Vinnige feite
- Neptunus is 4 459 753 056 tot 4 537 039,826 km van die son af.
- Die planeet se swaartekrag is anders as op die aarde. As jy 45 kg op die aarde weeg, sal jy 52 kg op Neptunus weeg.
- As ’n mens met ’n ruimtetuig vanaf die aarde na Neptunus reis, sal dit jou 12 jaar neem om daar uit te kom!
- Neptunus se magnetiese veld is 27 keer sterker as die aarde s’n. 5
- Neptunus is die enigste planeet in ons sonnestelsel wat jy nie met die blote oog kan sien nie.
Wat is oud, koud en baie winderig? Ontmoet die planeet Neptunus, wat ongeveer 4,5 duisend miljoen jaar gelede gevorm is. Dié planeet is die agtste planeet in ons sonnestelsel en die planeet wat die verste weg van die son in ons sonnestelsel is. Dit is meer as 30 keer verder van die son as wat die aarde is!
As ’n mens na Neptunus kyk, lyk dit asof dit uit ’n rustige blou see bestaan. Dit is egter ’n stormagtige planeet waar die sterkste winde in ons sonnestelsel waai. Neptunus ervaar winde van meer as 1 900 km per uur. 1 Dis baie sterk, veral as ’n mens dink dat die sterkste winde wat al op aarde ervaar is, ongeveer 408 km per uur is! 2
Wie het Neptunus ontdek?
Die planeet is meer as 5 duisend miljoen kilometer weg van die aarde af en daarom kan ’n mens dit slegs met ’n teleskoop sien.
Neptunus is om verskeie redes ’n interessante planeet. Dit is die eerste planeet wat ontdek is deur dit wiskundig uit te werk. Twee astronome John Couch Adams en Urbain Jean Joseph Le Verrier het in 1845 deur wiskundige berekeninge bepaal dat daar ’n planeet is wat die wentelbaan van die planeet Uranus beïnvloed. Hulle het geweet daar is ’n planeet, en het selfs sy ligging met die hulp van wiskunde uitgewerk, maar kon dit net nie sien nie. Hul bevindings is reg bewys toe die astronoom Johann Gottfried Galle en sy assistent, Heinrich Louis d’Arrest, in 1846 die planeet met ’n teleskoop waargeneem het.
Die nuwe planeet is na Neptunus, die Romeinse god van die see, genoem. 3
Waaruit bestaan dit?
Neptunus is een van die planete wat ons gasreuse noem. Sy maats, wat dieselfde eienskappe deel, is die planete Jupiter, Saturnus en Uranus. Hulle het geen soliede oppervlak nie en bestaan meestal uit gasse.
Daar word beraam dat 80% of meer van die planeet se massa uit ’n digte vloeistof van “ysige” materiale, water, metaan en ammoniak bestaan, en ’n rotsagtige kern het.
Wetenskaplikes glo dat daar moontlik ’n oseaan van baie warm water onder Neptunus se koue wolke skuil. Die atmosfeer van die planeet bestaan meestal uit waterstof en helium, met ’n tikkie metaan. 1
Belangrike kenmerke
Neptunus lyk blou en dít is te danke aan die metaan wat in sy atmosfeer voorkom. Metaan absorbeer rooi lig en die lig wat van die planeet se wolke af weerspieël word, het dus nie rooi in nie en vertoon blou. Uranus het dieselfde persentasie metaan as Neptunus, maar vertoon blougroen. Daar moet dus nog gasse in Neptunus se atmosfeer wees wat dit só ’n besonderse blou maak. 4
Die planeet het minstens ses ringe, maar dis moeilik om te sien en is nie so opmerklik soos Saturnus s’n nie. 4
Neptunus is die kleinste planeet van al die gasreuse, maar dit is steeds massief – ongeveer 50 000 km in deursnee. Soveel as 57 aardes kan daarbinne pas!
Neptunus se massa is ongeveer 1,2 keer groter as Uranus s’n en meer as 17 keer groter as die aarde s’n. Dit is die derde grootste planeet in die sonnestelsel. Jupiter is die grootste, gevolg deur Saturnus.
Die gemiddelde temperatuur op Neptunus is ’n ysige -214 °C.
Neptunus het sy eie magneetveld wat ’n noord- en ’n suidpool het.
Neptunus se mane
Daar is aanvanklik gedink dat Neptunus 14 mane het, maar daar is nou al 16 geïdentifiseer. Sy grootste maan is Triton en dis op 10 Oktober 1846 deur William Lassell geïdentifiseer. Triton is baie koud met ’n oppervlaktemperatuur van ongeveer -235 °C. Daar is egter geisers op die maan wat ysige materiaal tot 8 m hoog in die lug opskiet! 5
Hierdie maan sirkel om die planeet in ’n rigting wat teenoorgesteld is as dié van die planeet se rotasie. Dit is daarom dat wetenskaplikes dink dat Triton aanvanklik as ’n onafhanklike planeet gevorm het, maar toe trek Neptunus dit in sy wentelbaan in. 4
Wentelbaan
Neptunus wentel stadiger as enige ander planeet in ons sonnestelsel om die son. Dit neem Neptunus ongeveer 165 aardejare om rondom die son te beweeg. Een jaar op Neptunus is dus gelyk aan 165 jaar op die aarde!
