Vinnige feite
- In die beginjare van radio is alles regstreeks aangebied wat groot uitdagings aan die omroepers gestel het. Dink net hoe hard moes hulle konsentreer om byvoorbeeld radiodramas foutloos voor te dra!
- Een van die eerste groot buite-uitsendings in radio in Afrikaans was die Ossewatrek van 1938.
- Gedurende die Tweede Wêreldoorlog is verskeie programme op die Afrikaanse radiodiens uitgesaai om luisteraars oor die oorlog in te lig. Een van die gewildste programme in daardie tyd was egter Soldate konserte, wat ’n keur van musiek gespeel het.
- Die oudste radio-uitsendings in Afrikaans was kinderprogramme, soos Kinderuur en Lentepraatjies.
- ’n Webwerf is begin om as ’n nuwe digitale museum te dien en meer inligting oor die Afrikaanse media se geskiedenis te gee. Dit is deur Johannes Froneman, ’n emeritus-professor van die Noordwes-Universiteit begin. Die webwerf is by mediamense.com beskikbaar.
- Die tydskrif NuusNou (en sy Engelse tweeling, NewsNow) was ’n weeklikse aktualiteitstydskrif en is in 2011 van stapel gestuur. Dit was op ’n meer gesofistikeerde mark gerig, maar moes skaars ’n jaar later sluit.
- Koerante het in die apartheidsjare dikwels openlike steun aan politieke partye toegesê. Baie is juis gestig om as mondstukke vir die partye te dien. Die Vaderland is byvoorbeeld in 1915 gestig om die Nasionale party te ondersteun.
- Die Afrikaanse tydskrifte wat in 2023 onder die Media24-stal val, is Baba & Kleuter, Kuier, Landbouweekblad, Huisgenoot, Sarie, Sarie Bruid, Sarie Kos, Tuis, Weg! asook Weg! Platteland en Weg! Ry & sleep. 18
- Die tydskrif DeKat is digitaal op dekat.co.za beskikbaar.
- Maroela Media voel dat nuus gratis moet wees en lesers kan gratis toegang tot enigeen van hul artikels kry.
- In 2023 was daar geen finansiële tydskrif meer in Afrikaans beskikbaar nie. Die tydskrif finweek is genoop om sy deure in 2021 toe te maak. Die tydskrif het verskeie voorgangers gehad en die eerste was Tegniek wat deur die sakemagnaat Anton Rupert begin is. Dit is later Finansies & tegniek genoem voor dit finweek gedoop is.
As jy vandag wil weet wat in die wêreld aangaan, tik jy ’n paar woorde in Google in en siedaar!
Daar is blitsvinnig resultate en jy kry antwoorde op al jou vrae. Dit was nog nooit so maklik soos vandag om inligting te verkry nie. Maar iewers is daar mense wat daardie inligting en nuus deel en hulle vorm deel van die media. Die media gebruik kommunikasiekanale soos koerante, tydskrifte, radio, televisie en die internet om nuus en inligting te versprei.
Die Afrikaanse media het ’n lang en ryk geskiedenis, maar dis ook ’n geskiedenis van hoogte- en laagtepunte. Daar was tye toe die Afrikaanse media geblom het, maar daar was ook tye toe die Afrikaanse media swaargekry het.
Die jare sewentig en tagtig (in die vorige eeu) was byvoorbeeld moeilik vir die Afrikaanse media, want daar was ’n ekonomiese resessie en beperkinge op dit wat die media kon berig. Dit was apartheidsjare en die regering het ’n groot invloed op die media uitgeoefen. Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het ook vanaf 1978 advertensies op hul kanale toegelaat en dit het veroorsaak dat die Afrikaanse pers groot advertensie-inkomste verloor het. Daarby het Covid-19 ook ’n groot impak op die bedryf gehad en het, onder meer, tot die sluiting van verskeie tydskrifte gelei.
Kom ons gaan kyk waar alles begin het en besoek die verskillende mediavorms.
