Vinnige feite

  • Kafeïen is ’n stimulant, en dit kan nét so verslawend soos enige ander dwelmmiddel raak en ook ernstige onttrekkingsimptome veroorsaak. Koffie, sommige koeldranksoorte en energiedrankies is propvol kafeïen en moet baie versigtig en met matigheid voor oë gebruik word. 33
  • Die energiedrankiemark (die geld wat uit die verkope daarvan gemaak word) gaan na verwagting teen 2028 tot bykans $98 miljard groei! 34
  • Volgens die Suid-Afrikaanse Depressie-en-angsgroep (SADAG) is 12 jaar die gemiddelde ouderdom van middelafhanklikes (dwelmgebruikers) in Suid-Afrika en gebruik minstens die helfte van Suid-Afrikaanse tieners alkohol. 35

Jy het heel moontlik al ’n dronk persoon in die straat met ’n bottel in koerantpapier toegedraai sien sit, of oor die pad sien strompel en struikel (en byna deur ’n motor raakgery word!). Of jy het dalk op televisie gesien hoe iemand groot wolkwalms rook uitblaas; ’n wit poeier met ’n strooitjie of opgerolde geldnoot deur die neus opsnuif; of hom- of haarself met een of ander vreemde vloeistof in die arm inspuit.

Die kans dat dit die eerste keer is dat die persoon dít doen, is skraal. Trouens, dit is heel moontlik dat die persoon – dalk is dit een van jou vriende of familielede – middels misbruik en nie eers besef dat dit baie skadelik en lewensgevaarlik (hom of haar baie siek en selfs dood kan maak) is nie.

Wat is middelmisbruik?

Middelmisbruik (ook genoem substans- of dwelmmisbruik) is wanneer iemand ’n wettige óf onwettige middel oor en oor (herhaaldelik of baie gereeld) gebruik, en wat ’n mens se gedrag (hoe jy optree), gemoed (hoe jy emosioneel of geestelik voel) en gesondheid (hoe jy fisies of liggaamlik voel en lyk) benadeel. “Gebruik” beteken ’n paar keer of elke nou en dan, terwyl “misbruik” herhaaldelik, uitermatig gereeld of sonder ophou is. 1

Mense gebruik middels om verskillende redes, soos die verkeerde vriendegroep, om beter oor hulself te voel, om van slegte dinge te vergeet, of omdat hulle baie druk of spanning by die skool, huis of werk ervaar. Hulle glo dit bied ’n uitkoms (wegkomkans), ’n ontvlugting van die “regte wêreld”, en laat hulle dikwels groot, sterk en vol selfvertroue voel. 2

Dwelms is in werklikheid (eintlik) gifstowwe. Die hoeveelheid wat geneem word, bepaal die effek of uitwerking wat dit op ’n persoon het. ’n Klein hoeveelheid is ’n stimulant (versnel jou of gee jou ’n energiehupstoot), ’n groter hoeveelheid dien as kalmeermiddel (vertraag jou of laat jou rustig en ontspanne voel), en nóg ’n groter hoeveelheid vergiftig jou en kan uiteindelik jou dood veroorsaak. Dit geld vir enige middel – wettig én onwettig. Dit beïnvloed die verstand (brein en denke) en verander die manier hoe iemand die wêreld om hom of haar sien en ervaar (beleef). 2

Wat is verslawing?

Wanneer iemand ’n middel vir ’n baie lang tydperk gebruik, begin die persoon anders optree en sy of haar gesondheid, skoolwerk of beroep (loopbaan) ly daaronder. As ’n persoon só afhanklik van iets word dat hulle glad nie meer daarsonder kan klaarkom nie, word dit verslawing genoem. Dié persoon word ’n verslaafde genoem en het ’n abnormale (buitengewone) en onbeheerbare begeerte (drang) na of behoefte aan ’n sekere middel of middels. 3

Heel dikwels is die gevoel wat die middel veroorsaak of gee, naderhand nie meer goed of sterk genoeg nie, en soek (smag) die persoon na méér en sterker middels. Meeste verslaafdes sal ontken dat hulle ’n probleem het, en baie steek dit só goed weg dat hul familie en vriende nie eers weet hulle is in ’n web of vangstrik van misbruik verstrengel (vasgevang) nie! 4

