Vinnige feite

  • Vir Christene bestaan God uit drie persone in Een en daarom hoor ons baie dat die dominee van die Drie-eenheid praat as hulle na die Vader, die Seun (Jesus Christus) en die Heilige Gees verwys. Terwyl daar in 20 Bybelverse na die Vader, Seun en Heilige Gees in een sin verwys word, verskyn die woord Drie-eenheid (Trinity) egter nêrens in die Bybel nie. 29
  • Daar is 21 drome in die Bybel opgeteken, waarvan 10 in Genesis is. Ses van die dromers was konings, een was ’n vrou en 2 het die naam Josef gehad. 30
  • In die oorspronklike tale waarin die Bybel geskryf is, naamlik Hebreeus, Aramees en Grieks, is die aantal woorde in die Bybel ongeveer 611 000. Die moderne vertalings bestaan uit meer as 700 000 woorde omdat vertalers dikwels meer woorde gebruik om die skrywer se idees beter te verduidelik. 31
  • Baie mense glo dat Psalms die grootste of langste boek in die Bybel is. Dit is wel so, ook in ons Afrikaanse Bybel, gebaseer op die aantal verse, die aantal hoofstukke en die aantal bladsye. Volgens navorsers, wat die oorspronklike Bybeltale as maatstaf gebruik het, is Jeremia egter die grootste of langste boek in die Bybel, gevolg deur Genesis en dan Psalms. 32
  • Die Gideons het al meer as 2 miljard Bybels (of Bybelgedeeltes) in meer as 95 tale in 200 lande, gebiede en nedersettings deur middel van bykans 300 000 “Gideons” reg oor die wêreld versprei. ’n Ware uitlewing van dít wat ons in Matteus 28:19 lees: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels …” (1983-vertaling). 33
  • Die laaste keer wat ’n kopie van ’n volledige Gutenberg-Bybel verkoop is, was in 1978 teen ’n prys van $2,2 miljoen. ’n Enkele volume is in 1987 vir $5,4 miljoen verkoop, en kenners skat dat ’n volledige Gutenberg-Bybel vandag meer as $35 miljoen op ’n veiling kan haal. 9

Die Bybel is die fondament of grondslag van die Christelike geloof en dit is die boek waarvan die meeste eksemplare nóg in die geskiedenis gedruk is. Hoewel dit moeilik is om te bepaal presies hoeveel Bybels al gedruk is, word die syfer op tussen vyf en sewe miljard geraam!

Die Bybel wat deur die meeste Christene wêreldwyd gebruik word, bestaan uit 66 boeke (of dele). Die Ou Testament bevat 39 boeke en die Nuwe Testament het 27 boeke. Christene beskou elkeen van hierdie boeke en elke woord daarvan as lewend en kragtig, omdat dit deur God geïnspireer is (soos ons in 2 Timoteus 3:16-17 lees). 1

Die Ou Testament is oorspronklik in Hebreeus geskryf en die Nuwe Testament in Grieks. ’n Paar hoofstukke in die profesieë van Esra en Daniël en een vers in Jeremia is geskryf in ’n taal wat Aramees genoem word. Aramees was die algemene taal wat in Jesus se tyd in Israel gepraat is, en dit was waarskynlik die taal waarin Hy elke dag gepraat het. Sommige Aramese woorde is selfs deur die Evangelieskrywers in die Nuwe Testament gebruik. 2

Die eerste volledige vertaling van die Bybel was in Grieks. Gedurende die eerste eeu was Grieks die algemene taal van die klein Christelike gemeenskap, maar met die verspreiding van dié geloof deur die Romeinse Ryk is ’n Latynse vertaling gedoen. Die eerste Engelse vertaling het in 1525 verskyn. Oor die eeue het verskeie vertalings bygekom en die volledige Bybel is reeds in meer as 730 tale vertaal! Die Nuwe Testament is in 1 600 tale vertaal en dele van die Bybel is in 1 250 bykomende tale vertaal. 3

