Vinnige feite

  • Die beroemde era van prohibisie, wat drankgebruik in die VSA probeer belet het, het gedurende sy presidentskap begin. Hy was teen die prohibisie gekant. 1
  • Wilson het die eerste presidensiële nuuskonferensie gehou. 3
  • Hy was die enigste Amerikaanse president wat ’n doktorsgraad verwerf het. 3
  • Wilson is die enigste president wat in Washington D.C., die Amerikaanse hoofstad, begrawe is. 11
Foto: iStock

Woodrow Wilson het in 1913 die 28ste president van die Verenigde State van Amerika (VSA) geword. Hy is vyf jaar voor die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog (1861-1865) gebore en is kort ná die einde van die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) oorlede. Sy belewenis van dié twee oorloë het van hom ’n kampvegter vir vrede gemaak. Hy is bekend vir sy edeldenkende idealisme en strewe na demokrasie en vooruitgang.

Grootwordjare

Thomas Woodrow Wilson is op 28 Desember 1856 in Staunton, Virginia, gebore. Hy het die grootste deel van sy kinderjare in Augusta (in Georgia) en Columbia (in South Carolina) spandeer. 1

Sy ma was Jessie Janet Woodrow en sy pa Joseph Ruggles Wilson, ’n dominee. Hy was die derde van vier kinders. 2 Wilson het gelukkige kinderjare gehad. Sy gesin was fluks, leergierig en diep godsdienstig. 2

Georgia en South Carolina was deel van die Konfederasie (in Engels: Confederacy) – die bondgenootskap van die suidelike state – gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog wat in 1861 uitgebreek het. Wilson se pa was ’n veldprediker, en sy kerk is as hospitaal vir beseerde Konfederasietroepe gebruik. 1 Wilson was 10 jaar oud toe die oorlog geëindig het. Sy ervarings het by hom die afgryslikheid van oorlog ingeprent. 3

Toe hy klein was, was Wilson se noemnaam “Tommy.” 2 Hy het dié naam later opgegee en verkies om Woodrow genoem te word. Sy oom, James Woodrow, ’n bekende openbare figuur, het gemeen dat Woodrow ’n waardiger naam as Tommy is. 4

Die huis waarin Woodrow Wilson as kind gebly het.

Opvoeding

Wilson het nie goed op skool presteer nie. Hy het eers geleer lees toe hy tien was, 1 en historici reken dit is omdat hy disleksies was. 2

Sy pa het hom tuis in redenaarskuns opgelei, en hy het lewenslank debatte geniet. 2

In 1873, op 16-jarige ouderdom, het hy by die Davidson College in North Carolina ingeskryf. Hy het egter net vir ’n jaar daar studeer voor swak gesondheid hom genoodsaak het om te stop. 5

In 1875 het hy by die College of New Jersey ingeskryf, wat vandag as Princeton bekend staan. 2 Hier het hy geblom. Hy het wyd gelees, aan debatte deelgeneem, en hy was op die redaksie van die skool se koerant. 4

Nadat hy in 1879 aan die College of New Jersey gegradueer het, het hy regte aan die Universiteit van Virginia gaan studeer. 4 Hy het wel daarna as prokureur gepraktiseer, maar dit was vir hom vervelig, en hy het dit ná ’n jaar opgegee. 3 Sy doel was uiteindelik om ’n politieke loopbaan te hê.

Hy het daarom ingeskryf vir ’n doktorsgraad in politieke wetenskap en geskiedenis by Johns Hopkins-Universiteit in Maryland, wat hy in 1886 verwerf het. 6

Akademiese loopbaan

Wilson het in 1885 ’n professorskap by die Bryn Mawr-Kollege in Pennsylvania aanvaar, en in 1888 geskuif na Wesleyan-Universiteit in Connecticut. 6

In 1890 het hy teruggekeer Princeton toe as professor in regsgeleerdheid en politiek. 1 Hy was ’n uiters gewilde dosent. Hy was ook produktief as navorser, 7 en het nege boeke en talle akademiese opstelle geskryf. 3

In 1902 is hy as Princeton se president verkies. 1 Hy het onmiddellik begin om die universiteit op te gradeer. Hy het byvoorbeeld navorsing en goeie intellektuele verhoudings tussen studente en dosente een van die universiteit se doelstellings gemaak. 3

