Vinnige feite

  • Jan Brand se pa was redakteur van die koerant De Zuid-Afrikaan. 1
  • In 1882 is Jan deur Brittanje vereer as ’n buitengewone staatsman en tot ridder geslaan. Dit is die uitdrukking wat gebruik word wanneer ’n hoë persoon, instansie of regering iemand die eretitel van ridder gee. Dit beteken dan ook dat só ’n persoon sir genoem kan word. 2
  • Jan Brand en sy opvolger as president van die Oranje-Vrystaat, F.W. Reitz, het albei uit belangrike en bekende Afrikanerfamilies in die Kaap gekom. 2
  • Die laaste drie presidente van die Oranje-Vrystaat – Jan Brand, F.W. Reitz en M.T. Steyn – het al drie in dieselfde woning in Bloemfontein gewoon. Dit word die Ou Presidensie genoem. 4
Foto: iStock

“Alles sal regkom as elkeen sy plig doen.”

Niemand kan stry dat hierdie ’n baie waar ding is om te sê nie! Dít was die leuse van Jan Brand en dit was ook precies wat hy gedoen het. Jan Brand was vir 17 jaar lank president van die Republiek van die Oranje-Vrystaat en terwyl hy president was, het mense gesê die Oranje-Vrystaat is ’n voorbeeld van hoe ’n republiek regeer moet word.

Ouers en gesin

Johannes Henricus Brand (noemnaam Jan) is op 6 Desember 1823 in Kaapstad gebore. Sy pa was sir Christoffel Joseph Brand en sy ma Catharina Frederica Küchler. Sy pa was die speaker van die Kaapse Wetgewende Vergadering.

Hy trou in 1851 met Johanna Sibella Zastron en uit hierdie huwelik is agt seuns en drie dogters gebore. 1

Goeie akademiese opleiding 

Jan het sy opleiding aan die South African College in Kaapstad ontvang waar hy in die regte studeer het. Hierdie kollege het in 1918 die Universiteit van Kaapstad geword. 2

Hy het later ook aan die Universiteit van Leiden (Nederland) gestudeer en in 1845 sy doktorsgraad hier verwerf. Hierna het hy ook in Brittanje verder studeer. Hy begin in 1849 as advokaat in Brittanje werk, maar besluit kort hierna om na Kaapstad terug te keer waar hy tot in 1863 as advokaat in die Hooggeregshof van die Kaap die Goeie Hoop gewerk het.

In 1858 het Jan professor in regte aan die South African College geword. 2

As ‘n mens Jan Brand met baie ander Boereleiers uit die verlede vergelyk, het hy ’n baie goeie akademiese opleiding gehad. 3

President van die Oranje-Vrystaat

In ongeveer dieselfde tyd toe Jan Brand in 1858 professor geword het, het hy ook lid van die Kaapse parlement geword. Sy pa was toe die speaker (voorsitter) van die parlement.

In die eerste tien jaar van die bestaan van die Republiek van die Oranje-Vrystaat (OVS), het dit nie goed gegaan met dié nuwe republiek wat toe vir M.W. Pretorius as president gehad het nie. Die Oranje-Vrystaat se Volksraad het besef dat hulle ’n baie goeie volgende president sou moes kry as hulle wou hê dat die Republiek van die OVS moes voortbestaan. Hulle besluit toe om vir Jan Brand uit die Kaap te vra om aan die verkiesing van die volgende president van die Vrystaat deel te neem. 1

Britse magte trek Bloemfontein binne.

Vir Jan was dit nie ’n maklike besluit om te neem nie. Hy het ’n goeie regspraktyk in die Kaap gehad en al sy vriende het in die Kaap gewoon. Hy het sy pa om raad gevra en toe besluit dat dit sy plig is om te gaan na waar mense hom nodig gehad het.

Daar was ander kandidate wat ook aan die verkiesing deelgeneem het, maar hy het die verkiesing maklik gewen. Jan is op 2 Februarie 1864 as president ingehuldig.

Pres. F.W. Reitz.

Sy taak was om vrede met mense buite die Oranje-Vrystaat te maak en te behou, om wet en orde binne die Republiek te skep en om die burgers van die Republiek te laat saamstaan. 1

Moeilike sake wat hy moes hanteer terwyl hy president was, was onder meer probleme met die Basoetoe-stam (soms Basotho gespel) onder die leiding van hul leier, Mosjesj. Hulle wou nie die grense tussen hul grond en die OVS erken nie en het kort-kort strooptogte in die Republiek uitgevoer. In 1865 en weer in 1867 is die Basoetoes deur die Vrystaatse magte verslaan.