Hoe erger die verslawing, hoe erger is die uiterstes waartoe iemand sal gaan (dinge wat die persoon sal doen) om dit in die hande te kry. Hulle sal jok, skool “bank”, steel of selfs van hul besittings (of die familie se besittings!) verkoop, nét om so gou en so veel moontlik drank of dwelms in die hande te kry. Tieners sal selfs ouer kinders omkoop om dit vir hulle in die hande te kry of te koop. 5

Middelmisbruik is nie net lewensgevaarlik vir die persoon wat dit gebruik nie, maar dit verwoes almal wat vir dié persoon lief is, se lewe. Daarom is dit so belangrik om hulp toe soek as jy self of iemand na aan jou moontlik verslaaf is. Dit is egter nie net onwettige dwelms wat skelm by skobbejakke op die straathoek gekoop word, wat dodelik is nie. Wettige middels is dikwels gevaarliker! 6

Wettige middels

Onthou, middelmisbruik is nie net wanneer iemand aan onwettige of sterk dwelmmiddels verslaaf is nie. Dit kan ook wees dat iemand van wettige middels soos medisyne of alkohol afhanklik geraak het. ʼn Wettige middel is enige potensieel verslawende middel wat (openlik en dus nie skelm of in die geheim) volgens wet in ’n winkel verkoop of deur ’n dokter voorgeskryf mag word. In Suid-Afrika is 18 jaar die ouderdom waarop mense wettiglik dinge soos alkohol en tabakprodukte mag koop. In ander lande is die ouderdomsperk baie hoër, naamlik 21 jaar. 7

Van die mees verslawende middels is die maklikste om in die hande te kry én wettig.

Hier is van die mees verslawende wettige middels: 8

Alkohol: Hoewel dit langer neem om aan alkohol verslaaf te raak as aan iets soos heroïen of tik, is dit nét so gevaarlik. Oormatige alkoholgebruik kan uiteindelik lei tot ’n toestand wat in die sielkunde bekendstaan (amptelik geklassifiseer word) as alkoholgebruikversteuring (“alcohol use disorder” of AUD). 9

Alkoholmisbruik veroorsaak verskeie gesondheidsprobleme, insluitend hoë bloeddruk, hartsiektes, lewersiekte, alkoholvergiftiging en selfs kanker. Dit kan ook geestesgesondheidsprobleme – soos leer-, geheue- en konsentrasieprobleme, depressie en angs – veroorsaak. ’n Alkoholis (’n alkoholverslaafde) sal dikwels roekelose gedrag toon (waaghalsig of onverantwoordelik optree), in ’n motorongeluk beland (of een veroorsaak), gewelddadig wees teenoor ander, of selfdood oorweeg of pleeg. Swanger vroue wat alkohol misbruik, kan hul baba baie siek maak en fetale alkoholsindroom (“fetal alcohol syndrome” of FAS) veroorsaak. 10

Nikotien: Dié chemiese middel wat in tabakprodukte soos sigarette en sigare, damprooktoestelle (“vapes”) en selfs in koubare vorm voorkom, is wat die verslawing (afhanklikheid) veroorsaak en dit, volgens kenners, selfs moeiliker as alkohol maak om te los (op te hou gebruik). Nikotien verhoog die vrystelling van chemikalieë (chemiese stowwe) in die brein wat neuro-oordraers of neuro-oordragstowwe (“neurotransmitters” in Engels) genoem word. Dié stowwe help om bui (gemoed) en gedrag te reguleer. 11

Dopamien, een van hierdie neuro-oordragstowwe, word in die “beloningsentrum” van die brein vrygestel en word ook ’n “goedvoelhormoon” genoem, omdat dit jou in ’n beter bui (of luim) sit. Hoe meer ’n mens egter rook, hoe meer nikotien het jy nodig om goed te voel. Nikotien kan onder meer die volgende veroorsaak: long- en ander soorte kanker, oogprobleme, onvrugbaarheid, diabetes, tand- en tandvleissiektes, hartprobleme en beroerte. Rook veroorsaak meer as 30% van alle sterftes as gevolg van kanker. 12