Hoewel nie al sy planne geïmplementeer is nie, het Princeton onder Wilson van krag tot krag gegaan. 4 Dit is grootliks aan hom te danke dat Princeton so ’n toonaangewende universiteit geword het. 2

Vroeë politieke loopbaan

Wilson was lid van die Demokratiese Party. 2 Sy sukses by Princeton het hom só bekend gemaak dat hy in 1910 die goewerneurskap van die staat New Jersey in ’n oortuigende oorwinning gekry het. 3

Wilson het sy idees oor hervorming en vooruitgang ook na sy politieke loopbaan gebring. 2 Hy het in New Jersey wette teen korrupsie en uitbuiting gemaak en gou nasionaal bekend geword. 8

Presidensiële verkiesing

Wilson se verkiesingsplatform vir die 1812- presidensiële verkiesing het as “New Freedom” bekend gestaan. Hy het belowe om individue en state se regte teen die federale regering te beskerm, 8 en om nuwe lewe in die Amerikaanse ekonomie in te blaas. 3

Gelukkig vir Wilson was die Republikeinse Party se stem in twee gedeel, tussen William Taft, die sittende president, en Theodore Roosevelt, ’n gewilde voormalige president. 1

Wilson het die verkiesing met 42% van die stemme gewen, teenoor 27% vir Roosevelt en 23% vir Taft. 6

Wilson se presidentskap

Wilson is op 4 Maart 1913 as die 28ste president van die Verenigde State van Amerika (VSA) ingesweer (ingehuldig), ’n posisie wat hy vir twee termyne beklee het (1813-1817 en 1817-1821). 2

Wilson se presidentskap word deur ses kwessies gekenmerk:

  • Vrouestemreg;
  • Politieke en ekonomiese hervormings.
  • Rassebeleid.
  • Die VSA en die Eerste Wêreldoorlog.
  • Die vredesonderhandelings en die Volkebond.
  • Die krisis van presidensiële ongeskiktheid.

Vrouestemreg

Wilson het nie aanvanklik stemreg vir vroue ondersteun nie. Hy het egter later ’n voorstaander daarvan geword. In Januarie 1918 het hy dit in die openbaar onderskryf, en op 18 Augustus 1920 het vroue in die VSA stemreg ontvang. 2

Politieke en ekonomiese hervormings

Wilson was ’n kampvegter vir die regte van klein sakeondernemings en boere, en wou hulle teen uitbuiting deur groot maatskappye beskerm. Die volgende belanghebbende wette of besluite is gedurende sy presidentskap geneem:

  • Die Underwood-Simmons-wet: Hierdie wet het tariewe op invoere verminder. Een ding wat dit doen, is om die produkte in ’n land goedkoper te maak, omdat dit goedkoper is om in te voer. Die wet het ook federale inkomstebelasting ingestel. 1
  • Federale Reserwestelsel: ’n Sentrale bank is gestig om die VSA se banke, krediet en geld te reguleer. 1 Hiervolgens kon die regering byvoorbeeld vir banke lenings gee om te keer dat hulle nie vou nie. 6
  • Die Clayton-antitrustwet: Hierdie wet het mededinging tussen onderneming aangemoedig en dinge soos monopolieë probeer verhoed. 4 Dit het ook vakbonde, stakings en vreedsame boikotte wettig gemaak. 2
  • ’n Landbankstelsel is gestig om lenings aan boere te verskaf. 9
  • Kinderarbeid is verbied.
  • ’n Agtuurwerkdag vir spoorwegwerkers is ingestel. 4
  • Die VSA se Nasionale Parkdiens (National Park Service) is in 1916 gestig om die VSA se historiese en natuurlike erfenis te beskerm. 9
Woodrow Wilson en Franklin D. Roosevelt.

