Vinnige feite

  • As ons gelukkig is, skei ons breinstowwe af (goedvoelhormone soos dopamien en serotonien) wat ons liggame gesond hou. 13
  • Emosies is aansteeklik! As iemand gelukkig is en lag, sal almal om hom of haar ook vrolik wees. Dieselfde geld vir hartseer en selfs vrees. As iemand hartseer of bang is, word jy ook hartseer of bang. 14
  • ʼn Mens voel emosie aan jou lyf. Emosie is nie net iets wat in ʼn mens se brein gebeur nie, maar jou hele lyf reageer op hoe jy voel. As jy byvoorbeeld bang is, kan jou lyf bewe; as jy hartseer is, kan dit voel of jou bene lam en swaar is. 15
  • Kleure beïnvloed hoe ons voel. Warm kleure soos rooi, oranje en geel laat ons gelukkig en vol energie voel. Dié kleure kan ons egter ook waarsku, soos ʼn rooi stopteken of geel padteken. Koue kleure – soos blou, pers en groen – laat ons weer veilig en kalm voel. “Hartseer” kleure is room, grys en bruin, terwyl “gelukkige” kleure appelkoos, pienk en ligpers insluit. 16 17
  • ʼn Appel ʼn dag laat die dokter wag, maar nóg beter medisyne is lag! Navorsing het bewys dat deur te glimlag (al voel jy nie lus om te glimlag nie), jy jou positiwiteit kan verhoog. Lag versterk jou immuniteit (wat keer dat jy siek word), laat jou hele lyf ontspan, beskerm jou hart en kan jou selfs langer laat leef.
  • Mense het meer as 10 000 verskillende gesigsuitdrukkings. Só kan ons wys hoe ons voel. 18
Foto: iStock

Voel jy soms hartseer as jy ʼn mooi fliek kyk; raak jy kwaad as jou maats met mekaar baklei; het jy ʼn troeteldier waarvoor jy baie lief is? Die verskillende gevoelens wat jy ervaar, noem ʼn mens emosies. Emosies verwys na hoe ons in ons hart oor iets of iemand voel en hoe ons dit dan wys (deur ʼn traan, ʼn glimlag, ʼn drukkie, en so meer). Ons sê nie noodwendig altyd hoe ons voel nie, maar ons wys dit op ons gesig of met ons lyf(taal). Dink ook aan die emotikons wat ons bykans elke dag in selfoonboodskappe gebruik om ons gevoelens uit te druk.

ʼn Mens kan baie emosies op ʼn dag ervaar – soms is ons kwaad en later lag ons weer dat ons maag pyn. Dit is belangrik om te weet wat die verskillende emosies is wat ʼn mens kan ervaar, hoekom ʼn mens só voel en hoe om dit te hanteer. As ons emosies verstaan, help dit ons nie net om onsself beter te leer ken nie, maar dit help ons ook om ander mense beter te verstaan.

In die 1970’s het die sielkundige Paul Ekman ses emosies wat algemeen in alle menslike kulture ervaar word, geïdentifiseer, naamlik geluk, hartseer, afsku (haat), vrees, verbasing en woede. Later het hy sy lys van basiese emosies uitgebrei om dinge soos trots, skaamte, verleentheid en opgewondenheid in te sluit. 1

In hierdie artikel kyk ons na die vier vernaamste emosies wat ons bykans elke dag ervaar, naamlik geluk, hartseer, vrees en woede, asook hoe om dié emosies reg te hanteer.

Geluk

Geluk (of blydskap) is die emosie wat ʼn mens ervaar as jy gelukkig is of as iets goed of lekker met jou gebeur. ʼn Mens kan bly wees omdat jy goed in die redenaarskompetisie gevaar het; bly wees om iemand ná ʼn lang tyd weer te sien; of bly wees omdat jy jou gunstelingbroodjie vir pouse kan eet. 2 Geluk is die emosie wat ons die graagste én die meeste wil ervaar, want dit laat ʼn mens baie goed in jou hart voel, ʼn mens glimlag sommer breed en gesels vrolik as jy gelukkig is. Sielkundiges waarsku egter dat ʼn mens nie jou geluk aan goed soos speelgoed moet koppel nie, want speelgoed kan wegraak of breek en dan is ʼn mens baie hartseer. Hulle sê ʼn mens moet eerder jou geluk soek en vind deur spesiale dinge saam met mense (soos jou gesin of maats) te doen. 3