Radio
Toentertyd het radiouitsendings baie anders as vandag geklink. In 1924 het private uitsaaiers in Kaapstad, Durban en Johannesburg uitgesaai. Dit was meestal in Engels en slegs Afrikaanse gedigte is gelees en soms is selfs lesse gegee om Afrikaans te praat.
Dit was vir die uitsaaiers moeilik om ’n bestaan sonder enige inkomste te maak en in 1927 het ’n sakeman genaamd Isidore Williem Schlesinger al die uitsaaiers onder een sambreel saamgevoeg. Dit was die African Broadcasting Company wat Afrikaanse en Engelse programme uitgesaai het.
Bekende Afrikaanse name soos M.E. Rothman, Anna Neethling-Pohl en W.A. de Klerk se stemme is op die radio gehoor en Afrikaanse skrywers soos C.M. van den Heever, Eitemal en Boerneef het spesiaal vir radio geskryf.
Die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) het op 1 Augustus 1936 die African Broadcasting Services oorgeneem, maar in Engels begin uitsaai.
Op 27 Oktober 1937 is die SAUK se Afrikaanse afdeling gestig en hulle het met Afrikaanse programme begin.
Die Afrikaanse Diens het op 24 Oktober 1945 met ’n versoekprogram U eie keuse begin wat vandag nog op Radio Sonder Grense (RSG) uitgesaai word. Dit is die oudste program op Suid-Afrikaanse radio.
Veranderinge het op 1 Januarie 1986 by die SAUK ingetree met twee nuwe dienste, naamlik Radio Suid-Afrika en Radio South Africa. Dit het die Afrikaanse en Engelse dienste vervang.
Die eerste advertensies is ook toe op Afrikaanse radio uitgesaai. Die stasie se naam het in 1992 na Afrikaans Stereo verander en in Oktober 1996 na Radio Sonder Grense. Kortweg word dit RSG genoem. 1
Afrikaans word ook op stasies soos Jacaranda FM en OFM gehoor en dan is daar talle Afrikaanse gemeenskapsradiostasies soos, onder meer, Groot FM, Lekker FM, Pretoria FM, Oos-Rand Stereo, Overvaal Stereo, Radio Laeveld, Radio Namakwaland en Radio Rosestad. 2
Gedrukte media
Koop jou ouers koerante of tydskrifte of lees hulle alles aanlyn? Tegnologie het beslis die gewildheid van gedrukte media beïnvloed, maar gelukkig is daar steeds Afrikaanse koerante en tydskrifte op die winkelrakke te sien.
Koerante
Ons moet ver in die verlede teruggaan om na die eerste koerant te soek waarin Afrikaans verskyn het.
- Die weeklikse koerant De Verzamelaar wat in 1826 deur ’n Portugese Jood Josephus Suasso de Lima begin is, was die heel eerste koerant waarin Afrikaans verskyn het. Dit was ’n gesukkel om die koerant finansieel aan die lewe te hou, maar dit is nietemin vir 22 jaar uitgegee.
- Die eerste koerant wat op Afrikaans en Hollandse belange gekonsentreer het, was De Zuid-Afrikaan. Dié koerant is op 9 April 1830 deur Christoffel Joseph Brand uitgegee. Die koerant is grootliks begin omdat daar gevoel is dat die Engelse pers Afrikaners en hul behoeftes geïgnoreer het. 3
- Die Afrikaanse Patriot was ’n koerant wat die gebruik van Afrikaans bevorder het. Die maandblad, wat deur lede van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) begin het, is vir die eerste keer op 15 Januarie 1876 uitgegee. Dit het aanvanklik in ’n klein formaat verskyn, maar het vinnig tot ’n weekblad in koerantformaat gegroei. Die koerant het ’n belangrike rol daarin gespeel om Afrikaans as ’n taal te vestig.
