Vinnige feite
- Boeddhisme is een van die oudste godsdienste ter wêreld, selfs nog ouer as Islam.
- Boeddhiste aanbid nie ʼn spesifieke god soos in ander godsdienste nie. Hulle aanbid slegs die goeie en lei ʼn bestaan binne ʼn raamwerk van ʼn opgestelde waardesisteem.
- In Boeddhisme is daar nie predikers of leraars nie, slegs monnike wat kennis oordra aan gemeentelede in ruil vir kos, omdat hulle nie self mag kook nie.
- In Boeddhisme is geweld ontoelaatbaar – slegs verdedigingstegnieke kan gebruik word om die aanvaller se energie teen hulle te stuit.
- Boeddhistiese tempels is enige tyd van die jaar oop en daar is nie spesifieke tye vir samekomste nie.
- Alhoewel Boeddhisme in Indië ontstaan het, is die meeste inwoners daar vandag Hindoes.
Volgens oorlewering is Siddhartha Gautama die Boeddha waaruit Boeddhisme ontstaan het. Hy was die seun van koning Suddhodana, 1 heerser van die Sakya-stam (‘n etniese groep suid van die Himalajagebergte) in die 5de eeu v.C. 2
Sy ma, ’n beeldskone vrou, was koningin Maya wat ook die Godin van Illusie genoem is. Na bewering het Siddhartha Gautama uit die hemel in die moederskoot neergedaal, ten volle bewus van sy eie identiteit en roeping. En volgens legendes kon Boeddha onmiddellik praat en minstens sewe meter ver loop! Sy ma is kort ná sy geboorte oorlede.
Geleerdes verskil oor die presiese datum van Boeddha se geboorte, daarom word dit meestal slegs aangedui as tussen die 6de en 4de eeu v.C. 3 Hy is in Lumbini, Nepal in die noorde van Indië gebore.
Daar word beweer dat hy al die tradisionele kunste en wetenskappe van sy tyd, 64 verskillende tale, wiskunde, vegkuns en boogskiet gestudeer en beoefen het. Wonderlike stories word ook oor Boeddha se jeug vertel. Daarvolgens het hy glo na aanleiding van die vakke wat hy bestudeer het, gesê: “Met die boog van mediterende konsentrasie sal ek die pyle van wysheid afskiet en die tier van onkunde in lewende wesens van kant maak.” Daarna het hy ’n pyl afgeskiet wat deur vyf ystertiere en sewe bome getrek het!
Maar Boeddha was ’n gewone mens wat self geen aanspraak op ’n goddelike oorsprong gemaak het nie.
Die Boeddhistiese kloosterlewe
Die Boeddhistiese kloosterlewe is een van die oudste bestaande vorme van georganiseerde kloosterlewe in die geskiedenis van godsdiens. Kloosters is een van die mees basiese instellings van Boeddhisme. Monnike en nonne is verantwoordelik vir die bewaring en verspreiding van Boeddha se leerstellings en om leiding te gee aan oningewyde Boeddhiste.
Die orde van Boeddhistiese monnike en nonne is deur Gautama Boeddha tydens sy lewe – meer as 2 500 jaar gelede – gestig.
Die Boeddhistiese kloosterleefstyl het ontstaan uit vroeëre sektes van swerwende askete. ’n Askeet is iemand wat hom afsonder en ‘n streng, vroom lewe sonder enige sinlike genot lei. Sommige van hulle was leermeesters van Boeddha.
Die sangha 4 het uit vier groepe bestaan: monnike, nonne en oningewyde/niegeestelike mans en vrouens (leke). Die kloostergemeenskap het nie werklik in afsondering gewoon nie en was van die gewone gemeenskap afhanklik vir basiese kos en klere asook blyplek, indien nodig. In ruil daarvoor het lede van die kloostergemeenskap niegeestelike volgelinge gelei op die pad na dharma, 5 oftewel die leringe van Boeddha.