Vyf (gratis) planne om gelukkig te voel

  • Pluk vir iemand vir wie jy lief is ʼn blom uit die tuin en gee dit saam met ʼn mooi briefie vir hom of haar.
  • Doen een keer per week iets lekker as gesin, soos om ʼn groot bed te maak en saam na ʼn fliek op die televisie te kyk. Of gooi ʼn kombers op die gras en hou piekniek in die tuin.
  • Kies jou gunstelingliedjie, en speel dit elke oggend in die motor op pad skool toe. Dit sal jou dag sommer opvrolik, en almal in die motor sal uiteindelik saam sing (en lag!).
  • Vertel vir iemand dat jy baie bly of gelukkig is en wat jou só gelukkig maak. “Ek is nou só bly, want …” of “Ek voel só gelukkig omdat …”.
  • Sê elke dag iets mooi vir iemand anders. Só “gee” jy blydskap vir iemand wat dit net dalk dié dag baie nodig het. Sê vir Juffrou sy lyk mooi; vra ʼn maatjie wat eenkant sit om by jou en jou maats te kom sit; bedank die vrou in die winkel wat die kruideniersware in die sakke gepak het.

Hartseer

Hartseer is dít wat jy ervaar as jy teleurgesteld is (as jy byvoorbeeld swak in ʼn toets gedoen het of nie die sportspan gehaal het nie), jy huil dalk omdat iets gebeur het wat jou seergemaak het, of dalk voel jy hopeloos en verloor belangstelling in dinge wat op ʼn tyd vir jou lekker en interessant was. 4 Niemand hou daarvan om hartseer te wees nie, want ʼn mens voel letterlik of jou hart pyn. Hartseer is egter ʼn emosie wat ons help om deur sekere dinge of gebeure te werk. As ʼn mens huil oor iets, is dit asof die trane ʼn mens se binnekant skoon was, en voel jy gou beter. Dit is baie belangrik dat jy dit nie wegsteek of stilbly as jy hartseer is oor iets nie, want dit kan ʼn mens siek laat voel as jy al die hartseer binne jou hou. 5 Die beste manier om hartseer te hanteer, is om met iemand daaroor te praat.

Vyf planne om hartseer te hanteer

  • Skryf neer hoe jy voel. Jy kan jou emosies in ʼn dagboek neerskryf of sommer op ʼn stukkie papier wat jy in jou laai of kas bêre.
  • Praat met iemand wat jy vertrou. Dit kan ʼn vriend of vriendin, onderwyser of ouer wees. Sê hoe jy voel: “Ek is nou so hartseer, want…” of “… het my vandag só seergemaak”.
  • Moenie moed opgee nie! As jy dalk teleurgesteld is oor iets (soos as jy dalk nie ʼn sportspan gehaal het nie), probeer weer en weer! Oefen ‘n bietjie harder, of laat iemand jou help as jy met iets sukkel. Bly positief!
  • Vra vir jouself: Wat kan ek doen om beter te voel of minder hartseer te voel? Doen iets waarvan jy baie hou, soos om musiek te luister of dans op die maat van jou gunstelingliedjie. As jy hartseer is oor iets wat iemand dalk gesê of gedoen het, praat so gou as moontlik met dié een, en sê wat gebeur het en hoekom dit jou hartseer laat voel.
  • Beweeg aan. Moenie goed doen of in situasies beland (soos om by die verkeerde maats betrokke te raak) wat jou hartseer of sleg laat voel nie. Fokus op dié dinge en mense wat jou gelukkig maak, en doen dít.

Vrees

Alle mense is bang vir iets. Sommige mense is bang vir hoogtes, sommiges vir spinnekoppe, en ander mense is weer bang vir die donker. 6 As iemand bang is vir iets, sê ons die persoon ervaar vrees. Vrees is ons liggaam se natuurlike manier om ons te probeer beskerm teen gevaar of dinge wat vir ons vreemd is. Daarom praat mense baie keer van veg of vlug vir die manier hoe mense vrees hanteer. As ons bang is, raak ons spiere gespanne, ons hartklop en asemhaling versnel, en ons verstand word meer waaksaam en wakker. Hierdie reaksie help ons om dít wat ons bang maak of wat ons voel ons bedreig, te kan hanteer.