- Die jaar 1915 was ’n belangrike jaar vir Afrikaans, want drie Afrikaanse koerante het die lig gesien. Het Volksblad het in Maart 1915 in Potchefstroom begin, maar eintlik het dit net ’n nuwe baadjie gekry, want sy voorganger was Het Westen, ’n blad wat in 1904 begin is. Hendrik de Graaf was die stigter van die koerant. Die Volksblad is die oudste Afrikaanse koerant in die land, al word dit nou net digitaal gepubliseer (op Netwerk24). 4
- De Burger het in Julie 1915 in Kaapstad verskyn en het later bloot Die Burger geword. Dit is as die Kaapse stem van Afrikaners se nasionalisme beskou en is deur De Nasionale Pers Beperk besit. Die maatskappy staan tans as Naspers bekend en is in Mei 1915 geregistreer. D.F. Malan was die eerste redakteur. 5
- Die derde koerant wat in 1915 verskyn het, was die tweeweeklikse Ons Vaderland in Pretoria met generaal James Barry Munnik Hertzog en sy twee hoofondersteuners, T.J. Roos en N.C. Havenga, as die hoofaandeelhouers. Die koerant is in Desember 1931 tot Die Vaderland
- Die koerant Die Transvaler is in 1935 uitgereik en die eerste redakteur was Hendrik Verwoerd wat later die eerste minister van Suid-Afrika geword het.
- Die bekende Beeld-koerant is sedert 16 September 1974 uitgegee. Die koerant is deur die Nasionale Pers begin – as mededinging vir Perskor se dagblaaie in die ou Transvaal. Perskor het in daardie jare Die Transvaler, Hoofstad, Oggendblad en Vaderland uitgegee. Daar was sterk mededinging tussen die koerante, maar uiteindelik het net Beeld dit gemaak en die koerant word vandag nog gepubliseer. 6
- Die eerste Afrikaanse Sondagkoerant het in die jare veertig die lewenslig aanskou. Die Arbeidersparty het ’n blad Die werkman se weekblad gehad en ’n mynmaatskappy Strathmore het dit oorgeneem en ’n Sondagblad daarvan gemaak. Dit is Die Weekblad genoem, maar dit is gou weer in ’n nuwe Sondagkoerant Dagbreek Die eerste uitgawe het op 29 Junie 1947 verskyn en het ’n week daarna was daar ’n mededinger op die rakke.
- Dit was die Sondagnuus van die Afrikaanse Pers-Boekhandel. Dagbreekpers het hulle genader om saam te werk en het Sondagnuus gekoop. Van Desember 1947 af, was Dagbreek en Sondagnuus die Afrikaanse Sondagblad. Dit was ’n groot sukses en hulle het ook twee tydskrifte, Fleur en Die Ruiter, in die nuwe Sondagblad opgeneem.
- In 1958, het die Sondagstemas mededinger vir Dagbreek en Sondagnuus verskyn en hulle het een van die opposisiepartye die Verenigde Party ondersteun. Die Argus-groep, wat Engelstalige koerante besit het, het die koerant in 1958 gekoop. Dit is in 1967 gesluit.
- Intussen het Afrikaanse Pers in 1961 besluit om die Sondagbladuit te gee, maar dit het reeds in 1967 weer gesluit.
- Twee koerante, Landstem en Dagbreek, het saamgesmelt om sirkulasie te laat styg. Sirkulasie is die hoeveelheid koerante wat verkoop word. Daar is uiteindelik besluit om die Beeld (naweekuitgawe), Landstem en Dagbreek te laat saamsmelt en dit het tot die Rapport-koerant gelei.
- Die koerante het in 1970 saamgesmelt en die eienaars daarvan het elk ’n 50%-belang in Rapport gekry. Die eerste uitgawe van Rapport het op 29 November 1970 verskyn en die koerant was binne drie jaar die grootste koerant in die land.