Individuele of klein groepe monnike het gewoonlik saamgereis, aan die buitewyke van plaaslike gemeenskappe gewoon en in die woude gemediteer. Monnike en nonne moes met so min as moontlik besittings klaarkom, en dié moes deur die plaaslike gemeenskap verskaf word.
Boeddhiste glo dat die hoogste doel in die lewe is om nirwana 6 te bereik en te beleef. Baie van die fundamentele beginsels van Boeddhisme stem ook ooreen met Hindoeïsme. Om te mediteer en om in beheer van jou emosies te wees, speel ʼn fundamentele rol in die Boeddhistiese godsdiens. Vir Boeddhiste is meditasie ‘n manier van verhoogde bewustheid.
Ná Boeddha se parinirwana het die Boeddhistiese orde ontwikkel in ’n hoofsaaklik kloosterbeweging. Die praktyk om in die reënseisoen saam te woon, soos Boeddha voorgeskryf het, het geleidelik ontwikkel in ’n gevestigde kloosterlewe.
Interessant genoeg is die woord Boeddhisme eers in die middel van die 1900’s in gebruik geneem, deur Europeërs wat nog nie bekend was met die essensie van dié godsdiens nie.
Volgens Boeddha is alle vorme van lewe deel van die heelal – alles wat geskep is, sal vergaan en alles is op ʼn manier aan mekaar gekoppel om deel te vorm van ʼn groter geheel.
Waar daar in die Christengeloof geglo word dat Jesus die Verlosser is en dat mense Hom nodig het om gered te word en hul sondes te vergewe, glo Boeddhiste dat hulle nie ʼn verlosser nodig het nie en leef slegs streng volgens die perke wat deur hul geloof ingestel is.
Uit ʼn klein begin as ʼn monnike-orde wat deur Boeddha gestig is, het Boeddhisme van Indië af tot feitlik oor die hele Asië versprei en gegroei tot een van die wêreld se grootste godsdienste. In die land van oorsprong, naamlik Indië, het Boeddhisme feitlik geen aanhangers meer nie.
Die vier edel waarhede
Die Vier Ariese (of Edele) Waarhede is miskien die mees basiese formulering van die Boeddha se lering. Hulle word soos volg uitgedruk: 7
Alle bestaan is dukkha. Die woord dukkha is op verskillende maniere vertaal as ‘lyding’, ‘angs’, ‘pyn’ of ‘onbevrediging’. Die Boeddha se denkrigting was dat ons lewens ‘n stryd is, en ons vind nie uiteindelike geluk of bevrediging in enigiets wat ons ervaar nie.
Die oorsaak van dukkha is drang. Lyding word veroorsaak deur ’n drang, verlange of dors – die mens se dors na plesier, na onverganklikheid, ensovoorts. Die natuurlike menslike neiging is om dinge buite homself daarvoor te blameer.
Die beëindiging van dukkha kom met die beëindiging van drang. Aangesien ons die uiteindelike oorsaak van ons probleme is, is ons ook die oplossing. Ons kan nie die dinge wat met ons gebeur, verander nie, maar ons kan ons reaksies daarop verander. Lyding kan opgehef word deur die verlange (dors) geen plek te gun nie. Die doel van hierdie waarheid is die nirwana, wat beteken dat jy ’n toestand van geluksaligheid bereik deur jou hartstogte te onderdruk.
Die agtvoudige pad.
Die heilige agtvoudige pad bestaan uit:
-
- Regte optrede (so optree dat ander nie benadeel word nie);
- Regte spraak (opreg praat);
- Regte bestaan (verdien ‘n bestaan op ‘n manier wat nie lyding of skade aan ander veroorsaak nie);
- Regte bewustheid (om bewus te wees van jouself en die emosies van ander);
- Regte ywer (doen moeite met meditasie en positiewe emosies);
- Regte konsentrasie (ontwikkel fokus sodat jy in staat is om te mediteer);
- Regte siening/begrip (onthou dat dade gevolge het); en
- Regte voorneme (om reguit en eerlik te wees oor die volg van die Boeddhistiese pad).