Damprooktoestelle (vapes”): Damprooktoestelle het die afgelope paar jaar baie gewild onder veral tieners geword. Dit word deur baie as koel beskou, proe lekker danksy die duisende geure vloeistof wat beskikbaar is, laat jou nie soos sigarette na rook ruik (stink) nie en is só klein dat dit maklik in die mou van jou trui of skoolbaadjie weggesteek kan word. Trouens, sommige tieners rook sommer in die klas, in die badkamer of op die skoolterrein as die onderwysers nie kyk nie! 13

Mense dink egter verkeerdelik dat damprooktoestelle of e-sigarette gesonder as gewone tabakprodukte soos sigarette is. Die meeste van dié toestelle bevat (steeds) nikotien wat hoogs verslawend is en dikwels lei tot sigaretrook as die uitwerking van die toestel nie meer “sterk” genoeg is nie. Damprooktoestelle bevat dalk minder as die sowat 7 000 skadelike chemiese stowwe wat in sigarette voorkom, maar hou dieselfde gesondheidsgevare as sigarette in, insluitend long- en hartsiektes, en kan die dood veroorsaak. 14

Dagga: Dagga of kannabis (die wetenskaplike naam) word deesdae in al meer lande wettiglik vir mediese gebruik voorgeskryf. Kannabis verwys na ’n groep van drie plante met psigoaktiewe eienskappe (wat die brein beïnvloed), bekend as Cannabis sativa, Cannabis indica en Cannabis ruderalis. Wanneer die blomme van hierdie plante geoes en gedroog word, kry jy een van die algemeenste en oudste dwelms ter wêreld. In Engels word dit “weed”, “pot” of marijuana genoem. 15

Kannabis bestaan uit meer as 120 komponente, wat as kannabinoïde bekendstaan, asook sowat 540 chemiese stowwe. Kenners is nie seker wat elke komponent doen nie, maar hulle weet wel van twee, naamlik kannabidiol (CBD) en tetrahidrokannabinol (THC). CBD word wettiglik vir mediese gebruik voorgeskryf (soos vir die behandeling van inflammasie, epilepsie, pyn, naarheid, migraine en angs) en veroorsaak nie ’n euforiese gevoel nie. Navorsers probeer steeds om die doeltreffendheid van die mediese gebruik van CBD ten volle te verstaan. THC is egter die komponent of bestanddeel wat die moeilikheid veroorsaak en dikwels gerook word om ’n persoon “hoog” te laat voel. Verslawing aan dagga veroorsaak dieselfde probleme as sigaretrook en kan ook lei tot geheue- en leerprobleme, asemhalingsprobleme en ’n verhoogde risiko vir geestesgesondheidsprobleme soos skisofrenie. 16

Opioïede: Die gebruik of eerder misbruik van dié breë groep pynstillers, pynmedikasie of narkotiese middels het die afgelope paar dekades deur die dak geskiet.  Duisende mense wêreldwyd sterf jaarliks as gevolg van ’n oordosis opioïede. Opioïede bind aan die reseptore (amper soos boodskappers) in die brein en res van die liggaam, wat help om pyn te verlig. Pynmedisyne word dikwels deur dokters voorgeskryf (veral ná ’n operasie) om korttermyn- (of akute) pyn te verlig. Dit gee ’n mens aanvanklik ’n euforiese gevoel, maar as ’n mens nie vinnig ophou om dit te gebruik nie, raak die liggaam gewoond aan dié gevoel en moet ’n mens al sterker medikasie neem om dieselfde gevoel te kry. 17

Soos in die geval van die meeste verslawende middels, soos alkohol en nikotien, kry ’n mens vreeslike (erge) onttrekkingsimptome as jy ophou om sekere medikasie te gebruik. Van dié simptome sluit in ernstige angstigheid – die persoon glo regtig hy of sy gaan sterf as hy dit nie neem nie. Opioïede kan van die papawerplant (poppy) gemaak word (soos morfien) of in ’n laboratorium (soos fentaniel en kodeïen) en veroorsaak dat jy slaperig voel, maak jou asemhaling en hartklop stadiger en kan die dood veroorsaak. Heroïen, ’n onwettige of straatdwelm, val ook in dié kategorie middels. 18