Die woord Bybel kom van die Griekse woord bíblos (βίβλος), wat “boek” beteken. Dieselfde Griekse woord beteken ook “rol” of “perkament”. Die eerste woorde van die Skrif is waarskynlik op perkament (dierevel) en papirus (’n soort papier wat uit waterriet gemaak is) geskryf, en dan in boekrolle gekopieer (in daardie tyd met die hand oorgeskryf) en versprei. 4

Die Bybel deur die geskiedenis

Die inhoud van dié topverkoperboek van alle tye is sowat 1 500 jaar gelede gestandaardiseer (volgens ’n bepaalde of dieselfde gehalte/eienskap/grootte/vorm). Voor die koms van Johannes Gutenberg se drukpers het min mense Bybels gehad. Dit was baie duur en het lank geneem om só ’n groot en omvattende boek met die hand te maak (elke woord moes met die hand geskryf word), wat beteken dat volledige eksemplare uiters skaars en waardevol was. 5

Danksy die ontwikkeling van druktegnologie in die middel van die 1400’s was die Bybel aan al hoe meer mense beskikbaar. Soos tegnologie nóg verder verbeter het en geletterdheid (mense wat kon lees) toegeneem het, het die tempo (spoed) van Bybelproduksie ook toegeneem. Teen 1815 was die totale aantal gedrukte Bybels ongeveer 1,3 miljard. 5

Nog ’n belangrike mylpaal in die geskiedenis van die Bybel was in die vroeë 19de eeu toe die eerste Bybelgenootskappe gestig is. Hierdie organisasies het Bybels in groot getalle bestel en dit óf vir baie goedkoop verkoop óf gratis weggegee as deel van hul sendingwerk. Volgens ’n studie deur die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap, is 2 458 000 000 Bybels tussen 1815 en 1975 gedruk! En daar word tans word ongeveer 100 miljoen Bybels per jaar gedruk. 5

Johannes Gutenberg

Een van die redes waarom daar so baie verskillende weergawes van die Bybel is, is as gevolg van die groot aantal manuskripte wat beskikbaar is of ontdek word. Daar is tot dusver meer as 5 800 Griekse Nuwe Testamentiese manuskripte gevind, meer as 10 000 Hebreeuse Ou Testamentiese manuskripte en meer as 19 000 kopieë in Siriese, Koptiese, Latynse en Aramese tale. Die oudste papirusfragment (stukkie of deeltjie) word in die Verenigde Koninkryk in die John Rylands-biblioteek in Manchester gehou. Dié deeltjie dateer uit ongeveer 100 n.C. 6

John Rylands-biblioteek in Manchester.

Gutenberg se Bybel

Johannes Gutenberg se Latynse Bybel wat in 1455 in Mainz, Duitsland gedruk is, is seker die bekendste Bybel ter wêreld. Dit is die eerste boek wat in Europa met ’n drukpers met bewegende dele gedruk is. Voor Gutenberg se innovering moes elke boek (buite Asië) met die hand gekopieer (oorgeskryf of gedupliseer) word. Gutenberg het hoëvolumedrukwerk of massaproduksie (baie van dieselfde boeke word met ’n masjien gedruk) aan die Westerse wêreld bekendgestel. 7

Die eerste Bybel wat in Frankryk gedruk is, is aan Koning Louis XI geskenk, 1487.

Dié proses was toe reeds gevestig in ander dele van die wêreld. Chinese ambagsmanne het reeds in die tweede eeu met ink op papier gedruk en teen die 800’s het hulle volledige boeke met houtblokdrukwerk (’n baie tydrowende proses) vervaardig. Gutenberg se bewegende drukpers het massaproduksie moontlik gemaak én die toekoms van die drukkuns vir ewig verander. 8

Die meeste Gutenberg-Bybels het uit 1 286 bladsye bestaan, maar nie een is presies dieselfde nie. Dit is ook die 42 lyn- (of reël) Bybel genoem omdat daar 42 lyntjies in twee kolomme op elke bladsy gedruk was. 9

Van die 180 eksemplare wat in die 1450’s gedruk is, is sowat 135 op papier gedruk, terwyl die res gemaak is met vellum of perkament wat van kalfvel gemaak is. Daar word geskat dat sowat 170 kalfvelle nodig was om net een Gutenberg-Bybel uit vellum te vervaardig. 8

Gutenberg se Bybel.

