waterstof en helium, maar hulle bevat ook swaarder elemente soos suurstof, koolstof, stikstof en swael. Onder hul relatief dun buitenste lae van waterstof en helium, bestaan hierdie planete se mantels grootliks uit water en ammoniak wat tot ’n slap mengsel saamgepers is. Die ysreuse se rotsagtige yskerne – in teenstelling met die gasreuse – is ook proporsioneel groter as die hoeveelheid gas wat hulle bevat.

Die kanteling van die Gekantelde Reus

Uranus het sy bynaam gekry omdat die planeet lyk asof dit omgeval het en nou op sy kant lê as hy om sy eie as draai. Wetenskaplikes glo dat hierdie eienaardige kanteling die gevolg is van ’n massiewe botsing baie lank gelede met ’n hemelliggaam wat moontlik so groot was soos die aarde. 6

As gevolg van hierdie eienaardige posisie waarin Uranus lê, beleef die planeet ’n paar wilde seisoene, met die son wat vir 21 aardjare op ’n slag op elke pool brand terwyl die teenoorgestelde pool stikdonker is. En dit is nie die enigste vreemde ding van Uranus nie. Net soos Venus, het Uranus wat ons ’n “retrogressiewe”, of “terugwaartse”, rotasie noem. Dit beteken Uranus draai in die teenoorgestelde rigting om sy eie as as die res van die planete.

Boonop werk Uranus se magnetosfeer, die magnetiese veld van die planeet, ook anders as ander planete s’n. Dit is byna 60 grade teenoor die rotasie-as gekantel. Dit beteken die planeet se auroras is nie bokant die pole nie, in teenstelling met waar dit op aarde sigbaar is.

Ringe en mane

Uranus het 28 bekende mane en ten minste 13 smal ringe. Elkeen van die ontelbare deeltjies waaruit die ringe bestaan, kan beskou word as ’n klein maantjie wat in sy eie wentelbaan draai. Die ringe is die naaste aan die planeet, en die mane wentel net buite die ringe. Die wentelbane van die buitenste groep mane is belyn met Uranus se ewenaar. 8

Uranus se vyf grootste mane het radiusse van ongeveer 240 tot 800 km. Hierdie mane is met teleskope van die aarde af ontdek. 8 Hierdie mane se name is (van die kleinste tot die grootste) Miranda, Ariel, Umbriel, Oberon en Titania – die mane is ook na karakters uit Romeinse mites vernoem. 7 Titania en Oberon is in 1787 deur Herschel gevind. Ariel en Umbriel is in 1851 ontdek en Miranda in 1948. 9

Wetenskaplikes vermoed dat van die mane moontlik vloeibare water onder hul oppervlakke het. Die teenwoordigheid van water op enige planeet of hemelliggaam is altyd ’n opwindende gedagte, want dit beteken dat daar dalk moontlik een of ander vorm van lewe daarop kan wees. 8

Voyager 2 se reis na Uranus

In die tyd toe William Herschel Uranus ontdek het, het die mens net teleskope gehad om die hemelruim mee te verken. Met die ontwikkeling van ruimtetuie, het dit vir die mens moontlik geword om hemelliggame van naderby af te neem en te ondersoek.

William Herschel

NASA (die National Aeronautics and Space Agency van die VSA) se Voyager 2, ’n ruimtetuig wat in 1977 gelanseer is om die buitenste dele van ons sonnestelsel te verken, was die enigste ruimtetuig wat relatief naby aan Uranus gevlieg het. In 1986 het dit die planeet op ’n afstand van sowat 80 000 km ondersoek voordat dit na die naburige ysreus, Neptunus, beweeg het. Tydens Voyager 2 se kort waarneming van Uranus is die planeet se atmosfeer, magneetveld, ringe en baie van sy mane bestudeer. 10

Die belangrikste waarneming was dat die planeet Uranus byna geen uitsonderlike kenmerke op sy oppervlak gehad het nie. Dit het gelyk soos ’n groot groen-blou bal in die foto’s wat Voyager 2 teruggestuur het aarde toe. 9

Sedertdien het die seisoene egter verander, en Uranus het geweldige storms beleef. Winde van meer as 800 kilometer per uur is gemeet, met wolkstelsels wat tot 18 000 kilometer ver strek. 11

Woordbank

auroras Natuurlike lig wat in die winter en in die nag in die poolstreke te siene is, en wat te doen het met die magnetiese veld om ’n planeet.
bestendig Dieselfde; sonder om te verander.
dag-nag-ewening Die tydstip in die jaar waarop die dag en die nag presies ewe lank is.
gekantelde Op die sy gedraaide.
gelanseer Met ’n groot spoed die lug ingestuur.
karteer Om ’n kaart of kaarte van ’n bepaalde oppervlak te teken.
koninklike sterrekundige Sterrekundige wat deur die koning aangestel is by die sterrewag in Greenwich.
lugdruk Die druk van die atmosfeer.
magnetosfeer Die magnetiese veld van ’n planeet.
metaalwaterstof Waterstof wat as ’n metaal optree as gevolg van die druk en temperatuur binne die reuseplanete. In hierdie planete neem metaalwaterstof altyd die vorm van ’n vloeistof aan.
navigeer Deur middel van ’n kaart en ander land- of sterretekens ’n pad vind.
proporsioneel Wat die verhouding betref.
retrogressiewe Terugwaartse; agteruit.
rotasie Draai.
satelliete Voorwerp wat in ’n wentelbaan om ’n ander voorwerp draai.
sonstilstand Die tydstip in die jaar waarop die nag die langste en die dag die kortste is, of die nag die kortste en die dag die langste is.
tregterwinde Winde soos tornado’s wat in ’n tregtervorm waai.
wandel Stap; loop.
wentel Draai.
wentelbane Bane waarin hemelliggame of mensgemaakte voorwerpe om ’n ander hemelliggaam draai.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die planeet Uranus

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die planeet Uranus

’n Baie goeie oorsig deur National Geographic

’n Kindervriendelike animasievideo

Gepubliseer op: 26 April 2024 | Bygewerk op 30 April 2024