Vinnige feite
- Bouwer het as kind haar eie boeke saam met haar ma uit kleurprente, advertensies en plakpapier gemaak.
- Sy was die eerste vrou wat die Scheepers-prys vir Jeuglektuur ontvang het.
- Sy het in 1983 ’n verteenwoordiger van die Mediaraad van die destydse Nuusblad-Persunie (NPU) geword.
- Bouwer het in 1987 ereburgerskap van Riversdal gekry.
- Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het in 1987 ’n nuwe kinderboekprys ingestel, wat as die Alba Bouwer-prys vir Kinderliteratuur bekendstaan. Die prys word elke drie jaar toegeken.
- Sy is in 1995 as erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns aanvaar.
- Bouwer het in 1996 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Port Elizabeth (nou Nelson Mandela-Universiteit) ontvang.
- Sy het in 1998 die FAK-Prestigeprys vir haar bydrae tot die Afrikaanse letterkunde ontvang.
- Die Woordfees op Stellenbosch het in 2020 ’n program ter herdenking van haar 100ste verjaardag aangebied. Twee van haar sewe stiefkinders, Leon Coetzee en Jan Hofmeyr, het daartydens herinneringe gedeel.
Een van die bekendste kinderboekskrywers in Afrikaans is Alba Bouwer (1920-2010). Sy word die doyenne van die Afrikaanse kinderliteratuur genoem en haar boeke is vandag nog geliefd.
Sy word veral vir haar Rivierplaas-verhale onthou en is in haar leeftyd met verskeie toekennings bekroon. Haar oeuvre sluit kinder- en jeugboeke, ’n roman vir volwassenes en gedigte in. Sy het ook talle kinderboeke uit Engels, Duits en Nederlands in Afrikaans vertaal en verwerk en baie bydraes tot tydskrifte en versamelbundels gelewer.
Grootwordjare
Sy is as Alberta Magdalena (Alba) Bouwer op 16 Maart 1920 op ’n plaas in die distrik Vredefort in die Vrystaat gebore. Haar ma se naam was Bertha Zeeman en sy het onderwys studeer en by ’n Vrystaatse plaasskool skoolgehou. Dis ook daar op die plaas wat haar ma vir Adriaan Bouwer ontmoet het. Hulle het getrou en hul dogter Alba is gebore.
Bouwer was ’n vroeggebore baba en was glo so klein dat haar pa se trouring om haar armpie gepas het! Sy was van kleins af baie lief vir die plaaslewe en het as baba saam met haar pa op ’n bokkiekar gery. Haar pa is egter dood toe sy net ’n jaar en nege maande oud was en haar ma het na haar skoonouers se plaas verhuis en het daar by ’n klein skooltjie klasgegee.
Bouwer het haar eerste skooljare by hierdie plaasskool deurgebring. Haar ma was baie lief vir lees en het hierdie liefde na haar dogter oorgedra. Sy het haar geleer dat boeke kosbaar is en dat dit bewaar moes word.
Toe Bouwer ses was, het haar ma weer getrou. Sy is op 6 April 1926 met Johannes Nel getroud en hulle het na Nel se plaas getrek. Dis die einste die plaas wat later die inspirasie vir haar bekende boek Stories van Rivierplaas sou word. Haar ma en stiefpa het ’n babaseuntjie gehad toe Bouwer sewe jaar oud was. Sy naam was Hendrik Nel.
Haar stiefpa is ongelukkig ’n paar jaar later in ’n skietongeluk oorlede toe Bouwer 12 jaar oud was. Haar ma het besluit om saam met haar kinders na hul familieplaas in Klein-Drakenstein in die Paarl terug te keer. Hulle het by haar ma se ongetroude broer en suster, wat op die familieplaas, Hartbeeskraal, tussen Franschhoek en die Paarl geboer het, gaan bly.
Haar tante het haar by die Hoër Meisieskool La Rochelle se Engelse afdeling ingeskryf sodat Bouwer se Engels verbeter kon word. Dit was baie moeilik vir dié plaasmeisie wat nog slegs in Afrikaans skoolgegaan het. Hoewel dit swaar aan die begin was, was sy gou ’n uitblinker en het al in haar standerdnegejaar (vandag graad 11) in die leerlingraad gedien. Sy het in 1936 op 16-jarige ouderdom gematrikuleer. 1
Verdere studie en werk
Ná skool is Alba na die destydse Huguenot University College op Wellington om daar verder te studeer. Dié kollege bestaan nie meer vandag nie.
Sy het haar BA-graad met Afrikaans en Duits as hoofvakke, sowel as haar sekondêre onderwysdiploma verwerf.
Bouwer het daarna vier jaar lank op Burgersdorp onderwys gegee en daarna twee jaar by die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.