Van die nagenoeg 180 oorspronklike gedrukte eksemplare van die Gutenberg-Bybel bestaan ongeveer 49 steeds in biblioteek-, universiteit- en museumversamelings. Minder as die helfte is volledig, en sommige bestaan slegs uit ’n enkele volume of ’n paar los bladsye. Duitsland het die meeste van dié Bybels (14), terwyl die Verenigde State van Amerika (VSA) tien het, waarvan drie in die Morgan-biblioteek en -museum in Manhattan gehou word. 8

Vernaamste Bybels vandag

Wanneer jy by ’n boekwinkel ingaan en na die Bybelafdeling kyk, sal jy klomp verskillende soorte Bybels en vertalings kry om van te kies. Verskillende Bybels word deur verskillende denominasies (kerkgroepe of genootskappe binne die Christendom) gebruik.

Dit sluit die volgende in: 10

  • Protestantse Bybel: Hierdie Bybel sluit ’n Ou Testament in met 17 historiese boeke, vyf digtersboeke en 17 boeke van die profete. Die Nuwe Testament bevat die vier Evangelies, Handelinge, die 21 sendbriewe en Openbaring. Die Protestantse Bybel het altesaam 66 boeke.
  • Katolieke Bybel: Dié Bybel bestaan uit 73 boeke, sewe meer as die Protestantse Bybel, en sluit Daniël en Ester in. Die bykomende boeke is Tobit, Judith, Barug, Sirach, die Wysheid van Salomo en Eerste en Tweede Makkabeërs.
  • Joodse Bybel: Dit staan ook as die Tora bekend en sluit die vyf boeke van Moses (Genesis tot Deuteronomium), agt boeke van profete en 11 geskrifte (insluitend Psalms, Spreuke en Hooglied) in. Die Tora bestaan uit drie dele: die Wet (Tora), die Profete (Neviʾim) en die Geskrifte (Ketuvim). 11
  • Anglikaanse Bybel: Hierdie Bybel bevat die Nuwe Testament in samehang met die Ou Testamentiese boeke van die Joodse Bybel. Dit sluit die bykomende 15 boeke van die Ou Testament uit wat in die Protestantse Bybel gevind word.

Indeling van die Bybel soos ons dit ken

Al kan ’n mens die Bybel in een jaar deurlees as jy elke dag net sowat 15 minute hieraan spandeer, is dit steeds vir baie mense ’n oorweldigende hoeveelheid inligting.

Tog is die Bybel baie mooi en logies (verstaanbaar) ingedeel: 13

Die Ou Testament

Die Ou Testament se 39 boeke kan in 5 onderafdelings verdeel word:

  1. Die vyf boeke van Moses – Genesis tot Deuteronomium;
  2. Die twaalf historiese boeke – Josua tot Ester;
  3. Die vyf digtersboeke – Job tot Salomo;
  4. Die vyf boeke van die groot profete – Jesaja tot Daniel; en
  5. Die twaalf boeke van die klein profete – Hosea tot Maleagi.

Elkeen van dié vyf afdelings kan só onderverdeel word:

Die vyf boeke van Moses:

  • Genesis – 50 hoofstukke;
  • Exodus – 40 hoofstukke;
  • Levitikus – 27 hoofstukke;
  • Numeri – 36 hoofstukke; en
  • Deuteronomium – 34 hoofstukke.

Die twaalf historiese boeke:

  • Josua – 24 hoofstukke;
  • Rigters – 21 hoofstukke;
  • Rut – 4 hoofstukke;
  • 1 Samuel – 31 hoofstukke;
  • 2 Samuel – 24 hoofstukke;
  • 1 Konings – 22 hoofstukke;
  • 2 Konings – 25 hoofstukke;
  • 1 Kronieke – 29 hoofstukke;
  • 2 Kronieke – 36 hoofstukke;
  • Esra – 10 hoofstukke;
  • Nehemia – 13 hoofstukke; en
  • Ester – 10 hoofstukke.