Bensodiasepiene: Dié medikasie (ook bekend as “benzos” of kalmeermiddels) word dikwels voorgeskryf om onder meer ernstige angs, slaaploosheid, epilepsie en paniekaanvalle te behandel. Dit veroorsaak dieselfde euforiese gevoel as ’n paar drankies. Bensodiasepiene werk deur die uitwerking (impak) van ’n neuro-oordragstof genaamd GABA te versterk. Dit stuur kalmerende boodskappe na die liggaam. Wanneer ’n persoon angstig voel, vind oorstimulasie in die brein plaas. Bensodiasepiene stuur boodskappe na die brein om hierdie oorstimulasie teë te werk en angs te verminder. 19

Anders as onttrekkingsimptome van medisyne soos opioïede, kan iemand werklik sterf as gevolg van ’n hartaanval as hy of sy ophou om bensodiasepiene te neem. Indien bensodiasepiene boonop saam met alkohol ingeneem word, kan dit dodelik wees. 20

AGHV-medikasie: Medikasie, soos Ritalin en Concerta, wat vir aandaggebrekhiperaktiwiteitsversteuring (AGHV of ADHD in Engels) voorgeskryf word, lei dikwels tot misbruik omdat daar geglo word dat dit konsentrasie en fokus verbeter en kinders minder laat vroetel. Hierdie stimulante is egter hoogs gewoontevormend en het verskeie ernstige newe-effekte as dit nie korrek gebruik word nie. Dit kan hallusinasies veroorsaak, eetlus demp en hartklop en bloeddruk verhoog. Die neem van hoë dosisse oor ’n lang tyd kan ook ernstige sielkundige newe-effekte hê, soos paranoia, obsessiwiteit en slapeloosheid. Onttrekkingsimptome is ligter as met opioïede, bensodiasepiene of alkohol, maar mense kan depressief raak en selfs selfdood pleeg. 21

Slaapmedikasie: Slaapmedikasie soos zolpidem, wat onder meer onder die handelsnaam Ambien verkoop word, is ’n medikasie wat gebruik word vir die korttermynbehandeling van slaapprobleme. Dit behoort tot ’n groep hipnotiese middels wat ’n kalmerende uitwerking op die brein het. Indien dié medikasie nie gebruik word soos deur ʼn dokter voorgeskryf nie, kan dit tot verslawing lei. Langdurige gebruik van dié medikasie kan slaaploosheid vererger, angstigheid in die dag verhoog en selfs geheueverlies veroorsaak. Onttrekkingsimptome sluit in naarheid, braking, warm gloede (warm gevoel in die gesig), maagkrampe, senuweeagtigheid en bewerigheid. 22

Hoesstroop: Ons almal het al een of ander tyd hoesstroop of verkouemedisyne gedrink om brongitis, sinusitis of hooikoors hok te slaan, maar wees versigtig vir die soorte wat kodeïen, ’n opiaat, bevat. Nie net kan dit verslawend wees nie, maar dit kan ook dodelik wees wanneer dit in oormatige hoeveelhede gebruik word. Voorskrifhoesstroop bevat dikwels kodeïen en ’n sterk antihistamien genaamd prometasien. Indien dit saam met alkohol ingeneem word, kan dit veroorsaak dat die persoon ophou asemhaal. 23

Anaboliese steroïede: Dit is sintetiese (kunsmatige) variasies van testosteroon en word dikwels voorgeskryf om die newe-effekte van lae testosteroon te behandel en om spiermassa te help bou by mans wat met ernstige siektes soos kanker en MIV/Vigs sukkel. Dit word egter dikwels misbruik deur gesonde ouens wat met sterk spiere wil spog. Dit is hoogs verslawend en meng in met die chemikalieë in jou brein. Dit sal jou dalk nie eufories laat voel nie, maar kan erge buierigheid, prikkelbaarheid, paranoia en aggressie veroorsaak. Boonop beskadig dit die niere, lewer en hart, en kan lei tot haarverlies, onvrugbaarheid en ’n groter kans op prostaatkanker. 24

