Vinnige feite
- Boerneef het saam met D.B. Bosman en L.W. Hiemstra die Tweetalige woordeboek opgestel.
- Sy grootwordplaas Boplaas met sy historiese geboue is in 1973 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid Die geskiedkundige geboue dateer uit die begin van die 19de eeu.
- Boerneef het nie daarvan gehou dat mense gedigte so ontleed dat dit die wonder daarvan weggeneem nie. Hy het self geen resensie of studies daaroor geskryf nie.
- Boerneef was baie lief vir musiek en het graag op Donderdagaande na die Kaapstadse simfonieorkes gaan luister. Sy gunstelingkomponis was Mozart.
- Boerneef is in 2017, 50 jaar ná sy dood, met ’n vertoning Flennie die snare by die Innibos Laeveldse Nasionale Kunstefees vereer. 5
- Daar is verskeie strate in die land na Boerneef vernoem, onder meer in Ceres, Bloemfontein, Roodepoort, Midrand en Boksburg.
“Die berggans het ’n veer laat val” is een van Boerneef se bekendste gedigte. Hy het van 1897 tot 1967 geleef en word as een van Afrikaans se voorste digters gereken. Hy was ook ’n skrywer, leksikograaf en ’n akademikus.
Die berggans het ’n veer laat val
van die hoogste krans by Woeperdal
My hart staan tuit al meer en meer
Ek stuur vir jou die berggansveer
Mits dese wil ek vir jou sê
hoe diep my liefde vir jou lê. 1
Boerneef was baie lief vir die Afrikaanse taal en veral vir die eenvoudige, dog mooi streektaal van die Boland waar hy grootgeword het.
Hy het graag oor die plaaslewe geskryf en het groot bewondering vir die gewone spreektaal van die inwoners van die omgewing gehad. Daar is na sy werk as volkspoësie verwys.
Baie mense ken Boerneef se woorde sonder dat hulle dit weet, want heelwat van sy gedigte is in bekende liedjies verander. Prof. Pieter de Villiers het reeds in 1961 sewe Boerneefliedjies getoonset en het ook in 2004 ’n bundel Boerneef sing bekendgestel. Louis van Rensburg het in 1986 drie van Boerneef se gedigte gekombineer en getoonset en die liedjie “Voshaarnooi” was die produk. Dit is as temalied vir die ’n bekende TV-reeks van daardie tyd, Ballade vir ’n enkeling, gebruik. Die sangeres Laurika Rauch het ook van sy werk getoonset, soos haar liedjies “Nalekokers” en “Niks hang so rooi soos wingerdblaar”.
Grootword en studies
Boerneef is as Izak Wilhelmus van der Merwe op 11 Mei 1897 op Boplaas in die Ceres-omgewing in die Boland gebore. Hierdie streek word ook die Hantam of Koue Bokkeveld genoem. 2
Sy pa, Callie, was twee keer getroud en sewe kinders is uit die eerste huwelik gebore: Izak (Boerneef), Carel Petrus, Fanie, Ansius, Lilla en twee seuns wat vroeg oorlede is. Sy pa het saam met sy tweede vrou vyf kinders gehad, naamlik Willa, Bettie, Gerio, Andries en Rina. Boerneef se pa was ’n boer en het volgens sy seun ’n “mooi eenvoudige Boere-Afrikaans” geskryf en gepraat.
Boerneef self was aanvanklik in plaasskole en is daarna na ’n skool op Ceres waar hy in 1913 gematrikuleer het. Hy het ’n jaar lank gaan boer en het toe verder aan die Suid-Afrikaanse Kollege (nou Universiteit van Kaapstad) gaan studeer. Hy het daar sy BA-, MA- en BEd-grade verwerf en het ’n onderwyser geword.
Hy is in 1922 as ’n lektor aan die Universiteit van Kaapstad aangestel. Hy was daarna ’n senior lektor tot hy in 1956 tot medeprofessor in die departement Afrikaans en Nederlands bevorder is. Hy was 41 jaar lank aan hierdie departement verbonde en het ’n paar studente gehad, wat ook later bekend sou word, soos die twee digterbroers, N.P. en W.E.G. Louw. 3
Waarom “Boerneef”?
Die skuilnaam Boerneef is die eerste keer in 1925 gebruik toe die destydse Prins van Wallis Suid-Afrika besoek het. Boerneef het nie daarvan gehou dat mense so opgewonde oor die besoek was nie en het ’n brief aan Die Burger geskryf waarin hy hul beheptheid met die prins gekritiseer het. Hy het die naam Boerneef gebruik en daar het dit toe sommer ook vastrapplek gekry.