Die vyf riglyne
Die Boeddha het geen duidelike gebod gegee nie, slegs aanbevelings en riglyne vir ’n goeie lewe.
Dié vyf riglyne van Boeddhisme word gewoonlik saam met die vier edele waarhede genoem, naamlik: 8
- om nie mense, diere en alles wat lewe, se lewe te neem nie;
- om nie iets te neem wat nie gegee word nie – daarom moet ʼn mens vrygewig wees;
- om kuis te lewe – hierdie verbod eis dat die monnike nie mag trou nie en dat ander (huwelikspare) getrou aan hul eie man of vrou moet wees;
- om nie leuens te vertel, lelik te praat of moeilikheid te veroorsaak nie; en laastens
- om nie alkohol of ander dwelmmiddels te gebruik nie omdat dit die nugtere denke van die mens aantas.
Boeddhisme in die samelewing
Indië
In die 3de eeu v.C. het keiser Ashoka Boeddhisme tot die staatsgodsdiens van Indië verhef.
Omdat iedereen deur middel van meditasie ʼn toestand van volkome geluksaligheid kon bereik, het die moontlikheid bestaan dat die vors self ook ʼn Boeddha kon word. Keiser Ashoka wou só ʼn einde maak aan die voorregte van die hoë stand en het die samelewing hergroepeer tot ʼn nuwe stand (kaste), bestaande uit boere wat belasting betaal, die amptelike burokrasie en die leër.
In die nuwe sosiale struktuur was die vors ook hoof van die Boeddhistiese “kerk” en het beheer verkry oor al die doen en late van die geestelikes. Die monnike en ander Boeddhistiese leiers het toelaes en fasiliteite van die vors ontvang.
Indonesië
Hinajana-Boeddhisme het tot in die Indonesiese eilande, veral Java, deurgedring, maar is later heeltemal deur Islam verdryf. Nêrens in Indonesië het Boeddhisme tot ʼn groot volksgodsdiens
ontwikkel nie. In die latere geskiedenis van Java het dit ʼn misterieuse en geheime godsdiens vir prinse en ander gesaghebbendes geword.
In Java is daar vandag nog oorblyfsels van tempels en beelde, wat ʼn aanduiding gee van die bloeityd wat die Boeddhisme lank gelede daar beleef het.
Ceylon (Sri Lanka)
Die sendingwerk wat keiser Ashoka van Indië deur sy seun in Ceylon laat doen het, was baie suksesvol. Boeddhisme in Ceylon was egter minder demokraties as in Indië, en is tot diens gestel vir die koningskap en groot grondbesit van die kloosters.
Die Boeddhisme het Ceylon gehelp om aanvalle uit Indië af te weer en het ook nie voor die leer van die Islam geswig nie.
Die latere agteruitgang van die koningskap het Boeddhisme laat wankel, maar die Westerse kolonisasie het dit ʼn kans gegee om te herstel.
Birma
Keiser Ashoka van Indië het ook in Birma aanvoorwerk laat doen om Boeddhisme daar te stig.
Net soos in Ceylon, is die Boeddhisme in Birma tot diens vir die vors gestel en in die 20ste eeu was dit ʼn kragtige strydmiddel vir die nasionaliste wat die koloniale juk wou afskud.
Japan
Boeddhisme het Japan in die 6de eeu n.C. via Korea bereik, maar kon Sjintoeïsme (Asiatiese godsdiens) nooit verdring nie. Vandag is die meeste Japannese sowel Jingoïsties as Boeddhisties.
Terwyl Boeddhisme in Thailand ʼn magtige bolwerk teen die kommunisme vorm, is dit sedert 1949 in China ondergeskik gemaak aan die beginsels van die kommunisme. Voorheen het dit op groot skaal in China voorgekom. Buite Asië het die Boeddhisme egter nooit baie veld gewen nie.