Rassebeleid

Wilson was teen die integrasie van wit en swart mense in die regering gekant. Hy het in November 1914 aan ’n swart leier gesê: “Segregasie is nie ’n vernedering nie, maar ’n voordeel, en jy behoort dit te kan insien.” 2 Gedurende sy presidentskap het die aantal swart werkers in die federale regering skerp afgeneem. 4

Hy het ook tydens ’n berugte insident die fliek Birth of a Nation, wat die Ku Klux Klan opgehemel en swart mense as onmense uitgebeeld het, geprys. Hy het die rolprent wel jare later as betreurenswaardig bestempel. 2

Die VSA en die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in 1914 het Wilson die VSA se neutraliteit aangekondig. Twee jaar later was sy verkiesingslagspreuk: “Hy (Wilson) het ons uit die oorlog uit gehou!” 2

Tot in 1917 het hy sy bes probeer om vrede te bewerkstellig. Hy het byvoorbeeld aangebied dat die VSA as bemiddelaar tussen twee kante optree. 4

Duitsland het die VSA se neutraliteit egter geïgnoreer en Amerikaanse skepe gesink. 2 Hulle het ook die sogenaamde Zimmerman-telegram aan Mexiko gestuur, waarin hulle Mexiko probeer oortuig het om met hulle ’n bondgenootskap teen die VSA aan te gaan. 1

Met hierdie aksies het Duitsland Wilson nie eintlik met ’n keuse gelaat nie. Hy het in April 1917 vir die Amerikaanse Kongres gevra om oorlog teen Duitsland te verklaar, 2 sodat hulle, in sy woorde, “die wêreld vir demokrasie kon beveilig.” 8

Wilson was ’n effektiewe oorlogspresident, veral omdat hy dít wat hy nie kon doen het nie, aan sy bekwame adviseurs oorgelaat het. 4 Die VSA se toetrede tot die oorlog was deurslaggewend. 8 Toe die oorwinning oor Duitsland ’n jaar en ’n half later behaal is, is die Amerikaners as helde gesien. 2

Die vredesonderhandelinge en die Volkebond

Wilson het in Januarie 1918 sy beroemde 14 punte as basis vir die vredesonderhandelinge ná die oorlog gepubliseer. Die 14 punte het ’n liberale vrede voorsien waar niemand gestraf sou word nie, en het die Volkebond, ’n organisasie wat vrede ná die oorlog sou bewaar, voorgestel.

Wilson het besluit om na Parys te reis om persoonlik aan die vredesonderhandelinge by Versailles deel te neem. 4

Sy belangrikste doelwit was die stigting van die Volkebond. Die Volkebond sou dispute tussen lande arbitreer, oorlog voorkom, en samewerking tussen lande aanmoedig. 1

Wilson was nie gelukkig met die terme van die vredesverdrag wat by Versailles gesluit was nie. Die ander lande het egter die Volkebond aanvaar, wat Wilson as ’n persoonlike oorwinning beskou het. 4

Hierna het dinge egter skeefgeloop. Die Kongres het geweier dat die VSA die vredesverdrag teken óf by die Volkebond aansluit. Wilson het ’n warrelwindtoer onderneem om die Amerikaners te oortuig om dit te ondersteun, maar dit was tevergeefs. 2 Die VSA het nooit by die Volkebond aangesluit nie. 4

Wilson het in 1920 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy pogings om vrede te bewerkstellig. 2

Krisis van presidensiële ongeskiktheid

In Oktober 1919 het Wilson ’n massiewe beroerte gehad, wat die linkerkantste deel van sy lyf verlam het. Hy kon nog steeds dink en redeneer, maar sy emosies en oordeel was aangetas.

Die situasie is swak hanteer. Niemand het voorgestel dat hy bedank nie. Sy vrou, Edith, het die erns van sy toestand van ander weggesteek, en basies namens hom as president opgetree. 4

Woodrow en sy vrou, Edith Wilson.

Persoonlike lewe

Wilson het in 1885 met Ellen Louise Axson getrou. Sy was ’n slim, opgevoede vrou, en Wilson het haar gereeld geraadpleeg voor hy belangrike politieke besluite geneem het. 2

Hulle het drie dogters gehad: Margaret (gebore 1886), Jessie (gebore 1887) en Eleanor, genoem “Nell” (gebore 1889). 10

Woodrow met sy jongste dogter, Eleanor.