Die Dertigers en kuns
Boerneef was deel van ’n groep wat as die Dertigers bekend gestaan het. Die Dertigers was ’n groep digters wat baie goeie werk gelewer het en só ’n nuwe standaard in letterkunde gestel het. Hy was vriende met baie digters en skrywers, soos die Nederlandse digter Jan Greshoff en Dirk Opperman, wat van 1949 dosent aan die Universiteit van Kaapstad was.
Hy was ’n liefhebber van die kunste en het kuns, musiek en drama ondersteun. Hy was selfs een van die stigterslede (en tesourier) van die Kaapstadse Afrikaanse Toneelvereniging.
Boerneef was ’n groot kunsliefhebber en ’n ywerige versamelaar van skilderye en Persiese matte. Sy versameling het onder meer werk van Cecil Higgs, Irma Stern, Hugo Naudé, Maggie Laubser, Francois Krige, Alexis Preller, Pierneef en Jean Welz ingesluit. Ná sy dood het hy ’n groot gedeelte van sy versameling en boeke aan die Hoërskool Jan van Riebeeck bemaak. Die meer as 60 skilderye staan bekend as “Die Boerneef-kunsversameling” en kan by die Welgemeend-kunsgalery op die skoolgronde besigtig word. 4
Liefdes, siektes en sterftes
Boerneef is op 6 Mei 1924 met Marie Roux (Maria Hugo Roux) getroud en hulle het ’n seun, Carl Petrus, gehad. Carl sou later as volwassene ’n ingenieur word.
Boerneef het in 1929 die siekte tering opgedoen en hy kon vir lank nie werk nie. Hy was ernstig siek en moes by ’n sanatorium gaan herstel het. Hy het gelukkig volkome herstel.
Die gesin het in 1933 na ’n huis in Tamboerskloof getrek en het die plek “Hantam” gedoop omdat hy so na die Karoo verlang het.
Sy vrou het egter maagkanker opgedoen en sy is op 27 Augustus 1940 op 44-jarige ouderdom oorlede. Hy het op 31 Oktober 1941 met Annie de Kock getrou, maar daar is net ses weke ná die huwelik ontdek dat sy borskanker het. Sy is op 9 Mei 1943 oorlede.
Dit was vir hom moeilike jare, veral toe sy seun in die destydse Rhodesië (vandag Zimbabwe) gaan woon het. Boerneef het weer in 1956 getrou, hierdie keer met Fanny Jordaan.
Boerneef is op 2 Julie 1967 in sy huis in Kaapstad oorlede. Sy vrou, Fannie, is op 80-jarige ouderdom ná ’n lang siekbed oorlede.
Boerneef is ná sy dood veras en sy as is na sy grootwordplaas, Boplaas, geneem en daar gestrooi. 1
Skryfwerk en pryse
Boerneef het eers laat in sy lewe begin skryf. Hy was 41 jaar oud toe sy eerste boek, Boplaas, in 1938 verskyn het. Hy het toe in dieselfde jaar die boeke, Pensie en Van my kontrei, uitgegee.
Hy het van die begin af in ’n eenvoudige Afrikaans geskryf wat deur mense as “onopgesmuk” beskryf is. Hy was baie lief vir die eenvoudige spreektaal van die Hantam.
Ná Boerneef se laaste huwelik met Fannie was hy baie gelukkig en produktief en vyf digbundels het in hierdie tyd uit sy pen verskyn. Hy het drie daarvan aan Fannie opgedra.
Sy laaste prosabundel, Teen die helling, het in 1956 verskyn en is met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon. Dit was juis in Teen die helling dat hy vir die eerste keer poësie by prosa ingesluit het en só vir ’n groot verrassing in die Afrikaanse poësie gesorg.
Sy eerste digbundel, Krokos, is in 1958 gepubliseer en dit is deur nog vier bundels gevolg. Sy laaste bundel, Op die flottina, is in 1967 op sy 70ste verjaardag gepubliseer. Daar het toe ook ’n keur uit sy prosa verskyn, wat deur sy broer, C.P. van der Merwe, saamgestel is.
Boerneef was baie lief vir Afrikaans en het ’n groot kennis van die Afrikaanse en Nederlandse letterkunde gehad. Hy het egter in sy hart ’n plaasseun gebly wat graag plattelandse temas in sy skryfwerk gebruik het.
Die Hertzogprys vir poësie is in 1969 postuum aan hom vir sy oeuvre toegeken.
