Vinnige feite

  • Die son kom vir Venus in die weste op en sak in die ooste.
  • Op Venus kom die son nie elke dag op en gaan onder soos ons dit op die aarde ken nie. Een dag-nag-siklus neem 117 aardse dae, omdat Venus se rotasie in die teenoorgestelde rigting as sy wentelbaan om die son plaasvind – dink net hoe lank sou ’n mens daar moes slaap!
  • Winde op Venus waai teen orkaanspoed wat meebring dat groot wolke die planeet elke vyf dae geheel en al bedek.
  • Lewe soos ons dit op die aarde ken is, as gevolg van die ekstreme temperature en suur gasse, nie op Venus moontlik nie.
  • Venus het geen mane nie.
Foto: iStock

Venus is ’n bekende planeet en is een van agt planete wat rondom die son wentel en deel van die sonnestelsel vorm. Die planete in die sonnestelsel beweeg in ’n ellipsvormige baan om die son. 1 Die planete hou nooit op beweeg nie en word deur swaartekrag (gravitasie) in hul bane gehou.  2

Venus is die tweede planeet naaste aan die son. 3

Venus se ontdekking

Dit is onbekend wie Venus eerste ontdek het, maar dit is vernoem na die Romeinse godin van liefde en skoonheid, en daarom die enigste planeet in ons sonnestelsel wat na ’n vroulike figuur vernoem is. 4 Die eerste persoon wat na Venus deur ’n teleskoop gekyk het, was die sterrekundige Galileo Galilei. Hy het die eerste akkurate waarnemings van die planeet in 1610 geneem. 5

Galileo Galilei

Posisie in ons sonnestelsel

Venus is die tweede planeet vanaf die son en die derde kleinste planeet in die sonnestelsel.

Sterrekundiges het die agt planete van ons sonnestelsel in die binneplanete en die buiteplanete verdeel. Die vier binneplanete is die naaste aan die son – Mercurius, Venus, die aarde en Mars – en die buiteplanete is die ander vier. 1

Hierdie tabel behoort jou te help om Venus ten opsigte van die ander planete in ons sonnestelsel te plaas.

Naaste tot verste van die son Van die kleinste tot die grootste
Mercurius Mercurius
Venus Mars
Aarde Venus
Mars Aarde
Jupiter Neptunus
Saturnus Uranus
Uranus Saturnus
Neptunus Jupiter

Nota: Afgesien van hierdie planete is daar nog vyf dwergplanete. 6

Uranus se eienskappe

Gemiddelde temperatuur: 464 °C (die warmste planeet in die sonnestelsel)
Gemiddelde afstand vanaf die son: 108,2 miljoen km
Deursnee: 12 104 km
Een dag (duur van ’n omwenteling om sy eie as): 243 aardse dae of 5 832 aardse uur (die langste dag in die sonnestelsel)
Sonjaar (duur van ’n omwenteling om die son): 255 aardse dae
Atmosfeer: Beslaan meestal koolstofdioksied; bevat baie wolke wat uit swaelsuur bestaan.

Swaartekrag tussen die planete en die Son

Die son is die grootste en swaarste hemelligaam in die sonnestelsel, daarom oefen dit ook die grootste hoeveelheid swaartekrag op die planete uit. Die swaartekrag veroorsaak dat al die planete in bane om die son beweeg, dus ook Venus. 3

Meer oor Venus

Venus is die tweede naaste planeet aan die son en ook die aarde se naaste buurplaneet. Dit is amper dieselfde grootte as die aarde, lyk wit en skyn baie helder in die aand of vroegoggend. Venus staan ook bekend as die oggend- en aandster.

Venus is een van die planete wat baie mooi lyk vanaf die aarde, maar die eintlike rede vir sy helder lig is omdat dit bedek is met ’n dik wolkmantel van swawelsuur. Die digte atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit koolstofdioksied.

Anderkant die digte wolk van koolstofdioksied is al vulkane en misvormde berge waargeneem. Die oppervlak bestaan uit ’n dun kors rots wat beweeg en bult soos Venus se mantel skuif en vulkane vorm. 7

Venus se vreemde rotasie en wentelbaan

Venus is een van twee planete wat andersom roteer as die res van die planete. Venus en Uranus roteer vanaf die ooste na die weste.

Venus se wentelbaan is ook die rondste van al die planete, amper ’n perfekte sirkel. Die ander planete se wentelbane is ellipsvormig.

Venus draai om sy eie as in ’n amperse regop posisie, met ’n hoek van 3° en ondervind daarom nie sigbare seisoene nie.

Navorsing oor venus

Meer as 40 ruimtetuie is al op sendings gestuur om Venus of sy wentelbaan te verken. Venus is die eerste planeet wat al ooit deur ’n ruimtetuig afgeneem is, deurdat die tuig verby die planeet kon beweeg om foto’s en inligting bymekaar te maak. 7

Die National Aeronautics and Space Administration (NASA) het die Mariner 2-ruimtetuig op 14 Desember 1962 afgevuur en die sending was suksesvol. Daarna het die ruimtetuie Mariner 5, Mariner 10, Pioneer Venus 1, Pioneer Venus 2 en Magellan Venus ook verken.

Die voormalige Sowjetunie is die enigste nasie wat, tot op hede, ’n ruimtetuig op Venus se oppervlak kon laat land. Weens die ongunstige toestande en geweldige hitte op die planeet, het dié ruimtetuig egter nie lank gehou nie. 5

Woordbank

sonnestelsel Die sonnestelsel bestaan uit die son saam met al die planete wat rondom die son wentel. Dit sluit ook asteroïde, meteore, komete en die planete se mane in. 3 Die sonnestelsel is dus die son en alles wat dit omring. 1
gravitasie Dit is die krag waarmee twee voorwerpe mekaar aantrek. 3
wentel Om beweeg of draai. 5

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die planeet Venus

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer oor die planeet Venus

Die planeet Venus

Interessante feite oor Venus

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Februarie 2022 | Bygewerk op 30 April 2024