Vinnige feite

  • Ongeveer 3 500 jaar v.C. is die eerste draaiwiel in Mesopotamië deur ’n pottebakker gebruik. Heelwat later, omtrent 2 000 jaar v.C., is wiele deur die Egiptenare ingespan om ’n trekwa te bou.
  • Die eerste windpomp was van hout, primitief en sonder enige ratte.
  • In 1888 het die Aero-motormaatskappy in die VSA windpompe met staalwiele begin maak. In 1893 is dié soort windpompe na Suid-Afrika ingevoer.
  • Die mense wat in die Midde-Ooste gewoon het, het wel die wiel gebruik, maar vir waterputte, meule en pottebakkery.
Foto: iStock

Geniet jy dit om met jou fiets, skaatsplank of rolskaatse te ry? Danksy die slim uitvindsel en ontwikkeling van die wiel, is dit vandag moontlik om die wiel op allerlei maniere in te span en aan te wend vir menslike gebruik – veral in die vorm van vervoer. Waar sou die mensdom tog wees sonder die wiel? Seker nie ver nie! Die uitvinding van die wiel word alom beskou as een van die grootse uitvindings van alle tye. Dit het ’n fundamentele impak op vervoer en landbou gehad.

Wat is ’n wiel?

’n Wiel is ’n soliede ronde skyf of sirkelvormige ring wat met speke vas is aan ’n naaf/velling wat gemonteer is op ’n skag/as waarom dit kan draai, en wat onderaan ’n voertuig vas is sodat dit maklik oor die grond kan beweeg. Dit is een van die ronde goed onder ‘n motor/bus/fiets/ensovoorts, wat draai wanneer dit beweeg. ’n Wiel word wel vandag vir verskeie ander dinge ook gebruik, soos vir huishoudelike take of as deel van masjinerie. 1

Ons praat van ’n wiel in verskillende kontekste:

  • ’n Motor het vier wiele.
  • Die vragmotor het altesame 26 wiele.
  • Ek moet die fietswiel oppomp.
  • Die windpomp bestaan uit ’n metaalwiel met lemme en ’n stellasie.

Die eerste wiel

Super slim Sumeriërs

Dit is vandag onbekend wie presies die eerste wiel uitgevind het. Wat ons wel weet, is dat die primitiefste vorm van iets wat rol en soos ’n wiel beweeg, in vroeë Sumeriese tekeninge gevind is. (Sumerië is waar die hedendaagse Irak geleë is.)

Hierdie tekeninge het iets uitgebeeld van ’n tipe slee wat geplaas is op boomstompe en soos die stompe rol, kon die slee met die vrag op beweeg. Dit sou natuurlik ’n langsame proses wees, want na elke rol van die slee, sou die boomstompe eers geskuif moes word of met nog boomstompe vooraan die slee opgevul word voordat dit verder kon rol. Sumeriese wiele van soliede hout is later gebruik om twee- en vierwielwaens te maak. Goedere is hiermee vervoer, maar dit is ook as strydwaens gebruik. Die waens is getrek deur mak gemaakte wilde-esels wat vandag byna heeltemal uitgesterf het. 2

Die eerste regte wiel is deur ’n pottebakker uitgevind!

Ongeveer 3 500 jaar v.C. is die eerste draaiwiel in Mesopotamië deur ’n pottebakker gebruik. Heelwat later, omtrent 2 000 jaar v.C., is wiele deur die Egiptenare ingespan om ’n trekwa te bou. Dit het swaar vragte vervoer en die wiele wat hiervoor gebruik is, was steeds solied en swaar. Wiele met speke het eers ontstaan toe die mens tot die besef gekom het dat die speke die wiel se velling en naaf moet verbind. Eeue het verbygegaan voordat die gespeekte wiel die sterkte bereik het waar dit saam met ’n wielband as een stuk in gebruik geneem is.

Geniale Grieke

Die Grieke het die Egiptenare se konsep verder ontwikkel en ’n hele paar verbeteringe aangebring. In ongeveer 600 tot 400 jaar v.C. is die kruiwa vir die eerste keer deur die Grieke ingespan. 2

Die wiel kon eers regtig tot sy reg kom toe die uitvinding van die as waarom die wiel moet draai, plaasgevind het. Op sy eie alleen, kon die wiel nie van veel waarde wees vir al die funksies waarvoor ons vandag wiele gebruik nie. Die samesmelting van verskillende metale, die konstruksie van kanale en seilbote en ingewikkelde musiekinstrumente soos die harp, is alles uitvindsels wat die uitvinding van die wiel en die as voorgeloop het. 2

Die Romeine het later die grootste verskeidenheid voertuie wat deur wiele beweeg, ontwikkel. 3

Eerder ’n kameelrit, dankie!