Inhaleermiddels: Dit is chemikalieë wat in sekere huishoudelike en ander produkte soos gom, verf en petrol voorkom wat chemiese dampe produseer en sommer by die plaaslike hardewarewinkel gekoop kan word. Hierdie dampe word ingeasem om verstandsveranderende effekte te veroorsaak. Ingeasemde stowwe word vinnig in die brein opgeneem om ’n blitsige “hoog” te veroorsaak. Chroniese misbruik van inhaleermiddels kan lei tot onomkeerbare newe-effekte, soos koma en selfs die dood. Verslawing aan inhaleermiddels kom dikwels by tieners voor. 25

Onwettige middels

Dié soort middels of dwelms kan ’n mens nie met ’n voorskrif bekom of koop nie, maar moet op ’n skelm manier by onwettige handelaars (verkopers) gekry word. Dit is dus middels wat teen die wet is. Dié skurke vra gewoonlik baie duur vir dié middels, omdat hulle weet die koper is verslaaf (afhanklik) en kan nie daarsonder klaarkom nie. Hulle hou dus dié persoon in ’n spiraal of web van verslawing vasgevang.

Daar beland gereeld nuwe middels of dwelms op die mark (dit word plaaslik gemaak of tussen lande gesmokkel), en dit kan in vier hoofgroepe verdeel word: 26

Depressante is middels wat die sentrale senuweestelsel en die boodskappe wat tussen die brein en die liggaam beweeg, vertraag. Hierdie middels verminder mense se konsentrasie en vertraag hul vermoë om te reageer. Die naam “depressant” dui daarop dat hierdie middels ’n persoon depressief kan laat voel, maar dit is nie altyd die geval nie. Die term depressant verwys bloot na die uitwerking van die verlangsaming (stadig maak) van die sentrale senuweestelsel. Enkele voorbeelde van depressante sluit in: alkohol, opioïede (soos heroïen), barbiturate en GHB (gammahidroksibutiraat, ook genoem vloeibare “ecstasy”). 27

Stimulante (ook genoem psigostimulante) is middels wat die sentrale senuweestelsel stimuleer en die boodskappe wat tussen die brein en die liggaam beweeg, versnel (vinniger maak). Hierdie middels verhoog gewoonlik energie, hartklop en eetlus. Enkele voorbeelde van psigostimulante sluit in: metamfetamien (“speed”, “ice”, “base” of tik – soos dit in Suid-Afrika bekendstaan), kokaïen, deksamfetamien, kafeïen, nikotien, MDMA (“ecstasy” in tabletvorm, of “Molly” of “Mandy” in kristalvorm). 28

Hallusinogene is dwelms wat tipies verander hoe ’n persoon die wêreld ervaar. Hierdie middels kan die manier waarop ’n persoon verskillende dinge sien, hoor, proe, ruik of voel, verander, insluitend om dinge te ervaar wat glad nie daar is nie. Enkele voorbeelde van hallusinogene sluit in: ketamien, “magic mushrooms” en LSD of “acid”. 29

Waarom gebruik/misbruik mense middels?

Daar is verskeie redes waarom mense middels gebruik, byvoorbeeld: 

  • uit nuuskierigheid;
  • eksperimentering (om dit uit te toets en die gevoel wat dit veroorsaak, te ervaar);
  • tydens ’n partytjie of viering;
  • om goed te voel;
  • om hul inhibisies (die gevoel of stemmetjie binne jou wat jou terughou of verhinder om iets te doen) te verloor;
  • om moeilike gevoelens (soos woede, stres, angs, verveling, depressie, ens.) te hanteer;
  • om hul selfvertroue ’n hupstoot te gee (beter oor hulself te voel);
  • om stres te verlig;
  • om te rebelleer (om teen gesag of gesagsfigure soos ouers en onderwysers vas te skop of met hulle te baklei);
  • om traumatiese (slegte) ervarings te help hanteer, insluitend diskriminasie, rassisme en boeliery;
  • sosiale druk / groepsdruk of invloed deur vriende en maats;
  • na aanleiding van ’n ouer of ander volwassene se voorbeeld;
  • vir ’n gevoel van sosiale samehorigheid of aanvaarding;
  • om verwerping te vermy; en/of
  • bemarkingsboodskappe of advertensies op televisie, in flieks en op sosiale media wat dit koel, na pret en skadeloos laat lyk. 30

Hoe weet ’n mens iemand misbruik middels?