- Rapport het nog nie veel mededinging in die Sondagmark gehad nie. Daar was wel ’n Sondagkoerant Die Wêreld wat in 2005 begin is, maar daar is slegs 12 uitgawes daarvan as Sondagblad gepubliseer. Die koerant Sondag was ’n poniekoerant en het uit Noord Son ontstaan, maar is later deur Media24 gesluit. Sondag Son is ook later gestig, maar hulle moes ook hul deure in 2020 sluit. 7
- Die Vrye Weekblad het vir die eerste keer op 4 November 1988 verskyn en was die enigste Afrikaanse alternatiewe koerant en het gou bekendgeword as ’n koerant wat nie geaarsel het om die regering te kritiseer nie.
- Teen 1992 het 37 strafbare klagte, agt lastersake en vyf dringende kort interdikte die koerant in die gesig gestaar. Dit is later weens ’n duur hofsaak gesluit, maar het nuwe lewe gekry en was teen 2023 nog aanlyn beskikbaar.
Tydskrifte
Die Afrikaanse tydskrifwêreld het al vele tydskrifte gesien kom en gaan. Gelukkig is daar vandag nog tydskrifte in Afrikaans wat bly voortbestaan.
- Die eerste Afrikaanse tydskrif is in 1910 in die lewe geroep. Die Brandwag se eerste uitgawe was op 31 Mei 1910 onder redakteurskap van dr. W.M.R. Malherbe en Gustav Preller. Dit het minstens drie verskillende eienaars gehad en ook gedaanteverwisselings ondergaan voor dit in 1922 gesluit het. 8
- Die bekende tydskrif Huisgenoot is meer as 100 jaar oud en bestaan steeds. Dit is in 1916 gestig en is die enigste Afrikaanse tydskrif wat al meer as 500 000 tydskrifte van ’n uitgawe verkoop het. Die eerste uitgawe van De Huisgenoot is in Mei 1916 gepubliseer.
- Die eerste vrouetydskrif was Die Boervrou wat in 1919 verskyn het. Die tydskrif het ’n sterk opvoedkundige, kulturele en letterkundige inslag gehad en is tot en met Desember 1931 uitgegee.
- Die Huisvrou het haar verskyning in 1922 gemaak en is vir meer as 50 jaar uitgegee. Dit het in 1954 gesluit en die laaste redakteur was die bekende skrywer Audrey Blignaut. 9
- Nog ’n tydskrif wat al ’n lang pad kom, is die Taalgenoot. Dit is die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se tydskrif. Dit bestaan reeds sedert Desember 1931 en word sedert 2022 digitaal op Netwerk24 se platform beskikbaar gestel.
- Die tydskrif rooi rose het ook ’n lang geskiedenis. Dit is in 1942 deur Hendrikus Potgieter (met die skryfnaam Mark Preston) begin, maar het slegs een keer verskyn voor hy dit in 1944 aan A.M. van Schoor en Marius Jooste verkoop het. Dit was aanvanklik deel van die Afrikaanse Pers Beperk, maar later het Marius Jooste Perskor begin. Perskor het gesluit en Caxton het beheer oor rooi rose geneem, maar dié gewilde tydskrif het tydens die Covid-19-pandemie in 2020 gesluit. Die tydskrif het gelukkig in 2022 by ’n nuwe maatskappy, Highbury Media, en onder ’n nuwe redaksie, herleef. 10
- Standpunte was die eerste intellektuele tydskrif in Afrikaans en die eerste uitgawe het in Desember 1945 verskyn. Dit was die geesteskind van die bekende broers en digters, N.P. van Wyk Louw en W.E.G. Louw. Die laaste uitgawe is in 1986 uitgegee.
- Die tydskrif Keur is in 1949 begin en Fyn Goud in die jare vyftig. Dis deur Blaar Coetzee begin, maar Hint Hyman (wat later hoof van die Republikeinse Pers was) het albei tydskrifte oorgekoop en die twee laat saamsmelt. ’n Landwye kompetisie vir ’n nuwe naam is later uitgereik en dit is Ster
- Ster is egter in 1967 na Keur Keur was aanvanklik deel van die Republikeinse Pers, daarna Perskor en is toe aan die Caxton-tydskrifgroep verkoop.