In die Midde-Ooste en in Noord-Afrika waar groot oppervlaktes uit woestyn bestaan, was die kameel die gewildste vorm van vervoer tot ongeveer die jaar 600. Wiele, soos dit in daardie tyd gelyk het, sou te veel vassit en wegsink in die sanderige samestelling van ’n woestyn. Die mense wat in die Midde-Ooste gewoon het, het wel die wiel gebruik, maar vir waterputte, meule en pottebakkery. 3

Die rol van rubber

As ons oor die wiel praat, kan ons sekerlik nie nalaat om oor die rubberwiel iets te sê nie. Gevulkaniseerde bande is vir die eerste keer deur Charles Goodyear gepatenteer. Die proses behels die verhitting en verwydering van swael uit natuurlike rubber.

John Boyd Dunlop, ‘n Skotse veearts, het in 1888 ‘n patent geregistreer vir ‘n luggevulde buiteband. Sy idee was om fietsbande te maak. Andre Michelin en sy broer Edouard was die eerste wat bande op ‘n motorvoertuig gepas het. Dit was ongelukkig nie baie duursaam nie.

Dit is eers in 1911 dat Phillip Strauss ‘n kombinasie van ‘n opblaasbare binneband en ‘n rubber buiteband uitgevind het, voordat buitebande op motorvoertuie gebruik is.

Gebruike van die wiel

Voordat die wiel uitgevind is, moes mense loop of op diere ry as hulle wou reis of dinge vervoer. Dit was baie stadig en daar was geen beskerming teen die weer of wilde diere nie. Toe die wiel uitgevind is, kon mense goed op stootwaentjies vervoer. Hulle kon in donkiekarre met twee wiele reis, wat deur een of twee diere getrek is; asook in waens of in poskoetse.

Omdat hulle van waens en koetse gebruik gemaak het, kon meer mense en goedere sodoende vervoer word. Die waens en koetse was ook bedek sodat die mense en goedere teen die weerselemente beskerm is. Behalwe vir vervoer, is die wiel saam met die as as ’n masjien gebruik om vele ander werktuie, masjinerie en verdere uitvindsels tot stand te laat kom en suksesvol te laat funksioneer. 4

Tydlyn van die wiel as uitvindsel en die verskillende gebruike

3500 v.C. Pottebakkerswiel in Mesopotamië. 4
1700 v.C. Ingewikkelde skepwiele word in Mesopotamië gebruik om besproeiingswater van ’n laer na ’n hoër vlak te bring. 5
600 Eerste vorm van ’n kruiwa deur die Grieke. 4
200 Watermeule in Gallië en Germanië. 5
950 Windmeule maak hul verskyning in die Midde-Ooste. 4
1685 Stephan Farffler van Neurenberg, Duitsland, vind die driewiel uit. 5
1769 Die Fransman, Nicolas Cugnot, bou ’n stoomwa met drie wiele, wat as een van die heel vroegste voorlopers van die hedendaagse motor beskou kan word. 4
1790 Blanchard en Magurier, twee Franse, bou ’n vroeë voorloper van die hedendaagse fiets, gebaseer op ’n idee van ’n ander Fransman ’n eeu tevore. 4
1811 John Blenkinsop bou die eerste tandratlokomotief. 4
1814 George Stephenson se eerste stoomlokomotief. 4
1817 ’n Loopmasjien met twee wiele word van hout gemaak, maar met geen pedale. 4
1834 Die eerste elektriese motor word deur Thomas Davenport gebou. 4
1840 Die eerste primitiewe fiets met pedale aan die agterwiel verskyn. 5
1845 Robert William Thompson vind die pneumatiese (luggevulde) rubberband vir voertuie uit, sonder dat mense die baanbrekerswerk daaragter besef of implementeer. 5
1860 Hardebandfietse (boneshakers) met pedale wat aan die voorwiel verbind is, word gemaak. Die wiele is van staal gemaak. 5
1870 Tiekiewawiel (penny-farthing) word gemaak. Dit is heeltemal van metaal gemaak met ’n klein agterwiel, groot voorwiel en rubberbande. 5
1880 Veiligheidsfiets word ontwerp. Dit is veiliger, aangesien die fietsryer se voete die grond kon raak en dit was ook geskik vir vroue om op te ry. 5
1885 Gottlieb Daimler bou die eerste motorfiets. Karl Benz bou sy patentmotorwa met drie wiele. 5
1887 Eerste toetsrit van Daimler se vierwielmotorkoets. 5
1888 ’n Skotse veearts, John Dunlop, patenteer ’n pneumatiese (luggevulde) rubberband. Die tyd was nou ryp vir dié soort band en Dunlop het ’n groot fabriek vir die vervaardiging van bande opgerig. 5
1903 Die broers, Wilbur en Orville Wright, onderneem die eerste geslaagde vlug met ’n enjinaangedrewe vliegtuig wat swaarder as lug is. 5

Nog gebruike van die wiel

Kom ons dink aan nog ’n paar gebruike van die wiel, afgesien as vervoermiddel soos ’n fiets of motor.