As iemand middels of dwelms gebruik, kan jy sien hoe die persoon se optrede en voorkoms verander. Hier is ’n paar tekens, maar dit is belangrik om te onthou dat depressie, angs of ’n ander gemoedstoestand (iemand se geestelike welstand) ook hierdie veranderinge kan veroorsaak.

Iemand wat dwelms gebruik, kan: 

  • belangstelling in skool verloor;
  • van vriende verander (om saam met kinders wat dwelms gebruik, te kuier);
  • heeltyd buierig, negatief, geïrriteerd of bekommerd wees;
  • dikwels vra om alleen gelaat te word;
  • sukkel om te konsentreer of te fokus;
  • baie slaap (dalk selfs in die klas);
  • in bakleierye en konfliksituasies beland;
  • rooi of geswelde oë hê;
  • gewig verloor of optel;
  • baie hoes; en/of
  • die meeste van die tyd ’n loopneus hê. 31

Gevolge van middelmisbruik

Fisieke gevolge

  • Alkohol kan onder meer lewerskade veroorsaak.
  • Mense wat stowwe met gebruikte naalde inspuit, kan virale infeksies soos hepatitis of MIV/Vigs kry.
  • Dwelmgebruik tydens swangerskap kan die fetus (ongebore baba) skade aandoen.
  • Mense wat middels onwettig verkry of koop (deesdae sommer aanlyn op die internet), kan nie met sekerheid weet wat hulle inneem nie (sommige dwelms kan met ander dwelms of skadelike chemikalieë gemeng wees).
  • Om onder die invloed (d.w.s. terwyl die persoon dronk of “hoog” is) te bestuur, kan ’n persoon se aandag, reaksietyd en vermoë om afstand te skat, beïnvloed, wat die risiko vir dood of besering kan verhoog.
  • Sommige stowwe kan koördinasie, die sintuie, geheue en oordeel beïnvloed, wat tot veiligheidsrisiko’s kan lei.
  • ’n Oordosis kan ernstige en skielike fisieke of geestelike skade, of selfs die dood, veroorsaak. 30

Emosionele gevolge

  • Middelmisbruik kan in die pad staan van die ontwikkeling en gebruik van hanteringstrategieë wat gewoonlik werk om moeilike gevoelens te hanteer (bv. hartseer, angs, woede, ens.).
  • Middelmisbruik kan soms emosionele probleme met verloop van tyd vererger, en kan veral skadelik wees vir jongmense wat die risiko loop om geestesversteurings te ontwikkel (bv. depressie, angs, ens.).
  • Sommige stowwe kan korttermynverwarring, angs of geestelike versteurings, leerprobleme en/of geheueverlies veroorsaak. 30

Sosiale gevolge

  • Middelmisbruik kan spanning op ’n persoon se verhoudings plaas en konflik verhoog (bv. met ouers, vriende, onderwysers, ens.).
  • Dit kan ook inmeng met ’n persoon se vermoë om op hul beste by die skool en/of werk te funksioneer en kan lei tot ’n verlies aan belangstelling in stokperdjies, sport of ander buitemuurse aktiwiteite wat ’n persoon voorheen geniet het.
  • Omdat sommige middels onwettig verkry word, gaan middelmisbruik dikwels met geweld en misdaad gepaard.
  • Middelverwante skuldigbevindings kan lei tot ’n boete, tronkstraf en kriminele rekord. Om ’n kriminele rekord te hê, beïnvloed ’n mens se hele toekoms (soos werk en reis). 30

