Vinnige feite

  • Het jy geweet die teddiebeer het sy ontstaan aan Roosevelt te danke? Tydens ʼn beerjagtog in 1902 in Mississippi het een van sy assistente ʼn swart beer vasgekeer en aan ʼn boom vasgemaak vir Roosevelt om te skiet omdat hy die enigste jagter in die groep was wat nog nie ʼn beer kon opspoor nie. Roosevelt weier egter om die hulpelose dier te skiet. Kort hierna verskyn ʼn spotprent in die koerant hieroor, wat ʼn winkeleienaar genaamd Morris Michtom inspireer om opgestopte teddiebere te begin maak. Met Roosevelt se toestemming word “Teddy’s Bear” gebore en tot vandag toe is dié sagte speelding wêreldwyd gewild. 23
  • Roosevelt was ʼn baie produktiewe skrywer. Danksy sy uitstekende geheue (hy het volgens die biograaf en geskiedkundige Edmund Morris ʼn geheue soos ʼn olifant gehad) en borrelende energie het hy 35 boeke asook 150 000 briewe geskryf. 24
  • Roosevelt het in 1901 die Withuis in Washington DC amptelik sy huidige naam gegee. Die Withuis huisves, benewens die presidentswoning en president se kantoor (The Oval Office), ook ander kantore en bestaan uit 132 kamers, 35 badkamers en 6 verdiepings. Daar is ook 412 deure, 147 vensters, 28 kaggels, 8 trappe en 3 hysbakke! 25
  • Theodore Roosevelt was blind in sy een oog ná ʼn boksbesering in die Withuis. Hy’t mense gereeld uitgedaag om teen hom te boks, selfs professionele boksers. Ná ʼn opstopper (wat sy retina laat skeur het) deur sy militêre regterhand, kol. Daniel T. Moore, verruil Roosevelt sy bokshandskoene vir joejitsoe en judo (soorte gevegskuns). 26
  • Roosevelt het die media om sy pinkie gedraai. Nie net was hy die eerste president om vir die media ʼn kantoor in die Withuis beskikbaar te stel nie, maar hy’t verslaggewers (joernaliste) selfs vir informele geselsies genooi terwyl hy geskeer het. Op ʼn keer het hy ʼn perderit oor byna 160 km aangepak en in ʼn duikboot gevaar. 27
  • Dit is danksy Roosevelt dat Amerikaanse voetbal vandag ʼn veiliger sportsoort is. In die 1900’s het streng reëls oor beskermende kleredrag nog nie bestaan nie. Toe meer as 45 spelers tussen 1900 en 1905 weens harsingskudding, ʼn gebreekte nek of rug sterf, het hy verteenwoordigers van die universiteite van Yale, Harvard en Princeton ontbied om die spelers se veiligheid te bespreek en verbeter. In 1904 alleen was daar 18 sterftes en 159 ernstige beserings, veral by skoolkinders. 28
  • Die tradisie om ʼn troeteldier by die Withuis aan te hou, strek oor meer as ʼn eeu. Elke Amerikaanse president het ʼn hond of twee gehad, met die uitsondering van Donald Trump wat geen diere in sy termyn van vier jaar geduld het nie. Roosevelt het egter ʼn hele Withuis-dieretuin gehad! Benewens agt perde, talle honde en katte, slange, knaagdiere (soos rotte) en voëls, het hy ook vyf bere, ʼn leeu, hiëna, sebra, akkedis, vark en wasbeer gehad! 29
  • Die olieverfskildery van ʼn statige en staande Roosevelt (deur John Singer Sargent) wat vandag in die Withuis se East Room hang, was nie die oorspronklike amptelike presidensiële skildery nie. Roosevelt het die eerste een, wat deur die Fransman Théobald Chartran geskilder is, só gehaat dat hy dit verbrand het (selfs sy kinders het hom daaroor gespot omdat dit hom glo soos ʼn skreeuende kat laat lyk het). 30
  • Met die uitsondering van Franklin D. Roosevelt (ʼn neef van Theodore) wat vier keer tot president van die VSA verkies is (in 1932, 1936, 1940 en 1944), het geen persoon al vir meer as twee termyne dié posisie beklee nie. FDR, soos hy ook genoem is, was altesaam 4 422 dae lank president! 31 Die Amerikaanse grondwet is in 1951 gewysig (dit staan bekend as die 22ste wysiging (The 22nd Amendment) ingevolge waarvan ʼn persoon tot twee presidentstermyne beperk word. 32
  • Twee van Roosevelt se vier seuns het op die slagveld gesneuwel – die 20-jarige Quentin op 14 Julie 1918 tydens die Eerste Wêreldoorlog, en die 56-jarige Theodore op 12 Julie 1944 tydens die Tweede Wêreldoorlog. Kermit, wat ook aan albei oorloë deelgeneem het, het in 1943 sy eie lewe geneem. Hy was 54 jaar oud. Roosevelt se vierde seun, Archie, is in albei Wêreldoorloë gewond en in 1979 op die ouderdom van 85 oorlede. 33
  • Altesaam vier Amerikaanse presidente is in sluipmoordaanvalle vermoor – Abraham Lincoln (14 April 1865), James A. Garfield (2 Julie 1881), William McKinley (6 September 1901) en John F. Kennedy (22 November 1963). Byna al die ander presidente het óf ʼn sluipmoordpoging oorleef, óf net-net vrygespring. 34