- Caxton het in 1999 besluit om Keur se spesiale Vroue 2000-afdeling in ’n nuwe tydskrif, Vrouekeur te omskep. Vrouekeur is in 2020 tydens die Covid-pandemie gesluit en is ook aan Highbury Media verkoop. Teen 2022 was dit nog onseker of die tydskrif, nes haar sustertydskrif, rooi rose, weer sal herleef.
- Die vrouetydskrif Sarie is in 1949 deur Nasionale Pers (later Naspers en nou Media24) gestig. Die naam was aanvanklik Sarie Marais. 11
- Die tydskrif Insig is in 1987 tot stand gebring omdat daar ’n leemte in die mark vir ’n ernstiger Afrikaanse tydskrif was. Die eerste redakteur was dr. Piet Muller en die laaste uitgawe het in 2007 verskyn.
- Kuier is ’n Afrikaanse tydskrif wat op bruin lesers gerig is. Dit is in 2009 begin en word tweeweekliks uitgegee. Die tydskrif was in 2022 die grootste Afrikaanse vrouetydskrif in die land. Sarie–tydskrif se verkope het Kuier egter weer in 2023 verbygevat. 12
Christelike tydskrifte
- Die oudste Christelike tydskrif in Suid-Afrika is die Kerkbode wat in 1849 tot stand gekom het.
- Die LIG-tydskrif het ook ’n Christelike inslag. LIG se voorganger is Die Voorligter genoem en het op 1 Desember 1937 as maandblad van die NG Kerk verskyn. Dit sou net die kerk se amptelike blad, Die Kerkbode, aangevul het. Dit het egter gegroei en die inhoud het deur die jare so verander dat dit later na LIG verkort is. Die tydskrif word sedert 2000 op winkelrakke verkoop.
- Die Finesse-tydskrif is in 1998 as deel van Carpe Diem begin en was ook aanvanklik ’n tydskrif met ’n Christelike inslag. Die klem is nou meer op die “goedvoel-gedeelte” en staan tans (2023) as die Finesse Voelgoed Tydskrif
- Naspers se afdeling Media24 het in 2005 met die tydskrif Lééf begin wat op gelowige vroue gerig is. Naspers het later besluit om Lééf te sluit, maar die redaksie het ooreengekom om die tydskrif oor te neem dit word nou onafhanklik as ’n aanlyn tydskrif uitgegee.
Koerante en tydskrifte vandag
In die jaar 2022, het die volgende Afrikaanse koerante op die Audit Bureau of Circulations (ABC)-sirkulasie verskyn: Die Burger, Beeld en die Son. Rapport is steeds die enigste Sondagkoerant met Die Burger en Beeld wat Saterdaguitgawes uitbring.
Die Afrikaanse tydskrifte wat in 2023 op die ABC-lys verskyn het, is Baba & Kleuter, Die Tuinier, Huisgenoot, Grond tot mond, Kuier, Landbouweekblad, Landbouweekblad Vee, LIG, Mark toe!, Plus 50, rooi rose, Sarie, Sarie Kos, Tuis, TV Plus, Veeplaas, Weg!, Weg! Ry en Sleep en Weg! Platteland. ’n Paar van die voorafgenoemde tydskrifte het ook Engelse uitgawes. 13
Bruis! is ’n tydskrif vir ouer vroue en is nog nie op die lys ingesluit nie en word deur ’n onafhanklike uitgewer besit. DeKat verskyn ook nie op hierdie lys nie, maar bestaan sedert 1985. 14
TV en internet
Ons het vandag soveel keuses op TV en stromingsdienste dat ’n mens eintlik té veel keuses het , maar dit was nie altyd so nie.