Boeddhistiese feeste
Die Fees van die Heilige Tand
Sri Lanka se Fees van die Heilige Tand 9 is een van die oudste van alle Boeddhistiese feeste, met musikante, vuurdansers, tromspelers, swaarddansers, versierde olifante en dies meer. Die datum van die fees wat tien dae duur, word bepaal deur die maankalender en vind gewoonlik in Julie of Augustus plaas.
Hierdie verhaal begin ná die Boeddha se dood en parinirwana. Volgens die Boeddhistiese tradisie is daar – nadat die Boeddha se liggaam veras is – vier tande en drie bene uit die as gesif. Hierdie sewe oorblyfsels (relieke) is ongelukkig nie na die stoepas gestuur om daar te bewaar nie. (’n Stoepa is ’n Boeddhisteheiligdom.)
Daar is verskillende stories oor dié heilige tand wat rondgeswerf het tussen Indië en Ceylon en nadat dit gesteel en weer opgespoor is, sy rusplek toe in Ceylon (vandag bekend as Sri Lanka) gekry het.
Die Boeddha se tand word tans in die pragtige Tempel van die Heilige Tand, of Sri Dalada Maligawa in Kandy bewaar. Die tand word in ’n goue kissie wat met edelstene versier is, gehou. Monnike voer drie keer per dag rituele uit om die tand te vereer, en op Woensdae word die tand in ʼn mengsel van geurige water en blomme gewas.
Wesak, die belangrikste Boeddhistiese fees
Wesak (Vesak) of Boeddha-dag, 10 is ʼn baie belangrike fees vir Boeddhiste en word gevier om die Boeddha se geboorte, verligting en dood te herdenk. Hierdie drie dinge het glo op dieselfde dag van die jaar gebeur. 11
Die Boeddhiste eet ʼn verskeidenheid Asiese kossoorte tydens Wesak, maar absoluut geen vleis nie. Dit is ʼn simbool van hul liefde vir alle lewende wesens.
Wesak word net een keer per jaar gevier. Die datum verander elke jaar omdat dit plaasvind tydens die eerste volmaan van die antieke maanmaand van Vaisakha, wat gewoonlik in Mei of vroeg in Junie is.
Diwali, die Fees van Ligte
Hierdie fees word deur Boeddhiste, maar ook Hindoes, Djainas en Sikhs oral in die wêreld gevier – elke jaar op ʼn ander datum. In die Gregoriaanse kalender val Diwali altyd tussen die middel van Oktober en die middel van November en duur vyf dae. 12
Die naam is afgelei van die Sanskrit-term dipavali, wat ‘ ’n ry van ligte’ beteken. Die fees simboliseer oor die algemeen die oorwinning van lig oor duisternis.
Vir die Boeddhiste verteenwoordig Diwali ook die tyd toe heerser Ashoka, nadat hy baie bloedvergieting en dood beleef het, alles opgegee het en daarna ʼn pad van vrede begin stap het.
Legendariese Boeddhistiese tempels
Die beroemde tempelruïnes van Ta Prohm
Toe bouwerk in die 12de eeu begin is, is dié tempel vir die Hindoes gebou, maar in die 13de eeu is dit omskep na ʼn Boeddhistiese tempel.
By hierdie tempel in Angkor Wat in Kambodja het die wortels van die bome rondom die tempel met verloop van jare in en bo-oor die tempel gegroei en is geleidelik en plek-plek deur die oerwoud ingesluk. Geen wonder dat dit die ideale plek was om die fliek Tomb Raider hier te verfilm nie!
Daar word beraam dat hierdie groot struktuur met 600 kamers die tuiste van hoëpriesters, monnike, assistente, dansers en arbeiders was. Dit het ‘n groot rykdom van juwele en goud bevat en het ook beheer uitgeoefen op ‘n geskatte 3 000 nabygeleë dorpe. 13
Dit is vandag bekend vir sy ongewone skoonheid en is die grootste godsdienstige monument in die wêreld. Dit is nou ’n Unesco-wêrelderfenisgebied en werk om die tempel te herstel, is aan die gang.