“Praat sag, maar dra altyd ʼn groot stok saam met jou.” Dié bekende woorde van Theodore Roosevelt, die 26ste en jongste president ooit in die geskiedenis van die Verenigde State van Amerika (VSA), was die grondslag van alles wat dié merkwaardige man deur sy luisterryke loopbaan as soldaat, skrywer, natuurliefhebber en politikus aangepak het.

Danksy die energie en passie wat Roosevelt na die Withuis toe gebring het, het “die eerste moderne Amerikaanse president” 1 vir ʼn lang lys van eerstes gesorg en nie net historiese hervorming in die VSA teweeggebring nie, maar ook ʼn sterk buitelandse beleid gevestig.

Nobelpryswenner én “teddiebeer” wat die pers en publiek in die palm van sy hand gehad het. 2

Geboorte en kinderjare

Theodore Roosevelt, wat ook as Teddy of TR bekendgestaan het, is op 27 Oktober 1858 in New York in die VSA gebore as die tweede oudste van vier kinders. Hy het ʼn ouer suster, Anna, gehad, ʼn jonger broer, Elliott, en die jongste was sy sussie Corinne. Pa Theodore Roosevelt was ʼn gerekende sakeman en filantroop (iemand wat graag liefdadigheidswerk doen) en ma Martha Bulloch het uit ʼn ryk familie gekom wat ʼn groot plantasie besit het. 3

Hoewel Roosevelt as volwassene bekend was vir sy energie, liefde vir die buitelewe en sport, was hy as seun baie siek. Hy het aan erge asma gely, ʼn siekte wat asemhalingsprobleme veroorsaak. As gevolg hiervan het hy vir sy hele skoolloopbaan tuisonderrig by sy ma, sy tannie (Anna Bulloch) en ʼn Franse juffrou ontvang. Sy broer en susters het ook almal tuisonderrig ontvang. 4

Op twaalfjarige ouderdom het hy sy pa se raad gevolg en sy kragte begin opbou deur gewigte op te tel, perd te ry, te boks, te stoei en te jag. Sy pa het hom ook vir oogtoetse geneem en daar is vasgestel dat Roosevelt bysiende was (iemand wat nie dinge wat ver is, mooi kan sien nie) en ʼn bril moes dra. 5

Studies en toetrede tot die politiek

Net voor sy 18de verjaarsdag in 1876 begin Roosevelt aan die Harvard-Universiteit studeer en sy vakke sluit Duits, natuurgeskiedenis en dierkunde in. Hy werk hard om sy gesondheid verder te verbeter en begin om boks en stoei as sport te beoefen. 4

In 1878 is sy pa en mentor dood kort nadat maagkanker by hom gediagnoseer is. Die jong Roosevelt was verpletter, maar het sy studies hervat. Sy pa se dood het die rigting van sy lewe ingrypend verander. Toe hy in die herfs van 1878 na Harvard terugkeer, het hy sy hoofvakke na geskiedenis en regeringstudies verander – ʼn slim besluit, want hy behaal sy graad met lof (onderskeiding) in 1880. 4

Roosevelt se eerste vrou, Alice Hathaway Lee, het sy asem op die Harvard-kampus weggeslaan. Hoewel sy die eerste keer nee sê toe hy haar vra om te trou, gee Roosevelt nie moed op nie. Hulle is op 27 Oktober 1880, op sy 22ste verjaarsdag, getroud. 4