Dit neem Neptunus ongeveer 16 uur om om sy eie as te beweeg en daarom is een dag op Neptunus gelyk aan 16 uur op die aarde.
Neptunus se enigste besoeker
Omdat Neptunus so ver van ons af is, kon die Amerikaanse Nasionale Lugvaart- en Ruimteadministrasie (Nasa) nog net daarin slaag om een ruimtetuig te stuur om die planeet te bestudeer. Die Voyager 2 het in 1989 verby die planeet gevlieg en dis eers tóé dat wetenskaplikes byvoorbeeld bevestig het dat Neptunus ’n stelsel van ringe het.
Die Voyager 2 is in Augustus 1977 in die ruimte ingestuur en het eers die planete Jupiter en Saturnus besoek. Dit is toe weer geprogrammeer om Uranus en Neptunus te besoek. Dis ongelooflik om te dink dat tegnologie in daardie jare al van so ’n aard was dat die ruimtetuig die swaartekragvelde van elk van die planete kon gebruik om sy spoed te verhoog en sy rigting te verander om die volgende planeet te besoek.
Die ruimtetuig het in Augustus 1989 verby Neptunus gevaar en verskeie maande om die planeet en sy mane deurgebring. Die tuig se naaste posisie aan die planeet was toe dit 5 000 km bo Neptunus se noordpool was. Dis te danke aan die 10 000 foto’s wat die tuig geneem het en al die data wat hy versamel het, dat ons vandag meer van Neptunus en sy mane weet. 3
Het jy geweet?
Die dwergplaneet Pluto is gewoonlik verder van die son af weg as wat Neptunus is, maar Pluto het ’n eienaardige wentelbaan wat dit elke 248 jaar tot reg binne-in Neptunus se wentelbaan plaas. Neptunus is dan weer 20 jaar lank verder van die son af weg as Pluto. Die laaste keer dat dit gebeur het, was van 1979 tot 1999. Pluto was van 1930 tot 2006 as ’n planeet geklassifiseer, waarna dit as ’n dwergplaneet geherklassifiseer is. 3
Nog ’n interessantheid is dat daar in 1989 ’n groot storm in Neptunus se suidelike halfrond gewoed het wat die “Groot Donker Kol” genoem is. Dit was groot genoeg om die hele aarde te bedek. Die storm het sedertdien uitgewoed, maar daar is kort-kort nuwes op die planeet.
Woordbank
astronome | Wetenskaplikes wat die ruimte, sterre, planete en ander ruimtevoorwerpe bestudeer. |
atmosfeer | Gasomhulsel rondom die aarde; dampkring. |
data | Dit is inligting in ’n vorm waarin dit bewaar en gebruik kan word, veral in ’n rekenaar. |
geisers | Warmwaterbronne waar water uitspuit. |
kern | Middelpunt, binneste. |
ligging | Die plek waar iets geleë is. |
maan | ’n Hemelliggaam wat rondom ʼn planeet draai. |
magneetveld | ’n Magneetveld is die area rondom ’n magneet, magnetiese voorwerp of ’n elektriese lading waarin magnetiese krag uitgeoefen word. |
metaan | ’n Kleurlose, reuklose gas wat deur die ontbinding van organiese materie gevorm is. |
planeet | ʼn Groot sfeer (hemelbol) wat rondom ʼn ster, soos die son, wentel. |
rotasie | Wanneer ’n voorwerp om ’n as of sentrale punt draai. |
soliede | Ferm of vas; kompak; nie gasagtig, vloeibaar of hol nie; ’n vaste stof. |
sonnestelsel | Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïede, meteore, komete en die planete se mane in. Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring. |
swaartekragvelde | Gebiede/velde met krag wat ʼn liggaam na die aarde toe trek; gravitasie. |
tegnologie | Nuwe masjiene, toerusting en maniere om dinge te doen wat op moderne kennis van die wetenskap en rekenaars gegrond is. |
teleskoop | Meestal buisvormige, optiese instrument waarmee verafgeleë voorwerpe soos sterre deur middel van ligbreking of ligweerkaatsing van naby/nader bekyk kan word. |
tikkie | ʼn Klein bietjie. |
wentelbaan | Vaste pad of baan waarin ‘n hemelliggaam soos die son of die planete beweeg. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Leer meer oor die blou planeet
Raar, maar waar
Feite oor die planeet
Wat het die ruimtetuig als van Neptunus geleer?