Sy was in die media geïnteresseerd en het by die vroueblad, Die Huishouding, betrokke geraak. Sy het ook van 1948 tot 1950 ’n Kaapse kinderprogram saamgestel en oor die radio aangebied. Sy het in 1950 by die tydskrif Sarie Marais begin werk en het twee jaar later die assistentredakteur geword. Sy was uiteindelik 13 jaar lank by die tydskrif. 2
Bouwer was goeie vriende met die Afrikaanse skrywer Maria Elizabeth Rothman (beter bekend as M.E.R.) en het in haar ’n mentor gevind. Sy het haar Ta’ Miem genoem. Sy het vertel dat Rothman haar onder meer geleer het om eenvoudig (sonder tierlantyntjies) te skryf. Dit was ook deur haar toedoen dat Bouwer by die Afrikaanse Christelike Vrouevereniging (ACVV) betrokke geraak het. Die ACVV is ’n welsynsorganisasie. Sy het uiteindelik 23 jaar lank in die ACVV se hoofbestuur gedien.
Persoonlike lewe
Bouwer is in 1962 met ’n man genaamd Hubert Coetzee getroud. Hy was ’n wewenaar met ’n 11-jarige dogtertjie en ’n 13-jarige seun en die besturende direkteur van die Nasionale Pers. Hy het ongelukkig ses jaar ná hul huwelik gesterf. 2
In 1975 het sy met ’n prokureur, Jan Hofmeyr, getrou. Hy was ook ’n wewenaar en het vyf seuns uit sy eerste huwelik gehad. Sy het ná haar troue met haar twee stiefkinders na Riversdal in die Suid-Kaap getrek. Sy het nie haar eie kinders gehad nie, maar wel sewe stiefkinders.
Hofmeyr en Bouwer het sedert 1996 in die Helderberg Village aftreeoord op Somerset-Wes gaan bly en Hofmeyr is daar in 1999 ná ’n kort siekbed oorlede. Hy is op Riversdal begrawe.
Bouwer het in haar laaste jare aan alzheimersiekte gely en is op Dinsdag 5 Oktober 2010 oorlede. 1
Skryfloopbaan
Haar eerste kinderboek was die gevolg van ’n reeks stories vir ’n tydskrifrubriek. Landbouweekblad het haar in 1954 gevra om ’n reeks stories vir hul kinderrubriek te skryf.
Sy het baie na haar plaasdae in die Vrystaat terugverlang en het vir hulle Stories van Rivierplaas geskryf. Haar kollegas by Sarie Marais het dit gelees en het besluit om dit te publiseer. Die verhale is in 1955 as Stories van Rivierplaas in boekvorm uitgegee. Dit gaan oor Alie en haar beste maat, Lulu, se avonture op Rivierplaas.
Die boek was baie gewild en oud en jonk het dit geniet. Dit het tot ’n 1956-uitgawe van Nuwe stories van Rivierplaas gelei. Die opvolg was ook baie gewild en die boeke is in 1959 met die Scheepers-prys vir Jeuglektuur bekroon. Dit is deur Katrine Harries geïllustreer, wat ook die meeste van Bouwer se ander kinderboeke geïllustreer het.
Bouwer het weer eens gewys dat sy ’n kinderboekskrywer van formaat was deur nog ’n blitsverkoper te skryf. Die boek Abdoltjie: Ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap is in 1958 gepubliseer. In haar eie woorde was dit die boek was waaraan sy die maklikste geskryf het.
Haar volgende kinderboek het in 1961 verskyn en dit was getiteld Katrientjie van Keerweder. Die boek is as die beste kinderboek van die jaar beskou en in dieselfde jaar deur die Suid-Afrikaanse Biblioteekvereniging met die C.P. Hoogenhout-medalje bekroon. Die boek is ook in 1965 saam met Stories van Bergplaas en Stories van Ruyswyck met die Scheepers-prys vir Jeuglektuur bekroon.
Stories van Ruyswyck is nog ’n opvolg van die Stories van Rivierplaas en in hierdie boek is die hoofkarakter, Alie, in die koshuis.
Bouwer se volgende kinderboeke wat verskyn het, was Stories van Bergplaas (1963), Dirkie van Driekuil (1966) en ’n Hennetjie met kuikens (1971). Laasgenoemde het vir Bouwer haar tweede C.P. Hoogenhout-medalje in 1971 besorg.
Bouwer het ook in die jare sewentig gebedeboeke onder die skuilnaam Magriet Coetzee uitgegee.
Haar volgende kinderboek, Vlieg, swaeltjie, vlieg ver, het in 1983 verskyn. Die boek is in 1984 met die M.E.R.-prys vir kinderlektuur bekroon en ook met die C.P. Hoogenhout-medalje vir die jaar 1982-1983.
Dit was Bouwer se laaste kinderboek en haar eerste roman vir volwassenes het in 1992 verskyn. Die boek is Die afdraand van die dag is kil genoem. Dit is in 1993 vir sowel die CNA- en M-Net-prys benoem.