Die vyf digtersboeke:

  • Job – 42 hoofstukke;
  • Psalms – 150 hoofstukke;
  • Spreuke van Salomo – 31 hoofstukke;
  • Prediker – 12 hoofstukke; en
  • Hooglied van Salomo 8 hoofstukke.

Die vyf boeke van die groot profete:

  • Jesaja – 66 hoofstukke;
  • Jeremia – 52 hoofstukke;
  • Klaagliedere van Jeremia – 5 hoofstukke;
  • Esegiël – 48 hoofstukke; en
  • Daniel – 12 hoofstukke.

Die twaalf boeke van die klein profete:

  • Hosea – 14 hoofstukke;
  • Joel – 3 hoofstukke;
  • Amos – 9 hoofstukke;
  • Obadja – 1 hoofstuk;
  • Jona – 4 hoofstukke;
  • Miga – 7 hoofstukke;
  • Nahum – 3 hoofstukke;
  • Habakuk – 3 hoofstukke;
  • Sefanja – 3 hoofstukke;
  • Haggai – 2 hoofstukke;
  • Sagaria – 14 hoofstukke; en
  • Maleagi – 4 hoofstukke.

Die Nuwe Testament

Die 27 boeke van die Nuwe Testament kan ook in vyf dele verdeel word:

  1. Die vier Evangelies – Matteus tot Johannes;
  2. Die Christen-kerk – Handelinge;
  3. Die veertien sendbriewe van Paulus – Romeine tot Hebreërs;
  4. Die sewe algemene sendbriewe – Jakobus tot Judas; en
  5. Die profetiese boek – Openbaring.

Elkeen van dié vyf afdelings kan só onderverdeel word:

Die vier Evangelies:

  • Matteus – 28 hoofstukke;
  • Markus – 16 hoofstukke;
  • Lukas – 16 hoofstukke; en
  • Johannes – 21 hoofstukke.

Die Christen-kerk:

  • Handelinge – 28 hoofstukke.

Die veertien sendbriewe van Paulus:

  • Romeine – 16 hoofstukke;
  • 1 Korintiërs – 16 hoofstukke;
  • 2 Korintiërs – 13 hoofstukke;
  • Galasiërs – 16 hoofstukke;
  • Efesiërs – 6 hoofstukke;
  • Filippense – 4 hoofstukke;
  • Kolossense – 4 hoofstukke;
  • 1 Tessalonisense – 5 hoofstukke;
  • 2 Tessalonisense – 3 hoofstukke;
  • 1 Timoteus – 6 hoofstukke;
  • 2 Timoteus – 4 hoofstukke;
  • Titus – 3 hoofstukke;
  • Filemon – 1 hoofstuk; en
  • Hebreërs – 13 hoofstukke.

Die sewe algemene sendbriewe:

  • Jakobus – 5 hoofstukke;
  • 1 Petrus – 5 hoofstukke;
  • 2 Petrus – 3 hoofstukke;
  • 1 Johannes – 5 hoofstukke;
  • 2 Johannes – 1 hoofstuk;
  • 3 Johannes – 1 hoofstuk; en
  • Judas – 1 hoofstuk.

Die profetiese boek:

  • Openbaring – 22 hoofstukke.

Die eerste Bybel in Afrikaans

Lank voordat die eerste volledige vertaling van die Bybel in Afrikaans verskyn het, is die eerste Bybelboek, die Evangelie van Markus, in 1878 deur C.P. Hoogenhout in Afrikaans vertaal. Dié manuskrip is egter nooit gepubliseer nie en word in die Nasionale Biblioteek in Kaapstad bewaar. Die eerste volledige Afrikaanse Bybel is in 1933 uitgegee en word ook die 1933-vertaling (of Ou Vertaling) genoem. 14

Hoogenhout was ’n skrywer, lojale ondersteuner van die Afrikaanse Taalbeweging en ’n stigterslid van die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) op 14 Augustus 1875. 15 Dit was die eerste amptelike poging om Afrikaans as eie taal te vestig en daarom word dié dag jaarliks as Afrikaanse Taaldag of Afrikaanse Boekdag gevier. Die GRA het verskeie pogings aangewend om die taal op te bou en, onder andere, die koerant Die Afrikaanse Patriot begin. ’n Eeu ná die stigting van die GRA in 1975, is die Afrikaanse Taalmuseum amptelik in die Paarl geopen in dieselfde gebou waarin dié genootskap 100 jaar vantevore in die huis van Gideon Malherbe tot stand gekom het. 16