Boerneef se skryfwerk
Naam | Literêre vorm | Publikasiedatum | Uitgewer |
Boplaas | Prosa | 1938, 1939, 1940, 1941, 1947, 1956, 1957, 1967, 1971 | Kaapstad: Nasionale Pers
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Pensie | Kinderboek | 1938
1942 |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Van my kontrei | Kortkuns | 1938
1948 1949 |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Van my kinderdae | Kinderboek | 1939
1948 |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Stad en land | Kortkuns | 1941, 1945, 1955, 1956, 1962, 1963, 1965 | Kaapstad: Nasionale Pers
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Vlettervlie en Koesnaatjie en ander verhale | Kinderboek | 1942
1948 |
Kaapstad: Nasionale Pers |
Sketsboek | Kortkuns | 1947
1959 1969 |
Kaapstad: Nasionale Pers
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Teen die helling | Kortkuns | 1956
1958 1965 1966 1967 |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Krokos | Poësie | 1958 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Ghaap en kambro | Poësie | 1959 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Mallemole | Poësie | 1962 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Palissandryne | Poësie | 1964 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Op die flottina | Poësie | 1976 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Boerneef: ’n keur uit sy prosa / saamgestel deur C.P. van der Merwe | Kortkuns | 1967
1969 1973 1979 |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel
Kaapstad: Tafelberg |
En Tafelberg praat krotaal: ’n keur uit die verse van Boerneef / saamgestel deur Ernst Lindenberg | Poësie | 1968 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Sesde hoepel: 83 ongepubliseerde gedigte / saamgestel deur F.I.J. van Rensburg | Poësie | 1976 | Kaapstad: Tafelberg |
Versamelde poësie | Poësie | 1977
1985 |
Kaapstad: Tafelberg |
Versamelde prosa | Poësie | 1979
1982 |
Kaapstad: Tafelberg |
Die berggans het ’n veer laat val: ’n keur uit sy prosa en poësie / saamgestel deur Wium van Zyl | Prosa en poësie | 1998
1999 |
Kaapstad: Tafelberg |
Boerneef sing: komposisies van uitgesoekte verse: 10 siklusse / deur Pieter de Villiers | Musiek | 2004 | Pretoria: Litera Publikasies 1 |
Woordbank
akademikus | Dit is iemand wat geleerd is en dikwels klas aan ’n universiteit gee. |
beheptheid | Obsessie. |
bemaak | Nalaat, skenk. |
drama | Toneelstuk. |
genre | ’n Kategorie of styl van kuns. |
getoonset | Wanneer daar musiek by woorde gevoeg word, word dit in ’n liedjie verander. |
ingenieur | Iemand wat in ’n tegniese veld werk, dinge ontwerp, bou en aan die gang hou. |
kortkuns | ʼn Sambreelterm wat gebruik word om alle kort prosawerke soos die kortverhaal, kortkortverhaal of prosa, skets, prosagedig en essay onder een begrip in een kategorie te plaas. |
leksikograaf | Iemand wat woordeboeke skryf. |
lektor | Iemand wat by ’n universiteit (of soortgelyke instelling) klasgee. |
letterkunde | Kuns in geskrewe vorm, wat poësie, prosa en drama insluit. |
nasionale gedenkwaardigheid | Plek, huis of gebou wat belangrik is vir die geskiedenis en wat deur die regering vir die nageslag bewaar word. |
oeuvre | Die gesamentlike werke van ’n kunstenaar. |
onopgesmuk | Eenvoudig en onversier. |
plattelandse | Landelik, eenvoudig. |
postuum | Wat ná die dood van iemand plaasvind of verskyn. |
prosa | Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre. |
poësie | Die werke van digters of ʼn versameling gedigte. |
resensie | Beoordeling van ʼn boek/kunswerk/opvoering/ens. |
sanatorium | Gesondheidsinrigting vir siekes, hersteloord. |
standaard | ʼn Sekere vlak van prestasie of ʼn vlak van hoe goed ʼn persoon is in wat hy/sy doen, of dit sport of werk is. |
streektaal | Taal wat in ’n bepaalde streek gepraat word en van die standaardtaal verskil. |
tering | ’n Ernstige longsiekte, ook tuberkulose genoem. |
tesourier | Dit is iemand wat die geld van byvoorbeeld ’n vereniging beheer. |
volkspoësie | Gedigte wat in ’n volk of gemeenskap leef en wat die volk maklik kan verstaan. |
Lees hierdie artikels om meer oor Boerneef te leer
Kyk na hierdie video’s om meer oor Boerneef te leer
Wie was Boerneef?
Boerneef: die digter, die akademikus, die versamelaar en vriend van kunstenaars (volledige inligting)
Boplaas en Pramberg (uittreksels)
Lekker liedjies met tipiese Boerneef-woorde
Luister na die gedig “Die berggans het ’n veer laat val”
Luister hier na die toonsetting van “ʼn Berggans het ʼn veer laat val”, “Waarom is die duiwel vir die slypsteen bang” en “Aandblom is ʼn witblom”
Luister na “Krojaar”
Die huldeblykproduksie