Pasgetroud en dolverlief was Roosevelt nie haastig om te begin werk nie. Hy skryf by die Columbia-Universiteit in vir ʼn graad in die regte omdat hy gereken het dat ʼn regsagtergrond noodsaaklik sou wees as hy ʼn beroep in die staatsdiens (om vir die regering te werk) wou volg. Die regte het hy egter vir baie vervelig gevind en gebruik eerder sy tyd om sy eerste boek, History of the Naval War of 1812, te skryf. Ná net een semester (amper soos ʼn kwartaal) gooi hy handdoek in en betree die politieke speelveld. 4

Cambridge Union Society

Hy word in 1882 die jongste persoon om lid te word van die staat New York se huis van verteenwoordigers. Roosevelt se politieke opgang word in sy spore gestuit toe sy ma en vrou op een dag sterf. Op 14 Februarie 1884 is sy eerste vrou van vier jaar, Alice Lee (22), dood aan Bright se siekte, ʼn ernstige nierkwaal, net twee dae nadat sy aan hul dogtertjie Alice Hathaway Lee Roosevelt geboorte geskenk het. Op dieselfde dag sterf sy 49-jarige ma aan tifus. In sy dagboek skryf Roosevelt: “Die lig het uit my lewe gegaan.” 6

Alice Lee Roosevelt
Roosevelt en sy gesin.

Roosevelt laat sy babadogtertjie in die sorg van sy ouer suster en verruil die stad vir die stilte van Dakota in die noorde van die land. Hier woon en boer hy met vee totdat ʼn sneeustorm in 1885 byna sy hele trop beeste uitwis. Ná byna twee jaar keer hy terug na New York om na sy dogtertjie om te sien en sy politieke loopbaan te hervat.

Met sy terugkeer beklee hy verskeie staatsdiensposte, insluitend kaptein van die Nasionale Wag (National Guard) en minderheidsleier in die huis van verteenwoordigers. Hy vind ook weer liefde en trou met sy jare lange vriendin Edith Kermit Carow (hulle het kleintyd saam na die begrafnisstoet van Abraham Lincoln vanuit ʼn venster in sy oupa se huis in New York gekyk). Later word hy staatsdienskommissaris, toe polisiekommissaris van die stad New York en eindelik assistent-sekretaris van die vloot as deel van pres. William McKinley se regering. 7

Roosevelt, die oorlogsheld

Nadat die Spaans-Amerikaanse Oorlog in April 1898 uitgebreek het (die oorlog was as gevolg van Kuba se stryd om onafhanklik van Spanje te word), het Roosevelt sy pos as assistentsekretaris van die vloot bedank om ʼn groep vrywillige soldate genaamd die Rough Riders te lei. Die Rough Riders was meestal sportmanne, mynwerkers en cowboys sonder veel militêre ervaring. Tydens die Slag van San Juan Hill op 1 Julie 1898 in Kuba het hy ʼn aanval met ‘n klein groepie manskappe (soldate) gelei, en die Spaanse vyand in ʼn hoek gedryf. Tydens dié skermutseling is luitenant-kolonel Roosevelt deur skrapnel gewond. 8

Die Slag van San Juan Hill.

Die Verdrag van Parys, wat die Spaans-Amerikaanse Oorlog beëindig het, is op 10 Desember 1898 onderteken. Daarin het Spanje alle aanspraak op Kuba prysgegee, en Guam, Puerto Rico en die Filippyne aan die VSA oorgedra. 9

Roosevelt se leierskap en bydrae is deur baie as ʼn voorbeeld van durf en moed beskou en hy keer as oorlogsheld terug. Roosevelt is postuum (103 jaar ná sy dood) met ʼn medalje vir dapperheid vereer en is die enigste Amerikaanse president tot nog toe wat dié medalje ontvang het. Sy seun Theodore Roosevelt het ook dié medalje ontvang vir sy aandeel in die Tweede Wêreldoorlog. Slegs een ander pa en seun in die geskiedenis, genl. Douglas MacArthur en sy pa genl. Arthur MacArthur, is albei met die medalje vir dapperheid vereer. 10

Theodore Roosevelt jr. se graf.

Van soldaat tot president

Roosevelt word ná die sukses van die Spaans-Amerikaanse Oorlog as goewerneur van New York verkies. Die Republikeinse Party was baie beïndruk met hom en hy word as visepresidentskandidaat benoem toe William McKinley homself vir ʼn tweede termyn in die Withuis verkiesbaar gestel het.

