Vinnige feite

  • Die Den Haagse Konvensie vir die Beskerming van Kulturele Eiendom in die geval van gewapende konflik is in Mei 1954 onderteken en is een van verskeie internasionale konvensies en ooreenkomste om kuns en monumente tydens oorlogtye te beskerm. 5
  • Daar is meer museums in die VSA as Starbucks-koffiewinkels en McDonald’s-restaurante tesame. 6
  • Behalwe museums soos kuns-, wetenskap- en geskiedenismuseums, is daar ook vreemde museums: Spam-museum, PEZ-lekkergoedmuseum, asook ’n aartappel-, salami-, mosterd-, sjokolade- en piesangmuseum. Daar is selfs ’n Wêreldbaksteenmuseum in Maizuru City, Japan.
  • Dit neem ses maande, 250 presiese afmetings en foto’s, 500 kg was en kos $45 000 om elk van Madame Tussaud se wasbeelde te maak. 7
  • Die Louvre in Parys, Frankryk, is die wêreld se grootste kunsmuseum en huisves nagenoeg 35 000 kunswerke. 8
Foto: iStock

’n Museum is ’n gebou waarin voorwerpe van kuns of wetenskap versamel en uitgestal word. Soms bevat dit ’n versameling voorwerpe wat in die natuur voorkom, of voorwerpe wat deur mense gemaak is. Baie museums fokus op een onderwerp – byvoorbeeld die weermag, kuns, wetenskap of geskiedenis – terwyl ander museums weer voorwerpe uit die geskiedenis van ’n spesifieke land, kultuur of streek bevat.

Die meeste museums is oop vir die publiek en is niewinsgewende organisasies. Met ander woorde, hulle is nie daarop uit om geld of wins te maak nie, maar fokus daarop om die geskiedenis en erfenis veilig vir die volgende geslagte te bewaar. Hulle vra meestal ’n toegangsfooi wat gebruik word om die museums en die versamelings in stand te hou.

Rijksmuseum, Amsterdam, Nederland

Mense besoek museums om die versamelings te sien. Die versamelings leer mense oor die natuurlike wêreld of die menslike kultuur. Museums kan ook begeleide toere, lesings en spesiale geleenthede aanbied. Wetenskaplikes en ander geleerdes gebruik soms museums om navorsing te doen. 1

Museums brei hul versamelings uit deur voorwerpe te koop of deur mense wat donasies (skenkings) maak. Museums kan vaste versamelings huisves (dieselfde dinge wat die hele tyd uitgestal word) of leenversamelings (wat net vir ’n sekere tyd lank vertoon of uitgestal word). Hierdie uitstallings kan voorwerpe insluit wat by ander museums of by private versamelaars geleen is. Baie museums besit voorwerpe wat baie skaars en kosbaar is en nooit ten toon gestel word nie. Slegs navorsers mag hierdie voorwerpe besigtig. 2

Soorte museums

’n Mens kry baie verskillende soorte museums wat baie verskillende dinge ten toon stel.

Kunsmuseums bevat versamelings skilderye, beeldhouwerke en ander belangrike kunswerke. Sommige kunsmuseums se versamelings dek baie verskillende style en tydperke van die geskiedenis. Ander spesialiseer in kunswerke uit ’n bepaalde tydperk of ’n enkele kunsstyl, soos moderne kuns. Van die bekendste kunsmuseums is die Van Gogh-museum en Rijksmuseum in Amsterdam in Nederland en die Louvre in Parys, Frankryk.

Wetenskapmuseums gebruik hul versamelings om verskillende gebiede van en ontwikkelings in die wetenskap en tegnologie te verduidelik. Hul versamelings bevat dikwels masjiene en gereedskap uit die verlede en die hede. Hulle kan mense leer oor ruimtereise, mediese vooruitgang, elektronika of ander wetenskaplike onderwerpe.

NASA Kennedy Space Sentrum, Florida

’n Goeie voorbeeld hiervan is die Hartmuseum by die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad. Die hospitaal is in 1938 gestig en is bekend daarvoor dat dit die plek was waar die eerste menslike hartoorplanting plaasgevind het, wat deur die bekende Suid-Afrikaanse chirurg dr. Christiaan Barnard op die pasiënt Louis Washkansky gedoen is. Die museum is op 3 Desember 2007 geopen, ter viering van die 40ste herdenking van die geskiedkundige operasie.

Groote Schuur Hospitaal

Geskiedenismuseums versamel voorwerpe, genaamd artefakte, wat wys hoe die mens se lewe in die verlede was. Artefakte kan klere, gereedskap, huisware, voertuie, ou foto’s en vele ander soorte voorwerpe insluit.

Natuurhistoriese museums vertoon afbeeldings van plante, diere, rotse en ander natuurvoorwerpe.

Sommige museums huisves baie spesifieke versamelings. Die National Baseball Hall of Fame and Museum in Cooperstown, New York, is een voorbeeld. Nog ’n voorbeeld is die Rock and Roll Hall of Fame and Museum in Cleveland, Ohio. Ander baie gewilde museums is die 21 Madame Tussauds-wasmuseums (met bekende mense en geskiedkundige gebeure wat lewensgetrou deur wasbeelde uitgebeeld word) wat in lande oor die wêreld heen aangetref word.