Die Taktsang Palphug-klooster (The Tiger’s Nest)
Hierdie klooster, meer bekend as Paro Taktsang of The Tiger’s Nest, is gebou teen ʼn krans van 3 120 m bo seevlak in die Himalajagebergte van Bhoetan. Vanaf hierdie klooster is daar ʼn afgrond van 900 m tot in die Paro-vallei aan die voet van die krans. Die oorspronklike tempelkompleks is in 1692 gebou. 14
Borobudur, die tempel wat ‘weg’ was
Hierdie massiewe tempel is in die 9de eeu op die Indonesiese eiland Java gebou, en tot vandag word dit beskou as die grootste uitsluitlik Boeddhistiese tempel ter wêreld. Dié klooster beslaan 203 ha en is versier met 2 672 reliëfbeelde en honderde Boeddha-beelde.
Die hele tempel was byna verlore. Die monnike het dit in die 14 de eeu verlaat, en die pragtige tempel is daarna deur die oerwoud oorgeneem en vergeet. In 1814 het die Britse goewerneur van Java die verhaal van “Die berg met duisend beelde” gehoor. Hy het ʼn ekspedisie gereël en daarin geslaag om dit te vind.
Vandag is Borobudur ʼn wêrelderfenisgebied en die Boeddhiste onderneem gereeld pelgrimsreise na dié tempel. 15
Shwedagon Pagoda
Die groot Shwedagon Pagoda van Yangon in Mianmar (Birma) is ʼn vergulde Boeddhisteheiligdom (stoepa) en dien ook as tempel. Binne-in die tempel is daar relikwieë (aandenkings) van die historiese Boeddha, asook van die drie Boeddhas wat hom voorafgegaan het.
Geskiedkundiges meen die oorspronklike tempel is tussen die 6de en 10de eeu gebou en verskeie kere herbou. Die huidige struktuur is opgerig nadat ʼn aardbewing die vorige een in 1768 vernietig het. 16
Jokhang, die heiligste tempel in Tibet
Die Jokhang-tempel, die mees heilige tempel in Tibet, word as geestelike sentrum die topbestemming vir pelgrims beskou.
Volgens legende het ʼn koning van Tibet gedurende die 7de eeu die Jokhang-tempel in Lhasa laat bou om twee van sy vrouens – ʼn prinses van China en ʼn prinses van Nepal wat albei Boeddhiste was – tevrede te stel. 17
Beide prinsesse het glo elk ‘n lewensgrootte beeld van Boeddha as bruidskat na Tubo gebring. Die beeld van die 8-jarige Boeddha, wat nou in Ramoche-tempel aangehou is, het aan die prinses van Nepal behoort, terwyl die beeld van die 12-jarige Boeddha, genaamd die Jowo Shakyamuni of Jowo Rinpoche, deur die prinses van die Tang-dinastie in China na Tubo gebring is. Laasgenoemde standbeeld word as die heiligste voorwerp in Tibet beskou en kan in die Jokhang-tempel beskou word.
Vandag reken historici dat die prinses van Nepal waarskynlik nooit bestaan het nie. Tog bly Jokhang ʼn monument vir die bekendstelling van Boeddhisme aan Tibet.
Senso-ji en die geheimsinnige goue standbeeld
Lank gelede, ongeveer 628 n.C., het twee broers wat in die Sumidarivier visgevang het, volgens legende ʼn klein, goue standbeeldjie van Kanzeon, of Kannon, die Bodhisattva van Genade, ontdek. Sommige weergawes van hierdie storie sê dat die broers die standbeeld herhaaldelik in die rivier teruggegooi het, maar dat dit elke keer vanself na hulle teruggedryf het.
As gevolg van hierdie ontdekking en belewenis het die een broer besluit om ’n Boeddhis te word. Hy het sy huis in ‘n tempel omskep en die res van sy lewe daaraan gewy om gedenkdienste vir hierdie Kannon te hou.