Volgens die GRA het dr. Arnoldus Pannevis in 1872 die eerste keer ’n openbare pleidooi gelewer om die Bybel in Afrikaans te laat vertaal. In sy brief in die koerant De Zuid-Afrikaan skryf hy dat die Nederlandse vertaling van die Bybel vir die “eenvoudiger gedeelte van die bevolking” ’n geslote boek geword het omdat hulle dit nie verstaan het nie. Nie almal was ten gunste van ’n Afrikaanse Bybel nie. 17

Ds J.D. Kestell

In 1873 het C.P. Hoogenhout die verhaal van Josef in Afrikaans vertaal en uitgegee as Die geskiedenis van Josef voor Afrikaanse kinders en huisvrouwens, in hulle eige taal geskrijwe deur een vrind. Teen November 1874 het Pannevis en Hoogenhout kragte saamgespan om by die Britse en Buitelandse Bybelgenootskap te pleit vir die vertaling van die Bybel in Afrikaans. Op ’n predikantekonferensie in 1875 in Wellington is die vertaling in Afrikaans egter afgekeur. 14

Teen 1878 het die GRA besluit dat dit ’n goeie tyd is om die Bybelvertaling aan te pak en ds. S.J. du Toit (Totius se pa) kry opdrag om daarmee voort te gaan. In 1884 begin hy formeel met die vertalingstaak en mettertyd het die eerste boeke stuk-stuk verskyn. In 1893 verskyn Genesis; in 1895 Matteus; in 1898 Openbaring; in 1907 Psalms; Hooglied in 1905; Handelinge in 1908; en Markus in 1908. Teen 1911 het Du Toit nog ywerig gewerk aan die vertaling van Lukas toe hy oorlede is. Hy het dus nie die finale produk in 1933 beleef nie. 14

In 1923 pak die eindvertalers – dr. J.D. du Toit (Totius), J.D. Kestell en H.C.M. Fourie – die vertaling voltyds aan en teen 1929 is die proefuitgawe gelewer. Die eerste besending van 10 000 Bybels, wat in Engeland gedruk is, het in Mei 1933 in die Kaap aangekom, met verdere besendings wat kort hierna gevolg het. 14

Op 27 Augustus 1933 is die 1933-vertaling deur die drie Afrikaanse kerke in Bloemfontein in gebruik geneem. Hierdie Bybel in Afrikaans was die 182ste volledige Bybelvertaling in die wêreld! Die kerk het hom begin losmaak van die Nederlandse Statenbijbel wat vir baie jare die Bybel was wat deur die kerk in Suid-Afrika gebruik is. 18

Ander Bybelvertalings

Ná die verskyning van die 1933-vertaling het verskeie Afrikaanse Bybelvertalings gevolg. Die eerste was ’n hersiening van die 1933-vertaling in 1953 onder leiding van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA). Hierna volg die Christelike Uitgewersmaatskappy (ook bekend as CUM) se Lewende Bybel in 1982. In 1983 publiseer die BSA die Nuwe Afrikaanse Vertaling. 19

In 2002 word Die Boodskap: Die Bybel in hedendaagse Afrikaans deur CUM uitgegee, terwyl Carpe Diem Media se DieBybel@kinders in dieselfde jaar verskyn. Dié gewilde, kindervriendelike Bybel word opgevolg met DieBybel@dogters, DieBybel@meisies, DieBybel@seuns, DieBybel@ouens, DieBybel@mans en DieBybel@vroue. CUM voeg in 2006 Die Bybel: Nuwe Lewende Vertaling in 2006 by die lang lys Afrikaanse Bybels en in 2007 publiseer die BSA Die Bybel vir almal. 19