Van Gogh Museum, Nederland, Amsterdam

Deur die geskiedenis

Mense versamel reeds van die aktieke tyd af voorwerpe. Godsdienstige groepe het byvoorbeeld wêreldwyd godsdienstige kunswerke en artefakte versamel.

In die 200’s v.C. het ’n koning ’n museum en biblioteek in Alexandrië, Egipte begin, maar hierdie plek was meer soos ’n universiteit as ’n moderne museum. Vandag is die Museum van Egiptiese Oudhede, wat algemeen bekend staan as die Egiptiese Museum of Museum van Kaïro, in Kaïro, Egipte, die tuiste van ’n uitgebreide versameling van antieke Egiptiese oudhede. Dit bevat meer as 120 000 artikels!

Baie moderne museums het ontwikkel uit die versamelings van welgestelde mense in Europa. Gedurende die Renaissance (1300–1500) het Europeërs groot kunsversamelings opgebou en historiese voorwerpe versamel. Teen die 1600’s het die eienaars van sommige private versamelings hul voorwerpe aan stede, universiteite of ander openbare plekke verkoop.

Twee van die wêreld se bekendste museums vandag het as private versamelings begin. Die Britse Museum in Londen, Engeland, is in 1759 vir die publiek geopen. Dit bevat baie argeologiese skatte. Die Louvre in Parys, Frankryk, is in 1793 vir die publiek geopen. Dit bevat baie bekende kunswerke. Teen die laat 1800’s het baie lande wêreldwyd museums gebou.

Louvre museum, Parys, Frankryk

In die 1900’s het daar verskeie nuwe soorte museums verskyn. Sommige het versamelings van geboue ingesluit wat hele dorpe of buurte herskep het, soos die Koloniale Williamsburg in Virginia, wat wys hoe die lewe lank gelede in die Engelse kolonies was. Baie stede het ook museums geopen wat spesiaal vir kinders ontwerp is.

Die grootste museums ter wêreld wat vandag deur die meeste mense besoek word, is onder meer die Louvre in Parys, die Metropolitan Museum van Kuns in New York, die Nasionale Museum van China in Beijing, die Smithsonian Instituut in Washington, DC, die Britse Museum en Nasionale Galery in Londen en die Vatikaan-museum in die Vatikaanstad. Volgens Unesco is daar sowat 104 000 ter wêreld met Wes-Europa en Noord-Amerika wat nagenoeg 61% huisves. Ander bronne noem dat dié syfer nader aan 55 000 is. Die VSA spog met bykans ’n derde van die wêreld se museums. 3

Nasionale Lug en Ruimte Museum van die Air and Space Museum van die Smithsonian Instituut.

Museums in Suid-Afrika

Daar is sowat 300 museums in Suid-Afrika. Dit wissel van museums vir geologie, geskiedenis, die biologiese wetenskappe en kunste, tot mynbou, landbou, bosbou en vele ander vakgebiede. 3

Hier is vyf gewilde plaaslike museums: 4

  1. Apartheidsmuseum

Dié museum is in 2001 in Johannesburg geopen en illustreer die geskiedenis van apartheid in Suid-Afrika. Uitstallings is noukeurig saamgestel en georganiseer deur ’n span kurators, rolprentmakers, historici en ontwerpers, en bevat filmmateriaal, foto’s, tekspanele en artefakte wat die gebeure en verhale van 1948–1994 uitbeeld.

  1. Constitution Hill

Constitution Hill in Johannesburg dokumenteer Suid-Afrika se reis na demokrasie. Dit was vroeër ’n gevangenis en militêre fort, maar huisves nou die land se konstitusionele hof. ’n Toergids begelei besoekers uit die Ou Fort na die vrouegevangenis en Nommer Vier (die gebou waar swart gevangenes aangehou is), en uiteindelik na die hof.

  1. Die Franschhoek-motormuseum

Dié museum in die Wes-Kaap is die beste plek in Suider-Afrika om die geskiedenis van motorvoertuie en motorfietse te verken. Die museum se versameling bestaan uit meer as 220 modelle – wat wissel van ’n 189-jarige Beeston-motorfiets tot ’n Ferrari Enzo-supermotor uit 2003.

  1. Nasionale Natuurhistoriese Museum

Die Nasionale Natuurhistoriese Museum, voorheen bekend as die Transvaal Museum, in Pretoria bied ’n blik op Suid-Afrika se natuurlike erfenis. Uitstallings sluit in fossiele uit die Wieg van die Mensdom-erfenisterrein (insluitend Mevrou Ples), velle en gemonteerde afbeeldings van amfibieë, visse, ongewerweldes, soogdiere en meer.

  1. Suid-Afrikaanse Nasionale Museum vir Militêre Geskiedenis

Dié museum in Johannesburg is in 1947 geopen en is vroeër die Suid-Afrikaanse Oorlogsmuseum genoem. In 1975 is die omvang daarvan uitgebrei met die geskiedenis van alle konflikte waaraan die land deelgeneem het. Die indrukwekkende versameling bevat alles van militêre voertuie, vliegtuie en uniforms tot medaljes en wapens.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoekom het ons museums?

Hoekom moet ’n mens museums besoek?

Die rol van museums in vandag se gemeenskappe 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 22 Februarie 2024