Die Senso-ji-tempel is gebou ter ere van die Bodhisattva, en daar word gesê dat die klein, goue standbeeldjie daar gehou word, hoewel die standbeeld wat die publiek sien, ʼn replika daarvan is. Die oorspronklike tempel is in 645 voltooi, wat dit Tokio se oudste tempel maak.
Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die tempel verwoes, maar is weer herbou as ʼn teken van hergeboorte en vrede in Japan. Op die tempelgrond staan daar steeds ’n boom wat uit die oorblyfsels van ’n boom wat deur ’n bom getref is, groei. 18
Nalanda: ʼn Vergange universiteit
Agt eeue ná sy tragiese vernietiging, bly Nalanda, ’n antieke universiteit, die bekendste leersentrum in die Boeddhistiese geskiedenis. Geleë in die huidige Bihar-staat van Indië, het die gehalte van sy onderwysers in Nalanda se bloeityd duisende studente van oral oor die Boeddhistiese wêreld aangetrek.
Nalanda se tradisionele geskiedenis dateer terug tot die tyd van die Boeddha (6de tot 5de eeu v.C.) Na bewering het Nagarjuna (die 2de-3de eeuse Boeddhistiese filosoof) sy studies daar begin. Dit is nie duidelik wanneer die eerste klooster by Nalanda gebou is nie, maar daar is sprake dat dit reeds in die derde eeu al opgerig was.
Teen die vyfde eeu het dit ʼn magneet geword vir Boeddhistiese geleerdes en gegroei tot iets soos ’n hedendaagse universiteit. Studente daar het nie net Boeddhisme bestudeer nie, maar ook medisyne, astrologie, wiskunde, logika en tale. Later van tyd het dit ook ‘n sentrum van godsdienstige beeldhouwerk in klip en brons geword. Nalanda het tot 1193 ʼn dominante leersentrum gebly, voor dit deur ’n nomadiese leër van Moslem-Turke in Sentraal-Asië vernietig is. Daar word gesê dat die vuur in Nalanda se groot biblioteek wat vol onvervangbare manuskripte was, vir ses maande gesmeul het.
Maar die herinneringe van Nalanda trek steeds aandag. Tans word ʼn nuwe Nalanda naby die ruïnes van die ou plek gebou en ’n museum in Nalanda huisves baie van die skatte wat in die opgrawings gevind word. In 2016 is die ruïnes aangewys as ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied. 19
Shaolin, Huis van Zen en koen foe
China se Shaolin-tempel is ʼn regte Boeddhistiese tempel en nie ʼn denkbeeldige gebou wat net in vegkunsflieks bestaan nie. Die monnike het vir eeue daar hulle vegkuns beoefen en ʼn unieke styl, naamlik Shaolin-koen foe, ontwikkel.
Zen-Boeddhisme het ook daar ontstaan weens die invloed van Bodhidharma, wat vroeg in die 6de eeu uit Indië na China toe gekom het.
Volgens geskiedkundige bronne is Shaolin in 496 op die Songshan-berg opgerig, ʼn paar jaar voordat Bodhidharma daar aangekom het. Die geboue van die kloosterkompleks is herhaaldelik vernietig en weer herbou, en vandag stuur baie Chinese hul kinders steeds soontoe om te studeer en die Chinese vegkuns te leer. Die tempel en dit wat daar onderrig en geleer word, is en bly indrukwekkend. 20
Mahabodhi: Die plek waar Boeddha verligting bereik het
Die Mahabodhi-tempel is een van die oudste baksteentempels in Indië (dit is later herbou) en die plek waar die Boeddha onder die Bodhi-boom gesit het en meer as 25 eeue gelede verligting bereik het. Mahabodhi beteken “groot ontwaking”. Volgens oorlewering het daar glo ʼn Bodhi-boom langs die tempel gegroei wat ʼn loot van die oorspronklike Bodhi-boom is wat daar gegroei het. Die boom en tempel is geleë in Bodhgaya, in die Bihar-staat van Indië.