Tafelberg Uitgewers het in 1995 met Bouwer se 75ste verjaardag ’n paar huldigingsbundels uitgegee. Dit het Die lang reis van hart tot hart: ’n keur uit haar toesprake en Die blink uur van mooi dinge: ’n huldiging van Alba Bouwer ingesluit.
Boeke deur Alba Bouwer:
Publikasie | Literêre vorm | Publikasiedatum | Uitgewers |
Stories van Rivierplaas | Kinderverhale | 1955, 1957, 1959, 1961, 1962, 1965, 1967, 1982, 1988 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Nuwe stories van Rivierplaas | Kinderverhale | 1956, 1957, 1958, 1959, 1960, 1962, 1965, 1976, 1985
|
Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Abdoltjie: ses verhaaltjies oor ’n Maleiertjie van die Ou Kaap | Kinderverhale | 1958, 1959, 1961, 1962, 1963, 1967, 1986 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk
Kaapstad: Tafelberg |
Katrientjie van Keerweder | Kinderverhale | 1961 | Kaapstad: Tafelberg |
Stories van Bergplaas | Kinderverhale | 1963,1964, 1965, 1967, 1968, 1975, 1984 | Kaapstad: Tafelberg |
Stories van Ruyswyck | Kinderverhale | 1963,1965 | Kaapstad: Nasionale Boekhandel Beperk |
Die leerling-towenaar | Kinderverhale | 1965 | Kaapstad: Tafelberg |
Rip van Winkel | Kinderverhale | 1965 | Kaapstad: Tafelberg |
Dirkie van Driekuil | Kinderverhale | 1966 | Kaapstad: Tafelberg |
’n Hennetjie met kuikens | Kinderverhale | 1971, 1988 | Kaapstad: Tafelberg |
Ienkel dienkel: ’n versieboek vir kleintjies | Kinderversies | 1980 | Kaapstad: Tafelberg |
Vlieg, swaeltjie, vlieg ver | Kinderverhale | 1983 | Kaapstad: Tafelberg |
Die afdraand van die dag is kil | Roman | 1992 | Kaapstad: Tafelberg |
Skuiltes op die pad: gebede van ’n vrou | Gebedeboek | 1994 | Kaapstad: Tafelberg |
Alba Bouwer-omnibus | Kinderverhale | 1995 | Kaapstad: Tafelberg |
Rivierplaas: omnibus | Kinderverhale | 2007 | Kaapstad: Tafelberg |
Boeke onder haar skuilnaam, Magriet Coetzee:
Publikasie | Literêre vorm | Publikasiedatum | Uitgewers |
Nuwe gebede van ’n vrou | Gebedeboek | 1976 | Kaapstad: Tafelberg |
Gebede van ’n vrou | Gebedeboek | 1978, 1985 | Kaapstad: Tafelberg |
Aand van die lewe: Gebede van ’n bejaarde vrou | Gebedeboek | 1988 | Kaapstad: Tafelberg |
Woordbank
assistentredakteur | ’n Persoon wat die redakteur help om rigting te gee en toesig te hou oor die beleid van ’n publikasie. |
blitsverkoper | ʼn Boek waarvan mense baie hou en waarvan daar baie eksemplare vinnig verkoop. |
bokkiekar | ’n Oop rytuig met twee wiele wat deur perde getrek word. |
doyenne | Die senior lid van ’n groep vroue. |
ereburgerskap | ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie. |
geïllustreer | ’n Boek word met prente/tekeninge versier. |
kinderliteratuur | Stories/verhale vir kinders jonger as tien jaar (teenoor “jeugliteratuuur” wat vir kinders ouer as tien geskik is). |
media | Al die verskillende vorms waardeur nuus en inligting versprei word, soos koerante, tydskrifte, radio, televisie, die internet, ens. (In 1948 was daar egter nog nie televisie en internet in Suid-Afrika nie). |
mentor | Iemand wat raad en leiding gee. |
oeuvre | Al sy/haar werke. |
roman | ’n Lang storie wat geskryf is oor gewoonlik denkbeeldige karakters en gebeure. |
sekondêre | Nie die belangrikste nie; wat in die tweede plek kom. |
skuilnaam | Die naam wat ʼn skrywer gebruik in plaas van sy of haar regte naam. |
tierlantyntjies | Versiersels. |
tydskrifrubriek | ’n Spesiale tipe artikel (in hierdie geval in ’n tydskrif) wat gewoonlik deur ’n spesifieke skrywer geskryf word en waarin die skrywer dikwels sy of haar eie opinie oor sake kan gee, nuus kan ontleed of selfs vermaak kan verskaf. |
van formaat | Die kwaliteit/gehalte van iemand of iets, veral iemand se vermoë. |
welswynsorganisasie | Liefdadigheidsorganisasie; organisasie sonder winsbejag. |
wewenaar | ’n Man wie se vrou oorlede is. |
Lees hierdie artikels om meer oor Bouwer te leer
- Wie was Alba Bouwer?
- Nog inligting oor die skrywer
- Oor Bouwer en haar boeke
- Alba Bouwer word gehuldig en onthou