Vyf planne om vrees te verdryf

  • Moenie vrees vermy nie. Die beste manier om vrees te hanteer, is om dít wat jou bang maak, in die oë te kyk of te hanteer. As jy bang is vir die donker, gebruik ʼn nagliggie, of laat die badkamer- of ganglig brand. Jy hoef nie skaam te wees hieroor nie, ʼn mens kry selfs grootmense wat bang is vir die donker! 7
  • Haal diep asem. Sit jou hand op jou maag en asem diep in en stadig uit. Dit sal jou hart stadiger laat klop en jou asemhaling stadiger maak, wat jou rustiger sal laat voel. 8
  • Word vrees se baas! As jy byvoorbeeld bang is om voor mense te praat, sê vir jouself jy wil nie meer bang wees nie. Oefen eers om voor jou gesin te praat en later voor een of twee van jou maats. Hoe meer jy oefen, hoe gemakliker sal dit vir jou wees, totdat jy uiteindelik die moed sal hê om sommer voor die hele skool te praat. 9
  • Leer meer. Soms is ons bang vir iets omdat ons dit nie ken nie. As jy bang is vir byvoorbeeld spinnekoppe, lees meer oor die verskillende soorte wat ʼn mens kry, watter spinnekoppe giftig of gevaarlik is en hoekom hulle belangrik op die aarde is. Hoe meer jy oor iets weet, hoe minder bang sal jy daarvoor wees.
  • Praat met iemand. ʼn Mens hoef nooit jou vrees alleen te hanteer nie. Vertel vir iemand waarvoor en waarom jy daarvoor bang is. Soms help dit baie as iemand anders met jou praat en vir jou nuwe perspektief gee. 10

Woede

Om kwaad te word, is ʼn baie natuurlike, menslike reaksie. 11 ʼn Mens word byvoorbeeld kwaad as ander onregverdig optree, of as hulle jou of ander mense fisiek of verbaal (met woorde) seermaak. ʼn Mens mág kwaad word, maar ons moet leer om dié woede op die regte manier te hanteer, want as ons skree, ander slaan of deure toeslaan, gaan ons net in groot moeilikheid beland – dit is glad nie goed vir ander of onsself nie.

Kwaad? Tel tot vyf!

  • Dink voordat jy praat. Partykeer is ons só kwaad dat ons vinnig reageer en iets sê, sonder om eers goed daaroor na te dink. Dan sê ons baie keer dinge waaroor ons later spyt is. Kalmeer eers, loop weg as jy moet, en sê dan later vir die persoon hoekom jy kwaad is, sonder om hom of haar persoonlik aan te val. 12
  • Moenie die persoon blameer of kritiseer nie, omdat dit net meer konflik kan veroorsaak. Toon respek en wees spesifiek. Gebruik “ek”-stellings: “Ek was baie bekommerd toe ek so lank vir jou moes wag” pleks van “Jy is al weer laat!”.
  • Vergifnis is ʼn kragtige instrument. As jy toelaat dat woede en ander negatiewe gevoelens jou positiewe gevoelens versmoor, sal dit jou net bitter maak. As jy iemand kan vergewe wat jou kwaad gemaak het, leer julle albei uit die situasie en sal julle verhouding versterk en verbeter.
  • Leer om te ontspan. As jy voel jy word baie kwaad, haal diep asem, doen oefening, luister musiek, of skryf in jou dagboek. Só kry jy ʼn mooi manier om dié emosie te hanteer.
  • Gesels met iemand, veral as jy gereeld kwaad word. Soms is daar ʼn ander, dieperliggende rede waarom jy kwaad word wat nie noodwendig iets met die spesifieke persoon of gebeurtenis te doen het nie. Sodra jy dié wortel van jou woede ontdek het, kan jy situasies makliker hanteer.

Woordbank

blameer Die skuld vir iets gee.
dieperliggende Wat baie diep lê, ernstig; iets waarvan jy dalk nie eers bewus is nie.
emosies Gemoedstoestand of sterk gevoel soos vreugde, smart (hartseer), vrees of woede.
emotikons Groepie leestekens wat saam (soms tesame met ʼn letter of simbool) gebruik word om ʼn bepaalde gesigsuitdrukking of emosie weer te gee, veral in e-posse of ander vorme van elektroniese kommunikasie; gevoelsikon; (informeel) gesiggie. Engels: emoji.
immuniteit As ’n mens nie vatbaar vir aansteeklike siektes is nie; ’n weerstand teen siektes hê.
instrument Nuttige hulpmiddel wat gebruik kan word om byvoorbeeld ‘n moeilike situasie te hanteer.
onregverdig Nie regverdig nie; onredelik.
perspektief Manier van dink oor iets wat beïnvloed word deur jou eie omstandighede of ervarings.
respek Ontsag, eerbied, agting vir iets of iemand.
sielkundige Iemand wat werk met en opgelei is in die wese en die eienskappe van die menslike siel/gees en hulle help om strategieë te bedink om sielkundige dilemmas te hanteer en te bowe te kom.
spyt Berou hê oor iets.
verleentheid Verleë of skaam wees; situasie waarin jy nie weet wat om te doen/sê nie.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Emosies vir kinders

Raai wat die emosies is

Emosies

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 4 November 2021 | Bygewerk op 17 Maart 2024