Met ander woorde, as voorwerpe of masjiene wat wiele en asse gebruik: 6

  • Koekroller
  • Waaier
  • Windpomp
  • Eierklitser
  • Deurknop
  • Rolstoel
  • Windmeul
  • Watermeul
  • Motorenjin
  • “Big Wheel” (Groot wiel by ’n pretpark.)

Interessante brokkies

‘Die vyfde wiel aan die wa’

Het jy al ooit gewonder waar kom die idioom: “Ek voel soos die vyfde wiel aan die wa” vandaan?

Die vyfde wiel is gebruik op waens, aan die voorkant, as ’n verlenging vanaf die voorste as om te voorkom dat die wa vooroor val of omkantel. Dit was wel meestal nooit gebruik nie en eintlik oorbodig. Daarvandaan die term dat iemand wat oorbodig voel of soos ’n “stertjie” iemand agtervolg ’n vyfde wiel aan die wa genoem word. 4

Só werk die wiele van ’n lokomotief

Voor die koms van die elektriese- of diesellokomotiewe, het die stoomlokomotief voortou geneem om treintrokke te sleep. Hierdie lokomotiewe het ’n kombinasie van groot en klein wiele wat deur middel van stange met mekaar verbind is. Hierdie wiele dryf die lokomotief aan en staan bekend as die koppel- of dryfwiele. Die kleiner wiele draai vry en het niks met die aandrywing te doen nie – dié aan die voorpunt word die voordraaistelsel genoem; hul werk is om die lokomotief op die spoorlyn te stabiliseer. Die agterste kleiner wiele (meestal onder die kajuit) staan bekend as die bisselstel en beheer die ryvermoë van die lokomotief. Die heel eerste trein in Suid-Afrika het in 1860 in Durban geloop. 7 8

Die eerste windpomp

Die eerste windpomp was van hout, primitief en sonder enige ratte. Selfs die wiele en lemme (skeppers) was van hout. Die lemme was so reguit dat die windpomp slegs met ‘n sterk wind aan die gang kon kom. Die wiele was ook baie groot en het maklik omgewaai. Omdat dit duur was om op te rig, het baie boere hul eie konstruksies aanmekaar getimmer.

Die eerste windpomp in Suid-Afrika was, sover bekend, ‘n Halladay Standard. Dié houtpomp is glo deur ‘n boer van Hopetown, ‘n mnr. Du Toit, op sy plaas opgerig.

In 1888 het die Aero-motormaatskappy in die VSA windpompe met staalwiele begin maak. In 1893 is dié soort windpompe na Suid-Afrika ingevoer. Hulle het gebuigde lemme gehad wat meer krag kon ontwikkel. Die windpompe het tussen R50 en R300 gekos en kon water 30 tot 90 meter hoog uit die grond lig en daagliks tot 177 m3 water lewer. 9

Nog idiome oor die wiel

Die wiel draai

’n Goeie herinnering dat jy jou beurt sal kry, of dat jou goeie dag sal kom. Dit is ’n bemoediging op ’n slegter dag om te dink dat dinge tog weer, net soos ’n wiel, sal draai. Geregtigheid sal geskied en dan is die onderkant weer bo.

Skouer aan/teen die wiel sit

Dit is om alle kragte in te span; hard werk. (’n Afrikaanse wysiging van die Nederlandse “de hand aan het wiel leggen”.) Waarskynlik is die beeld versterk gedagtig aan die Voortrekkers wat letterlik skouer aan die wiel moes sit om deur moeilike driwwe en oor hoë bulte te kom.

‘n Stok in die wiel steek

Wanneer jy iets verhinder of iemand probeer teengaan om iets te doen, probeer jy ’n stok in sy wiel steek. 10

Woordbank

naaf Sentrale, gewoonlik silindriese gedeelte van iets, soos ’n wiel, skroef of waaier, waaraan onderdele soos speke of blaaie vasgemaak word, en wat om ’n as draai of daardeur aangedryf word. 2

Byvoorbeeld: Die agterwiel het uitmekaar geval dat net die naaf agtergebly het.

silindries Pypvormige, ronde, buisagtige vorm. 1
gespeekte Enigeen van die stawe of stange wat die naaf van ‘n wiel met die velling verbind. 2
Byvoorbeeld: Speek in ’n naaf insit.
velling Buiterand (“rim”) van die wiel. 1
asse Stang of staaf, gewoonlik van yster, waarom of waarop ’n voorwerp, veral ’n wiel, draai; ’n reguit of gekromde staaf wat in twee of meer steun- of draaipunte ondersteun word en waarom werktuigonderdele soos wiele, skywe, krukke of hefbome draai. 1

Byvoorbeeld: Die twee asse vir die vier wiele van ’n wa. Die kar se as moet gesmeer word. Die as van ’n meule.

Kyk na die volgende video’s om nog meer te leer

Geskiedenis en gebruike van die wiel

Bhaskara se wiel

Gravitasie en die wiel

Die wiel en die as

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Februarie 2022 | Bygewerk op 18 Maart 2024