William McKinley was die derde Amerikaanse president wat in ‘n sluipmoordaanval vermoor is.

Op 6 September 1901 word McKinley egter die derde Amerikaanse president wat in ʼn sluipmoordaanval vermoor word toe die 28-jarige Leon Czolgosz hom op ʼn kort afstand met ʼn rewolwer skiet. Ingevolge die Amerikaanse grondwet word die visepresident outomaties (en dadelik) die nuwe president sodra die dienende president sterf of nie meer sy amp kan uitvoer nie. Op 42-jarige ouderdom word Roosevelt die jongste president in die geskiedenis van die VSA – ʼn rekord wat vandag nog staan. 11

Roosevelt tydens ‘n besoek aan Washington D.C.

Roosevelt het nie gras onder sy voete laat groei nie en het van meet af aan ʼn reuseverskil op ekonomiese en politieke gebied binne én buite Amerika gemaak. Roosevelt het die Amerikaanse vloot opgebou en die “Groot Wit Vloot” op ʼn wêreldtoer gestuur om Amerika se militêre mag te vertoon. Dit is ook danksy Roosevelt dat die Panamakanaal van 81,8 km voltooi is om die Atlantiese en Stille Oseaan met mekaar te verbind. Roosevelt was boonop die eerste dienende Amerikaanse president om na die buiteland te reis. 12

Die voormalige Amerikaanse president tydens ‘n besoek aan Gibraltar.

In nog ʼn eerste word die Nobelprys vir Vrede in 1906 aan Roosevelt toegeken. Hy was die eerste Amerikaner om ʼn Nobelprys (in enige kategorie) te ontvang en tot vandag toe die enigste Amerikaanse president wat dié eer te beurt geval het. Roosevelt het die prys ontvang vir sy werk rakende die Verdrag van Portsmouth, wat die Russies-Japannese oorlog beëindig het. 13

Sy ekonomiese invloed

Voordat hy president geword het, het die regering sakereuse (groot maatskappye) toegelaat om hul sake na goeddunke te bedryf. Roosevelt het egter geglo dat die regering die reg en verantwoordelikheid het om sakeondernemings te reguleer sodat hul optrede nie die algemene publiek negatief beïnvloed nie. 14

Hy het ook geglo dat die president die reg het om enige en alle magte te gebruik, tensy dit spesifiek deur die grondwet verbied word. As die eerste “moderne” Amerikaanse president het hy gevoel dat hy ʼn unieke verhouding met en verantwoordelikheid teenoor die mense gehad het, en daarom wou hy die heersende (bestaande) idees van beperkte regering en individualisme uitdaag. Die regering, het hy volgehou, moes as ʼn agent van hervorming (verandering) vir die mense optree.

Magtige monopolieë wat hoë pryse vir goedere gevra en hul werknemers swak behandel het, was vir Roosevelt ʼn doring in die vlees. ʼn Monopolie is wanneer verskeie maatskappye saamsmelt en só magtig (invloedryk of sterk) word dat hulle geen mededingers (kompetisie) het nie. As ʼn maatskappy byvoorbeeld die enigste maatskappy is wat beesvleis verkoop, kan daardie maatskappy soveel vra as wat hy wil en sy werkers so min betaal as wat hy wil. 15

Hierdie monopolieë, wat ook trusts genoem word, het byvoorbeeld die spoorweë, beesvleisbedryf, olievoorsiening en ander nywerhede beheer. Trusts was in die 1900’s só magtig dat mense onder hoë pryse, lae lone en swak werksomstandighede gebuk gegaan het. Roosevelt het ʼn stokkie hiervoor gesteek en die bynaam Trustbuster vir die opbreek van hierdie monopolieë gekry.

Roosevelt, die natuurbewaarder

Roosevelt was baie lief vir die natuur en ʼn kampvegter vir die bewaring van die Amerikaanse landskap en wildlewe. Al was hy ʼn sieklike kind wat baie gelees het, het hy op ʼn jong ouderdom reeds ʼn passie vir die buitelewe ontwikkel. Sy gunstelingaktiwiteite was stap, roei, swem, perdry, voëlkyk, jag en taksidermie (om dooie diere op te stop). Hy het kleintyd ʼn groot insekversameling gehad en as volwassene was sy landgoedere (groot plase waar hy in ʼn stadium met baie beeste geboer het) gevul met trofeë van wilde diere. Sommige hiervan is vandag in die Smithsonian-museum in Washington DC te sien. 16

Roosevelt het in 1910 ‘n leeu in Afrika gejag.