Hulle het ‘n liefdevolle huwelik gehad. Dit is egter op tye oorskadu deur episodes van depressie wat sy beleef het, asook ’n buite-egtelike verhouding wat hy in 1907 gehad het. 4 Sy het hom daarvoor vergewe, en hulle het saamgebly tot met haar dood in 1914. Haar dood het hom vir ’n rukkie platgeslaan. 2

In 1915 het hy weer getrou, dié keer met Edith Bolling Galt. Sy was ’n weduwee. 2

Soos sy eerste vrou, het sy hom polities bygestaan en hom gereeld na vergaderings vergesel. Sy was die eerste presidentsvrou, of “First Lady,” soos wat hulle in die VSA bekend is, wat saam met haar man op ’n politieke toer gegaan het. 2

Toe sy tweede termyn verstryk, het hulle in die noordweste van Washington D.C. gaan aftree. 2

Gesondheid en dood

Die toer wat Wilson in 1919 onderneem het om steun vir die Volkebond te werf, het 39 toesprake in drie weke ingesluit. Die inspanning het sy tol geëis. 4 Op 2 Oktober 1919 het hy ’n massiewe beroerte gekry. 8

Hy het ten dele herstel, maar was nooit weer heeltemal gesond nie. 4 Wilson het op 3 Februarie 1924 op 67-jarige ouderdom in sy slaap gesterf. Hy is in die Washington National Cathedral begrawe. 2

Tydens sy begrafnis.

Wilson se nalatenskap

Wilson was ’n idealis. Hy het geglo ’n mens moet die wêreld ’n beter plek los as wat jy dit gevind het.

Hy was teen oorlog gekant, maar het besef dat hy nie die VSA uit die oorlog kon hou nie. Ná die Volkebond verwerp is, het sy reputasie groot skade gely. Dit het egter as gevolg van die Tweede Wêreldoorlog weer herstel. Toe het baie mense aan hom begin dink as ’n profeet waarna hulle nie geluister het nie, en wat moontlik die oorlog sou kon keer.

Die Verenigde Nasies van vandag is grootliks deur sy idee van ’n Volkebond beïnvloed. 4

Wilson sy nalatenskap is een van vrede, hervorming, asook staatsmanskap met integriteit. 2