Keiser Ashoka het die oorspronklike Mahabodhi-tempel in ongeveer 260 v.C. gebou. Nieteenstaande die betekenis daarvan in die Boeddha se lewe, was die terrein grotendeels verlate ná die 14de eeu, maar al is dit erg verwaarloos, bly dit een van die oudste baksteenstrukture in Indië. Dit is in die 19de eeu herstel en word vandag beskerm as ’n Unesco-Wêrelderfenisgebied. 21
Jetavana: Is dit die eerste Boeddhistiese klooster?
Die ruïnes van Jetavana is al wat oorgebly het van wat die eerste Boeddhistiese klooster kon gewees het. Hier het die historiese Boeddha baie van die preke gelewer wat in die Sutta Pitaka opgeteken is. Die Sutta Pitaka bevat die Boeddha se leerstellings wat hoofsaaklik aangeteken is as preke wat in historiese instellings gelewer word.
Jetavana, of Jeta’s Grove, is waar die dissipel Anathapindika meer as 25 eeue gelede grond gekoop en ʼn plek vir die Boeddha en sy volgelinge gebou het om tydens die reënseisoen te bly. Die res van die jaar het die Boeddha en sy dissipels van dorp tot dorp gereis en onderrig gegee.
Die terrein is vandag ’n historiese park, geleë in die Indiese staat Uttar Pradesh, wat aan Nepal grens. 22
Boeddhistiese simbole
Daar is 8 simbole wat met Boeddhisme geassosieer word: 23
- Die Parasol – beskerm teen alle kwaad.
- Die Wit Trompetskulp – verteenwoordig die Boeddha se leringe wat soos die klank van ’n trompetskulp in alle rigtings versprei het.
- Die Twee Goue Visse – simboliseer om gered te word uit die oseaan van aardse lewe en lyding.
- Die Eindelose Knoop – verteenwoordig die verweefdheid van wysheid en deernis, die volmaaktheid van kennis.
- Die Vaas van Groot Skatte – ‘n tradisionele simbool van geluk wat die perfekte aard van die dharma, lang lewe en voorspoed verteenwoordig.
- Die Oorwinningsvaandel – dui op die oorwinning van die verligte leringe, kennis oor onkunde, die oorwinning van alle hindernisse en die bereiking van geluk.
- Die Lotusblom – een van Boeddhisme se belangrikste simbole. Dit is ‘n simbool van verligting en geestelike reinheid. Hoewel die lotus se wortels in die modder groei, dra hy ‘n pragtige blom. Net so kan ‘n individu onrein wees, maar die potensiaal besit om die perfekte geestestoestand te verkry.
- Die Dharma-wiel – dié agtspeekwiel verteenwoordig die Edele Agtvoudige Pad van die Boeddha-dharma. Die wiel wat lei tot perfeksie.
Woordbank
identiteit | Wie jy is, of hoe jy jouself sien. |
legendes | Verhale wat deur oorlewering van geslag tot geslag vertel word. |
kloosters | Gebou waar monnike of nonne woon. |
mediterende | Die proses waardeur jy lank oor iets nadink. |
nirwana | Toestand van volkome geluksaligheid. |
sangha | Kloostergemeenskap. |
parinirwana | Die dood van iemand wat nirwana bereik het. |
kuis | Reinheid, suiwerheid, skoonheid; vlek(ke)loosheid. |
ruïnes | Gebou wat in puin verval het; bouval; puinhoop. |
bloeityd | Tydperk waarin iets voorspoed of ’n hoogtepunt beleef. |
simboliseer | ’n Voorwerp of teken wat iets voorstel of iets beteken. |
geassosieer | Met mekaar in verband bring. |
bewering | ʼn Stelling (sonder bewys) dat iemand iets gedoen het. |
fundamentele | Vernaamste, basies; wat die grondslag betref. |
hindernisse | Belemmering, struikelblok; ergernis, steurnis, irritasie, frustrasie. |
manuskripte | ’n Skrywer se handgeskrewe of getikte teks wat nog nie gepubliseer is nie. |