Klop hier aan om hulp

Daar is verskeie instansies in Suid-Afrika wat 24 uur per dag beskikbaar is en gratis hulp bied aan mense wat met verslawing sukkel of die geliefdes van verslaafdes. 32

Hier is ’n paar nuttige name en nommers: 

Woordbank

akute Met ’n vinnige verloop; hewig; dringend; skerp.
alkoholis Iemand wat aan sterk drank verslaag is; dranksugtige.
angs Gevoel van vrees/benoudheid/onsekerheid/onveiligheid.
dagga Indiese hennep waarvan die blare gekou of gerook word of in wateraftreksels gedrink word en ’n bedwelmingsmiddel bevat wat tot geestelike afstomping lei.
depressie Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink dat daar geen hoop vir die toekoms is nie.
dronk Onder die invloed van sterk drank; bedwelm deur alkoholiese drank; besope.
euforiese Gelukkige selftevredenheid; gevoel van welbehae/geluksaligheid.
fetale alkoholsindroom Toestand waarmee ’n baba gebore word wanneer die ma tydens swangerskap so oormatig gedrink het dat die ongebore baba se liggaamlike en verstandelike ontwikkeling as gevolg daarvan gestrem is.
hallusinasies Die sien of hoor of andersins gewaarword van iets wat nie regtig aanwesig is of bestaan nie.
hipnotiese Die teweegbring van ’n toestand wat baie met slaap ooreenkom, maar gekenmerk word deur ’n verhoogde gevoeligheid vir suggestie; kortstondige magteloosheid om uit eie wil te handel.
kalmeermiddel Tot rus bring; laat bedaar.
lewensgevaarlik Wat lewensgevaar meebring/veroorsaak.
misbruik Verkeerd/sleg/oordadig gebruik maak van iets.
nikotien Gifstof in tabak.
obsessiwiteit Toestand waarin voortdurende kwel- en dwanggedagtes ’n mens besig hou.
ontken Sê dat iets nie waar is nie.
onttrekkingsimptome Onaangename fisieke en geestelike simptoom ondervind deur iemand wat die gebruik van ’n dwelmmiddel staak.
ontvlugting Wegkom deur te vlug; fisies of in jou gedagtes.
onwettige In stryd met die wet.
oordosis Te veel van ’n middel neem/inkry.
paranoia Geestesversteurdheid waarby ’n pasiënt las het van waanbeelde; abnormale neiging om ander te wantrou.
rehabilitasie Hulp om weer ’n normale lewe te lei ná siekte, ’n verslawing, gevangenisstraf, ens.
roekelose Sonder bekommernis oor die gevolge van jou dade; wat nie op gevaar let nie; onverskillig; onbesonne.
senuweestelsel Brein, rugmurg en al die vertakkings van die senuwees in die liggaam.
sielkunde Leer van die wese en die eienskappe van die menslike gees/siel; psigologie.
skobbejakke Skurk of skelm; oneerlike persoon.
gesmokkel Verbode goedere of belasbare goedere sonder betaling van belasting in die geheim in- en uitvoer.
stimulant Middel/stof wat jou lewendiger en vol energie laat voel; opwekkende/prikkelende middel; stimuleermiddel.
testosteroon Manlike geslagshormoon.
vangstrik Lokval of slagyster wat ’n onskuldige prooi/slagoffer vang en waaruit nie ontsnap kan word nie.
verslawing Jou aan iets oor te gee; afhanklik van iets te wees.
verwoes Vernietig; verpletter; uitroei.
voorskrif Vel papier waarop ’n dokter skryf watter medikasie ’n apteker aan ’n pasiënt moet gee om ’n bepaalde siektetoestand te behandel.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Middelmisbruik en die gevolge daarvan op gesondheid en die gemeenskap

Wat veroorsaak verslawing?

Hoekom is e-sigarette sleg vir jou?

Die oorsake, tekens en simptome van middelmisbruik

Hoewel dwelms hoofsaaklik hul oorsprong in plante het, word al meer sintetiese dwelms (in laboratoriums) vervaardig

Gepubliseer op: 11 April 2023 | Bygewerk op 16 Februarie 2024