Hoekom só baie verskillende Bybelvertalings, wil jy seker weet. As ’n nuwe vertaling verskyn, beteken dit nie die vorige een is oud en nutteloos óf verkeerd nie. Alle vertalings is kundiges (Bybelkenners) se interpretasie van die Hebreeuse, Aramese en Griekse tekste van die Bybel. Vertalings word beïnvloed deur, onder meer, vertalers (mense wat ’n stuk teks van een taal in ’n ander oorskryf) se kennis van die antieke manuskripte, die wêreld en tale; hul keuse van brontekste; die ontwikkeling van Afrikaans; nuwe manuskripte wat opgegrawe (ontdek) word; asook die teikengehoor (vir wie die spesifieke vertaling bedoel is, byvoorbeeld kinders of volwassenes, of mense wat dalk nie so goed kan lees en baie taalvaardig is nie). 19

’n Mens kan Bybelvertalings in drie kategorieë verdeel, naamlik woord vir woord, gedagte vir gedagte, en parafrase.

Die 1933/53-vertaling maak van ’n woord-vir-woord-vertalingstegniek gebruik waarin elke Hebreeuse en Griekse woord so na as moontlik aan die oorspronklike betekenis vertaal is. In die 1983-vertaling is van ’n dinamies-ekwivalente-vertaaltegniek gebruik gemaak. Daarvolgens is ’n gedagte of sin, pleks van ’n individuele woord op ’n slag, vertaal. Die Boodskap, wat in 1997 by CUM verskyn het, maak weer van ’n vryer vertalingstegniek, waarin die betekenis van frases meer vrylik vertaal word (parafrase), gebruik. 20

Dus, in watter een van dié drie kategorieë is jóú Bybel?

Hierdie grafika verduidelik dit mooi:

Sleutel:

AOV Afrikaans Ou Vertaling AMP Amplified Bible
ANT Afrikaans Nuwe Vertaling NRSV New Revised Standard Version
NLT Nuwe Lewende Vertaling NAB New American Bible
Boodskap Die Boodskap NIV New International Version
Mirror Mirror NLT New Living Translation
NASB New American Standard Bible NJB New Jerusalem Bible
KJV/NKJV King James Version &

New King James Version

TLB The Living Bible
ESV English Standard Version MSG The Message

Die jongste Afrikaanse vertaling van die Bybel

Die jongste Afrikaanse vertaling staan as Die Bybel: 2020-vertaling bekend. Dit word as ’n geskiedkundige projek beskou omdat dit die eerste keer is dat feitlik alle kerke wat die Bybel in Afrikaans gebruik, by ’n Bybelvertaling in Afrikaans betrokke was. Sowat 24 verskillende kerkgenootskappe was op die een of ander manier by die vertaling betrokke. 21

Die Bybel: 2020-vertaling, wat in November 2020 bekendgestel is, kom ná meer as 15 jaar se werk deur 170 medewerkers (verskillende mense wat aan ’n gesamentlike projek werk), insluitend 43 vroue. 21

Volgens die BSA was die opdrag aan die vertalers dat dit ’n getroue weergawe van die betekenis van die bronteks moes wees, terwyl beelde, metafore, styl en struktuur van die bronteks so ver moontlik behou moes word. Die vertaling moes voorts van hoë letterkundige gehalte, goed verstaanbaar en in goeie Afrikaans wees. Die 2020-vertaling lê tussen die woord-vir-woord- en die gedagte-vir-gedagte-vertalingstegnieke. 22

Die Bybel: 2020-vertaling was ’n groot mylpaal vir die BSA. Nie net is dié nuwe vertaling te midde van die Covid-19-pandemie bekendgestel nie, maar die BSA het in 2020 ook sy 200ste bestaansjaar gevier. Drie weergawes is beskikbaar: die Bybel, Ou en Nuwe Testament; die Bybel met Deuterokanonieke boeke; asook ’n hoofletteruitgawe waarin sekere woorde in die Ou Testament in hoofletters gedruk is. 22

Apokriewe boeke

Naas die 66 boeke wat ons in die Bybel vind (ons noem dit ook die kanonieke boeke), is daar ook ander geskrifte wat uit die tyd van die Ou en Nuwe Testament dateer, naamlik die apokriewe boeke. Hierdie “verlore” boeke uit die Bybelse tyd is in 2006 in boekvorm deur CUM uitgegee. Dit bevat Ou Testamentiese apokriewe soos “Die Wysheid van Ben Sirag”, “1 en 2 Makkabeërs”, “Tobit” en “Die Wysheid van Salomo”. Die Nuwe Testament sluit boeke soos “Die Kindheidsevangelie van Tomas”, “Die Evangelie van Maria”, “Die Didagé” en “Die Openbaring van Paulus” in. 23

Bybelbaanbrekers

Danksy die werk van ongelooflike organisasies soos die Bybelgenootskap en die Gideons het miljoene mense wêreldwyd toegang tot die Woord van God.

Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (BSA) is op 23 Augustus 1820 op die been gebring. Vandag, meer as 200 jaar later, bestaan dié niewinsgewende maatskappy uit vyf streke, en sy hoofkantoor is in Bellville, Kaapstad. Verskillende kerkgenootskappe is lede van die BSA en die organisasie se doelwit is “om aan die kerk en al die inwoners van Suid-Afrika bekostigbare Bybels te voorsien, vir elkeen in hul eie taal en in geskikte formate sodat almal die lewegewende boodskap van die Woord mag ervaar”. 24

Die BSA is ’n lid van die Wêreldbond van Bybelgenootskappe (WBG) en het nét in 2021 bykans ’n miljoen Bybels (of dele van die Bybel) versprei. 25

Ds. Dirk Gevers, die uitvoerende hoof van die BSA, is sedert Mei 2022 die direkteur-generaal van die WBG. Hy is die eerste persoon uit Afrika om dié posisie te beklee. Die WBG is ʼn wêreldwye netwerk van Bybelgenootskappe wat sedert 1946 in meer as 240 lande en gebiede werksaam is. Die Bybelgenootskappe deel hul hulpbronne soos kennis, geld, tyd, talente en tegnologie, en vorm só ’n gemeenskap van gelowiges, net soos ons in die Bybel leer. 26

Het jy al ’n Bybel in ’n hotelkamer of gastehuis gesien? Van dié Bybels kan in ’n mens se baadjiesak pas en bestaan uit die Nuwe Testament en Psalms. Wel, dié Bybels is met ’n rede dáár gesit en is te danke aan ’n internasionale organisasie genaamd die Gideons. Die Gideons, ’n vereniging wat uit Christen-sakelui van reg oor die wêreld bestaan, doen nie net evangelisasiewerk nie, maar wil ook verseker dat soveel as moontlik mense ’n Bybel (in een van 108 tale) het om te lees. 27

Die idee vir die Gideons is in 1898 in die VSA gebore. John Nicholson het een aand in die Central Hotel in Wisconsin oornag. Omdat die hotel stampvol was, moes hy ’n dubbelkamer met Samuel E. Hill deel. Dié aand voor slaaptyd het Nicholson oudergewoonte sy Bybel uitgehaal om te lees en te bid. Hill was ook ’n Christen en die mans besluit daar en dan om saam Bybelstudie te hou. Net daar, biddend op hul knieë in ’n hotelkamer, is die saadjie geplant vir wat op 1 Julie 1899 die Gideons sou word. Nicholson en Hill, asook Will J. Knights, ’n ware Gideonsbende, was die eerste drie lede en sedertdien het die organisasie (die naam is gegrond op die sesde en sewende hoofstukke van die boek Rigters) soos ’n rollende sneeubal al groter en groter geword! 33

Die Gideons in Suid-Afrika bestaan uit verskillende takke (wat laers genoem word). Die eerste Gideonslaer is in Oktober 1950 in Pietermaritzburg gevorm en kort daarna een in Johannesburg. Die volgende jaar word ’n laer in Kaapstad en Gqeberha (Port Elizabeth) op die been gebring en in 1952 word die eerste Bybels in die Edward Hotel in Durban geplaas. Sedert 1950 is meer as 44 miljoen Bybels net in Suid-Afrika deur die Gideons versprei! 27