Die eerste TV-uitsendings deur die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie/South African Broadcasting Corporation (SAUK/SABC) het op 5 Januarie 1976 in Suid-Afrika begin. Aan die begin is daar slegs 37 uur per week op een kanaal in Afrikaans en Engels uitgesaai! Advertensies het ook eers later bygekom en het vir die eerste keer in 1978 verskyn. 15
Die regering het ook hier ’n sterk invloed uitgeoefen en het in die jare sewentig en tagtig streng beheer oor die diens gehad. Dit het eers in die jare negentig verander.
’n Nuwe Afrikaanse TV-kanaal is op 15 November 1999 uitgesaai. Die nuwe kanaal is kykNET genoem en is op Kanaal 8 op DStv uitgesaai. Die eerste aand se uitsendings het met programme soos Emma koe lê ma, Arende, Koöperasiestories en Sportkoukus afgeskop. kykNET is nou op kanaal 144 op DStv te sien en het nou ook ander kanale, soos kykNET & kie op kanaal 145. 16
Nog ’n Afrikaanse kanaal het in 2015 begin uitsaai. Dit is Media24 se VIA-kanaal wat op die DStv-kanaal 147 uitgesaai word.
Daar is ook ander stromingsdienste wat in Afrikaans uitsaai, soos NetAfrikaans wat op www.net-afrikaans.com beskikbaar is. MYtv ONLINE bied gratis programme in Afrikaans by www.mytv.co.za. Jou Afrikaans is ’n vermaaklikheidsplatform wat ’n platform vir Afrikaanse rolprentmakers bied om hul rolprente, reekse, dokumentêre, kortflieks en ander vermaaklikheidsidees ten toon te stel.
Dan is daar ook internetwebwerwe wat Afrikaanse nuus bied, soos Netwerk24 en Maroela Media.
Netwerk24 is ‘n Afrikaanse nuuswebwerf en is Suid-Afrika se grootste nuusplatform vir intekenare. Al Media24 se Afrikaanse publikasies verskyn op hul webwerf.
Maroela Media is ’n Afrikaanse mediahuis wat in Augustus 2011 tot stand gekom het. Dit is die grootste Afrikaanse digitale platform en die grootste Afrikaanse mediagemeenskap van al die mediaformate – digitaal, koerante, tydskrifte, televisie en radio. Maroela Media het gemiddeld 2 miljoen unieke lesers per maand en lesers lees maandeliks sowat 47 miljoen bladsye op hul webwerf en app. Nuus en inligting oor verskeie onderwerpe word met lesers gedeel. 17
Woordbank
alternatiewe | Iets wat nie tot die hoofstroom behoort nie. |
kommunikasiekanale | ’n Verbindingsweg waardeur nuus/kommunikasie versprei word. |
resessie | Insinking in handelsbedrywigheid; ekonomiese teruggang. |
interdikte | Bevel van die hof waarin iemand/party/sakeonderneming, ens. belet word om iets te doen; verbod. |
gedaanteverwisselings | Vorm-/struktuurverandering, |
media | Dis al die verskillende vorms waardeur nuus en inligting versprei word, soos koerante tydskrifte, radio, televisie en die internet. 19 |
mededinging | Handeling daarvan om mee te ding. Kompetisie vir mekaar. |
nasionalisme | Dis die beskouing van ’n groep waarby die gemeenskaplike aspirasies, belange, kenmerke en waardes gehandhaaf word om die afsonderlikheid of uniekheid van die groep te bevorder. |
poniekoerant | ’n Koerant wat die helfte so groot is as ’n gewone breëbladkoerant. Hierdie koerante lewer dikwels sensasionele berigte. |
redakteur | Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie. |
Lees en kyk na die volgende om meer oor die Afrikaanse media te leer
- Koerante: Groot nuus deur die dekades
- Koerante: Afrikaanse nuus deur voorblaaie (van toeka tot nou)
- Tydskrifte: vanaf doerie tyd tot nou
Kyk na hierdie video’s om meer oor die Afrikaanse media te leer
Die eerste SAUK TV-uitsending
Kyk na tydskrifte uit die jare veertig
rooi rose se geskiedenis