Bloemfontein in die 1880’s.

Tydens hierdie gevegte met die Basoetoes was Jan dikwels saam met sy soldate op die grens. Die Basoetoes het daarna vir Brittanje om beskerming gevra en ook gevra dat Brittanje hulle moet annekseer. Brand het dit so aanvaar en dit was ’n slim besluit omdat hy geweet het dat dit in die toekoms Brittanje se plig sou wees om te sorg dat die Basoetoes nie oor die Oranje-Vrystaat se grens kom nie. 1

Delwery in Kimberley.

Die ontdekking van diamante naby Kimberley het ook ’n groot probleem geskep. In daardie stadium was Kimberley nog deel van die Oranje-Vrystaat en die diamante het dus aan die OVS behoort. Hierdie grond is in 1861 deur die vorige president van die Oranje-Vrystaat, M.W. Pretorius, by die Griekwas gekoop. Omdat daar nou diamante in hierdie gebied ontdek is, het Brittanje skielik besluit dat die grond aan die Griekwas behoort. Kort hierna – in 1871 – het Brittanje die gebied Griekwaland-Wes geannekseer sodat die diamante in die diamantvelde toe aan Brittanje behoort het. 4

Só het die Oranje-Vrystaat die ryk diamantvelde verloor en al wat die Britse regering vir die Vrystaat wou gee om hulle te vergoed (vir die skade te betaal), was 90 000 Britse pond (sowat £10 377 701 in 2022). In vandag se randwaarde is dit byna R208 miljoen. 5

M.W. Pretorius.

Brand het na Engeland gereis om beswaar te maak teen hierdie optrede, maar hy kon niks daaraan verander nie.

Hy het die geld gebruik om ’n nasionale bank vir die Republiek van die Oranje-Vrystaat te begin en hy het die geld ook gebruik om die staatsdiens sterker te maak. 2

Regte, staatsdiens en onderwys

Brand het in 1872 ’n appèlhof begin met F.W. Reitz as die eerste regter. Daarna het hy in 1875 ook ’n hooggeregshof tot stand gebring. Daarby het dit reggekry dat die Oranje-Vrystaat by ander lande as ’n onafhanklike staat erken is. Hy het selfs verteenwoordigers van die OVS in Europa en die VSA aangestel. 1

In die staatsdiens het hy gesorg dat net bekwame en flukse mense in poste aangestel word – in ál die poste, van die heel laagste tot die heel hoogste pos. 1

Brand het die onderwys asook kommunikasiemetodes verbeter. In 1874 was daar reeds telegrafiese verbindings tussen die Oranje-Vrystaat en die Britse kolonies in Suid-Afrika. 6

Brand was ’n bekwame en gewilde leier en is weer in 1869, 1874, 1879 en 1884 as president verkies en was president tot en met sy dood op 14 Julie 1888. 2

Hoe word Jan Brand onthou?

  • In Bloemfontein is daar ’n historiese boomtuin waar hy die eerste twee bome in 1879 geplant het.
  • Die dorp in die Vrystaat met die naam Brandfort, wat in 1866 gestig is, is na hom vernoem. 3
  • Daar is ’n standbeeld van hom in Bloemfontein waarop staan: Vader des Volks. Dit beteken “Vader van die volk”. 5
  • Daar is strate met die naam Jan Brand in Bloemfontein en in Vanderbijlpark.
‘n Standbeeld van Jan Brand in Bloemfontein.

Woordbank

speaker Die voorsitter van ’n Volksraad of die parlement. Dié persoon is onder meer verantwoordelik daarvoor dat sake soos vergaderings en debatte ordelik verloop.
kandidate Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
regspleging Die manier waarop die reg beoefen word.
strooptogte Die ander woord vir strooptog is rooftog. Dit word gewoonlik gebruik wanneer ‘n land se vyande die land binnekom en daar ’n strooptog (diefstal) uitvoer.
verteenwoordigers ’n Persoon wat aangestel is om iemand anders te verteenwoordig, om namens hom op te tree.
Volksraad Die liggaam wat die wette maak in ’n land. Die lede van die Volksraad word verkies deur die inwoners van die land.
Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Augustus 2022 | Bygewerk op 2 November 2023