In sy twee termyne as president (1901-1909) het Roosevelt die departement van bosbou op die been gebring en 150 nasionale woude, 51 federale voëlreservate, vier wildreservate, vyf parke en 18 monumente opgerig. Hierdeur het hy meer as 230 miljoen hektaar se openbare grond beskerm!

Roosevelt en sy kabinet.

Hy’t vurige toesprake gelewer oor die belangrikheid daarvan om die omgewing vir toekomstige geslagte te bewaar. Soos dié een in 1908: “Ons is groot en magtig danksy ons hulpbronne. Die tyd het egter aangebreek om ernstig na te dink oor wat sal gebeur as ons woude uitgeroei is; as die steenkool, yster, olie en gas uitgeput is; as die grond nog verder verarm en tot in die strome gespoel is, wat die riviere besoedel, die veld stroop en navigasie belemmer. Hierdie vrae is nie net van toepassing op die volgende eeu of die volgende generasie nie. Ons moet nou, net soos enige verstandige man, as ʼn nasie vêrsiendheid in die gebruik en bewaring van ons natuurlike hulpbronne aan die dag lê, want hierin lê die welstand van ons en ons kinders opgesluit.” 17

Die ingang van die Theodore Roosevelt Nasionale Park.

Sy noue ontkoming

Nadat hy die Withuis in 1909 aan die einde van sy tweede termyn as president verlaat het, het Roosevelt na Afrika en Europa gereis. In 1912 het hy die Progressiewe Party gestig en is as dié party se leier verkies. 18

Tydens ‘n besoek aan Afrika.

As dit nie vir sy dik jas, ʼn manuskrip van vyftig bladsye en ʼn staalbrilhouer was nie, het Roosevelt net soos sy voorganger in ʼn sluipmoordaanval gesterf. Op 14 Oktober 1912, net voordat hy ʼn verkiesingsveldtogtoespraak in Milwaukee, Wisconsin, sou lewer, is hy deur John Flammang Schrank geskiet. Hy’t daarop aangedring om met sy geskeduleerde toespraak voort te gaan en begin met: “Vriende, ek versoek julle om so stil as moontlik te wees. Ek weet nie of julle besef dat ek nou net geskiet is nie.” 19

Schrank se rewolwer waarmee hy Roosevelt om die lewe probeer bring het.

Hy het die bloedbevlekte manuskrip, koeëlgat en al, uit sy jas se sak gehaal en gesê: “Julle sien, dit vat meer as een koeël om ʼn bull moose (ʼn manlike takbok en die naam van die ondersteuners van die Progressiewe party) dood te maak.”

Roosevelt het ná sy toespraak van meer as ʼn uur ingestem om hospitaal toe te gaan. Dokters het deur middel van X-strale vasgestel dat die koeël in een van sy ribbebene vasgesteek het. Roosevelt het die koeël vir die res van sy lewe in sy borskas saamgedra. Schrank is as kranksinnig verklaar en in ʼn hospitaal vir mense met geestesversteurings opgeneem, waar hy in 1943 gesterf het. 20

Schrank in aanhouding.

Roosevelt se ideaal van ʼn derde termyn as president en William Howard Taft (Amerika se 27ste president van 1909 tot 1913) se strewe om vir ʼn tweede termyn verkies te word, is verydel toe die Demokratiese kandidaat Woodrow Wilson hulle albei in die presidensiële verkiesing verslaan. Wilson was vir twee termyne president (van 1913 tot 1921).

Theodore Roosevelt, R.J. Cuninghame en Edgar Mearns op ‘n treinspoor in Uganda, 1909.

Verbete vegter se laaste vaart

Nadat hy teen Wilson verloor het, het Roosevelt en sy 23-jarige seun Kermit ʼn reis in die oerwoude van Brasilië onderneem om die Twyfelrivier (“River of Doubt”) in die Amasone te verken. Tydens dié maande lange ekspedisie oor duisende kilometer, het Roosevelt malaria gekry en ʼn ernstige infeksie in sy been opgedoen. 21

Roosevelt en sy seun Kermit.