Woordbank

Amerikaanse Kongres Die Amerikaanse parlement, met ander woorde die liggaam wat wette maak. Die Kongres bestaan uit twee kamers: die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers.
arbitreer Die werk van ’n onpartydige arbiter om ’n geskil tussen twee partye te besleg.
bedank Sê dat jy nie meer vir iemand of by ʼn plek gaan werk nie; jou diens beëindig.
bekwame Knap en bedrewe in die werk wat jy doen.
belet Verbied.
bemiddelaar Iemand wat probeer om versoening te bring tussen twee of meer mense of lande wat nie met mekaar saamstem nie of met mekaar baklei.
berugte Ongunstig bekend; met ‘n slegte reputasie.
bestempel Noem, aandui, beskryf.
betreurenswaardig Swak of pateties.
bewerkstellig Tot stand bring; uitvoer.
geblom Om met jou beste na vore te kom.
boikotte Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop; uitsluiting.
bondgenootskap Vereniging of verbond tussen mense/volke.
debatte Bespreking van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisseling of ’n rede.
depressie Terneergedruktheid van die gemoed; ernstige bedruktheid/neerslagtigheid wat iemand laat dink daar is geen hoop vir die toekoms nie.
deurslaggewend Beslissend, oorheersend; finaal, oortuigend.
disleksies Versteuring in iemand se vermoë om met begrip te kan lees as gevolg van ʼn sentrale serebrale letsel; onvermoë om sin te maak uit letters, woorde en sinne.
dispute ’n Ernstige meningsverskil/geskil oor iets.
doelstellings Mikpunt of doelwit, gewoonlik iets wat neergeskryf word.
doelwit Mikpunt of doelstelling.
doktorsgraad Hoogste kwalifikasie wat iemand aan ’n universiteit kan behaal.
dosent Persoon wat les gee aan ’n inrigting vir tersiêre onderwys, soos ’n universiteit of kollege.
edeldenkende Wanneer jy hoogstaande, goeie en vrygewige gedagtes het.
effektiewe Om doeltreffend te wees; wat jy doen, het die gewenste uitwerking.
erfenis Nalatenskap; wat van een geslag na ʼn volgende oorgedra word.
federale regering Die nasionale regering van Amerika. Alhoewel elke deelstaat in Amerika sy eie wette maak, is daar ook die nasionale regering wat vir almal wette maak.
goewerneurskap Die hoogste amp in ’n Amerikaanse deelstaat.
hervorming ’n Stelsel/wet/organisasie/ens. verbeter deur baie veranderings daaraan aan te bring, sodat dit doeltreffender/regverdiger funksioneer.
idealisme Die idee dat jy volgens hoë standaarde en beginsels moet leef.
geïmplementeer Toepas; uitvoer (soos beplan); laat gebeur.
ingeprent Wanneer iets so groot indruk op jou gemaak het dat jy dit nooit kan vergeet nie.
ingesweer Iemand ’n belofte laat aflê om sy/haar werk goed te doen.
inkomstebelasting Geld wat jy elke maand uit jou salaris aan die regering betaal.
integrasie Wanneer ’n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar.
invoere Uit ’n ander land/gebied bring of laat kom.
kampvegter Iemand wat die voortou neem in of stry vir ’n saak waarvoor hy hom of sy haar beywer.
korrupsie Oneerlike optrede om jouself of ‘n ander te bevoordeel; die gebruikmaak van omkoping of die meedoen daaraan.
krediet Wanneer jy iets koop of geld leen en dit eers later hoef af te betaal.
liberale Die idees van burgerregte, persoonlike en ekonomiese vryheid en vryheid van spraak.
monopolie Die reg of beheer wat ’n maatskappye het om alleen met ’n sekere produk of in ’n sekere gebied handel te dryf.
nasionaal Dit wat betrekking het op almal in een land.
navorser Iemand wat iets krities en deurtastend ondersoek.
neutraliteit Nie kant kies nie.
genoodsaak Wanneer jy gedwing word.
nuuskonferensie ’n Vergadering wat deur ’n bekende of belangrike persoon gehou word waartydens joernaliste se vrae beantwoord word; ook mediakonferensie genoem.
ongeskiktheid Wanneer ’n persoon as gevolg van ’n fisieke of ’n geestestoestand nie geskik is om te werk of ’n bepaalde taak te verrig nie.
onmense Wreedaard of monster.
oordeel ’n Mening van iemand/iets gee.
opgehemel Geprys; hoë lof toegeswaai.
gepraktiseer Jou beroep beoefen; werk.
produktief Wanneer mens baie hard werk en iets doen wat die moeite werd is of wat iets beteken.
profeet ’n Voorspeller.
geraadpleeg Iemand se raad vra.
redaksie Die skrywers van ’n dagblad; koerantskrywers.
redenaarskuns Die vermoë om ’n goeie toespraak te lewer.
reguleer In orde bring; reëlmatig maak; reël; regulariseer; bepaal; vasstel.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is.
segregasie Rasseskeiding.
tariewe Bedrag geld wat vir in- en uitvoere betaalbaar is.
tevergeefs Iets wat geen kans het om te slaag nie.
tol geëis As iets ’n langtermyn nadelige uitwerking het.
toonaangewende Leidend; besonder goed; hoogstaande.
uitbuiting Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of iets te put.
vakbonde Vereniging van persone wat dieselfde vak/beroep beoefen om die belange van die lede te behartig.
van krag tot krag gegaan Sukses verhoog.
veldprediker ’n Dominee wat tydens ’n oorlog vir mense in die buitelug kerk hou.
verkiesingslagspreuk ’n Kort sinnetjie wat maklik is om te onthou en wat deur politici gebruik word om jou te oortuig om vir hulle te stem.
verkiesingsplatform Die idees waarvoor ’n politikus of politieke party staan.
vernedering Iemand met minagtig behandel of belaglik laat lyk.
verstryk As iets verby is.
voormalige Van vroeër.
voorstaander Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger.
vou As ’n onderneming/besigheid “vou,” is dit besig om tot niet te gaan / te misluk.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Edith Galt, die vrou wat die VSA “regeer” het

Feite oor Wilson

Hoekom het die VSA nie by die Volkebond aangesluit nie?

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 Februarie 2024 | Bygewerk op 7 Maart 2024