Bybel vir blindes

Slegs agt jaar ná die volledige Bybel vir die eerste keer in Afrikaans gepubliseer is, is die eerste volledige Braillebybel in Afrikaans op 21 Oktober 1941 (meer as 80 jaar gelede!) bekendgestel. Dié besonderse Bybel, wat Afrikaanse blindes in staat gestel het om ook die Woord in hul moedertaal te kon lees, was slegs die vierde taal waarin ’n volledige Braillebybel uitgegee is. Net drie ander tale – Engels, Duits en Frans – het toe só ’n Bybel gehad. Vandag is die volledige Braillebybel in 44 tale beskikbaar! 28

Die verskyning van die Afrikaanse Braillebybel was te danke aan die harde werk van die destydse Skool vir Blindes (vandag word dit die Pionierskool genoem) in Worcester in die Wes-Kaap. Hulle het die reusetaak gehad om die volledige Bybel in brailleskrif oor te skryf. Dit was glad nie ’n maklike proses nie! Die bestaande druktegnologie en papier was nie heeltemal geskik nie en met die hulp van die Bybelgenootskap is ’n nuwe drukpers en die beste papier uit Europa ingevoer. 28

Die eerste Afrikaanse Braillebybel het uit 75 dele (afsonderlike boeke) bestaan. As ’n mens dit op mekaar gestapel het, was dit amper 3 meter hoog en dit het 63,5 kg geweeg. Dit het in 1941 ongeveer R60 gekos om só ’n Bybel te maak en blinde persone kon dit teen 15c aankoop. Vandag bestaan die Afrikaanse Braillebybel uit 45 boekdele wat R3 200 kos om te maak. Die Bybelgenootskap stel die volledige Braillebybel egter gratis aan blinde persone beskikbaar. 28

Die braille-alfabet wat na Louis Braille vernoem is:

Woordbank

brontekste Oorspronklike teks of teks wat as verwysing/bron gebruik word om iets te skryf.
Christene Belyer van die leer van Christus; iemand wat in ’n Christelike kerk gedoop is.
digter Iemand wat verse skryf of die gawe besit om sy/haar gevoelens ritmies en beeldend te verwoord; verskunstenaar.
drukpers Masjien wat gebruik word om afdrukke op papier of karton te maak.
eksemplare Elk van ’n aantal gelyksoortige voorwerpe, veral boeke.
evangelisasiewerk Verkondiging van die evangelie; geestelik bearbeiding; ook genoem sendingwerk.
fondament Dit waarop iets gegrond is; grondslag; basis.
geloof Vaste vertroue in God.
genootskap Vereniging van persone wat ’n bepaalde, gemeenskaplike doel nastreef.
hersiening Nagaan en verbeter; verander; wysig.
historiese Bekend uit die geskiedenis; wat werklik gebeur het; geskiedkundig.
hoofstukke Afdelings van ’n boek waarin ’n samehangende onderdeel van die hele onderwerp behandel word.
laers (hist.) Aantal waens wat teen mekaar getrek is in die veld om mense en diere teen ’n vyand te beskerm; gewoonlik in ’n kring/sirkelvorm.
manuskripte Kopie vir ’n boek of artikel wat na die drukker gaan, of handgeskrewe stuk teks/werk.
medewerkers Persoon wat saamwerk aan iets gemeenskapliks, soos ’n boek/tydskrif/koerant.
navorser Iemand wat iets krities en deurtastend ondersoek.
niewinsgewende Om iets vir liefdadigheid te doen, nie om ’n wins te maak nie.
profeet Persoon wat van God opdrag gekry het om te vermaan/leer/waarsku; geïnspireerde vertolker van God se wil; voorspeller.
sendbriewe Brief van ’n geestelike leier aan gelowiges.
spreuke Sinryke gesegdes wat ’n wysheid bevat.
teikengehoor Spesifieke groep mense vir wie iets geskryf word.
vereniging Vrywillige organisasie van ’n aantal persone met ’n bestuur aan die hoof.
vertalers Persoon wat as beroep vertaalwerk doen en dokumente/boeke/artikels/ens. van een taal na ’n ander oorsit.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Hoe Gutenberg se drukpers gewerk het

Die geskiedenis van die Bybel

Nege ontdekkings wat Bybelverhale rugsteun

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 3 Junie 2022 | Bygewerk op 13 Julie 2024