Ná sy terugkeer na die VSA (hy het ʼn kwart van sy liggaamsgewig in die Amasone verloor!) spandeer hy sy tyd om geskiedenisboeke en sy outobiografie te skryf. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Europa in 1914 het Roosevelt gepleit vir militêre gereedheid en hy was oortuig daarvan dat Amerika tot die oorlog moes toetree. Hy was baie teleurgesteld in president Wilson se oproep tot neutraliteit en skynbaar onwilligheid om tot aksie oor te gaan. Toe die VSA in 1917 uiteindelik tot die oorlog toegetree het, het Roosevelt aangebied om weer ʼn vrywilligersafdeling (soos die Rough Riders tydens die Spaans-Amerikaanse Oorlog) te organiseer, maar die oorlogsdepartement het dit van die hand gewys.

Al vier sy seuns uit sy tweede huwelik (hy en Edith het ook ʼn dogter Ethel gehad) het as vrywilligers in die oorlog gaan veg. Sy jongste seun, Quentin, sterf toe sy vliegtuig deur ʼn Duitse vliegtuig in Frankryk afgeskiet word. Dit was ʼn swaar verlies vir Roosevelt en hoewel hy voortgegaan het om deur die VSA te reis en toesprake ten gunste van die oorlog te lewer, was sy gebruiklike geesdrif gedemp.

Roosevelt en sy seuns.

Vir die eerste keer in sy lewe het hartseer die eens onoorwinlike vegter oorrompel. Theodore Roosevelt is op 6 Januarie 1919 in sy slaap in sy huis by Sagamore Hill in Oyster Bay, New York, dood. Volgens een geskiedkundige was dit goed dat die dood in sy slaap gekom het, anders sou Roosevelt beslis sy bokshandskoene gegryp en verbete voortgeveg het! 22

Roosevelt se huis vanaf 1885 tot met sy dood in 1919.

Woordbank

asma Siekte gekenmerk deur kortasemrigheid; benoude bors.
beleid Plan/program vir die bestuur van ʼn groep/onderneming/party/land.
biograaf Iemand wat die geskiedenis van iemand anders se lewe skryf.
federale Wat bestaan uit ʼn groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ʼn nasionale regering.
filantroop Iemand wat die armoede en lyding van ander probeer versag, veral deur liefdadigheid; mensevriend.
geskiedkundige Kenner/beoefenaar van die geskiedenis; historikus.
goeddunke Mening wat iemand huldig; optrede volgens eie insig.
grondwet Wet wat in hooftrekke die regeringsvorm van ʼn staat, die funksies van staatsorgane en die verpligtinge en regte van die burgers bepaal.
harsingskudding Besering van die harsings (brein) as gevolg van ʼn harde slag of val op die kop.
hervorming Opnuut/anders vorm; ʼn gewysigde vorm gee; reorganiseer.
individualisme Leer wat die regte van die individu bo of ten minste gelyk aan dié van die gemeenskap stel.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in of stry vir ’n saak waarvoor hy hom of sy haar beywer; voorvegter.
kranksinnig Wat nie normaal optree nie, omdat hy/sy aan ’n geestesiekte ly; gek; mal.
luisterryke Groot en opwindend/interessant; glansryk; skitterend.
nuuskonferensie ʼn Vergadering wat deur ʼn bekende of belangrike persoon gehou word waartydens joernaliste se vrae beantwoord word; mediakonferensie.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
pers Koerante, tydskrifte, ens. wat berigte/artikels skryf; media.
plantasie Stuk grond waarop bome of ander plante aangeplant is; terrein waarop suiker/katoen/koffie/ens. gekweek word.
president Die verkose hoof/leier van ʼn republiek; hoogste posisie.
retina Netvlies van die oog.
sneuwel Op die/ʼn slagveld sterf/val.
spotprent Prent wat iemand/iets komies/belaglik voorstel, veral gebruik as politieke middel in koerante.
taksidermie Kuns om dierehuide (velle) teen bederf te bewaar en met ʼn spesiale vulsel op te stop en in ʼn natuurlike houding op te stel om die diere te vertoon soos hulle lewend gelyk het.
tifus Benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan; luiskoors; rotkoors. 35

Lees dié om meer oor Roosevelt te leer

Kyk dié om meer oor Roosevelt te leer

Dokumentêre rolprent oor dié dinamiese president van die VSA

Só het Roosevelt se daaglikse roetine gelyk

Hoe Roosevelt geskiet is en steeds ʼn toespraak van 84 minute kon lewer

 

Gepubliseer op: 31 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024